Nuuskommentaar: Almal het onbewuste neiging tot rassisme, maar …

ras-regstellende-aksie-race

Argieffoto.

Suid-Afrikaners is deeglik uit nuusdekking vanuit verskillende wêrelddele bewus daarvan dat ’n rasbewustheid, indien nie blatante rassisme nie, oral aan die roer is. So moes ’n Moskouse sokkerspan ’n aantal wedstryde in ’n leë stadion speel as straf vir rassistiese optrede van sy ondersteuners, elders was daar die sogenaamde piesang-voorvalle, in die VSA roer die beweging Black Lives Matter ná verskeie skietvoorvalle waarin swart mense aan die hand van polisielede gesterf het, Zwarte Piet se ras word omstrede en herdoop tot Steenkoolpiet …

Om nie van die rasbenepe optredes en maatreëls van die Suid-Afrikaanse regering te praat nie wat ook al erg krities by die VN gaan draai het.

Dit is juis die stormagtige gebeure om Zwarte Piet wat die Nederlandse filosoof, Jan Verplaetse, in ’n nuwe artikel gebruik om oor die mens se geneigdheid tot rassisme te skryf. Verplaetse is ’n moraliteitsfilosoof  van die Gentse Universiteit, en doen navorsing oor die biologiese en neurologiese wortels van (im)morele gedrag.

’n Mens hoef nie met Verplaetse se afleidings saam te stem nie, en sommiges sal inderdaad omstrede wees, om nie van politiek inkorrek te praat nie. Die feit dat dit in ’n gerekende koerant soos Trouw opgeneem is, spreek egter boekdele. Boonop het Verplaetse nie self die artikel geskryf nie, maar is dit die pennevrug van Henk Steenhuis. Trouw het dus die storie gaan opsoek.

Op die allerminste kan gesê word dat Verplaetse se siening ’n goeie basis bied om van kennis te neem om te probeer verstaan hoe die wêreld rondom die rassekwessie daaruit sien, en hoekom.

Verplaetse wys op ’n studie waar ’n groep wit mense en ’n groep Chinese gevra is na die trauma wat die ander groep in hul leeftyd sou beleef. Die twee groepe se gevoel teenoor die ander was dieselfde as dit wat hulle teenoor hul eie groep ervaar. Maar word daardie dele van die brein wat met die belewenis van pyn verbind word, ondersoek, is dit duidelik dat daar teenoor die ander groep ’n groter mate van apatie sou wees.

Verplaetse kom tot die volgende gevolgtrekking: “Enerzijds maakt deze studie duidelijk dat we neurologisch gezien verschil maken, we denken in categorieën, in huidskleur, gelaatsuitdrukking of andere raciale kenmerken.”

In die Suid-Afrikaanse konteks sou dit moontlik vergelyk kon word met die nuus dat ’n passasiersbus in ’n ongeluk betrokke was, en dat daar ongevalle was. Sodra vasgestel is dat die passasiers van ’n ander rassegroep is, neem die belangstelling en selfs empatie skerp af.

Omgekeerd, as daar ’n swart op wit plaasaanval was, veroorsaak dit geweldige emosie onder wit mense, terwyl die regering op die oog af baie apaties daarop reageer. Pres. Jacob Zuma se “honde-toespraak” waarin hy gesuggereer het wit boere behandel hul honde beter as hul swart werkers het internasionaal opslae gemaak. Voorts dui die sake wat die Menseregtekommissie oor rassisme en haatspraak opneem, en die strawwe, daarop dat dit lyk of ras-onewehandigheid sterk neerslag vind.

Verplaetse laat dit nie daar nie. In antwoord op die vraag of almal dan ’n onbewuste neiging tot rassisme het, sê hy: “Ja. Maar anderzijds zijn we gelukkig in staat de gevolgen van deze oordelen in ons gedrag bij te stellen, in overeenstemming te brengen met wat politiek, ethisch, moreel correct is. We bezitten kennelijk mogelijkheden om racistische neigingen te corrigeren. Dat is een belangrijke constatering, omdat naar mijn idee daar een rol voor de cultuur is weggelegd. Dat je onbewust discrimineert, betekent niet dat je daar ook naar moet handelen.”

Wat belangrik is, is dat Verplaetse nie sy verklaring tot ’n geneigdheid tot rassisme gebruik om die manifestasie goed te praat nie. Hy beklemtoon dat die mens die geneigdheid tot onbewustelike rassisme kan beheer en regstel.

Hy is in die kol dat daar ook ’n rol toegeken moet word aan kultuur. Kultuur, anders as ras, beskik immers in terme van die internasionale reg oor positiewe regte, soos minderheidsregte. Ras, daarenteen, beskik eintlik net oor negatiewe regte soos ’n verbod op diskriminasie, haatspraak en so meer.

Die artikel oor Verplaetse se opvattings is dalk ook ’n tydige oproep dat die voorgestelde wet teen rassisme, waarop nou kommentaar gelewer kan word, gefynkam word dat dit geen ruimte laat vir onewehandigheid in die bedoeling of toepassing nie.

Almal beleef gelukkig nie net negatiewe ervarings oor die rassegrens heen nie.

Uit eie ervaring was daar ’n besondere rasseharmonie tydens ’n onlangse judotoernooi in Bloemfontein. Die uwe se outisties-gestremde seun sou, as hy die geveg waarvoor hy ingeskryf was, wen, ’n brons medalje kry, maar toe hy wel wen, materialiseer die medalje nie, iets wat die gestremde nie sou verstaan nie. ’n Jong swart man kom gee toe sy eie bronsmedalje aan die gestremde jong man. ’n Spesiale medalje is toe wel later aan die gestremde oorhandig.

En dit is gelukkig lank nie die enigste voorbeeld van welwillendheid nie, maar ongelukkig veroorsaak gebeure soos die barbaarse wyse waarop die studente-opstand gevoer word en die tipe eise (benewens die klasgeld) dat welwillendheid in die breë onder druk verkeer.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johann ·

Geen mens kan afsydig staan, of gevoelloos wees, teenoor ‘n ander, van watter ras ook al se trauma of teenspoed nie. Ek ken nie sodanige gevoel nie, ek huil saam met hulle, maar die realiteit van waarmee ons in die land “opgeskeep” sit, ja dit laat my die woord, “opgeskeep” uiter, soos in ‘n oorlas, laat die negatiewe in my oorkook. Ek is waar ek nie wil wees nie, dit laat my omdraai en wegloop. Ek kan nie glo dat ‘n hele nasie (die ANC, noem ons hulle maar) dit mis het oor waarom die mens op aarde is nie. Dan vra ek, waar is hul barometer in die lewe? Waar is hul moreel, hul sin vir waardes?

Veritas ·

Ek glo vas dat elke mens ‘n mate van rassisme in hom/naar huisves. Die graad van uiting daaraan gee varieer egter van persoon tot persoon. Wanneer ek as wit Afrikaner man, dit verkies om met my mede-afrikaners (blank) te meng, maak dit van my ‘n rassis? Ek glo nie. Wat vir een persoon rassisties voorkom, sal ‘n ander weer minder pla en nog ‘n ander sal dit nie eers opmerk nie. Wat ek wel oortuig van is, is dat geforseerde, kunsmatige samevoegings van verskillende rasse, ‘n gewaarborgde resep is vir onmin en rassewrywing.

Lou ·

Ek deel ‘n geskiedenis, kos, humor, liedjies, kerkverband, geloof, norme, sedes en manier van doen met my groep Afrikaners. Ek voel tuis en dit het niks met rassisme te doen nie.

Swarte skaap ·

Lou, ek is nie seker of hierdie “kerkverband” (in elk geval as dit Calvinisties sou wees), “norme” en “humor” waarna jy verwys so onrasisties is as wat uit jou kommentaar blyk nie. Dat jou kos nie rasisties is nie, blyk meer waarskynlik te wees- tensy Monsanto al die tyd rasistiese sade kweek wat al die bogenoemde beter sou verduidelik!

Griet ·

Dis nie noodwendig rassisme, dis iets anders: as ek lees van ‘n busongeluk in Amerika, dan dink ek sjoe, en gaan aan. As ek lees van busongeluk in SA, voel ek dit nader aan myself. Het niks te doen met ras. En so kan ek aangaan – hoe jy reageer, hang af van hoe naby dit aan jouself is / hoe dit dalk ‘n invloed op jou as persoon gaan hê. Hoe verder weg, hoe meer apaties.

Louwrens ·

Griet, ek verstaan jou siening en kan dink dat daar meriete in is. Ek persoonlik dink egter ons is maar almal geneig tot n mate van rassisme. Vir my is die busongeluk vaarvan jy praat n goeie voorbeeld. As dit n ander rassegroep is in SA of elders dink ek bloot “Sjoe, dit is erg maar dalk was die bestuurder dronk.” Daar is min sprake van simpatie. As die ongeluk egter in SA of elders was en die betrokkenis was van my rasse-groep, dan dink ek “Sjoe, ek kry die bestuurder en passasiers ontsettend jammer”. Ek het baie simpatie en empatie met almal wat daardeur geraak word. So wat ek eintlik se is dat ek en andere soos ek seker maar as onderliggend rassisties beskou kan word.

Johannes Meintjes ·

Geldige saak. Dankie Maroela Media. Persepsies vanuit die mens se geneigtheid tot rassisme en kulturele verskille het tans na mening groot impak op die kerk, of te wel die Gemeenskap van Gelowiges, se uitreikwerk. Daarmee saam is dit volgens eie waarneming tans toenemend moeilik om te mobiliseer vir sending in Afrika as bv. die blanke in SA homself met rede onder geweldige druk, werkloosheid, verarming en ongeregtigheid bevind, wat dan die tendens versterk om eers onderling weer te wil saamtrek, preserveer en presteer voordat daar enige liefde aan wat as die onderdrukkers bejeen word, vertoon sal word (hoewel selfs oud President Paul Kruger na sy werkers omgesien het ook op geestelike terrein). Inderdaad dikwels werklik delikate situasies. Die Skrif getuig hiervan in Openbaring 22:2.

Frans C ·

Ek het effens ‘n paar ander gedagtes oor dit.Ons hele lewe op aarde is maar ‘n stryd om oorlewing waarin almal eintlik in kompetisie met ander is. Daarby is die mens inherent ‘n kuddedier en neem ingebore instink oor.
Kyk maar mooi hoe diere reageer as ‘n roofdier toeslaan ,die trop spat uiteen om later weer rustig voor te wei.
Soms kom mense byeen om groep belange te beskerm en om soos buffels gevaar af te weer as die swakkes van die trop bedreig word.

Armando ·

Ja. Ek stem baie saam met jou, Frans C. Maar dis nie al nie.

Armando ·

Frans C. stel jou voor twee groepe mense, een groep wit, die ander swart, en hulle almal word deur ‘n dodelike gemeenskaplike vyand bedreig, sê van Mars. Ek dink dat in die begin sal almal teen die Marsmanne veg, totdat hulle uitgeroei is. Nee wag, hierdie gaan ‘n lang storie wees wat ‘n boek regverdig. Maar sien jy waarnatoe dit kan gaan?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.