Nuuskommentaar: Amerika ruk op na die stembus en dit raak ons

Pres. Barack Obama (Amptelike Withuis-foto deur Pete Souza)

Pres. Barack Obama (Amptelike Withuis-foto deur Pete Souza)

Die midtermyn is die VSA se grootste verkiesing

Die term, midtermyn, is effens misleidend omdat dit die indruk skep dat die verkiesing waarvoor Amerikaners vandag na die stembus opruk, ’n kleiner verkiesing is as die verkiesing wat met die presidentsverkiesing gepaard gaan. In werklikheid is dit veel groter.

Met hierdie midtermyn word al 435 setels van die Huis van Verteenwoordigers aan kieserswil onderwerp, asook 36 van die 100 setels van die senaat. Boonop word 38 goewerneurs van deelstate en ander gebiede in die VSA se besit, asook die meeste wetgewende liggame van die deelstate aan verkiesings onderwerp. Ook op ander vlakke vind verkiesings plaas, terwyl byvoorbeeld die Navojo-Indiane – die VSA se grootste stam, ook hul verteenwoordigers en wetgewende liggaam verkies.

Pres. Barack Obama van die Demokratiese Party moet nog twee jaar van sy vier jaar termyn uitdien. Dit is daarom baie belangrik vir Obama dat sy Demokratiese Party minstens een van die huise van die kongres, verkieslik die senaat, sal beheer.

Vooruitskouing van uitslag

Die algemene verwagting is dat die Republikeinse Party, dikwels die GOP (Grand Old Party) genoem, beheer in die Huis van Verteenwoordigers sal behou. In die Senaat voer die Demokrate nou die botoon, maar al is net meer as ’n derde van die setels beskikbaar, is daar ʼn sterk moontlikheid dat die Republikeine ook hier koning sal kraai. ’n Peiling toon dat sowat 65% van die kiesers meen die Republikeine gaan die senaat afneem.

Van die 36 betwiste setels word 21 nou deur die Demokrate beheer, en 15 deur die Republikeine. Die Republikeine moet ’n netto-wins van ses setels behaal om die senaat by die Demokrate af te neem. Vyftien setels word volgens Rasmussen as veilig Republikein beskou en nege veilig Demokraat. Drie neig in die rigting van die Republikeine, en vier in die rigting van die Demokrate. Nog een neig om ’n onafhanklike op te lewer, en in vier kan enigiets gebeur.

Obama beleef nou in besonder ongewildheid. ’n Onlangse peiling het selfs getoon dat, sou die presidentsverkiesing van twee jaar gelede nou weer kon plaasvind, die Republikeinse se kandidaat, Mitt Romney taamlik maklik sou wen. Baie demokrate keer openlik die rug op Obama, en van die kandidate wil hom nie naby hul verkiesingsaamtrekke hê nie omdat hulle glo Obama skaad hul kanse. Daar is sterk sprake dat sou die Republikeine die senaat ook inpalm, Obama in ’n staat van beskuldiging geplaas kan word omdat hy glo die kongres geminag het deur buite sy eie magte op te tree. Dit kan Obama se doppie klink.

Faktore wat stemkeuses beïnvloed

Tog toon ʼn nuwe peiling aan dat 87% van die swart kiesers glo mense wat teen Obama gekant is, is teen hom gekant omdat hy swart is. Altesaam 67% van die wit kiesers, en 56% van die ander minderhede glo egter hulle is ontevrede met Obama omdat sy beleid sleg is.

’n Interessante aspek is die uiteenlopende menings oor die invloed van die stemme van die Rooihuide. Verskeie analiste meen die Rooihuide se tradisionele oorwegende steun vir die Demokrate kan die Demokrate help om die Senaat te behou. ’n Bohaai oor die naam van die professionele voetbalspan van Washington, die Redskins, dra tot die debat by, met die algemene opvatting dat die Republikeinse kandidate nie so uitgesproke hieroor was as die van die Demokrate nie. Tog wys ander daarop dat die Rooihuide slegs in enkele state meer as 2% van die kiesers uitmaak, en in net twee van daardie state is die resies om senaatsetels naastenby noustrop is. Voorts dui peilings daarop dat relatief min Rooihuide die naam “Redskins” as aanstootlik ervaar. Tog lyk dit of ’n sameloop van omstandighede in Suid-Dakota kan veroorsaak dat die Rooidhuidstemme die senaat vir die Demokrate kan behou. ’n Referendum word gehou oor ’n naamsverandering. Rasmussen se jongste peiling dui dit egter steeds as ’n veilige Republikeinse wins aan.

Hierdie moontlike verskuiwing moet nie as ’n besondere groei in steun vir die Republikeine beskou word nie. Die kiesers is eerder kwaad vir die owerheid en politici as wat hulle vir die Demokrate kwaad is, en peilings staaf dit. In ’n onlangse Rasmussenpeiling het net 8% van die kiesers gemeen die kongreslede doen goeie werk. Kort tevore het net 26% gedink die VSA is in die regte rigting op koers.

Die erge afkeer in politici is nie uniek aan die VSA nie. Betreklik onlangs was die gety in Nederland so gelaai teen politici dat gemeen is “die posman op die naaste hoek” sal beter as die huidige politici vaar. In die VSA het ’n peiling van ongeveer ʼn jaar gelede bevind die meeste kiesers meen dat name wat lukraak uit die telefoongids getrek word, beter kongreslede sou uitmaak as die sittende politici.

Twee partye

Die VSA se politiek het so ontwikkel dat dit as ʼn de facto-tweepartybedeling beskou kan word. Hoewel onafhanklikes van tyd tot tyd die pyp rook, en ook volgens die jongste peilings hier en daar suksesvol behoort te wees, gaan die VSA nog lank ’n tweepartybedeling bly. Tog dui peilings daarop dat die kiesers in hul harte die huidige bedeling die rug toekeer.

(’n Tweepartybedeling in die VSA kan nie met ʼn soortgelyke stand in Suid-Afrika vergelyk word, soos deur baie bepleit word nie. Die Amerikaanse kongreslede is nie, soos hier, aan koukusbesluite onderhewig nie. Hulle verteenwoordig kiesafdelings, en is aan die kiesers, en nie die party nie, verantwoording verskuldig. Talle organisasies, soos die Christian Coalition of America en die Tea Party, wat in Suid-Afrika as politieke partye sou deelneem, werk in die VSA as belangegroepe wat spesifieke kandidate steun wat hul beleid en manifeste ondersteun. Lobbies is ook intensief aktief. Weens die vlakke van korrupsie in Suid-Afrika, en sommige partye se ondeursigtigheid oor hul donateurs, kan die lobbiestelsel in Suid-Afrika nie sonder ernstige wanpraktyke funksioneer nie. Ook in die VSA word deurlopend skuiwergate toegestop.

Maar hoe gaan die verkiesing Suid-Afrika raak?

Regstreeks baie min. In die verlede het dit dikwels gebeur dat die Demokrate meer bekpraatjies oor hulp aan Afrika gemaak het, maar die Republikeine dikwels die daad by die woord gevoeg het – sonder baie praatjies. Die belangrikste ooreenkoms, die Agoa-ooreenkoms, is deels aan die werk van beide administrasies te wyte.

Volgens die Amerikaanse grondwet is die federale regering se bevoegdhede beperk tot buitelandse sake, verdediging en sekere maatskaplike aangeleenthede. Dit is egter hierdie maatskaplike verantwoordelikhede wat kruipende sentralisering moontlik maak, wat onder Obama se presidentskap grootliks tot sy ongewildheid bydra. Nogtans dwing die grondwet die federale regering as’t ware om veel meer buitelands betrokke te wees as wat met ander state normaalweg die geval sou wees. Saam met die bevoegdhede oor die militêre magte, is dit dus nie vreemd dat die VSA ook elders in die wêreld die reputasie sou kry dat dit oral sy neus insteek en inmeng nie.

Die wêreld het dus ʼn baie groot belang by wat vandag in hierdie verkiesing gebeur – insluitende Suid-Afrika.

Dit sou ʼn logiese afleiding wees dat die Republikeine, wat as minder filantropies beskou word, waarskynlik minder entoesiasties oor die aanmoediging van beleggings in Suid-Afrika sal wees, as Suid-Afrika sou voortploeter met pres. Jacob Zuma as regeringshoof, en voor die kreeftegang op indekse soos die korrupsie-persepsie-indeks, die persvryheidsindeks en ander saakmakende indekse nie omgekeer word nie, stakings nie weer so handuit ruk nie, en misdaad tot “aanvaarbare” vlakke verminder word. Die opvatting is dat die Demokrate, onder meer deur die invloed en selfs druk van die swart koukus, net ʼn bietjie meer toegeneë is oor “affirmative action” en wat daarmee verband hou, en dat daar ʼn titseltjie meer begrip is vir die wyd-aanvaarde sleureffek van apartheid op oorgeërfde armoede en die impak daarvan op misdaad. Hierdie ontleding sou dalk selfs kon water hou, maar die algemene terugvoer uit die VSA is dat die algemene publiek Afrika, Suid-Afrika inkluis, “afgeskryf” het. Die enkele Afrikalande wat nog ernstig opgeneem word soos Egipte en Libië word eerder as deel van die akute Midde-Ooste as deel van Afrika beskou.

’n Aanduiding van hoe persepsies van buite die Demokrate teenoor die Republikeine beskou, is dat premier Benjamin Netanyahu van Israel pas gesê het as hy stemreg in die VSA sou hê, hy vir die Republikeine sou stem. Israel het in die jongste verlede erge kritiek en selfs neerhalende opmerkings van Obama se ministers op die lyf geloop.

Voorts is daar ʼn opvatting, nie heeltemal sonder rede nie, dat die VSA oorsee gehaat word. Die kiesers het dus ʼn weerstandigheid dat hul belastinggeld gebruik word om daardie lande te help.

Die negatiewe impak van die Zuma-faktor moet egter ook verreken word.

Dit is ʼn ongelooflike harde oordeel, oor een maand en een dag ʼn jaar na oud-president Nelson Mandela se afsterwe. Die feit is egter dat Mandela se lang siekte in baie lande veroorsaak het dat Mandela en sy ikoniese status afsonderlik beskou is van die Suid-Afrika waar Zuma die septer swaai en die een allemintige verleentheid na die ander vir die land veroorsaak – en maar weer in die stoel geplaas word. Die persepsie is boonop met Mandela se gedenk-”diens” in Soweto versterk waar beide Obama en Zuma sprekers was, en Obama Zuma totaal oorskadu het (en Zuma boonop deur ʼn deel van die skare uitgejou is).

Die grootste impak van die verkiesing op Suid-Afrika en ander lande kan wees dat die gevoel van wantroue in politici ook hier verdiep. Dit lei weer daartoe dat die regering met eerder minder, as meer, mag vertrou word, en burgerlike instellings, as teenwigte, word al hoe sterker.

Die wag vir uitslae

Omdat van die uitslae baie naby aan mekaar gaan wees, word verskeie hertellerye verwag, en sal ons dus ʼn paar dae moet wag om te sien of die Republikeine werklik die senaat gaan inpalm, en Obama se status vir die laaste twee jaar van sy termyn tot “lame duck” gaan verdiep.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Nico ·

Moet darem net vir volledigheidshalwe verduidelik dat ‘n 2 party stelsel nie gekies word nie. Dit is ‘n gevolg van die tipe kiesstelsel wat gebruik word. Die kiesafdeling stelsel wat ons ook tot in 1994 gebruik het teenoor die proporsionele stelsel wat ons deesdae gebruik. Die kiesafdeling stelsel het oral in die wêreld 2 groot partye veroorsaak. Of in sommige gevalle soos SA 1 groot party.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.