Nuuskommentaar: ‘Al drie my kinders het gevlug’

Foto: Reint Dykema

Drie pa’s is die afgelope naweek binne 24 uur dood in aanvalle op drie verskillende boerderye. In minstens een geval het die gebruiklike marteling nie uitgebly nie. Is dit dan verkeerd of lafhartig om anderkant die groot water ’n veiliger omgewing te gaan opsoek?

Plat op sy hospitaalbed lê hy, byna hulpeloos. Hy wag dat sy mediese fonds sy verblyf in ’n rehabilitasiesentrum goedkeur. Intussen word hy in die bed gewas, en word hy daar met die bottel gehelp. Vroegoggend wikkel ’n fisioterapeut hom. Die personeel is dierbaar, maar na ’n lang leeftyd van selfversorging is dié intrusiewe behandeling nie maklik nie. Hy hanteer dit egter met ’n waardigheid wat logika verdryf.

Sommer nou die dag was hierdie waardige oupa, eintlik ’n regte Engelse gentleman, nog met ’n boervrou getroud en hul huistaal gevolglik perfekte Afrikaans, nog sterk. Verbasend sterk vir sy ouderdom. Toe kry hy ’n terugslag.

Sy twee seuns is albei in Londen waar hulle nou woon. Oor die telefoon word by geleentheid in mooi Afrikaans met die een gepraat, so asof die oproep sommer van hier naby kom.

Die geskeide dogter en haar twee jong seuntjies woon in Tucson, Arizona. Die dogter en seuntjies kuier tans in Suid-Afrika – het haar pa twee jaar laas gesien. Pa en dogter, en die oom se vrou, gesels land en sand in Afrikaans met mekaar. Die twee seuntjies word nou en dan gehoor – met ’n diep Arizona-uitspraak bo-op die Engels. Nog net twee dae, dan gaan hulle huis toe.

’n Baie kort bonus vir ’n lang afwesigheid.

Hoeveel mense se verhale is hierdie? Of oupa se woorde van “gevlug” gepas was, is ’n ope vraag. Feit is egter die dogter en haar kinders was skaars op die vliegtuig op pad terug na Arizona, of drie pa’s word oor die naweek op verskillende boerderye in Suid-Afrika vermoor. In die nasionale uitsaaiwese ding dit kwalik met nuus oor aanslae op regeringsleiers in Afrika mee.  Die soekterm “plaasaanval” oor hierdie drie aanvalle lewer weinig op. Wel baie van sokker. En Nuweland met sy moontlike toets-swanesang. En ’n vreeslike kopkrappery oor hoekom die Bokke se turf teen die bleekbene gaan sit het.

Is drie sterftes in plaasaanvalle (wat die gebruiklike wrede marteling in een geval ingesluit het) dan nie meer nuus in Suid-Afrika nie? Gelukkig dat die gedrukte media, asook ander soos Maroela Media, die nuus aan lesers bring. Ook die nuus dat vyf verdagtes van ’n plaasmoord ’n week gelede aangekeer is. Dit help darem die vertroue herstel dat die boere nie oral heeltemal vir die wolwe gegooi is nie.

Die hartseer oupa se verhaal is baie mense se verhaal. Daar is egter ook talle wat oorsee, soos in Nieu-Seeland, Afrikaanse gemeenskappe met ’n verbasende aantal Afrikaanse kerkdienste Sondae, en ander Afrikaanse aktiwiteite handhaaf. Hulle gee al lank die puik weeklikse aanlyn tydskrif Brokkies uit. Selfs ’n radiostasie is op die lug. Hulle hou noue kontak met Suid-Afrika, en baie is byvoorbeeld lesers van Maroela Media.

Hulle voel dit is hul plig om vir hul kinders ’n veiliger omgewing te skep, ’n omgewing waar hul grond nie sommer sonder vergoeding onteien sal word omdat hulle of hul voorouers diewe sou wees nie. Natuurlik wil ons hulle hier hou, want ons het mense met stoffasie nodig.

Dis nie net Afrikaanssprekendes, Afrikaners of wit mense wat die ongemak van ’n land wat vir hulle vreemd geword het, moet verteer nie. Vroeg vanoggend saai RSG hierdie veelbetekende gedeelte in ’n nuusbulletin uit: “Die gemeenskap van Chatsworth, suid van Durban, sê intussen hulle stemme is nie gewaarborg vir enige politieke party wat rassespanning wil verhoog en chaos in gemeenskappe wil veroorsaak nie. Inwoners het die leier van COPE, Mosiuoa Lekota, genooi om hulle toe te spreek ná die negatiewe uitlatings wat Malema onlangs gemaak het. Hulle het ook skerp gereageer op die jongste reeks wrede kapings en huisrooftogte in die gebied. ’n Gemeenskapsleier, Zayn Mohammed, sê minderheidsgroepe voel al meer geïsoleerd, en is van mening dat die negatiewe uitlatings roekeloos is. Mohammed sê die mense in hulle gemeenskap leef in vrees, en is bekommerd oor misdaad.”

So stil-stil, want dit bly in baie kringe uiters politiek inkorrek, kom die stemme vanuit minderheidsgroepe na vore. Die talle drukgroepe en partytjies wat na Khoi-San-regte en selfs onafhanklikheid vir die Wes-Kaap (en soms die Noord-Kaap en ’n deel van die Oos-Kaap) beywer, word meer verbaal (en ongelukkig soms verstop, wat skietgoed aan die elite in hul gemeenskappe gee om daarmee die draak te steek.)

Die feit is dat meer en meer mense soos vreemdelinge in hul eie land begin voel. Teoreties word een van die hofsake waarin die EFF-leier, Julius Malema, tereg staan omdat hy mense aangemoedig het om wit grond te gryp – omdat dit gesteel sou wees – vandag voortgesit. Hy beroep hom op die beweerde ongrondwetlikheid van die wet waarop die aanklagte teen hom gebaseer is – inderdaad ’n wet wat eintlik as ’n argaïese apartheidswet beskryf kan word – maar het ’n vertraging in regspraak tot gevolg wat oudpres. Jacob Zuma se vertragingstaktiek in die howe na kinderspeletjies laat lyk. Intussen klits dit rasseverhoudinge mateloos om.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het onlangs oopkop na kwessies wat hierdie een insluit gekyk, en dit mag lesers wat wonder die moeite loon om die artikel onder oë te neem as hulle nog nie so gemaak het nie.

Bykans niemand in Suid-Afrika is onaangeraak nie. Die uwe se oudste seun is plaasbestuurder op ’n plaas buite die Paarl. In die minder as twee jaar wat hy daar is, was daar naby hom, by Klapmuts, die bekende plaasmoord wat tot die Swart Maandag-optogte teen plaasaanvalle gelei het. Die afgelope naweek is ’n bekende aarbeiboer daar naby vermoor. Intussen was daar ook ander aanvalle in die selfs nadere omgewing. Kort tevore is die ander bestuurder tydens ’n aanval met ’n mes in die voet gesteek – bygesê toe hy gedink het hy kan die aanvaller sool. Dis nou afgesien van die skrywer se eie skoonma wat by Bethlehem in ’n plaasaanval oorval is. Vroeër vanjaar is haar swaer van ’n buurplaas finaal neergelê nadat hy aan ’n beroerte wat hy ná ’n plaasaanval gehad het, gesterf het.

Laat ons saamstaan en saam die probleme van die land die hoof bied, sonder om diegene wat anders voel en “vlug” daaroor te oordeel of veroordeel.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jo

Die wat nie anderkant die water kan gaan nie, kan ons laat orania groot uitgebrei word vir ons?

Mossie

Herman, soos jy tereg uitgewys het, leef jy elke oomblik ook in vrees vir jou geliefdes. Ekself het geliefdes op plotte en kommer elke oomblik oor hulle. Indien ek regtig wil, sal ek seker die finansies kan draai sodat my gesin met 2 seuns onderskeidelik 15 en 13 jr, anderkant die groot waters n veiliger lewe kan gaan soek. Maar die eerlike waarheid is, ek myself wil nie oorgaan nie. Indien my seuns oor n paar jaar die kans kry, gun ek hul dit met my hele hart, maar Suid-Afrika is te diep in my. Nee ek het nie n… Lees meer »

Wouter

Dan mag mens nie as ‘n rassis bekend staan nie want dis ook teen ons regerende party se wette. Jy mag nie haat nie want die bybel sê so. Gaan ek so erg gestraf word as ek albei bogenoemde doen. Sal maar weer vergifnis vra en op my knië probeer bly. Here beskerm ons wit boere en boere nasie. Amen

Ella

My hart huil vir ons land en almal wat al deurgeloop het onder hierdie simmelose moord en geweld. Ons leef werklik elke dag in vrees, waar jy ookal bly. Dit voel of ek heeltyd in trane wil uitbars en ek sukkel om te eet omdat soveel gesinne in vrees, smart en hartseer verkeer. Dit was asof die geweld n rukkie afgeneem het maar nou gaan dit weer ner aan. My familie se ook ek moet ophou koerant lees en ek oorreageer. Hoe kan ek met my kop in n gat staan terwyl ander swaarkry? Ek bid dat vrede en rus… Lees meer »

Maggie botes

Here help 0ns asseblief. Malema stook haat aan en niemand doen niks. RSG wat net so rassisties is teen die blankes is ook doodstil oor die moored.