Nuuskommentaar: Amcu-staking – lig in die mynskag (as Eskom hou)

light-at-the-end-of-a-tunnelDit lyk of die langste mynboustaking in die 130-jarige geskiedenis van dié bedryf moontlik binnekort iets van die verlede kan wees. Sou Amcu vandag formeel die ooreenkoms onderteken, sal dit goed wees as daar ‘n vlaag optimisme posvat, want dit het die land se ekonomie al bitter nodig.

Daar kan egter nie maar agteroor gesit word en reken môre se probleme moet vir hulself sorg nie. Daar is immers meer as R30 miljard regstreeks uit die ekonomie geneem, en die rimpeleffek oor die hele land, met eggo’s in die buiteland, sal oneindig groter wees. Met Amcu wat ook die goudmyn-bedryf wil takel, en die NUM wat nie in die skadu gestel wil word nie, en NUMSA wat ook ‘n stewige agenda met politieke ruggraat bedryf, is die stakingseisoen op hande.

Die Amerikaanse Geologiese Opnamesentrum, USGS, het onlangs in ‘n verslag oor die beskikbaarheid en reserwes van die wêreld se platinumgroepmetale, Suid-Afrika as die land met verreweg die meeste reserwes uitgewys, maar ook op die kwesbaarheid van die bedryf gewys. Benewens die onstabiele arbeidsituasie is daar ook na infrastruktuur-probleme soos water- en elektrisiteitsbeskikbaarheid verwys. In daardie stadium het Eskom nog soos taks enige berig oor moontlike beurtkrag ontken.

Die Wêreldbank het juis aangedui dat die Eskom-probleme en die platinumstaking die vernaamste redes is vir sy afgradering van Suid-Afrika se groeivooruitsigte.

Ironies speel ‘n hoofstuk in die land se post-1994-geskiedenis hom nou af voor die Seriti-kommissie van ondersoek na die omstrede wapentransaksie. Die besluit om miljarde rande aan gevorderde wapentuig te spandeer word dikwels in verband gebring met ‘n besluit om Eskom se uitbreidingsbehoeftes op die lange baan te skuif.

Nou moet die land nie net twee reuse rekeninge betaal nie, hy moet dit doen terwyl die ekonomie gestrem word deur die versuim om die kragbron vir die nodige uitbreiding daarvan betyds aan te spreek. Die een gewese minister na die ander getuig nou oor die noodsaak van die wapentransaksie, die bekostigbaarheid daarvan, en dat die “primêre transaksies” silwerskoon sou wees. Die korrupsie waarvoor Schabir Shaik en Tony Yengeni elkeen ‘n blitsige draai agter tralies gaan maak het, en waarby pres. Jacob Zuma deur sy “algemene korrupte verhouding met Shaik” geïmpliseer word, spruit uit die “sekondêre transaksies” waaraan die regering sy hande wil was.

Maar die land betaal die “primêre prys” vir jarelange toesmeeraksies, die bedenklike “redigering” van ‘n verslag, en geheueverlies oor konkelvergaderings.

Net so kan nie nou in gerustheid agteroor gesit word en gemeen word alles in die mynbedryf gaan oornag weer soos platinum en goud blink nie. Platinum se prys het rondom die nuus van die waarskynlike ooreenkoms met $40 dollar getuimel. Dit is ‘n duur proses om platinum uit die Bosveldstollingskompleks te onttrek, en die ooreenkoms sou die myne nader aan ‘n marginale vlak bring waar die verlaging in die platinumprys gevoelig kan wees. ‘n Hoofstuk twee met skagte wat moet sluit, en duisende afleggings is dus nie onmoontlik nie.

Die ooreenkoms sal waarskynlik die mynwerkers in ander sektore drome oor soortgelyke vergoedingspakkette laat droom.

Ngoake Ramatlhodi, minister van minerale bronne, het met sy betrokkenheid aangedui dat die arbeidswetgewing hersien moet word. Dit is ‘n gevoelige kwessie binne die ANC, wat swaar steun op vakbonde wat nou nie juis ‘n hoë premie op produktiwiteit en werksetiek plaas nie. En met die munisipale verkiesings wat binne twee jaar plaasvind, sal enige vasvat-wetgewing wat hierdie soort stakings sal moeiliker maak, nie gou op die wetboek beland nie. Met waarskynlik volop stakings intussen juis om te voorkom dat die regering sy lyf Margaret Thatcher hou.

Voorts is dit ‘n vraag hoe lank voor die stakende mynwerkers onthou dat die minister aan die media gesê het hy het as deel van ‘n oplossing, huise aan al die mynwerkers beloof? Of gaan dit op dieselfde wyse realiseer as oudpresident Nelson Mandela se wasmasjiene vir almal?

Kort voor die nuus dat ‘n ooreenkoms waarskynlik bereik is, het Solidariteit gesê dat hy volgende week die hof met ‘n dringende aansoek gaan nader om nie-stakers se reg om te werk in die regspraak te vestig. Die tonne kos en ander lewensmiddels soos babadoeke en melkformule wat na die platinumgordel aangery is, skets net ‘n deel van die prentjie oor die onskuldige slagoffers van die staking. Die einde van die staking gaan nie oornag uitkoms bring nie – mense wie se motors en huise teruggeneem is, sakeondernemings wat moes sluit of personeel aflê, word nie oornag herstel nie.

Met AMCU wat nou sy oë op die goudmynsektor rig, bly Solidariteit se aansoek ‘n noodsaaklike prioriteit hoewel dit in die oë van die howe waarskynlik nou nie meer sommer as “dringend” sal kwalifiseer nie.

Nog ‘n belangrike aspek waarop die burgers hul oog moet werp is die baie komplekse situasie in Irak, en selfs Sirië, waar radikale Moslems nou die een stad na die ander verower en reeds die internasionale olieprys laat styg het.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae