Nuuskommentaar: Anarkrasie: Gaan na die miere (en die reuse) en word wys

‘n Vragmotor wat Sondag (8 September 2019) op die hoek van Main Reef- en Kerkstraat in Denver aan die brand gesteek is. (Foto: Twittere via @AsktheChiefJMPD)

Of ’n mens dit anargie, onregeerbaarheid, anarkrasie, kakistokrasie of chaotiese regering noem, dit kom nou so wydverspreid voor dat dit op internasionale, streek‑ en nasionale vlak – en ja, ook plaaslike vlak – voorkom en verbete ontleed word.

Hierdie verskynsel is nie altyd gewelddadig nie, en kan selfs taamlik netjies gestruktureerd wees. Die liberale pot kan nie juis die konserwatiewe ketel verwyt nie.

Op die internasionale vlak is een van die beste kontemporêre voorbeelde die Brexit-proses wat elke moontlike onstabiliteit en elke moontlike ideologie toets. Premier Boris Johnson maak op die oog af soos hy wil, maar dit moet in gedagte gehou word dat Brittanje nie ’n geskrewe grondwet het nie. Die land het wel ’n grondwet, bestaande uit die gemene reg, die presedentereg, gewoontereg, skynbaar losstaande wetgewing en vele meer, en die gevolg is gewoonlik ’n besondere vlak van stabiliteit.

Maar tog kan die grense makliker uitgedaag word, ook in die howe, en is dit nie altyd so maklik voorspelbaar hoe die regters sekere sake kan uitlê nie. Dus kan Johnson, heeltemal oortuig dat hy reg optree, op die oog af baie selfversekerd die lakens uitdeel, terwyl sy teenstanders ook oortuig is dat hulle Johnson met wetgewing en hofsake kan dwarsboom.

Net ’n baie selfversekerde ontleder sal nou waag om te voorspel wie sy sin gaan kry. Die opsies op die “tafel” is uiteenlopend – Brexit binnekort, en indien wel, met ’n ooreenkoms of sonder ’n ooreenkoms, of Brexit eers later, met of sonder verdere onderhandelinge.

En geen Britse wet of regsreël kan Europa dwing om nog verder met die Britte te onderhandel nie. En wil die Britte nog Brexit? Meningspeilings lewer kort-kort teenstrydige uitslae op. Gaan daar ’n blitsverkiesing wees? Hoe sterk word die Keltiese sentimente?

Boris Johnson. (Foto: Dominic Lipinski/Pool Photo via AP)

Die destydse referendum en peilings daarna toon oortuigend dat die meeste Kelte teen Brexit gekant is, met kwessies soos pro-Skotse onafhanklikheidsentimente en die harde of sagte grens tussen Ierland en Noord-Ierland wat op die oomblik nie met die nodige sensitiwiteit hanteer word nie.

In die VSA het ’n nuwe Rasmussen-peiling getoon dat 52% van die kiesers nou teen Donald Trump sal stem. Wat belangrik is, is dit handel nie oor die president se party-lidmaatskap nie, maar is teen Trump as mens gerig. Net 42% dui aan dat hulle vir Trump gaan stem. Sowat 75% van die Republikeine dui aan hulle wil in 2020 vir Trump stem, maar 21% wil teen hom stem. Verslag kan hier gelees word.

Let daarop dat Rasmussen tradisioneel as pro-Republikeins beskou word (al word dit ontken) en ander peilings dui op nog meer kiesers wat Trump nie gaan steun nie.

Dit gebeur nie dikwels dat ’n dienende president vir sy tweede (en laaste termyn) vanuit sy eie party uitgedaag word nie. In hierdie stadium word Trump egter reeds deur drie Republikeine, waarvan een ook ’n belangrike Tea Party-leiersfiguur, uitgedaag. Verskeie ander het egter besluit om hul nominasies te onttrek.

Trump bly egter in omstredenheid gehul. Hieronder tel die onthulling dat daar oor die naweek geheime samesprekings tussen die VSA en die Taliban by Camp David sou plaasvind. Trump het die samesprekings egter (per twiets) afgelas na ’n Taliban-aanval.

Die Taliban sê weer die samesprekings is van die baan weens die VSA se versuim om eers ’n ooreenkoms te onderteken wat onderhandelaars die afgelope jaar uitgebeitel het. Terselfdertyd het ’n storm losgebars nadat dit geblyk het dat Trump op sy eie ’n weervoorspelling aangepas het, wat na die aanpassing gelui het dat die orkaan Dorian Alabama sou bedreig het.

Druk is hierop op amptenare van die National Oceanic and Atmospheric Administration uitgeoefen om Trump se aanpassing te steun.

Amerikaanse president Donald Trump. (Foto: File Photo/IANS)

Die vernaamste raakvlak met Suid-Afrika is egter waarskynlik ’n gewetenstroom in Kalifornië oor die lot van swart minderbevoorregtes. Ondersoeke word onder meer beplan om vas te stel waarom swart mense, wat maar 9% van die bevolking van die Los Angeles County uitmaak, 40% van die dakloses uitmaak. Die Los Angeles Times vra reguit hoe dit gebeur dat vrae nou eers gevra word oor waarom Los Angeles nou eers vrae vra oor die rasseprofiel van sy daklose bevolking.

Dat dinge in Suid-Afrika nie so klopdisselboom is nie, blyk onder andere uit die xenofobie-verwante berigte. Ja, selfs al is dit tegnies nie xenofobies nie. Opskrifte van ontleders soos prof. Amanda Gouws, “Nou raak ons onregeerbaar”, en Alida Kok, “Xenofobie weens dié nasionalisme”, is hier ter sprake. Lees die bydraes onderskeidelik hier en hier.

In sekere akademiese kringe word voorspel dat die huidige politieke bedeling in Suid-Afrika op die een of ander manier sy einde nader. Die argumente hiervoor is nie sommer uit die lug gegryp nie. Dit moet egter ook onthou word dat ook Trump se spoedige abdikasie omtrent saam met sy inhuldiging as president wyd voorspel is, en in baie kringe ’n baie kort premierskap vir Johnson verwag is.

Of pres. Ramaphosa, gegewe SA se eiesoortige omstandighede, veel by die miere (die Britte) en die reuse (die VSA) van bewindsoorlewing wys sal kan word, is nie ’n gegewe nie. Hy sal wel wysheid kan opdoen.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kallie

Die westelike deel van die moet nou afstig. Kaapstad kan doen wat hulle wil, dis in elk geval ‘n mishoop.

Pieter

Die land sal nie regkom nie dit wil ek sien cr het nie n se nie die anc se hom wat om te doen die land is n grap asb

Danien

Kyk ek stem saam. Hierdie land is een van die bogenoemde name en ek sal die een kies, kakistokrasie sonder die istokrasie en ons is kniediep daarin. Cyril sal ons nie daaruit kry nie maar die privaatsektor kan as hulle wil saamstaan want die land se regering kan nie funksioneer sonder die privaatsektor nie en daar moet nou voet neergesit word en gese ANC julle gaan ons nie verder boelie nie of julle gaan nou saam ons dans of julle gaan maar sien en kom klaar sonder ons belastings. Glo my hulle sal vinnig n ander deuntjie begin sing.

Gert van Wierdapark

Die Groot probleem in SA met pres CR en die verdeeldes (kampe) in die a en see, is dat hul skynbaar (om dit sag te stel), “Horende doof en Siende blind” is mbt die plofbare situasie in SA!!! Wysheid en insig kan aanwesig wees, as jy nie die ANC en jou eie belange eerste stel, en die land en nasie s’n eers derde of vierde nie!!! Die derde mag wat tans agter die skerms aan die werk is, is die Soustrein-ryers. Hulle wil verseker nie Verandering sien nie. In die chaos is hul “nes-eiers” veilig!!

kolla

Dinge sal nog baie moet vererger voor ons by die vlakke van ongeerbaarheid van 1981 tot 1993 onder die Apartheidsregering kom.