Nuuskommentaar: Alles pure apartheid se skuld!

Onwettige elektrisiteitsverbindings (Argieffoto)

Onwettige elektrisiteitsverbindings (Argieffoto)

Gegewe die spottery wat op eers minister Jeff Radebe en daarna pres. Jacob Zuma se stellings gevolg het dat Eskom se probleme voor die deur van apartheid gelê moet word, blyk dit dat die prez nou so ver onkant gespeel het dat selfs die eenogigste skeidsregter hom moes sien en vir hom blaas.

’n Goeie aanduiding is die loesing wat Zuma hieroor op die Kovsie-rektor, prof. Jonathan Jansen se Facebook-blad op die lyf geloop het. Nie alleen het die rektor sy stêrre gewiks nie, wit, swart en bruin kommentaarskrywers op die blad het ook so gemaak.

Die saak is ver van so eenvoudig soos wat hetsy Zuma of baie van sy kritici dit maak. Daar is veel meer faktore as om bloot te sê dat daar in 1994, met die oorgang, nog heelwat surpluskrag in Eskom se kapasiteit opgesluit was. Ook is dit komplekser as om te sê die regering is hierna president vir president gewaarsku dat sake oor die surpluskapasiteit gaan verander. Trouens, as Suid-Afrika se ekonomiese groeikoers nie so afgeplat het nie, sou die krisis veel groter gewees het.

Die regering se reaksie op die media en die publiek se langtand-bytery aan die gereelde bollie wat die prez en sy kornuite opdis, is om te sê die media wat so klem lê op die regering se droogmakery sal met die weerhouding van advertensies gestraf word.

Dit is inderdaad so dat daar ’n tyd onder die vorige regering was wat swart mense buite die tuislande as tydelike inwoners beskou is, en dat daar stremming op die ontwikkeling van swart woongebiede was om inhoud te gee aan die tydelike status.

Selfs lank na wyle dr. Connie Mulder as minister belas met die swart woongebiede in die laat sewentigs ’n nuwe koers ingeslaan het en onder meer sy droom verklaar het om van Soweto ʼn modelstad te maak, het sake nie oornag reggekom nie. Nie alleen is baie geld ingespan om kraglyne na ontwikkelingsnodusse in die ou tuislande aan te lê nie, maar kragvoorsiening het ’n belangrike onderdeel uitgemaak van bloudrukke, soos die Mangaung-ontwikkelingsplan van die begin van die tagtigs. Amptenare in kantore in die swart woongebiede het dikwels nog erge frustrasie met die wisselvallige krag ervaar, veral na rekenaars in gebruik gekom het. Rekenaars het net nie goed geakkordeer met die fluktuerende kragstrome of wisselvalligheid van die sogenaamde “lokasiekrag” nie. Amptenare het geleer om hul werk op die rekenaar kort-kort te stoor om nie kort voor lank ’n groot stuk werk weer oor hoef te doen nie. Intussen het die hoëmasbeligting opgeskiet, het skole en ander instellings krag gekry, en die publiek wat dit kon bekostig, ook so.

Groeiende swart woongebiede met beperkte elektrisiteit het rookbesoedelingsprobleme veroorsaak, al is die swart gebiede gewoonlik wind af van die heersende winde van die “wit” dorpe gebou. Toe swart woongebiede onafhanklike munisipaliteite geword het (met effens meer wetlike magte as die wit munisipaliteite) moes inkomstebronne gevind word. Die verkoop van elektrisiteit bied aan munisipaliteite ’n belangrike bron van inkomste. Hierdie projek is taamlik in die wiele gery deur wanbetaling en kragdiefstal. Die ongelooflikste versamelneste van kragdrade wat as onwettige verbindings van kragpale loop is steeds nie ’n ongewone gesig nie. Soms het ’n mens verstom gestaan oor die ellelange verlengingskoorde wat by ’n huis uitloop en eers talle huise verder weer by ’n huis inloop.

Daar is ook ander perspektiewe. Tot enkele dekades gelede was Eskom (toe nog Evkom)-krag op plase ’n rariteit en het die boere nog met hul Listers en ander kragopwekkers snags krag voorsien. ’n Mens hoef nie so danig oud te wees om te onthou hoe steeks ʼn kragopwekker kon wees nie, en die besondere draaislag wat ’n mens moes bemeester as die selfaansitter nie wou werk nie (of die masjien ooit ’n selfaansitter gehad het). ’n Enorme kragnetwerk is byna oornag opgestel, en groot werk is gedoen om ook die huise van plaaswerkers te elektrifiseer. Baie mense sal seker ook nog die advertensies onthou om dankie aan Agrilek te sê.

Sou dit waar gewees het dat die ANC-regering met die grootskaalse projekte begin het om vir die eerste keer elektrisiteit na swart gemeenskappe te neem, en sou die regering en Eskom nie al bykans twintig jaar lank gewaarsku gewees het dat ’n krisis aan die broei is nie, sou Zuma nou nogal ’n punt kon hê.

Die feit is egter dat die regering te midde van ander (dikwels luukse) prioriteite, nie wou hoor nie.

Eskom se monopolie is egter vergroot. Tot enkele jare gelede kon talle munisipaliteite nog hul eie krag opwek, of, soos in die geval van Bloemfontein, later net in die winter bykomende krag opwek om aan die groter behoefte te voldoen.  Vandag staan baie van hierdie eertydse kragsentrales in alle uithoeke van die land as wit olifante of murasies daar. Die bruikbare werkende onderdele lankal gestroop en verkoop. Die spoorlyne wat die vragte steenkool moes bring, lankal in onbruik, gesteel of soms gewoon net toegespan sodat dit moeilik is om te dink dat enige trein weer sommer daarlangs sal kan loop.

Met die daling in die prys van sonkragpanele is dit ongelooflik dat Suid-Afrika nog nie oor veel meer sonkragplase beskik nie. Dis nie asof Suid-Afrika nie oor volop sonskyn beskik nie.

Verskeie enorme windkragprojekte in die noorde van Lesotho is reeds aangekondig, en sou aan Suid-Afrika ’n enorme hoeveelheid elektrisiteit kon lewer. Suid-Afrika het egter tot met die aanbreek van die huidige krisis ’n eerste instink gevolg om Eskom monopolisties (en steenkoolaangedrewe) te hou.

Dit is onmoontlik om te sien hoe die toedrag van sake op apartheid se brood gesmeer kan word, en daarom is dit nie onverwags nie dat wit, swart en bruin soos selde verenig staan in hul kritiek op Zuma.

En al was Zuma se uitlating eintlik vir die gehoor bedoel waar hy dit kwytgeraak het – die kongres van die Jong Kommunistiese Liga – moes Zuma darem ook nou al van beter geweet het oor hoe dinge wat hy vir bepaalde ore sê, via die media ook by die ander ore uitkom en sy naam (opnuut) met ’n plank slaan. Sy mededeling dat Julius Malema ’n toekomstige president van die land gaan wees, was vir ’n bepaalde gehoor – Malema se geboortedorp – se ore bedoel. Die hele land het egter met ontsteltenis kennis geneem. Sy honde-uitlating was ewe-eens vir ’n bepaalde gehoor in Zoeloe gesê, maar die hele wêreld het met ontsteltenis kennis geneem.

As hy nou nog nie weet die era wat ’n stamkaptein saans by die vuurtjie van elke familie kan sê wat daardie familie wil hoor en dit as goeie kapteinskap beskou, verby is nie, sal hy dit ook nie voor die einde van sy tweede termyn besef nie.

Die feit is egter dat dit in ʼn breër konteks staan om dinge wat vir die ANC verkeerd loop (gewoonlik deur sy eie brouwerk soos deur sy kader-beleid), voor die deur van apartheid, of ’n onlangse variasie, meer as 300 jaar van kolonialisme te lê.

Die blameer van kolonialisme het ’n kwaai knou weg in ’n baie belangrike verslag wat die lig gesien het; die Leefbaarheidsmonitor vir die Wes-Kaap wat pas verskyn het, en deur Solidariteit se Navorsingsinstituut opgestel is.

Vergeleke met ander soortgelyke studies wat voorheen in ander provinsies gedoen is, vaar Wes-Kaapse munisipaliteite kop en skouers beter as dié in ander provinsies.

Onlangs het verskeie ANC-sprekers groot gewag daarvan gemaak dat sosio-ekonomiese dispariteit nie in die 20 jaar sedert die beëindiging van apartheid (eintlik is die laaste apartheidswet in 1991 reeds uit die wetboek verwyder) ingehaal kan word nie, weens die meer as 300 jaar van kolonialisme.

Die ironie is dat die enigste deel van die land wat langer as 300 jaar van kolonialisme beleef het, deeltjies van die Wes-Kaap is. Nou is dit die einste provinsie wat die beste in die leefbaarheidsmonitor vaar.

Nie dat die Wes-Kaap nie ook oor probleme beskik nie. Daar is areas van geweldige hoë geweldsmisdaad, wat dikwels met die bendekultuur verband hou, wat weer dikwels in die dwelmbedryf gesetel is.

Migrasie, veral uit die Oos-Kaap, stel ook ongelooflike eise aan die voorsiening van infrastruktuur.

Die vraag is nou of dit verband hou daarmee dat die Wes-Kaap as provinsie, en die meeste munisipaliteite in die gebied, nié deur die ANC regeer word nie? Meestal staan die DA aan die stuur van sake.

Die ANC wat hierdie provinsie wil “bevry” stem klaarblyklik nie saam nie, en spandeer heelwat energie en koste daaraan om die provinsie te destabiliseer, terwyl beloftes van die provinsie onregeerbaar te maak, ook steeds wanklankig in die ore lui. Die sogenaamde poefie-oorlog was immers ʼn reukbare bewys hiervan.

In die Wes-Kaap het Peter Marais, oud-premier, tot onlangs ’n veldtog gelei om te probeer om die Wes-Kaap as ʼn soewereine staat binne die republiek te verklaar. Minstens ’n groot deel van die bruin mense in die Wes-Kaap voel hul voortbestaan word bedreig deur die toepassing van onder meer nasionale raskwotas.

Die vreemdheid is om te ervaar dat die media bykans voor die voet geswyg het oor hierdie monitor se bevindings. Al wat die volgende oggend nog in Afrikaans op die internet raakge-Google kon word is Solidariteit se eie verslae hieroor, asook Maroela Media se  berig hieroor. Rapport het wel gister hieroor berig.

Selfs die DA, wat die provinsie regeer, swyg oor die verslag.

Politieke korrektheid? ’n Vrees dat hierdie bevinding weer tot ’n rassensitiewe kwessie omskep sal word?

Nou het Radebe en Zuma sommer uit die losskrum weggebreek en reeds tussen die opponente se senters gaan stelling inneem nog voor die bal uit die oond gehaal is. Zuma staan in die internasionale gemeenskap soos ʼn seer duim uit, en die hele land betaal die prys daarvoor.

En daarvoor moet die ANC, nie die Agrilek nie, dankie voor gesê word.

Sonder om ’n waardeoordeel te maak oor hoeveel skade of goed kolonialisme tot gevolg gehad het, die harde werklikheid is dat voorspoed nie bereik kan word as korrupsie, nepotisme, ongrondwetlike kaderontplooiing, die inspan van ongekwalifiseerdes en vele meer aan die orde van die dag is nie. Wanneer Luthuli-huis die deur van verantwoordbaarheid en deursigtigheid in die parlement so toeklap dat g’n mens weet of daar werklik enigsins ’n poging is om in die beste algemene belang te reageer nie, of slegs in die belang van die president en sy begunstigdes nie, brand die rooi ligte helder (as daar nie beurtkrag is nie).

Laat die stratege wat moet sorg dat Zuma meer presidensieel moet vertoon, maar kennis neem – so lank as wat Zuma “toegelaat” word om hierdie soort kluitjies te bak, is die geld wat aan die veldtog spandeer word, bloot gemorste belastingbetalersgeld.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Gerhard Bezuidenhout ·

Herman Toerien som dit puik op. Die ANC se erd begin nou lelik afdop en Zuma begin die nar van die wereld word. Dit is vir die buiteland moeilik om te glo dat die ANC en Zuma na 20 jaar nog vir apartheid blameer. Die vraag word dikwels deur oorsese besigheidsmanne gevra,veral wanneer hulle sien hoedat ons infrastruktuur verbrokkel

JZ Myburg ·

Herman jy kort n Bells,Alles wat jy in die rubriek geskryf het is die waarheid,maar,die regering,ANC en sy meelopers (Koch ingesluit) hou nie hiervan nie.As hulle in die hoek is is al uitweg om iemant anders te beskundig in die meeste gevalle Apartheid,wat hom die vermoe gegee het dat SA darem n stem in die wereld was,(wat baie vinnig verder vervaag)Nie dat alles wat in Apartheid goed was nie,het hulle darem nie die land vernietig nie,.Gee my een diens wat die ANC hulle nog vernietig nie,die nuutste die een wat nogal gewerk het naamlik SARS is hulle nou besig om te vernietig.Kyk noord in AFRIKA as julle wil sien waarheen ons op pad is.

Karen Esterhuizen ·

Absoluut briljant….kon dit nie beter stel nie!

A THERON ·

Zuma en sy uitsprake is so ‘n groot verleentheid vir die land, dis net onmoontlik om te glo dat sy cronies hom tot alle mag beskerm. Tot wanneer? Tot hulle wat bereik het? Is hy ‘n ideale pion vir sy top cadres? Mens kan hom amper jammer kry.

Chris Mynhardt ·

Herman Toerin stel die saak in die regte perspektive. DIe ANC het net die land geplunder en gedink als sal reg kom. Die grootste probleem is die skarre gaan wel in opstand kom soos in Frankryk met die franse revolusie. Dit het wel begin in die vorm van die EFF. Die gepupel glo dat die EFF is reg en hulle sal versorg word soos belowe word. Eintlik die wat niks het het niks om te verloor nie. Die laaste 20 jaar is eintlik niks op gebou nie net afgebreek. Die huidige regering is eintlik n verleentheid vir Siud Afrika en die wereld. Die wereld landed het baie geld in die land ingestort en vir wat op die ou einde. Die weteloosheid is eintlik skrikwekkend. Dit begin van bo en die laagste sien niks gebeur met die top bestuur van die land nou moet die kriminele weet niks kan met hulle gebeur. Die regering stel nie goeie beeld. Eintlik is ek te skaam om trots te wees op ons land.

Henneman ·

“Ellende wag vir die land
waarvan ‘n slaaf koning is
en waar amptenare vroeg in die dag
begin feesvier”
Prediker 9 vs.16

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.