Nuuskommentaar: ‘Al drie my kinders het gevlug’

Foto: Reint Dykema

Drie pa’s is die afgelope naweek binne 24 uur dood in aanvalle op drie verskillende boerderye. In minstens een geval het die gebruiklike marteling nie uitgebly nie. Is dit dan verkeerd of lafhartig om anderkant die groot water ’n veiliger omgewing te gaan opsoek?

Plat op sy hospitaalbed lê hy, byna hulpeloos. Hy wag dat sy mediese fonds sy verblyf in ’n rehabilitasiesentrum goedkeur. Intussen word hy in die bed gewas, en word hy daar met die bottel gehelp. Vroegoggend wikkel ’n fisioterapeut hom. Die personeel is dierbaar, maar na ’n lang leeftyd van selfversorging is dié intrusiewe behandeling nie maklik nie. Hy hanteer dit egter met ’n waardigheid wat logika verdryf.

Sommer nou die dag was hierdie waardige oupa, eintlik ’n regte Engelse gentleman, nog met ’n boervrou getroud en hul huistaal gevolglik perfekte Afrikaans, nog sterk. Verbasend sterk vir sy ouderdom. Toe kry hy ’n terugslag.

Sy twee seuns is albei in Londen waar hulle nou woon. Oor die telefoon word by geleentheid in mooi Afrikaans met die een gepraat, so asof die oproep sommer van hier naby kom.

Die geskeide dogter en haar twee jong seuntjies woon in Tucson, Arizona. Die dogter en seuntjies kuier tans in Suid-Afrika – het haar pa twee jaar laas gesien. Pa en dogter, en die oom se vrou, gesels land en sand in Afrikaans met mekaar. Die twee seuntjies word nou en dan gehoor – met ’n diep Arizona-uitspraak bo-op die Engels. Nog net twee dae, dan gaan hulle huis toe.

’n Baie kort bonus vir ’n lang afwesigheid.

Hoeveel mense se verhale is hierdie? Of oupa se woorde van “gevlug” gepas was, is ’n ope vraag. Feit is egter die dogter en haar kinders was skaars op die vliegtuig op pad terug na Arizona, of drie pa’s word oor die naweek op verskillende boerderye in Suid-Afrika vermoor. In die nasionale uitsaaiwese ding dit kwalik met nuus oor aanslae op regeringsleiers in Afrika mee.  Die soekterm “plaasaanval” oor hierdie drie aanvalle lewer weinig op. Wel baie van sokker. En Nuweland met sy moontlike toets-swanesang. En ’n vreeslike kopkrappery oor hoekom die Bokke se turf teen die bleekbene gaan sit het.

Is drie sterftes in plaasaanvalle (wat die gebruiklike wrede marteling in een geval ingesluit het) dan nie meer nuus in Suid-Afrika nie? Gelukkig dat die gedrukte media, asook ander soos Maroela Media, die nuus aan lesers bring. Ook die nuus dat vyf verdagtes van ’n plaasmoord ’n week gelede aangekeer is. Dit help darem die vertroue herstel dat die boere nie oral heeltemal vir die wolwe gegooi is nie.

Die hartseer oupa se verhaal is baie mense se verhaal. Daar is egter ook talle wat oorsee, soos in Nieu-Seeland, Afrikaanse gemeenskappe met ’n verbasende aantal Afrikaanse kerkdienste Sondae, en ander Afrikaanse aktiwiteite handhaaf. Hulle gee al lank die puik weeklikse aanlyn tydskrif Brokkies uit. Selfs ’n radiostasie is op die lug. Hulle hou noue kontak met Suid-Afrika, en baie is byvoorbeeld lesers van Maroela Media.

Hulle voel dit is hul plig om vir hul kinders ’n veiliger omgewing te skep, ’n omgewing waar hul grond nie sommer sonder vergoeding onteien sal word omdat hulle of hul voorouers diewe sou wees nie. Natuurlik wil ons hulle hier hou, want ons het mense met stoffasie nodig.

Dis nie net Afrikaanssprekendes, Afrikaners of wit mense wat die ongemak van ’n land wat vir hulle vreemd geword het, moet verteer nie. Vroeg vanoggend saai RSG hierdie veelbetekende gedeelte in ’n nuusbulletin uit: “Die gemeenskap van Chatsworth, suid van Durban, sê intussen hulle stemme is nie gewaarborg vir enige politieke party wat rassespanning wil verhoog en chaos in gemeenskappe wil veroorsaak nie. Inwoners het die leier van COPE, Mosiuoa Lekota, genooi om hulle toe te spreek ná die negatiewe uitlatings wat Malema onlangs gemaak het. Hulle het ook skerp gereageer op die jongste reeks wrede kapings en huisrooftogte in die gebied. ’n Gemeenskapsleier, Zayn Mohammed, sê minderheidsgroepe voel al meer geïsoleerd, en is van mening dat die negatiewe uitlatings roekeloos is. Mohammed sê die mense in hulle gemeenskap leef in vrees, en is bekommerd oor misdaad.”

So stil-stil, want dit bly in baie kringe uiters politiek inkorrek, kom die stemme vanuit minderheidsgroepe na vore. Die talle drukgroepe en partytjies wat na Khoi-San-regte en selfs onafhanklikheid vir die Wes-Kaap (en soms die Noord-Kaap en ’n deel van die Oos-Kaap) beywer, word meer verbaal (en ongelukkig soms verstop, wat skietgoed aan die elite in hul gemeenskappe gee om daarmee die draak te steek.)

Die feit is dat meer en meer mense soos vreemdelinge in hul eie land begin voel. Teoreties word een van die hofsake waarin die EFF-leier, Julius Malema, tereg staan omdat hy mense aangemoedig het om wit grond te gryp – omdat dit gesteel sou wees – vandag voortgesit. Hy beroep hom op die beweerde ongrondwetlikheid van die wet waarop die aanklagte teen hom gebaseer is – inderdaad ’n wet wat eintlik as ’n argaïese apartheidswet beskryf kan word – maar het ’n vertraging in regspraak tot gevolg wat oudpres. Jacob Zuma se vertragingstaktiek in die howe na kinderspeletjies laat lyk. Intussen klits dit rasseverhoudinge mateloos om.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het onlangs oopkop na kwessies wat hierdie een insluit gekyk, en dit mag lesers wat wonder die moeite loon om die artikel onder oë te neem as hulle nog nie so gemaak het nie.

Bykans niemand in Suid-Afrika is onaangeraak nie. Die uwe se oudste seun is plaasbestuurder op ’n plaas buite die Paarl. In die minder as twee jaar wat hy daar is, was daar naby hom, by Klapmuts, die bekende plaasmoord wat tot die Swart Maandag-optogte teen plaasaanvalle gelei het. Die afgelope naweek is ’n bekende aarbeiboer daar naby vermoor. Intussen was daar ook ander aanvalle in die selfs nadere omgewing. Kort tevore is die ander bestuurder tydens ’n aanval met ’n mes in die voet gesteek – bygesê toe hy gedink het hy kan die aanvaller sool. Dis nou afgesien van die skrywer se eie skoonma wat by Bethlehem in ’n plaasaanval oorval is. Vroeër vanjaar is haar swaer van ’n buurplaas finaal neergelê nadat hy aan ’n beroerte wat hy ná ’n plaasaanval gehad het, gesterf het.

Laat ons saamstaan en saam die probleme van die land die hoof bied, sonder om diegene wat anders voel en “vlug” daaroor te oordeel of veroordeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Jo ·

Die wat nie anderkant die water kan gaan nie, kan ons laat orania groot uitgebrei word vir ons?

Gerhard ·

Ek wens meer mense kan insien dit is die enigste oplossing.

Vereniging ·

Op die oomblik is Malema besig om vir ons ondergang te roep. Ongelukkig gaan ons eers besef ons moes selfbeskikkingsvoorsiening in die konstitusie aangegryp het wanneer hulle in als verloor het en as vlugtelinge in VN kampe sit.

Mossie ·

Herman, soos jy tereg uitgewys het, leef jy elke oomblik ook in vrees vir jou geliefdes. Ekself het geliefdes op plotte en kommer elke oomblik oor hulle. Indien ek regtig wil, sal ek seker die finansies kan draai sodat my gesin met 2 seuns onderskeidelik 15 en 13 jr, anderkant die groot waters n veiliger lewe kan gaan soek. Maar die eerlike waarheid is, ek myself wil nie oorgaan nie. Indien my seuns oor n paar jaar die kans kry, gun ek hul dit met my hele hart, maar Suid-Afrika is te diep in my. Nee ek het nie n plaas of op een groot geword nie, maar my ouers het n diepe liefde vir Afrika en natuur in my gekweek, om nie te praat van waardeur ons voorsate was om ook n plekkie in die Afrika son te verdien nie. Ek leef nie in die verlede nie en is bereid om saam voorentoe vir n toekoms te veg met gelyke menseregte. Ek kan my nie n ander tuiste indink nie al vertel my logika my wat! Ek kan net bid en elke dag met geloof vat soos dit kom.

Wouter ·

Dan mag mens nie as ‘n rassis bekend staan nie want dis ook teen ons regerende party se wette. Jy mag nie haat nie want die bybel sê so. Gaan ek so erg gestraf word as ek albei bogenoemde doen. Sal maar weer vergifnis vra en op my knië probeer bly. Here beskerm ons wit boere en boere nasie. Amen

Ella ·

My hart huil vir ons land en almal wat al deurgeloop het onder hierdie simmelose moord en geweld. Ons leef werklik elke dag in vrees, waar jy ookal bly.
Dit voel of ek heeltyd in trane wil uitbars en ek sukkel om te eet omdat soveel gesinne in vrees, smart en hartseer verkeer.
Dit was asof die geweld n rukkie afgeneem het maar nou gaan dit weer ner aan.
My familie se ook ek moet ophou koerant lees en ek oorreageer. Hoe kan ek met my kop in n gat staan terwyl ander swaarkry?
Ek bid dat vrede en rus sal terugkeer na SA.

Maggie botes ·

Here help 0ns asseblief. Malema stook haat aan en niemand doen niks. RSG wat net so rassisties is teen die blankes is ook doodstil oor die moored.

Hanna Hoekom ·

Ek is n Afrikaner im murg en been, trots op my geskiedenis. Ek het altyd baie negatief gevoel teenoor my medeburgers wat die land verlaat… Maar nou het dinge net te erg begin raak. Ek voel vervreemd in my eie land. Ek is bang. Moes onlangs die besluit neem om my drie jong kinders in n ander land te gaan huisves. Die aansoekproses is lank, maar ek glo ek doen die regte ding. Orania was n opsie, maar geen werk in my professie nie. Ek het ook nie die fondse om my eie onderneming daar te kan begin nie.

tamboti ·

Die oer instink van mens en dier is: VEG of VLUG,
vir die Afrikaner is dit egter emigreer(vlug) of word ‘n “sitting duck” – weier om te veg !
KOM mense, die saak teen Malema is sopas uitgestel tot volgeende jaar en hy sal binne 1 week weer sy uitspraak herhaal!
Ek staan vir onafhandlike Afrikaner staat – ons besit nog die grond, hoe lank nog?

Stephanie ·

Ek lees hier, en weet hoe dit voel om alles wat jy ken agter te laat en met net ‘n tas op ‘n vliegtuig te klim met hoop en hartseer wat baklei met mekaar. Ek woon in Australia, en die eerste 2 jaar was vreeslik swaar. Ek is nie jonk nie, en ‘n boertjie tot in my siel. Ek wens en bid daagliks dat my mense, die paartjies wat nog oor is tog net veilig moet wees. Ek bel en lees nuus, raas met ons politieke amptenare, en mars dat dit klap on SA se situasie onder internationale oe the vorseer. Ons hier is baie bekommerd oor ons mense, en nie net ons families nie, maar al ons mense. Jy kry die wat maak asof hulle Engels is, maar praat wragtig ‘n weergawe wat ek moet ontsyfer. Maar hulle weier om enige iets met SA te doen te he, en dan die res van one. Ons behou geloftedag, ons het Afrikaanse kerk, goewerment webwerf het Afrikaans op, en ons braai en kuier lekker in Afrikaans. Maar ons leef meestal tussen Ozzies, en ons pas aan. Die leefstyle is nie baie anders nie, net jy moet self huis skoon maak, en all daai goed. Mens raak als gewoond as mens net wil. Maar ons mis ons mense daar ver, al lyk dit nie so nie. Groete uit Australia. Bly Veilig

Inelkgeval ·

Ons moet inelkgeval leer om in SA ons eie huise en tuione skoon te maak want werkers is toegang vir moordenaars. Die wyse mense gebruik lankal nie meer werkers nie. Dankie vir jou boodskap uit Aus.

Abraham ·

Ek is siek en sat vir dit wat in ons land, ja dit is ook my land besig is om te gebeur. Ons bly in n geweldadige land waar mens en dier nie ontsien word nie. Ek blameer niemand wat die geleentheid kry en aangryp om weg te trek nie. Dinge sal waarskynlik nog rowwer raak vir ons wittes, maar ek glo dit sal weer beter gaan en ek wil daar wees om die land weer op te bou.

Erger vir almal ·

Dinge gaan nie net vir wittes erger raak nie, alle rasse gaan lei onder kommunisme en ‘n chaotiese failed state. Dit is net die politieie leier klein minderheid wat gaan oorleef. Dis nou as ons nie onderhandel vir ‘n eie stukkie land nie.

Amanda ·

Ella, ek voel dieselle, het ook ‘n seun wat ‘n plaasbestuurder is, ek will ook net die hele tyd huil – ek is lam van vrees vir my kind. My hart is stukkend oor ons land en oor hierdie mense wat so sinneloos week in en week uit vermoor word. Mens kan amper nie eens meer iets se nie want dit voel so ligsinnig in die oog van die hel, smart en trauma wat hierdie mense en hulle gesinne beleef het. Wie sal ons volk kom lei om te ontsnap van hierdie kranksinnige geweld???

Waarheen ·

Kan iemand asseblief ‘n plek vir ons voorberei waarheen ons kan vlug wanneer die EFF se aanvalle op ons uitgevoer gaan word?

Jerry ·

Gelukkig is diegene wat weet dat gedane sake geen keer het nie en dat vlug nuwe hoop bring. Die verandering is so goed soos n goeie vakansie.

Fred ·

en die wat nie kan vlug nie moet geakkomodeer word in ‘n tuisland, wat nou ons leiers se eerste prioriteit moet wees om voor te onderhandel.

Casper Labuschagne ·

Daar is ‘n mondelinge getuienis oor data van ACSA, die maatskappy wat lughawens administreer. Terwyl meer as ‘n honderdduisend mense maandeliks buitelandse vlugte onderneem, is daar tans 60,000 per maand wat nie binne enkele maande terugkeer nie en slegs 10,000 van daardie getal keer binne ‘n jaar terug. Dit mag beteken dat SA sowat 50,000 per maand of 600,000 mense jaarliks verloor vanweë ‘n vorm van emigrasie wat nie verklaar word nie. Die gevolg hiervan is dat die getal witmense binne enkele jare kan verminder na ongeveer twee miljoen vanaf 2011 se 4.58 miljoen. Dit is ‘n tendens wat aansienlik sal versnel sou onteiening sonder vergoeding binnekort op die wetboek kom.

Will ·

Ek woon die afgelope 17 jaar in die VSA, het na 10 jaar Burgerskap gekry en tel my seeninge daagliks. Ja, dit met ‘n president Trump wat erg onder kritiek en vals beriggewing steeds ‘n reuse positiewe verskil in hierdie land maak met sy leuse MAGA. In 2001 moes ek besluit om in SA te bly of te emmigreer. Die familie en vriende het my van selfsug, lafhartigheid en dislojaliteit beskuldig. Nou, nadat van hulle hier kom besoek het en die oogklappe af geval het, sing hulle ‘n ander deuntjie. Gelukkig het Ek destyds verkies om nie FW en Roelf Meyer se utopia-voorspelling vir die Nuwe SA te glo nie, maar realisties te kyk na Zim en ander lande waar etniese konflik, korrupsie, nepotisme en wetteloosheid die norm geword het in die naam van demokrasie. Emmigrasie was pynlik en aanpassings was nodig, maar gelukkig is die mens aanpasbaar en waar ‘n wil is, is ‘n weg.

Andrea ·

Jy is voorwaar gelukkig. Ek beny jou. Maak ten volle gebruik van jou nuwe kans wat jy vir jouself uitgekap het. Seën v jou.

Miekie ·

Ek sit met trane in my oë en lees die artikel uit ‘n koue Nieu Seeland. Ons het ‘n maand terug hierna verhuis, of ‘gevlug’. Dis verskriklik moeilik om almal en alles vir wie jy lief is agter te laat, en net te kan hoop en bid dat hulle nie iets sal oorkom nie. Ons het die besluit geneem om ons kinders ‘n kans op ‘n beter toekoms te kon gee, en was geseënd om ‘n kans te kry om te gaan. Ek was in die laaste week voor ons vertrek ‘n verraaier genoem deur ‘n familielid. Tog het ons deurgedruk en is ons hier. Wat maak dit die moeite werd? Toe ons in een van die mooi groot parke gaan stap en my seun skielik gaan stop, na ons toe draai en sê: “Dankie Mamma en Pappa, hierdie was die beste wat julle vir ons kon doen”.
Ons hierdie kant hoop en bid dat alles sal beter word vir almal in SA. Groete uit NZ

John ·

Om die regte plek te kies om heen te verhuis, is werklik ‘n saak van gebed. Die Jode in Duitsland voor WOII het die tekens van die tye raak gelees,maar nooit sou kon glo dat sulke glo verfynde mense tot sulke afgryslikhede in staat is nie… en kyk. In Afrika, met ons geskiedenis, skaars 3 eeue oud… Hoe interpreteer mens die’ opvoerings in die’ eerste-wereld-dekor-op-apro? Nou gaan nie net die skoolbanke deur anderstes beset word nie, die hospitale ook en ons dominees skreeu weer, soos in die ou Kaap, hul lidmate agterna dat die duiwel hulle sal haal as hul kollekte-bordjies leegloop. Maar dit bly waar dat die wiel draai, die’ een wat nie deur Africa-in-the-taking, ontwerp is nie… die’ een met ‘n rem wat Iemand Anders beheer…

Joe Hall ·

Indien die Jode die “tekens van die tye” so raak sou gelees het, soos jy beweer, waar kom die miljoene Jode in Duitse konsentrasiekampe vandaan, waarvan die meerderheid dit nie oorleef het nie???

Casper Labuschagne ·

Rakende die Jode in Duitsland is daar heelwat parallelle met die wit minderheid in ons huidige tydperk.

Die eerste is dat ek die sensasie ervaar dat ek na ‘n Goebels toespraak van 1935 kyk as ek die uitlatings van die politici aanho. En moet nie eers van deursnee swartmense se uitsprake op sosiale media praat nie, dit is aansienlike erger.

Die tweede is dat ek nou self eers verstaan hoekom die Jode gedwee op die trein geklim het na die konsentrasiekampe toe, want ek is omring deur witmense wat eenvoudig glo dat die ergste nooit sal gebeur nie, dit is tog onmoontlik dat enigeen se eiendom ooit afgevat sal word is wat ek hoeveel keer ‘n dag moet aanhoor en dit is allermins maar net ek wat dan ‘negatief’ sou wees.

Die derde is dat ek ‘n familielid het wat gedurende die 1930’s in Duitsland gestudeer het en sy doktorsgraad in chemie daar voltooi het. Op ‘n vraag van my hoekom die Duitsers so teen die Jode was, was sy antwoord, “Die Duitsers het ervaar dat hulle nie kan vooruitkom nie, die Jode het alles beheer. En elke keer as ek aansprake van wit bevoorregting, wit ekonomiese monopolistiese kapitaal asook die wit beheer van eiendom asook wit ekonomiese beheer aanhoor, dan dink ek aan die rede hoekom Duitsers gevoel het die finale oplossing is ‘n noodsaak.

Ek sien die tekens van die tye wat amper identies herhaal word, en ek is diep bekommerd hieroor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.