Nuuskommentaar: ANC-faksiegevegte by NUK duur voort

(Argieffoto)

Die ANC het die afgelope naweek sy nasionale uitvoerende komitee-vergadering (NUK) gehou.

Dit het uiteindelik gesentreer rondom die geveg tussen die sogenaamde hervormingsfaksie van pres. Cyril Ramaphosa en die radikale ekonomiese transformasie-faksie (RET) van Ace Magashule. Daar was veral groot gevegte oor die integriteitskomitee se aanbeveling dat Magashule opsy moet staan, óf uit die party geskors gaan word.

Nadat die vergadering weens chaos gestaak is, is die saak terugverwys na die ANC-topses om met ʼn oplossing vorendag te kom.

Dít is ʼn kwessie waaroor die ANC glad nie wil besluit nie. Vir die ANC en Ramaphosa is die besluit egter nie so eenvoudig soos wat dit vir gewone burgers is nie. Die kwessie oor Magashule gaan oor veel meer as net sý skuld of onskuld op die aanklagte van korrupsie teen hom. Met Magashule en Ramaphosa wat twee verskillende faksies verteenwoordig, is dié geveg ook ʼn faksiegeveg. Dit beteken dat ʼn aanslag op die leier van ʼn faksie ʼn aanslag op die faksie self is.

Ramaphosa het met die aanvang van sy presidensie onderneem om ʼn nuwe dagbreek van etiese leierskap in die ANC te verteenwoordig. Hy is dus onder enorme druk om hierdie beloftes na te kom. Tog weet hy dat hy in 2017 naelskraap die ANC-leierskap gewen het en dus nie die wêreld se politieke beweegruimte het nie.

Openbare druk neem ook toe om enigiemand vervolg te kry vir korrupsie. Magashule is daarom nie net ʼn maklike teiken (gegewe sy korrupsiegeskiedenis) nie, maar ook ʼn slim een. Deur hom te teiken, kry Ramaphosa die kans om sy nuwe dagbreek te verwesenlik én bevestig hy sy stewige posisie as ANC-leier. Om dié twee vlieë met een slag raak te klap, is egter makliker gesê as geslaan.

Die twee faksies kan nie níks doen nie – veral nie die Ramaphosa-faksie nie – maar hulle kan ook nie bekostig om net te doen wat hulle wil, soos hulle wil nie. Indien hulle wil hê dat die ANC hierdie twis moet oorleef, moet daar groot toegewings alkante toe gemaak word. Nou sit hulle eerder vergadering in en vergadering uit en stry faksiegevegte in ʼn poging om die ANC, eerder as die land, aanmekaar te hou.

Die een ding wat belangrik is om te onthou, is dat die een faksie eintlik maar net so korrup soos die ander is. Dit is ʼn mite dat Ramaphosa se kant van die geveg engele is wat nog nooit iets verkeerds gedoen het nie. ʼn Mens moet nooit vergeet dat dit sy eie woordvoerder is wat verlede jaar in die stilligheid weens beweerde korrupsie uitgetree het nie.

Albei faksies is eintlik maar korrup en gaan net voortgaan met dieselfde slegte ANC-beleid waarmee ons welvertroud is. Dit is ʼn veilige aanname dat die ANC nie sommer binnekort beter gaan begin regeer nie. Hy hang nou al die afgelope 27 jaar dieselfde slegte beleid aan en gaan nie maklik van plan verander nie. Nie eens sy mislukkings het hom al op ʼn noemenswaardige skaal na beter idees gedryf nie.

Dit beteken dat geen vorm van die ANC ons sommer uit ons probleme gaan help nie, omdat dit sy beleid is wat ons in die eerste plek tot op hierdie punt gekry het.

Waarom maak die faksiegevegte dan saak?

Die antwoord hierop is tweeledig. Solank as wat die ANC besig is met interne struwelinge, verminder die eksterne mag van eenheid wat hy het. Hoe groter en meer aanhoudend die interne verdeeldheid van die ANC, hoe groter is die kans dat sy politieke monopolie mettertyd kan verswak en dalk verbrokkel.

Hoe dieper die verdeeldheid word, hoe meer word die politieke ruimtes waarin ons alternatiewe werklikhede kan bou, juis vanweë sy verswakte posisie.

Sodoende maak die faksiegevegte saak.

Die Ramaphosa-faksie respekteer ook nog redelik die Grondwet en grondwetlike ruimtes. Hoewel hulle nie noodwendig uitstekende beleid in daardie ruimtes deurvoer nie, het hulle minstens ʼn ontsag vir die ruimtes en instellings wat dit beskerm. Dit is juis hierdie respek vir die Grondwet en grondwetlike ruimtes wat ons eie politieke ruimte sal vermeerder.

Die Magashule-faksie se beleid is maar net so sleg, maar die verskil is net dat hulle bereid is om die ruimtes en instellings van die staat onbeskaamd te gebruik om hul politieke doeleindes na te jaag.

Hierdie tekort aan ontsag vir die Grondwet en grondwetlike ruimtes is juis iets wat ons lewe soveel moeiliker (kan) maak as wat nodig is.

Hoewel jy nie volledig van die ANC afhanklik hoef te wees nie, kan jy hom ook nie net volledig ignoreer en verwerp nie. Die ANC bly steeds die regerende party en kan ons lewe beslis makliker of moeiliker maak. ʼn Mens gaan nie noodwendig die doeltreffendheid en beleid van die ANC kan verander nie, maar dit maak wel ʼn verskil hoeveel grondwetlike en politieke ruimte jy het om alternatiewe oplossings in te bou. Daarom maak die faksiegevegte saak – nie omdat ons ganse lot van die ANC afhang nie, maar eerder omdat hy ons lewe baie makliker of baie moeiliker kan maak wanneer dit kom by selfdoen.

Intussen is dit egter belangrik om nie ons lot te koppel aan die uitkomste van die faksiegevegte of die welstand van die ANC nie. Indien hy die trajek voortsit wat hy oor die afgelope 27 jaar gehandhaaf het, lyk sy toekoms nie goed nie. Dit geheim gaan egter daarin lê om jou eie lot so min moontlik aan dié van die ANC te koppel deur staatsbestandheid te verhoog.

Hierdie staatsbestandheid kan net verhoog word deur toenemende vlakke van selfdoen en selfstandigheid. Die ideaal is dat die ANC, sy beleid en faksiegevegte al hoe minder relevant in die daadwerklike grondvlakpolitiek van die land word, sodat die grondvlakpolitiek al hoe meer ruimte kan kry om te floreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Fedup ·

The otherwise located always waffles.
No matter their in house squabbling, they will make our lives as miserable as possible, no matter what faction it is.

JohanR ·

Het ons al ooit sukke mense gesien wat nie besluite kan neem nie……neem tog asseblief ‘n besluit!

Samuel ·

Wanneer gaan ware leierskap in die ANC na vore kom? Of ontbreek dit geheel en al? CR moet kies tussen die party en die volk. Hy kan nie twee here dien nie.

gatgogga ·

Hy het mos gekies. Hy het party gekies. Maar, in sy besluitenloosheid, albei opgevoeter.

gatgogga ·

Ek wag om te sien met watse kompromis kom hulle hierdie keer voor in dag.

Vrijburger ·

Goeie uiteensetting.
Mbt die ANC faksies is dit steeds net ‘n opsie tussen uiters sleg en verskriklik sleg.

JM ·

Die ANC is nie leiers nie, wás nog nooit nie, sál nooit wees nie. Die groot vraag is: hoe lank gaan Suid-Afrika nog gestraf word met die ANC en sy kornuite? Gaan daar óóit uitkoms wees? Ons kan waaragtig nie meer nie.

Pieter ·

Ons kan niks beter vir wag van die ANC nie negentig persent van hulle het dan net graad twee

Nie Verbaas ·

Daar is en sal nooit leierskap in die ANC wees met faksies wat onder mekaar baklei nie. Hulle weet te veel van mekaar se streke af, dus is dit maar net nog n geblaf in die wind van die ANC.

Sarel ·

Mense …hier is groot Marrakas…Magashule mik vir SP .
Indidn hy hierdie geveg wen is Rhamsphosa uit Magashule en sy gevolg wzt Mabazo insluit in. Dan hrt ons groter problene as met Zuma.

jzjz05 ·

Die ANC respekteer gaan wette nie self nie eers wat hulle vir hul self in die ANC gemaak het nie.Hul respekteer die reg net so lank dit hulle nie raak nie.die geskiedenis die afgelope maande het dit al oor en oor bewys.

Johan ·

Is dit n ANC probleem, of is dit maar tipies Afrika se terugkeer na waar hul natuurlik moet wees, waar hul was voor westerse “inmenging”. N geval van “back to the trees”?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.