Nuuskommentaar: Al weer volstruispolitiek met Zuma?

Jacob Zuma

Jacob Zuma

In bykans elke aspek van die ANC se agteruitboerdery met die pas-afgelope verkiesing speel pres. Jacob Zuma minstens ’n terloopse rol. Tog is Zuma nie ’n besprekingspunt tydens die vierdaagse bosberaad van die ANC waar lykskouing oor die verkiesing gehou gaan word nie. Is dit nie die toppunt van volstruispolitiek nie?

Die ANC hou ’n vierdaagse bosberaad om in wese die oorsake vir sy verliese tydens die afgelope munisipale verkiesings te ontleed. Maar, sê die sekretaris-generaal van die ANC byvoorbaat, pres. Jacob Zuma is nie ’n besprekingspunt nie.

Hoewel daar baie ander redes ook is oor hoekom die ANC soveel steun verloor het, soos dienslewering wat nie te waffers is nie, loop Zuma soos ’n groue draad, of eerder ’n rou rioolstroompie deur ’n ongeteerde straat, deur al die aspekte wat die ANC geknou het. Dink maar aan Guptagate, die spioenasiebande-saak, Nenegate en vele meer. En dan het Zuma ook heel selfstandig, en soos gebruiklik, genoeg goed kwytgeraak wat vir die land ’n ontsettende verleentheid was.

Hoe die ANC enige aspek van die verkiesingsverliese bespreek en ontleed gaan kry sonder om Zuma, wat self ’n wakende ogie hou, ook te bespreek, is nie duidelik nie. Dis soos om ’n kaas-en-hamtoebroodjie sonder kaas te probeer maak.

Kort na die verkiesing het verskeie ontleders die vermoede uitgespreek dat die Zuma-faksie die geleentheid gaan benut om hom op die ANC in Gauteng te wreek.

Die Gautengse ANC het maar kort voor die verkiesing “entoesiasties” oor Zuma geword en verskeie geleenthede gekry om skares toe te spreek. Tot taamlik onlangs was Zuma taamlik afhanklik van kerkgenootskappe in Gauteng wat die skeiding van kerk en staat nie verstaan nie en Zuma openlik ondersteun het.

En toe was Gauteng die provinsie waar die ANC sigbaar swak gevaar het, met die drie metro’s waar die ANC nie volstrekte meerderhede kon behaal nie, en die DA die Midvaal-munisipaliteit gemaklik behou het. Volgens ontleders gaan die Gautengse leierskap die sondebokke gemaak word. Dat die verliese was ten spyte van harde werk van die Gautengse leierskap, en dat Zuma vir ’n sterk verstedelikte gemeenskap ’n yslike blok aan die been is, kom nie daarop aan nie.

Dit mag wees dat die Gautengse leierskap die stang gaan vasbyt en weerstand bied daarteen om ter slagting gelei te word.

Nog ’n interessante aspek wat ter sprake kom, is dat verskeie opposisiepartye dit as voorwaarde vir koalisiegesprekke met die ANC stel dat die ANC eers vir Zuma moet pos. As die partye enduit hierby gaan hou is dit heel waarskynlik dat die ANC uiteindelik in nie een van die vier metrorade en ’n rits munisipaliteite met sogenaamde “hangrade” ’n koalisieregering kan vorm nie.

Daar is ook ’n paar partye wat nie openlik Zuma se kop op ’n stok eis nie, maar gewoon weier om met die ANC in ’n koalisie betrokke te raak.

Maar die politiek is nie altyd baie eerbaar nie, en “nooit” hou soms net ’n paar uur. Verrassings is dus nie uitgesluit nie.

Vir die huidige bly dit egter interessant dat die ANC so hard met Zuma as persona non grata gekonfronteer word, en desondanks volstruispolitiek speel.

Dit mag wees dat die ANC nou bloot oor die Zuma-kwessie probeer water trap om Zuma se opvolgstryd binne die beplande skedule te hou. As Zuma dan nog self in beheer is, verbeter dit die kanse vir ander kandidate soos dr. Nkosazana Dlamini-Zuma om haar vere reg te skud. Kry Zuma nou die trekpas en word adj.pres. Ramaphosa die waarnemende president, is die slag basies nou gelewer.

Die volgende jaar gaan egter ’n baie moeilike jaar vir enige president wees, met kwessies soos klasgeld vir studente, die druk waaronder die ekonomie verkeer en vele meer. Net dalk maak dit sin om ’n reeds gediskrediteerde ook met hierdie moeilikheid op te saal. Veral een wat grootliks, en feitlik eiehandig, vir die moleste verantwoordelik was.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

John ·

Die volgende jaar gaan moeilik wees vir die land. Punt. Daar word nie in die bos gemediteer of sere gelek nie. Planne word gesmee a la ANC soos van oudsher. Die DA gaan nou dag en nag gepeper word met klagtes oor swak dienslewering en die volk opgestook word om op te staan vir hul regte. Skade en skade is bo aan die lys van die voorheen geslaagde optredes soos tydens apartheid. Pres Zuma lyk nog ver van aftrede… en dit nogal op Nkandla in ‘n IFP-setel… nog nooit! Ek dink ‘n volstruis-skop eerder as ‘n kop-in-die-sand, is ter sprake.

humor ·

En ken jy n volstruis se skop. Die gevolge vir die land sal baie pynlik wees, soos John dit uitspel, maar min weet hierdie kaders wat so fanaties oor hul sg. status is en die soustrein se ry dat hul juis besig om die strop om z se nek stywer te trek. Gee die manne genoeg tou. z is tydelik. die slag sal kom.

Theuns ·

Mooi saamgevat Herman. Ek hou van die vergelykings wat jy skets soos bv. ” Die riool water wat oor die teerpad vloei”. Ek hoor die ANC se 14 miljoen mense het vir die ANC gestem? Ongelukig vir die ANC was dit net 7 miljoen stemme want elke ou het twee stemme gehad! Die ANC, klaarblyklik , blameer ook nou die stem stelsel vir sy verliese by die Stembus? Die ANC verstaan nie hoe werk die kiesstelsel nie? Die Hemel help ons!

George ·

Hulle los Zuma uit want dit is n geval van ; ‘Ons gaan mekaar nie seermaak nie, né ?!’

Frans C ·

Die President se mannwales sal nie ANC van koers laat verander nie. Dit is belangrik om hul beleidsdokumente op (alles kleinletters) http://www.anc.org.za/za/docs/pol/2013/strategyp.pdf
te lees.

Uit die inleidende paragraaf is dit duidelik dat die ANC die Vryheidsmanifes steeds as rigtinggewend beskou ongeag die terugslag by die stembus.

Columbiana ·

Die probleem is nie altyd die volstruis nie want hy hou maar sy kop in die grond want dis al wat hy kan doen. Die probleem is die volstruis se oppassers wat hom aanhits om sy kop in die grond te hou.

vaalseun ·

Zuma is die opposiepartye se beste stemwerwer. Ons moet net sy en die ANC se hande uit die land se beursie kry.

Sarel Strydom ·

Ek glo Zuma is Mantashe en kie se pion. Daarom wil hulle nie van hom ontslae raak nie.

Zirk ·

Die na-verkiesing koerant en tv-foto’s wys my nogal iets belangwekkend. Ek sien nie meer Zuma en kie se joviale, uitbundige gelag by elke byeenkoms nie.! Asof politiek ‘n groot onuitstaanbare grap is. So, die uitslag moes vir hulle ‘n verrassing gewees het. Nou loop hulle met strak gesigte.
Ek lees ook op my “NEWS 24” app van ‘n “CLEVER BLACK” se bekeringspad weg van die korrupte ANC. Ek wens almal kan dit lees. Dit gee ons hoop.

Andre K ·

Los Zoempie uit. Hy weet | of verstaan tog nie wat aangaan nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.