Nuuskommentaar: Ambassadeur van die Gewete

Aung San Suu Kyi, leier van Mianmar, lewer ‘n toespraak by die ASEAN Business and Investment Summit 2018 in Singapoer (12 November 2018). Foto: Bullit Marquez/AP

In 2009 het AI die eerbewys van Ambassadeur van die Gewete aan die menseregte-aktivis van Mianmar, Aung San Suu Kyi, oorhandig. Dit is AI se hoogste menseregte-eerbewys.

Mianmar, die eertydse Birma, was destyds in die hande van militêre heersers wat menseregte erg geskend het. Aung San Suu Kyi het internasionaal bewondering afgedwing oor hoe sy erge vervolging verduur het vir haar verset teen die diktatuur. In 1991 is die Nobel-vredesprys aan haar toegeken.

Sy het haar hoë toekennings ontvang te midde van ’n destydse “mode” om hierdie gesogte pryse te wen terwyl hulle deur hul eie regerings vervolg en verag is. Veral China het deurgeloop.

Aung San Suu Kyi is in 1990, terwyl sy onder huisarres was, tot eerste minister verkies, maar die militêre junta weier om dit te erken. In 2015 het haar party die verkiesing oorweldigend gewen, maar sy is gediskwalifiseer om president te word. Sy aanvaar die aanstelling in ’n pos min of meer vergelykbaar met dié van eerste minister.

Sy is ’n aanhanger van die leerstellings van die Indiese politikus, Mahatma Gandhi, en haar optrede tydens huisarres en aanhouding is met dié van Nelson Mandela in aanhouding vergelyk. Haar beeld van martelaar vir menseregte het internasionaal van haar ’n ikoon gemaak.  Die titel van die toekenning wat sy by AI gekry het, Ambassadeur van die Gewete, was dus heel gepas.

Maar hoe gebeur dit dat dié toekenning teruggetrek word minder as ’n dekade nadat dit toegeken is, en daar boonop geen internasionale bohaai was nie? Dink maar aan die bohaai wat sou volg indien die Nobelpryskomitee die vredesprys wat Mandela ontvang het, na ’n paar jaar sou terugtrek, selfs al sou die Quatro-strafkamp en die swye oor die uiterste wreedhede wat daar gepleeg is, voor sy deur gelê kon word.

Sedert die jongste opstand van ’n deel van die Rohingia-minderheid, en die uiters gewelddadige weerwraak deur die weermag, is gewag dat Aung San Suu Kyi dié optrede sou veroordeel. Haar reaksie was egter lamlendig. In die Suid-Afrikaanse konteks sou dit seker vergelyk kon word met pres. Cyril Ramaphosa se ontkenning voor die internasionale media dat daar nie plaasaanvalle in Suid-Afrika plaasvind nie.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: ANA

In beide gevalle is daar kontekste, maar Ramaphosa het doodeenvoudig drooggemaak deur nie ten minste aan die landbougemeenskap verskoning te vra vir die lomp hantering van die vraag waarop hy reageer het nie. Anders as die Rohingia het die boeregemeenskap in Suid-Afrika immers nie gewapende aanvalle uitgevoer, soos onder meer om polisiestasies aan te val, nie.

Gewete is ’n belangrike onderdeel van moraliteit. Met die uitgesproke versugting van Ramaphosa en ander leiers dat moraliteit in Suid-Afrika herstel moet word, is dit vanselfsprekend dat die mense se gewete ’n kardinale rol moet speel. Kluitjies bak, en veral meineed pleeg, is nie deel van ’n gesonde moraliteit nie.

Tog het verskeie voorvalle in die jongste verlede voorgekom waar leiers se gewete skynbaar die oorhand gekry het, met oud-minister Nene se bieg-en‑bedank seker die prominentste. Malusi Gigaba se bedanking as minister het skynbaar min met gewete uit te waaie – hy het immers laat weet sy bedanking moet nie as enige skulderkenning beskou word nie, al is hy op heterdaad betrap. Hy is immers deur die howe en die openbare beskermer vir onwaarhede en meineed veroordeel.

Wat nou aan die gebeur is, is nog nietig in vergelyking met die stroom wat afgesit het na die Waarheids- en Versoeningskommissie en gaan bieg het oor wandade. Hoe ’n groot persentasie hiervan eerlik deur hul gewetes oorval is, en hoeveel gaan bieg en bedrieg het om moontlike vervolging vry te spring, sal ’n mens seker nooit weet nie.

Daar sal ook ’n vraag hang oor hoe ’n groot rol die gewete ook werklik speel as ’n politikus onder druk sou bedank, omdat die pensioene van veral senior politici nie te versmaai is nie. Oudpres. Kgalema Motlanthe het byvoorbeeld verkies om nie sy salaris as adjunk-president op te neem nie, omdat sy pensioen as kortstondige instaan-president meer is as die salaris wat hy van die hand gewys het.

Mduduzi Manana (Foto: Flickr/Governmentza)

Mduduzi Manana, voormalige adjunk-minister van hoër onderwys, sal na sy min of meer gedwonge bedanking geen kerkmuis wees nie. Daar blyk ook min berou te wees in ʼn Facebook-inskrywing waar hy die redes vir sy bedanking verskaf het: “I need to reiterate that the allegations against me were obviously frivolous and were rooted in a politically-motivated smear campaign against me by my political opponents.”

Nog ’n stertjie by hierdie tipe bedankings is dikwels om ook ’n edel motief in te bou, soos dat dit ter wille van die ANC se aansien gedoen is. Gigaba verklaar in sy bedanking onder meer soos volg: “I did so after a long period of sustained and vitriolic public attacks on my integrity. I wish to state that my resignation is not an admission of guilt on my part. The integrity and public standing of the Government and the African National Congress of which I am a loyal and proud member is more important than any political office bearer.”

Presies hoe sy bedanking as minister in belang van die ANC beskou kan word as hy as lid van die ANC se NUK aanbly, is ’n ope vraag.

Die gewete is nie ’n politieke instrument wat aan- en afgeskakel kan word na gelang van gerieflikheidswaarde nie. ’n Politikus wat só maak speel woer-woer met die verklaarde strewe om moraliteit in die regering te herstel.

  • Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman Toerien te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.
  • Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos na [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

Hoeveel soene en drukkies het Obama nie vir Sannie gegee nie… maar natuurlik het hy ook ‘n lekker toekening gekry vir die vrede wat nou so in sy land heers tussen die Demokrate en die Republikeine… Volgens eersgenoemde die regte egte leier vir die VSA.

Josef du Toit ·

Besonder insiggewende parallele in hierdie artikel getrek. Baie dankie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.