Nuuskommentaar: Aksie teen rassisme

Die vakbond Solidariteit het gister sy Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke bekend gestel in reaksie op die staat se huidige regstellende-aksiemodel wat misluk het, het Maroela Media gister berig. Die sentrum het tydens sy bekendstelling ʼn vyfpuntplan aangekondig wat onder meer behels om in die volgende jaar die ideologie van rasseverteenwoordiging in die grondwetlike hof te toets.

Dit was lank reeds duidelik dat die grondwetlike hof, en moontlik selfs ‘n internasionale geregshof, genader sou moes word om die kwessie te toets van of die rasbeheptheid van ‘n groot verskeidenheid wette enigsins te versoen is met die grondwetlike verbod op onbillik diskriminasie, onder meer op grond van ras.

Maroela Media het al verskeie kere berig oor hoe “regstellende aksie” in Suid-Afrika van ander internasionale voorbeelde verskil, selfs die Maleisiese voorbeeld wat dikwels as ‘n ooreenstemmende geval met dié van Suid-Afrika voorgehou word – met ander woorde, waar die beleid ‘n meerderheid bevoordeel.

Met oud-pres. Nelson Mandela wat baie siek in die hospitaal lê, word onder ‘n aantal partye, waaronder die ANC, meegeding om as die werklike verteenwoordigers van sy nalatenskap beskou te word. Dit wat deurlopend uitstaan is dat hy die status van ikon van vegter teen apartheid dra. Die Christian Science Monitor het ook ‘n omvattende artikel gedra waarin melding gemaak word van Mandela se woorde met vonnisoplegging – dat Mandela net so sterk teen wit oorheersing was as wat hy teen swart oorheersing was.

Kan die ANC se beleid van neo-apartheid enigsins met dié woorde van Mandela versoen word?

Hoewel die vorige regering die rasseklassifikasiewet op 17 Julie 1991 – dus ‘n paar jaar voor 1994, afgeskaf het, maak die ANC gereeld daarop aanspraak dat dit dié organisasie is wat apartheid afgeskaf het. Die harde werklikheid dat die vorige regering dit afgeskaf het – al die apartheidswette was byna 21 jaar gelede reeds afgeskaf.

Dit wat nou op die wetboek is, en die massa voortspruitende regulasies wat elke persoon in Suid-Afrika se lot van die wieg tot die graf bepaal, staan wat omvang betref, waarskynlik nie meer terug vir die omvang van statute wat die beleid van afsonderlike ontwikkeling gereguleer het nie.

Solidariteit se nuwe sentrum is aangekondig na ‘n bosberaad wat deur van die land se top regslui en akademici bygewoon is.  Daar is eenparig besluit dat die grondwetlikheid oor ‘n wye spektrum van die rasgedrewe maatreëls getoets moet word.

Benewens die grondwetlike en menslike implikasies van neo-apartheid – om nie eens van gevalle te praat waar die kwotabenepenheid geïgnoreer word soos die voortgesette toepassing daarvan by munisipaliteite wat reeds meer as 95 persent swart werknemers het nie – is daar die ekonomiese skade wat die beleid aan die land aanrig. Dié skade word nie net aangerig deur die impak van waar iemand bloot weens sy velkleur uitgeskakel word nie, maar ook deur die kader-ontplooiingsbeleid waarvoor die grondwet nie naastenby vir die omvang daarvan voorsiening maak nie.

In die proses word die mense wat die beste bydrae tot die ekonomiese groei van die land kan lewer, op grond van hul velkleur aankant toe gestoot. Dikwels, soos met die keuring vir sekere studierigtings, word hoogs talentvolle kandidate gewoon weens hul velkleur eenkant toe gestoot.

Gister het die  nuus juis weer gebreek dat Suid-Afrika nog verder, van die 54ste posisie tot die 58ste posisie  op Insead se gesaghebbende innovasie-indeks teruggesak het. Op sekere van die sub-indekse tel Suid-Afrika onder van die swakste lande ter wêreld. Die land beklee byvoorbeeld die 90ste posisie uit 142 lande wat gemeet is vir werkerskundigheid. Vir die gemak om krediet te kry, is Suid-Afrika nommer een, en dit behoef geen profeet om te weet vir wie, en onder watter voorwaardes hierdie krediet so geredelik beskikbaar is nie.

Die innovasie-indeks word as ‘n belangrike barometer beskou om lande se ekonomiese groeipotensiaal mee te meet.

Dit help natuurlik ook nie dat Suid-Afrika so flink agteruit boer op die korrupsie-persepsie-indeks nie, en dit lyk nie of dié tendens gou gestuit gaan word nie. AfriForum gaan vandag die hele verslag oor die Madibeng-munisipaliteit bekend maak en die name van mense wat by kriminele aktiwiteite geïmpliseer word, bekend maak, nadat slegs ‘n gesensorde gedeelte voorheen deur die munisipaliteit bekend gemaak is. En in Potchefstroom kan ondersoeke na beweerde ongerymdhede teen die afgesette ANC-burgemeester nou voortgaan nadat ‘n aantal ANC-raadslede weer ‘n mosie van wantroue laat slaag het.

As die land ekonomies wil wen, moet toegelaat word dat die beste breinkrag die ekonomie begin bestuur, want as die ekonomie genoegsaam groei, word almal – ongeag velkleur, bevoordeel. As die ekonomie weens ‘n kwotabenepenheid nie genoegsaam groei nie, is daar miskien wel kwotaverteenwoordiging op die werksvloer – maar onder die handjievol wat wel werk het.

Daar is ander faktore van sosio-ekonomiese en kulturele herkoms, soos gemiddelde gesinsgroottes, wat ‘n sleureffek inbou in die uitskakeling van historiese ongelykhede. As die ekonomiese groei van die land iewers “gemanipuleer” moet word, is dit by die behoorlike voorsiening van voorligtingsdienste wat dié faktore wat armoede “oorerflik” maak aanspreek.

Solidariteit se nuwe sentrum moet met ope arms verwelkom word. Dit is in belan g van almal in die land.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.