Nuuskommentaar: ANC gebruik en misbruik bruin mense vir stemme

Foto: isdei.blogspot.com

Foto: isdei.blogspot.com

Op dieselfde dag dat die media berig het oor die nuwe taalvereistes vir toegang tot die regering se onderwysbeurs, is aangekondig dat Danny Jordaan deur die ANC aangewys is om die Nelson Mandela-metropool se nuwe burgemeester te word.

Jordaan is die president van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa). Die ANC in Port Elizabeth is in die moeilikheid en dit lyk of die DA die metropool aanstaande jaar kan afneem. Die ANC het op nasionale vlak ingegryp om dit te probeer voorkom, en Jordaan, ’n bruin man, speel hierin die sleutelrol.

Die nuwe vereistes vir die beurs is dat die kandidaat klas in een van die land se amptelike swart tale moet kan gee. Op die oog af is dit in ooreenstemming met die grondwetlike vereiste bewoord wat bepaal dat spesiale stappe geneem moet word om inheemse amptelike tale te bevorder. Dit sou Afrikaans insluit, maar kom dit by die beursvereistes word Afrikaans pertinent uitgesluit.

Nóg Jordaan nóg die beursaangeleentheid staan in isolasie. Met die Mangaung-konferensie in Bloemfontein is die ANC se NUK byna volledig van bruin verteenwoordigers gestroop. Daar is meer wit mense in die NUK as bruin verteenwoordigers, en ook hul getalle kan op een hand getel word. Byna al die bruin en wit NUK-lede is boonop weens hul lidmaatskap van die SAKP in die ANC-strukture.

Die grootste rassevlieg vir bruin mense in die ANC-beleid is die nasionale kwotas wat die regering in provinsies vereis. In die Wes-Kaap, waar die meeste inwoners bruin is, beteken dit ernstige oorverteenwoordiging, en word bruin mense dikwels gewoon nie vir poste, of bevorderingsposte in aanmerking geneem nie. In beginsel sou dieselfde met Indiërs in KwaZulu-Natal gebeur.

Solidariteit se saak teen die departement van korrektiewe dienste oor hierdie aangeleentheid, wat die regering op appèl geneem het, is soos ’n klip in die maag. Solidariteit is oor ’n wye front hieroor verdag gemaak.

Waar die ANC eens ’n breë span prominente bruin leierskorps in die Wes-Kaap gehad het, met name soos Trevor Manuel, dr. Allan Boesak, past. Chris Nissen, Jakes Gerwel en ander, sit die ANC nou hoofsaaklik, via die steierende Cosatu, met Tony Ehrenreich, en die onindrukwekkende Marius Fransman.

Gerwel het self by geleentheid in Die Burger goedig geskryf dat hy die spreekwoordelike nuttige idioot is met sy lojaliteit enduit aan die ANC. Daar is immers ’n reuseverskil tussen die ANC onder Nelson Mandela waar Gerwel as direkteur-generaal gedien het, en die bewind onder Jacob Zuma.

Jesse Duarte, omtrent die enigste “oorlewende” bruin ringkop in die ANC, is voor die vorige verkiesing vir voetsoolvlakwerk in die Wes-Kaap ontplooi en daar is gesorg dat dit behoorlike TV-dekking kry.

Trouens, die destydse regeringswoordvoerder, Jimmy Manyi, se uitlatings oor die oorverteenwoordigde bruin mense in die Wes-Kaap is aanvanklik as ’n persoonlike flater van die man beskou. Prominente bruin ANC-lede soos Trevor Manuel het hul mond goed oor sy dwase uitspraak uitgespoel. Daar het oornag ’n kloof tussen bruin ANC-gesinde meningsvormers ontstaan – ’n groep wat steeds vir die ANC in die bresse bly tree het, en ’n groep wat baie wantrouig oor die ANC se motiewe geword het. Hoewel Manyi ná die vergetelheid gerangeer is, het sy woorde bly steek en konkreet beslag gekry.

Dit was ook geen verrassing nie dat die bruin kieserskorps wat veral ná die NNP se opname in die ANC was, op groot skaal na die DA gedros en dié provinsie aan die DA besorg het. Op plaaslike vlak bly daar egter ’n klompie munisipaliteite danksy bruin lojaliteit aan die ANC in ANC-beheer.

Die Bruin Belangebeweging (BBB) het tot stand gekom. Die voormalige Wes-Kaapse premier, Peter Marais, beywer hom vir ’n Wes-Kaap wat in ’n federale band met Suid-Afrika sal staan. Uit sy Facebook-inskrywings is dit duidelik dat hy erg ontevrede is oor die kort lootjie wat bruin mense nou by die ANC trek.

Die skynbaar apokriewe verhaal word vertel van die Jood wat in die dae voor Hitler aan bewind gekom het, na ’n toespraak van die opkomende en vurige politikus gaan luister het. Nie lank nie of die Jood betrap hom dat waar die skare skree: “Unter mit den Juden!” hy lustig saamskree: “Unter mit Uns.”

Met die referendum wat Hitler ’n diktator gemaak het, het dit geblyk dat baie Jode ook daarvoor gestem het. (Vrees vir weerwraak as hulle anders sou stem, het Jode wat in Joodse hospitale en tehuise was, dikwels so laat stem, want hul stemme kon redelik akkuraat nagespoor word.)

Maar daar kan nie werklik net ’n vinger na Marius Fransman gewys word wat via die NNP se opname in die party ’n ANC-voorbok geword het nie. Sy optrede herinner dikwels aan die pasbekeerde wat meer Rooms as die pous probeer wees. Kortbroek se beloftes van “Ons sal jul stem (binne die ANC-regering) wees”, het geblyk ’n onhoorbare fluistering te wees. Kortbroek is weg nadat hy as minister gepos is, maar hier en daar is daar steeds wit oud-NNP’s wat na-aan die trog staan. By implikasie mompel hulle ook: “Ondertoe met ons mense.”

Hierdie vreemde gedrag is soms baie duidelik soos wit gesigte binne die EFF.

Die probleem is nie dat Suid-Afrikaners bo raspolitiek uitstyg in hul keuse van politieke partye wat hulle steun nie, maar om by politieke partye te gaan aansluit wat blatant en openlik die rassekaart tot nadeel van nieswart speel. Selfs die DA het ’n “vliegramp” hieroor beleef.

En sulke partye is daar heelwat meer as die ANC en die EFF.

Danny Jordaan is dus ook geen frats nie. Trouens, sy aanwysing kan as ’n meesterskuif beskryf word. Of dit egter eties is dat Jordaan, nou ’n senior en aktiewe ANC-politikus, as Safa-president aanbly, is ’n kwessie wat nog warm bespreking gaan ontlok.

Wat die beursskema betref – daar is tog ander maniere as volkome uitsluiting om te verseker dat daar genoeg onderwysers sal wees wat in die grondslagfases klas in swart tale sal kan gee.

Onlangse navorsing toon dat al meer nuwe Amerikaners dit as bate beskou om veeltalig te wees. Waar nuwe immigrante voorheen dikwels so gou moontlik gesorg het dat almal verengels, sodat selfs die tweede generasie glad nie meer die taal van herkoms kan praat nie, kom al meer gevalle nou voor dat latere generasies dit steeds as bate beskou om meer as een taal magtig te wees. Hoewel Jeb Bush hom nog nie as kandidaat vir die volgende Amerikaanse presidentsverkiesing beskikbaar gestel het nie, word sy vlotheid in Spaans as ’n groot aanwins in veral die suidelike state beskou.

In Suid-Afrika is daar stadigaan skynbaar iets soortgelyks aan die kristalliseer. Hoewel enkele staatsdepartemente en staatsinstellings hul veeltaligheidsvereistes ingevolge die talewet probeer ontduik het deur te probeer motiveer waarom slegs Engels gebruik moet word, het verskeie, soos die Suid-Afrikaanse Ruimte-agentskap, inheemse swart tale soos Zoeloe en Pedi bygevoeg. ’n Amperse handvol het Afrikaans by die lysie gevoeg.

In die breë lyk dit egter, soos nou met die beurskriteria, dat Afrikaans aan die agterspeen suig en uit die Grondwet gesteel word. Dit raak nie net wit nie. Trouens, die eerste verontwaardigde reaksie was van Peter Marais op sy Facebookblad. Kort hierna het die Vryheidsfront Plus ’n mediaverklaring uitgereik en hom onder meer soos volg uitgelaat: “Luidens ʼn berig in die Cape Times vandag (gister) gaan die omvattende Zunza Lushaka-beursskema, wat voorheen in samewerking met universiteite aan ʼn kwart van alle voornemende onderwysstudente aangebied is, voortaan net gegee word aan persone wat reeds ʼn swart taal magtig is, en hoofsaaklik in die grondslagfase (grade 1 tot 3) daarin onderwys gaan gee. Adv. Alberts sê dit is duidelik dat die beurse voortaan hoofsaaklik net swart studente beskore gaan wees en dat wit en bruin totaal uitgesluit gaan word aangesien voornemende studente reeds ʼn swart taal magtig moet wees wanneer aansoek gedoen word om die beurs.”

Intussen berig Netwerk24 dat Fedsas dit oorweeg om hof toe te gaan oor die Gautengse LUR vir onderwys se skynbare obsessie om Afrikaans-mediumskole dubbelmedium te maak (en dus uiteindelik slegs Engels).

Peter Marais beskuldig die ANC op sy Facebookblad van ’n rassistiese beleid wat verduidelik moet word. “Ons moet Xhosa praat, maar swart mense weier om Afrikaans te praat.”

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Leendert van Oostrum ·

Wel,

Benewens die opmerkings hierbo is daat twee ander aspekte wat deur die beursdiskriminasie aangesny word:

Die feit dat die regering nou beoog om in Grade 1-3 moedertaalonderwys vir swart kinders te verskaf is op die lang duur ‘n goeie teken. Dit kan net op die ou einde verdraagsaamheid vir moedertaalonderwys bevorder. In die mediumtermyn skep dit eentalige klaskamers met swart tale as voertaal. Dit stel ‘n presedent daar waarop Afrikaanseerstetaalonderwys hom kan beroep.

Dit is ‘n verandering – nie te lank gelede nie, het skoolhoofde in Soweto nog verkondig dat Afrikaanse ouers hul kinders se belange benadeel deur hulle nie in Engels te onderrig nie.

Desnieteenstaande stem ek saam dat so ‘n selektiewe beursskema diskriminerend is, en teengestaan moet word. Maar ek dink nie dit gaan kinders veel help as hulle onderrig word deur onderwysers wat in ons staatsuniversiteite (of selfs private insellings) opgelei is nie.

Daar is, na omtrent sewentig jaar se navorsing, geen oortuigende getuienis dat kinders wat onderrig word deur onderwysers met onderwyskwalifikasies enigsins beter presteer as kinders wat onderrig word deur onderwysers wat NIE onderwyskwalifikasies het nie.

Dit dui daarop dat die ganse bedryf van opvoedkunde-opleiding ‘n massiewe geldmorsery, en selfs bedrog is – niks meer as ‘n meganisme om die poste van professionele kripvreteronderwysers te beskerm teen mense met beter onderrigvermoëns en -motiewe nie. (Ek het self ‘n nagraadse onderwysdiploma en ‘n M.Ed verwerf, en het ‘n idee waaroor dit gaan.)

Hierdie situasie kan dalk goed gebruik word om die meriete daarvan om enigsins onderwysersopleiding te doen (in teenstelling met vakopleiding, wat wel vir hoërskoolonderwys – maar nie op laerskool nie – van waarde kan wees). Dit skep geleentheid om ons daarvoor te beywer dat die monopolie op onderwys afgeskaf word, sodat elkeen wat iemand iets kan leer toegelaat (en aangemoedig) moet word om dit te doen.

Die monopolie van onderrig deur die “professionele” onderwysberoep veroorsaak dat geweldige gemeenskapshulpbronne wat die onderwys – veral in benadeelde gemeenskappe – kan regruk, doelbewus onbenut gelaat word en selfs gestraf word as hulle onderrig of opleiding verskaf.

Miskien skep hierdie situasie goeie geleentheid vir Afrikaanssprekendes (en miskien veral Mnr Peter Marais se bevolkingsgroep en ander benadeeldes) om druk uit te oefen dat mense wat ‘n roeping voel vir die onderwys, en wat positiewe verhoudings met die kinders in hul klas kan stig en onderhou aangestel moet word, ongeag of hulle deur die sinnelose hekkies van “onderwyskwalifikasies” gespring het of nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.