Nuuskommentaar: ANC – die ‘prys’ van ’n gekonkel

Argieffoto

Die hooggeregshof-uitspraak dat die ANC se hoofstrukture in KwaZulu-Natal onwettig verkies is tydens die provinsiale kongres van 2015 houe wye implikasies in – nie net vir die ANC nie maar ook die land as geheel.

Ongeag uit watter hoek die saak bekyk word, die hooggeregshof se bevinding dat die ANC se provinsiale kongres van 2015 onwettig was, skep ernstige probleme – nie net vir die ANC nie maar ook die hele land. Die ironie is dat die uitspraak as ’n groot terugslag beskou word vir pres. Jacob Zuma en die KZN-faksie wat hom steun, maar dat dit juis uiteindelik vir Zuma kan bevoordeel.

’n Gekierang met die samestelling van takke, en daardeur ’n domino-effek deur die partystrukture na bo, is nie vreemd aan die Suid-Afrikaanse politiek nie, en dit het ook al tevore draaie in die howe gaan maak. Hoewel nie net die ANC agter die deur staan nie, is dit moontlik die party wat die meeste lawaai maak oor die kwessie en ontevrede lede intimideer om nie met interne sake howe toe te hardloop nie. Klagtes wat deur interne strukture aanhangig gemaak word, word egter ook dikwels geïgnoreer, soos wat in KZN gebeur en die ontevredenes met geen ander wettige keuse gelaat het as om die hof te nader nie. Dit is nog onseker hoe ander “remedies” soos politieke sluipmoorde in die prentjie pas.

’n Hele paar van die kleiner partye in die parlement het tot stand gekom weens ontevredenheid met hoe dinge in die interne verkiesings verloop het, en hoe die leier van die oorspronklike party sake hanteer het. Dit is leeuwêreld van diktatoriale leiers, waar manipulasie en nepotisme groot rolle speel. Na berig word, het “miljoene rande” wat in motors se kattebakke gehou is, van hande verwissel toe die ANC sy Mangaung-konferensie in Bloemfontein gehou het, en Zuma ’n aanslag op sy tweede termyn oorleef het.

Die implikasie van die jongste uitspraak is omvattend. Dit is logisties onmoontlik om die verkiesingsproses betyds oor te doen – en só oor te doen dat die saak nie weer in die hof beland nie, voor die ANC se nasionale kongres in Desember waar oor ’n opvolger vir Zuma as ANC-president gestem moet word. Sou die ANC appèl aanteken, sal die proses nog langer duur.

’n Onmiddellike gevolg is dat daar nie meer ’n wettige KZN-struktuur is om die dissiplinêre verhoor van dr. Makhosi Khosa voort te sit nie. Uit ondervinding verwag ’n mens egter die ANC sal aanvoer dat die strukture, tot tyd en wyl die appèl afgehandel is, sal voortbestaan. In die Berning Ntlemeza-saak kon die appèlproses egter nie die skorsing (voorlopig) stuit nie. Khosa en die faksies wat meen hulle is in 2015 met die stemmery ingeloop, sal waarskynlik regstappe doen om te verhinder dat die strukture wat nou deur die hof onwettig verklaar is, sal kan voortgaan.

Die hofuitspraak trek ook die tande van een van Zuma se vernaamste stormtroepe, Super Zuma, wat hy self danksy die gemanipuleerde verkiesingsuitslae as sekretaris-generaal van die ANC in KZN kon aanwys.

Die hofuitspraak is ’n yslike verleentheid vir die ANC. Of Zuma en sy Zupta-faksie egter meer skade as die land hierdeur gaan ly, sal nog gesien moet word.

Volgens verskeie ontleders beteken die jongste verwikkelinge dat die Desember-kongres nie in sy beplande formaat kan voortgaan nie. (Daar is soortgelyke probleme in ander provinsies, soos die Vrystaat.) Volgens hulle beteken dit dat Jacob Zuma as ANC-leier sal aanbly, tensy een van die talle prosesse om van hom ontslae te raak, intussen slaag. Baie van die mense wat hom steun, soos om vir hom in die mosie van die wantrouedebat in die parlement te stem, het dit gedoen omdat hulle gemeen het daar sal minder skade wees deur bloot vir Desember te wag, as om hom as staatspresident afgedank te kry en so die ANC in ’n warboel te dompel.

As die ontleders reg is, sal Zuma nou nie net ná Desember as staatspresident nie maar ook as ANC-president aanbly.

En dít, al kyk die ANC formeel anderpad, beteken die ANC se steun in die algemene verkiesing in 2019 kan verder daal. ’n Ipsos-peiling toon dat dit reeds op minder as 50% staan. Kortom, baie ANC-ampsdraers wat gemeen het dis in die ANC se beste belang om Zuma tot Desember te trotseer, eerder as die verwagte onmin as hy voortydig gepos word, sal waarskynlik nou hul hare uit hul kop trek dat hulle nie maar een van die vorige prosesse gesteun het nie.

Die hofuitspraak is ook gerusstellend, soos die uitspraak wat die Keniaanse presidentsverkiesing tersyde gestel het, dat die bepalings dat ’n verkiesing “vry en regverdig” moet wees, presies dit beteken, en dat daar min ruimte is vir die groeiende draak van “voldoende vry en regverdig”.

In Kenia het die waarnemers in hul reaksie op die uitslag “te gou die verkiesing vry en regverdig verklaar, en in die proses voorkeur gegee aan die behoud van die status quo eerder as om demokrasie te laat seëvier”. Ontledings dui daarop dat die waarnemers inderdaad baie ongerymdhede bemerk het, maar dat die geleentheid waar die verkiesing vry en regverdig plaasgevind het, voor die elektroniese versending van uitslae waar die meeste gekonkel voorgekom het, geskied het.

In die “ou Suid-Afrika” het ’n jong partywerker onverwags die Hillbrow-setel by Alf Widman afgeneem deur dit vir die NP te verower. Later is vasgestel dat daar wel gekierang is soos om dooies te laat stem, en die LP het ’n paar jaar agter tralies deurgebring.

’n Proses kan doodeenvoudig nie ontwikkel waar ’n gekierang, selfs op beperkte skaal, oorgesien kan word deur die verkiesing as “voldoende vry en regverdig” te verklaar nie. En die uitspraak in KZN is gerusstellend, maar dien as waarskuwing aan betrokkenes dat ’n som nie amper reg kan wees om as “voldoende korrek” beskou te word nie.

’n Groot koerant het by geleentheid in sy hoofartikel geskryf oor die ANC se beheptheid met middelmatigheid. Daardie koerant het dit hopeloos te politiek korrek beskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Oudste ·

Ek vind dit verfrissend interessant om te sien hoe die ANC, op meer dan verskeie, noem dit maar “geleenthede” , bloedneus kry en dan die verwoede geskarrel om die bloedneus gestop te kry en dit af te maak as nagemaakte bloed wat in films gebruik word. Die piepols (met erkenning aan Blou Willem) wat voorheen die ANC ondersteun het, sien nou hoe ver die ANC onderrok uithang en ook hoe verflenter en vuil die onderrok is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.