Nuuskommentaar: Al loop die leuen hoe snel, agterhaal moet die waarheid hom wel

Pres. Cyril Ramaphosa het hom maklik bewysbaar pas weer aan ’n kluitjie behelp wat die Afrikaner in ’n slegte lig stel, en terwyl wetenskapontkenners al hoe meer word, word die VSA se wetenskaplike toekoms vir die volgende 75 vyf jaar beplan. Die les is: dit is onontbeerlik dat die waarheid ononderhandelbaar is.

Wat het modewoorde en uitdrukkings soos narratief, politiek-korrektheid, fopnuus, meningsvryheid en die sosiale media met mekaar gemeen? Daar word kluitjies gebak.

Terselfdertyd word nuuslesers en -kykers gemaan om eers seker te maak van feite voor dit verder versprei word – juis noudat Covid 19 (veroorsaak deur die koronavirus) al die tekens van ’n naderende pandemie begin toon, maar die stryd teen dié nuwe virus word byna oortref deur die nodigheid om die gevolge van wolhaarstories oor die siekte die nek in te slaan.

Trouens, wenke word nou gereeld aan die hand gedoen oor hoe mense hulself kan toerus om sover moontlik fopnuus van werklike nuus te onderskei. The Conversation het so ver gegaan om ’n medeprofessor in kommunikasiekunde, Elizabeth Stoycheff, se artikel, “4 ways to protect yourself from disinformation”, te plaas. Wat sy heel eerste plaas, is sekere elektroniese “nuusbronne” wat hul inkomste uit advertensies maak, en dan die nuus so “aanpas” dat dit lesers so lank moontlik vasvang. Een van die metodes hiervoor is om die nuus so te dokter dat dit weergee wat die lesers wil hoor, eerder as om by die waarheid te hou.

Daar is groepe teenstanders van pres. Donald Trump wat toesprake en ander mededelings van die president met ’n fyn kammetjie deurgaan om vas te stel hoeveel onwaarhede of verwronge feite dit bevat, en, soos nou onlangs weer met sy staatsrede, gereeld meld dat dit dubbelsyfers beloop.

Hoe lank nog voor dieselfde met pres. Cyril Ramaphosa gebeur? Op die oog af lyk dit of hy veral die Afrikaners uitsonder vir geskiedenisweergawes waarin die waarheid meer as net ’n bietjie gebuig word. Sy weergawe van die Bloedrivier-geskiedenis met twee agtereenvolgende Versoeningsdag-toesprake het gemoedere erg versteur. Terwyl daar nog gewonder word of hy doelbewus kluitjies gebak het hiermee, en indien wel, hoekom, en of sy raadgewers daaragter sit, skryf hy in sy weeklikse nuusbrief dat die koloniste aan die Kaap hulself van die pokke-epidemies kon vrywaar deur die teenmiddel van Batavia af in te voer en die Khoi daaraan te laat sterf. In werklikheid was die pokke-epidemie waarna Ramaphosa verwys in 1713 en die teenmiddel is eers in 1796 – amper ’n eeu later, deur Edward Jenner ontwikkel.

Oortree Ramaphosa, of moet dit Ramanoccio wees, nie die Grondwet deur, soos sy voorganger, nie in belang van ál die land se mense te regeer nie? Maar, o ja, onlangse hofuitsprake dui daarop dat die Grondwet uiteindelik nie die papier werd is waarop dit geskryf is nie.

Die VSA het die leidende wetenskaplike land ter wêreld geword danksy ’n visioenêre dokument wat 75 jaar gelede deur Vannevar Bush, die eerste presidensiële wetenskapraadgewer, opgestel is. Die dokument, “Science: The Endless Frontier”, het ’n padkaart vir die VSA se wetenskaplike ontwikkeling voorgestel, en die nodigheid van ’n groter begroting daarvoor gemotiveer. Pas is ’n groot konferensie gehou om ’n padkaart vir die volgende 75 jaar op te stel, omdat Bush se werk verouderd geraak het, en die regering bowendien die begroting hiervoor gesny het. Van die jaar 2000 tot 2017 het die VSA se begroting hiervoor van 40% tot 20% afgeneem. Oor dieselfde tyd het China se gegroting hiervoor van minder as 5% tot meer as 25% toegeneem. Maar reeds in 2017 het die Union of Concerned Scientists soos volg geskryf: “The Trump administration and 115th Congress have been actively dismantling science-based health and safety protections, sidelining scientific evidence, and undoing recent progress on scientific integrity. We’ve seen this movie before. And we know how to fight back. We’re standing up for science. We’re inviting scientists to securely share information on scientific integrity abuses. And we’re encouraging our supporters to watchdog this administration and Congress, as we did during the George W Bush administration and the Barack Obama administration.”

In Mei 2019 skryf Scientific American dat dit nie iemand se verbeelding is dat die Trump-administrasie gereeld aanvalle op die wetenskap van stapel stuur nie. Teen Mei verlede jaar was daar reeds meer as 100 sulke aanvalle. Die ander kant van die munt is dat Trump instrumenteel was in die aansienlike uitbreiding van Nasa se begroting, veral met die oog op die ontwikkeling van ’n ruimtestasie wat om die maan sal wentel, en onder meer logisties die terugkeer van die mens na die maan sal ondersteun, asook planne vir bemande sendings na Mars. Voorts word begin met ’n ruimteverdedigingsmag, die geesteskind van Trump self.

Wetenskaplikes voel al etlike jare onder druk van wetenskapontkenners, en het selfs al wêreldwye voorligtingsoptredes gehou. Die verskynsel dat mense glo die aarde is plat, dat daar nog nooit iemand op die maan was nie, en dat maselsinentings outisme veroorsaak, word al hoe meer en is goed bekend sodat ’n bespreking onnodig is.

Die waarheid is dat die waarheid moet seëvier om die toekoms beter toegerus te kan aanpak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Luister ·

Maar jy kan jou self mos indink, as die aarde rond was, sou die mense aan die onderkant afgeval het! Ons almal weet dat ‘n plat aarde regop is en nie onderstebo nie.

Therese ·

Opvallend hoe tjoepstil die “Concerned Scientists” was toe die begroting vir hul manewales tydens die pre-Trump era kwaai gekrimp het. Maar nou ja, eintlik verbaas dit nie …

Wetenskaplikes en sogenaamde kenners op verskeie gebiede kan gerus hand in eie boesem steek oor talle onderwerpe. Die ‘Botter en Margarien’ – klug is net een voorbeeld.
Let wel, die terme “wetenskapontkenners” is net so verspot soos “klimaatontkenners”.

Johan Venter ·

Hierdie ‘kluitjies bak’ van Cyril Ramaphosa waarna elke nou en dan verwys word, moet in effek baie erger uitgedruk word, sommer baie, om dit te ontbloot vir wat dit is. Al hierdie is so ooglopend soos waarna Herman hier bo verwys, terwyl die werklike waarheid maklik in die geskiedenis nageslaan kan word, dan ook sê Cyril soos ‘n week gelede, en dit het hy al ‘n paar maal herhaal dat die rede waarom Suid-Afrika nie groei nie, is nog steeds weens die wêreldwye ekonomiese krisis in 2008, dit terwyl almal weet die ANC se kommunistiese sosialistiese afbrekende ideologie, onkunde en kaders was daarvoor verantwoordelik, soos nog tot vandag toe.

Vervolg …

Johan Venter ·

Vervolg van vorige kommentaar:

Ek glo nie Cyril slaan hierdie wanvoorstellings self na nie, maar ek glo dat dit ‘n uitdruklike opdrag van hom aan sy kantoor is, om die positiewe wat die wit mense/die weste vir die wêreld beteken het te diskrediteer, want daar is omtrent nie ‘n toespraak van hom of ‘n geskrif uit ’sy’ pen, waarin hy nie sodanige ‘steek’ inwerk nie. In effek doen hy dit by tye so terloops en subtiel dat as mens nie fyn lees nie, mis mens dit, en as jy jou kom kry herhaal hy dit weer, en nie lank nie, besef mens hy is besig om die geskiedenis te herskryf.

Jacobus ·

Johan, dit klink soos die 7 uur nuus. Waar ten minste een anti-Tump berig, een anti- Afriforum en nou en dan een anti-Steve berig die lug moet sien.
Ek besef darem ‘wie se brood jy eet, die se woord jy moet spreek’.

Johan Venter ·

Piet, vandaar dat ek dit nie meer kyk nie, aanvanklik nie ‘n uitsending gemis nie, dalk maar omdat dit in Afrikaans is.

FM ·

Dankie Mnr Toerien. In menige opsig het ‘slim sy baas gevang’. Ongeag hoe ‘slim’ die skelm is, die waarheid SAL hom vang.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.