Nuuskommentaar: Al wéér apartheid se skuld

Pres. Jacob Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

Pres. Jacob Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

Hoewel daar geen krisis in die land se ekonomie is nie, is die knelpunte wat ervaar word te wyte aan die nalatenskap van apartheid. Geen ander Afrikaland het ’n geskiedenis van ’n rasgebaseerde ekonomie gehad nie, en het daarom nie die sleureffek waarmee die land opgesaal sit nie.

Dit, altans, is wat pres. Jacob Zuma aan die nasie verkondig – dié keer van buite die parlement omdat hy weet die opposisiepartye sou hom vir hierdie soort kafpraatjies “uitgehaal” het.

In die post-Zuma-era sal dit nogal interessant wees om te kyk wanneer die land se ekonomie begin steier het. Presies wanneer het Eskom, wat darem nou saam met apartheid die blaam kry, se chaos begin. O ja, volgens vroeëre uitlatings van Zuma is Eskom se probleme ook aan apartheid te wyte. En kolonialisme. En die land se probleme is sommer aan Jan van Riebeeck se koms te wyte.

Die verskillende indekse sal egter aandui dat baie indikators, soos die korrupsiepersepsie-indeks, tydens Zuma se bewind begin skeefloop en hoofsaaklik die kreeftegang bly gaan het.

Het Zuma Afrika se geskiedenis beter geken, het hy ook geweet hoe ’n groot rol sommige swart stamme gespeel het om ander stamme aan die slawemark te verkwansel. ’n Groot deel van die tragiese gebeure van die Darfoer-streek in Soedan kan nog teruggevoer word na die tyd toe die Dar en die Fur veral swart stamme verder suid se lede ontvoer en verder noord aan Arabiese slawehandelaars verkwansel het.

Ook aan die vasteland se ooskus was slawehandel algemeen waar Arabiere en ander Midde-Oosterse nasies handelsposte en sultanate tot in Mosambiek gehad het. Trouens, Mosambiek se naam kom van sultan Musa ibn Mbiki wat oor die eiland Mosambiek regeer het. Die monarg van Oman het in ’n stadium sy hoofsetel na Zanzibar verskuif.

Aan die westekant van die vasteland het Europese lande slawe weggevoer, wat dikwels bekom is van ander swart stamme wat strooptogte op swakker stamme uitgevoer het. Bekende roetes oor die Sahara het ook baie slawe na die hawens langs die Middellandse See weggevoer.

Dis nou afgesien van sommige volke wat ander volke onderdruk het – soms selfs groter volke as die onderdrukkers, soos die Ahmaras van Ethiopië oor die Oromo’s – ’n praktyk wat steeds nie heeltemal die wyk kan neem nie.

Praat van agterstande… Maar volgens Zuma het Afrika pret gehad totdat Jan van Riebeeck in Suid-Afrika aangekom het…

En dan is daar natuurlik nog die erg politiek-inkorrekte kwessie van Europese slawe wat na Noord-Afrika geneem is. Volgens sommige bronne is tot 1,25 miljoen Europese Christene van die begin van die 16de eeu tot die 19de eeu op die slawemarkte van Noord-Afrika verhandel. Hulle is in strooptogte tot so ver as Ysland versamel. Omdat die manslawe ontman is, is daar nie veel van ’n etniese spoor van hulle oor nie.

Zuma se geskiedenisprentjie is so lagwekkend versteur dat die baba saam met die badwater uitgesmyt word. Kolonialisme en apartheid het wel sekere ekonomiese verwrongings tot gevolg gehad, maar dat dit nou juis in Suid-Afrika se geval tot sy termyn sou duur om so ’n vreeslike impak te hê, is gewoon laf.

En die aanhoudende geopper hiervan is gevaarlik, weens die enorme kragte van polarisasie wat daardeur ontketen word. Ou koeie wat uit die sloot gegrawe word, word as strydperde opgetooi, maar dit sou mos beter wees om die bestaande probleme wat by herhaling geïdentifiseer word – soos die sleureffek van kaderontplooiing, nepotisme, die kleptokrasie, rasbenepenheid en korrupsie daadwerklik die hoof te bied.

O ja, korrupsie is mos ’n Westerse konsep.

Zuma is egter nie die eerste ANC-leier wat hom skuldig maak aan die skets van ’n “alternatiewe werklikheid” en dan boonop verwag die publiek moet die halfgebakte kaf sluk nie. Trouens, die meeste partye in die wêreld sou, as hulle in die ANC se posisie was, al besef het dit boemerang as die publiek knaend donkievye as dadels voorgehou word. Die ANC raak egter net ergerlik: “Ons het dan self gesê daar was niks met Zuma se hantering van Nkandla verkeerd nie, en nou dreig julle om hof toe te gaan.” “Ons sê dan daar is ’n goeie storie oor die ANC se regeervermoë te vertel, maar julle hou aan om feite te gebruik om die storie in die wiele te ry.”

Ja, probleme word geïdentifiseer, soos deur knaende taakspanne, maar ai, kom dit by die implementering van oplossings raak die taak net te groot, en is blaampolitiek veel makliker.

Zuma is net so ’n kanniedood soos die legendariese Vaaljapietrekker. Dié sou in die modder vasval, en so wegsak dat tot die skoorsteen naderhand onder die modder verdwyn – maar steeds sal die kanniedood se “doef-doef” van daar onder af gehoor kan word. Maar wegsink is nie wat die land nou nodig het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Theresa ·

Ek kan nie glo wat uit hierdie mense se monde kom nie. Hulle is besig om ons land en ons mense te vernietig. Hulle regverdig net hulself. Hulle redeneer soos pazzers………………….!!!

Leendert van Oostrum ·

Ja, dit vernietig die land.

Nee, dis nie die dinge wat uit hul monde kom wat verkeerd is nie. Hulle sit maar net die dekadeslange proses van anti-“apartheids”propaganda voort, wat hulle so goed te staan gekom het oor die dertig jaar voor ’94.

En, nee, dit ontketen nie enorme kragte van polarisasie nie. Die polarisasie is nog altyd daar. Hulle doen ons net ‘n guns om die knus kombersie van oëverblindery af te ruk wat die skelm Mandela en die dom De Klerk gegooi het oor die polarisasie wat aan die wortel lê van feitlik alle verhoudinge in hierdie land.

So lank ons (almal) aanhou om daardie radikale polarisasie te ontken kan ons vergeet. Lees gerus weer Attie van Niekerk se twee boekies: “Saam in Afrika” en “Anderkant die Reënboog”.

Ons leef nou inderdaad in die tyd “anderkant die reënboog” en Mnr Zuma en sy kleinboet Malema doen ons die guns om ons dit onder die neus te vrywe. Ons moet vir hulle dankie sê, en ons posisioneer op ‘n wyse wat ons in staat stel om in die gepolariseerde samelewing te funksioneer en floreer.

Hoe dit gedoen kan word weet ek nie nou nie, maar ek weet dat ontkenning van die werklikheid ons nie gaan help nie.

ed ·

zuma en dieANC se hele bestaan is die grootste rasiste in die wereld. ons moet nou die woord rassiste gebruik om te verduidelik wat swart rasisme is

alida ·

Mense, wat verwag julle van ‘n ongeletterde mens wat ‘n land wil regeer? Hy kan nie eers behoorlik lees nie dus het die woord apartheid in sy kop vasgehaak. Hy en sy makkers het die land bankrot gesteel en nou skielik is dit apartheid se skuld. Iemand moet hom nou dwing om te bedank. Ek is seker daar is slimmer mense in die parlement en ekonome wat die situasie kan red. Ons arme siele kan niks doen nie.

Bruno Stef ·

Al dra n aap n goue ring tog bly hy maar n lelike ding .Hy vergelyk baie goed met Idi Dadda Amin en laasgenoemde moes vlug uit sy land na al sy wandade en vergrype teen sy eie mense maar dit is die Afrika -Styl .

Liewe lulu ·

Gee tog net vir hom n ander kitaar. Sy deuntjie raak afgesaag. Tokkel net op een blerrie snaar

Tvonne ·

Zuma klink soos ‘n vasgehakte grammefoonplaat
Help tog asb daai man!!

Knersus D ·

Ek lag dat die trane by my oge uitkom! Die ironie, Zuma, is dat Suid Afrika die top ekonomiese entiteit in Afrika was, tot net na jy as President verkies is, Nou is Nigerie ons voor. En ek dink ook Egipte… EN die ander lande wat geen apartheid regime gehad het nie, is nie eers in lyn om as ekonomiese entiteite beskou te word nie.

BoereBikerBaby ·

ag ekt nie eers die storie gelees nie, al wat ek se is, als wat verkeerd loop in die land is altyd ons wittes se skuld… eks al so gatvol vir die aparteit storie. Ons land het nie geweet van skuld daai tyd nie. Hoeveel biljoene skuld ons nie aan ander lande omdat ons regering nie met geld kan werk nie. Dis tyd dat die maatskapye weer onttrek uit die land omdat ons sogenaamde president bietjie “overspend” aan sy kya.

Theresa ·

Herman skrywer – het nou lekker gelag oor die gedoef-doef wat mens nog kan hoor al het die trekker al in die modder verdwyn! Wragtie, die man en sy mense maak mens lam van al die snert wat hul kan uit”dink” en dan verkondig. Het hul maar alles wat 100% reg gewerk het net so gehou na ’94 (bv hospitalisasie, onderwys, verkeersbeheer, weermag, intelligensie, polisie, munisipaliteite (dis net ‘n paar – maar belangrikes)) dan was hul as briljant deur die wêreld beskou… Maar nee, als moes verander word na gebroke kennis en glad nie raakvat nie. Dan toets dit dié en dan weer daai. Net om dit so halfpad te probeer terugdwing na hoe dit nou eintlik moet wees (en dan is dit koningkraai). Die ou kort rukkie wat daar sogenaamde apartheid was, kan nou maar regtig op die rak gesit word, wanneer dit nou sogenaamd soveel dinge laat verkeerd gaan het. Die skulderkenning was lankal gedoen. Mense moet probeer ophou so stert tussen die bene loop wanneer die woordjie gebruik word vir plainweg hedendaagse onbevoegdheid, Die nuwe manier van ding (nuut = 21j lank al) het ook baie mense se werk gekos, die land laat verlaat, moord ontketen, roof en als wat vieslik is laat toeneem en snaaks genoeg al hoe minder beskerming vir burgers in plek gebring. Glad nie onskuldig in doen en late nie. Tyd om op te hou blameer – dis in elk geval sommer ‘n swak leier wat dit doen. Ga.

BoereBikerBaby ·

wat kan ek se, die wit mense het nog nooit geweet hoe om met geld te werk nie. dis hoekom die land nooit ryk was nie… nou is ons baie ryk nou dat die swartes oorgevat het… ryk in skuld by baie lande… maar ons het nie geweet “hoe” nie… gaan praat snert op ‘n ander plek Zuma! Gaan hou jou 9 vrouens geselskap. Hulle sal jou glo,

Martin ·

Kyk nou goeie toespraak het het hy gisteraand opgemors oor die tekort van Ambagslui in die land. Die ding kan nie eers behoorlik lees nie. Hoe gaan hy nou seker maak dat daar nou jaarliks 14 000 Ambagsmanne opgelei gaan word? Skuus, ek vra maar net.

SE ·

Uitstekense rubriek!!! Beter kon niemand dit stel nie. Ek bid dat vir eenkeer in sy lewe lees Zuma afrikaanse internet nuus, al is dit net om hom bietjie warmer te maak onder sy kraag. Dankie Mnr Toerien. Dink dat Maroela Media ñ engelse media blad moet begin dat rubrieke soos die oorsee ook gelees kan word

Skoppensboer ·

Ek kan nie glo dat meer as 20 jaar nadat apartheid afgeskaf is word apartheid nog steeds die skuld gegee vir alles wat verkeerd loop in die land. Die regering vat nie eienaarskap van die land se probleme dit word eerder op ‘n “stelsel” geblameer. Die dag toe die ANC die regering oorgeneem het was alles in plek en alles het gewerk, hospitale, munisipaliteite en ja selfs Eskom. Terug in die hede kom die wiele nou af in alle staats organisasie is omdat die regering niks kan onderhou nie. Hulle was nog altyd onder die wanindruk dat alles maar vanself reg gewerk het. Hoe verkeerd die apartheid stelsel ook al was moet ek my hoed afhaal vir die persoon wat dit ontwerp het want vir enige stelsel wat vir meer as 20 jaar na sy afskaffing nog steeds die blaam kry vir alles wat verkeerd gaan moet dit werklik ‘n koelvaste stelsel wees. Aan die regering wil ek se: “Grow a pair”, vat verantwoordelikheid vir die probleme in die land en ontwerp ‘n stelsel wat die probleme kan aanspreek.

George ·

Alida. Al manier om Zuma af te dank is as die ANC nie die meerderheid in die parlament is nie….
Soos jy seker weet al die nuwe wedgewings wat nou in plek is word deur die ANC meerderheid in die parlament gestoom roller. So ons sal maar moet wag tot die volgende verkiesing en dit hang als van die mense af en vir wie hulle stem……

J.Z ·

Kan julle nie verstaan nie,hy het net een pampoenpit tussen die ore en dit is apartheid .

Cathy Kotze ·

So, al die land se probleme is te wyte aan Jan van Riebeeck se aankoms?

Zuma moet net nog ‘n klein bietjie wag. Onder sy leiding is Suid-Afrika vinnig oppad terug na sy “nirvana” van die 17de eeu: geen elektrisiteit, geen infrastruktuur, klein hutjies vir die armes, stamgeweld, geen werkende rioolstelsels, geen suiwer water, net tradisionele helers ens. ens. ens.

Hy het al klaar ‘n huis vol vrouens, nes die groot indoenas van daardie tyd. En ter voorbereiding vir daardie “toekoms” gaan die belastingbetalers binnekort pa staan vir sy “koning se nuwe, tradisionele Zoeloe stat

Marius Barnard ·

Audit JZ. Laat die wêreld weet en leer. Audit sy familie. Audit al sy kennisse ook, al die parlements lede en munisipaliteits hoofde. Kry al daai korrupte gelde terug en gooi die skelms op Robben Eiland

Klein ·

Ons geagte President met sy skoolopleiding het die woord “APARTHEID” verkeerd verstaan dit is waarom hy ses of sewe vrouens het. hy het dit gelees as “A paar tyd” en dit is vir hom baie
impotent (important). nou wil hy die land regeer met sy standard en geleerdheid.

Johannes Meintjes ·

Gelukkig kon Janneman van Riebeeck et al darem ‘n reuse verskil in SA teweegbring tussen 1652 en 1994. Genoegsaam, sodat daar steeds oral vanuit Afrika mense stroom om die vrugte, saam met die ANC en hulle bondgenote, mildelik te kom pluk. So jammer dat hierdie ekonomiese bestel nou onder die Nuwe Apartheid totaal inplof in die hande van die kaders. Tog slaag niemand skynbaar met enige oortuiging daarin om objektief-doelgerig te hergroepeer en die SA ekonomie te herbou nie?

Hendrika ·

Natuuuuuuuuuuurlik is dit apartheid se skuld…!!!!!!!!! Hy moes heeltemal APART van die samelewing gewees het en gebly het want als verrot waaraan hy raak….!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.