Nuuskommentaar: ANC herkoloniseer land vir ander

Argieffoto

Argieffoto

Een van die gestelde doelwitte van die studentemolesmakers in 2016, was dat die stryd ook oor die “dekolonisasie van die leerplanne” handel. Die saak is in Engels gestel en die geveg is teen Afrikaans, ʼn inheemse taal, gevoer. Nou is die ANC boosaardig kwaad vir die DA se Tshwane-burgemeester oor sy suksesvolle besoek aan Taiwan, omdat dit hul Chinese meesters ontstig.

Met die dekolonisasie van leerplanne word op die oog af nie bedoel dat ook van seker die sigbaarste koloniale teken, Engels, afgestap word nie. Die vermoë om Engels te gebruik, hoe gebrekkig ook al, het vir baie ʼn statussimbool geword.

Baie wetenskaplikes, ook nie-Engelsssprekende wetenskaplikes, aanvaar eenvoudig dat die gebruik van Engels toegang tot die hele wêreld se wetenskaplike kennis bied. Terwyl die internasionale bruikbaarheid van Engels nie ontken word nie, is dit ook so dat die uitsluiting van ander tale wetenskaplikes oor belangrike wetenskaplike ontwikkelings elders in die duister laat.

Sowat ʼn derde van die artikels wat in wetenskapsjoernale verskyn, word in ander tale as Engels gepubliseer. Altesaam 12,6% word in Spaans gepubliseer en 10,3 % in Portugees. Daar is ook artikels in Mandaryns, Russies, Koreaans, Japannees, Sweeds, Duits en Italiaans. Ongeveer die helfte van die nie-Engelse artikels het opsommings in Engels. Die ander 13 000 kan nie deur Engelse soekterme op die internet opgesoek word nie.

Hierdie inligting kom uit ʼn artikel deur navorsers van die Universiteit van Cambridge in Plos Biology. Dit beteken ʼn groot deel van beskikbare navorsing is nie aan navorsers, wat slegs Engels gebruik, beskikbaar nie.

Die navorsers beveel aan meer vertalings moet gebruik word. Verskeie interessante besonderhede word in die verslag genoem, soos dat Duits tot ongeveer 1930 die vernaamste taal vir publikasies oor die wetenskap was, nadat dit voorheen Latyn was.

Voorts verkeer Engelssprekende navorsers oor die algemeen onder die indruk hulle het via Engels toegang tot “alle” wetenskaplike navorsing.

En dis by hierdie laaste bevinding waar gerus ʼn rukkie stilgestaan kan word. Dit gaan oor die behoud van Afrikaans (volgens die Grondwet) by enkele universiteite en ook toenemend by skole. Mnr. Flip Buys, voorsitter van Solidariteit, het pas ʼn insiggewende artikel hieroor op Maroela gepubliseer.

Toe die Suid-Afrikaanse Ruimte-agentskap onlangs bekend gemaak het dit gaan voortaan net Engels, Zoeloe en Pedi as amptelike tale inspan en verskeie Afrikaanse belangegroepe ontsteld reageer het, het dit aan die lig gekom dat die departement van wetenskap en tegnologie dieselfde instruksie aan al sy agentskappe gegee het. Afrikaans, die enigste Afrika-taal met ʼn woordeboek vir ruimteterme, is as gebruikstaal uitgesluit.

Is daar nog ʼn regering wat homself so graag probeer laat koloniseer?

Die ANC se beheptheid met Engels verskraal die akademie vergeleke met voorheen, toe Afrikaanse studente nog breë toegang tot Duitse en Nederlandse bronne gehad het.

Die skynheiligheid van die ANC se “ontsteltenis” oor burgemeester Solly Msimanga se suksesvolle besoek aan Taiwan, ken geen perke nie. Jaarliks besoek derduisende vastelandse Chinese Taiwan as toeriste en omgekeerd. Terwyl China en Taiwan dus in sekere opsigte ʼn redelike ontspanne beleid ten opsigte van mekaar het, ervaar die ANC China se ontsteltenis oor Msimanga se besoek as ʼn direktief dat daar gevolge sal wees as openbare verteenwoordigers van Suid-Afrika Taiwan besoek.

Die imperiale meesters het gepraat en die dienswillige dienskneg luister. Daar is planne om Mandaryns hier in skole in te voer, terwyl pogings om leerders ʼn Afrikataal te laat aanleer, al telkemale in die stof gebyt het. Intussen is Duits as ʼn skoolvak in wese afgeskaf en word baie toekomstige wetenskaplikes die geleentheid ontneem om eerstehands te put uit wetenskaplike velde waar die Duitssprekende wêreld die Engelssprekende wêreld voor is.

Emeritus Biskop Desmond Tutu is baie boos vir die ANC-regering, wat slenters aanvang om die Dalai Lama te verhinder om die land te besoek. Selfs ʼn byeenkoms van ontvangers van Nobel-vredespryse in Suid-Afrika, het in die stof gebyt omdat die Dalai Lama se visumaansoek vasgehaak het.

ʼn Pikante verwyt teen Msimanga is dat Taiwan noue betrekkinge met die “apartheidsregime” gehad het. Die waarheid is egter dat Taiwan in 1994 nog ʼn enorme geldelike bydrae tot die ANC se verkiesingsveldtog gemaak het. Die goedgesindheid wat dit gekoop het, het tot 1996 “gehou”, voordat aangekondig is die regering gaan in 1998 sy Taiwanese bande vir bande met China verruil.

Trouens, histories was die bande tussen die ANC en China byna vyandig. China het die PAC gesteun en die ANC het noue bande met die Sowjet-Unie se Kommunistiese Party gehad. Die twee groot moondhede se Kommunistiese Partye was mekaar vyandig gesind.

Brittanje se oorhandiging van Hong Kong aan China het Suid-Afrika ook genoop om ernstig te besin en omdat gevrees is China kon Suid-Afrika se benutting van Hong Kong as handelsverspreidingspunt kortknip, was die keuse vir China taamlik maklik.

Suid-Afrika is later as vyfde lid tot die Bric-groep toegelaat, wat nou as Brics bekend staan. Suid-Afrika se inbinding by Brics het ook al tot stramheid met lande soos die VSA en Europese lande gelei en volgens aanduidings verskeie groot beleggings gekortwiek.

Kortom, die ANC-regering tree op asof dit ʼn groot deel van sy soewereiniteit aan China afgeteken het.

Wat het ons nou? ʼn Engelssprekende regering wie se buitelandse beleid en handelsbetrekkinge deur China voorgeskryf word. Binnelands is daar sterk bewyse van staatskaping.

Wie regeer die land nou eintlik? Selfs die grondwet word uitgedaag om Afrikaanssprekendes en ander minderheidsgroepe te Tibetteer.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

De Villiers ·

Om alles te kroon word die Chinese in Suid Afrika ook geklassifiseer as ‘swart’ sedert 2008, met al die gepaardgaande voordele soos BEE insluiting, terwyl Afrikaners, wat ‘n geskiedenis hier het vir meer as 3 eeue, aan die agterspeen moet suig. Afrikaners het die land gebou tot waar dit nou is, en nou moet ons toekyk hoe ander dit oorneem en afbreek en ons uit skuif sonder enige erkenning oor die Afrikaner se leeue-aandeel in alles. Dis ‘n skande

Daniel ·

Stem oor alles saam met jou. As ons die hele “groot” Brittanje kon aanvat en op hulle herrie gegee het, kan ons hierdie hansworse definitief ook op hulle plek sit!

Daniel ·

As ons die hele “groot” Brittanje kon aanvat en op hulle herrie gegee het, kan ons hierdie hansworse definitief op hulle plek sit!

Lance ·

Wag net vir die eerste skande of omstrede ding vir 2017 van die anc

popeye ·

Die Tibettering van minderheisgroepe hier is reeds baie kommerwekkend en ontstellend, mens sien dit elke dag in jou eie gevoel,denke en gesprekke met tans-benadeelde persone. Die grootste vrees wat die hele tyd in die agterkop draai is die fisiese “uitwissing”, kom ons noem dit Volksmoord van veral blanke mense deur aanvalle van swart op wit op verskeie terreine. Daar word openlik gedreig met ‘n feller aanslag “eendag” ook. Ons word letterlik met die dood gedreig! Geen etniese suiwering kon nog ooit ALMAL uitwis nie, neem kennis julle aanhitsers tot dit! Die vraag bly egter; wie gaan standpunt inneem en wie nie indien die moord op wittes gaan toeneem….die Chinese, Amerika, VK? Niemand doen dit nou nie!

Daniel ·

Net tyd sal leer of die Afrikaner suksesvol gaan wees in sy behoud van sy taal en kultuur. Niemand anders gaan vir ons opstaan nie… Ons sal weereens self moet terugbaklei, maar die moeilikste deel is klaar verby, ons het reeds begin.

Andre ·

Ons hoef nie lank te wag nie. Dit sal voor die naweek gebeur.

snoefie ·

nes Taiwan sal China ook nog agter kom stank vir dank is n tradisie.

Rynhardt ·

Alles wat wit is, vergelyk die Anc met apartheid! Niks mag Afrikaans wees nie, maar alles moet engels wees! Vervreemding moet met mening toegepas word teen wittes! SA is geherkoliniseer vir China en ander muishond-lande! Anc en sy ondersteuners hou SA gevangene so ook die politieke bestel wat uit Anc-faksies bestaan.Verlede jaar het Radio Helderberg n advertensie gespeel oor behuising.Die adverteerder het die volgende gese:”Ons konsultante sal jou bedien in Afrikaans, Duits, Engels of selfs Mandaryns van jou keuse!”Dit is klassieke nuwe wereldorde-taalbemarking.Dit se alles.

Johann ·

Ek het mos ‘n dag gelede gesê die beste twee dae van 2017 sal die 1 ste en 2 de Januarie wees.

Theuns ·

More Herman,
Die besluite en onnoselheid van die ANC is skokkend! Die ANC verraai een van Suid Afrika se inheemse tale” Afrikaans” vir n Taal ” Engels” wat , soos jy se nie sin maak in terme van die swartmense se dekolinisasie beleid nie. As jy mooi waarneem sien jy dat die beleid net daarop gemik is om Afrikaans bytekom en te verneerder. Die Regering en sy meelopers se aanslag teen Afrikaans soek ook die totale oorname van instelings wat deur Afrikaners daar gestel is en hedendaagse Besighede doen alte lekker onder die vaandel van Politieke Korrektheid daarmee saam! As ons die oorsaak van die probleem gaan soek dan kom ons weer en weer by die voor 1994 onderhandeling uit toe ‘n naiewe laerskool span oor die wit mense en die Afrikaner, in besonder, se toekoms gaan onderhandel het. Selfs die Afrikaner is te blameer vir sy huidige situasie omdat hy na-iewelik vir die huidige bedeling gestem het! Die naiewiteit van die Afrikaner word herhaal met sy oorverdowende keuse van n politieke party wat vir hom niks gaan beteken nie want die geloof is daar dat slegs die (DA) party die ANC kan teenstaan. Die werklikheid is dat sou die Afrikaner vir n party stem wat sy belange beskerm dit ook asn groot bolwerk sou dien vir die afdwing van goeie regering en beskerming van die belange van die Afrikaner soos vervat in die konstitusie!

Kaufman ·

Die ANC se reaksie som hulle waardes baie mooi op: oorheers oor ander, geen respek vir kleiner groepe, magsbehep ongeag menseregte. Dankie vir die duidelikheid ANC.

Johann ·

Niks gaan oor voortreflikheid en kwaliteit nie, maar getalle, net getalle wat als oorheers, die ‘massas’.

Leendert ·

Die ANC en Zuma het in ‘n gat geval en hulle sal nooit weer daar kan uitkom nie.

(Te heerlik om saam met die grootmense tee te drink, hul nuutgevonde tydverdryf, klim saam met die swaargewigte op die wêreldverhoog.)

klip-in-die-bos ·

Ek is van mening dat Afrikaans sal voortleef solank as wat ons dit praat, skryf, lees en sing. Ek is ‘n Afrikaner in murg en been, lief vir ons land en pragtige taal. Maar ek moet wonder of Engels as opvoedkundige taal nie wel tot voordeel (vir almal) kan strek in Suid Afrika nie. Ek is in die media / bemarkingswêreld en weet hoe duur kwaliteit gedrukte material is. Stel jul voor daar is EEN kurrikulum, een stel handboeke van uitstaande gehalte (gedruk en digitaal), vir almal – deur die bank – van graag R tot nagraads… ja, in Engels, eerste taal. En daarmee saam, ‘n keuse van een van ons landstale, in diselfde moelikheidsgraad as ons huidige tweedetaal Engels (wat nie maklik is nie!). Die speelvlak is meer gelyk… almal kry diselfde kwaliteit onderig, en dit kan enorme besparings meebring. Ons ken baie kinders in ‘n goeie Engelse skool in Pretoria. Helfte is Afrikaans, maar verkies Engelse opvoeding… vir die toekoms. Maak dit hierdie kinders minder Afrikaans? Geensins. Ek gaan sekerlik nou met digitale klippe bestook word maar dis ook reg… ek sal graag wil sien dat ons pragtige land ‘n oplossing vind wat vir almal kan werk. Daar is in elk geval veel groter probleme om te takel. Voorspoedige 2017 vir almal… kom ons probeer ook die positiewe sien, soek en leef vanjaar!

Die bos ·

Klip-in-die-bos: jou klip tref nie sy teiken nie, nie eers naby nie. Dit sal help om weer die artikel te lees, let veral op die deel waar daar gepraat word oor die verbintenis en rykdom wat die Germaanse tale aan Afrikaans verleen. Voorspoedige 2017.

John ·

Daar moet beslis ‘n meevallertjie of twee van die Brics-lande kom want ons regering staan gou bakhand; dalk die voorwaarde vir hulp. China dink net aan China en Trump het reeds aangedui dat die VSA meer self moet vervaardig. Selfs RSG se nuusdiens en Kyknet gebruik meer en meer Engelse kommentaar en advertensies. Engels bevoordeel ook immigrante uit die Ooste en uit die Noorde. Wat die ANC nie besef nie/nie omgee nie is dat hierdie kwasi/hans-engelse werk en brood voor hul eie mense wegraap en ons skaars wildsoorte/seelewe stroop. Kort voor lank het hierdie selfde kermpotte oor menseregte vreemde base. Ons semi-/staatsinstellings se finansies word reeds in ‘n groot mate deur ander volke gehanteer en die ANC is tog te dankbaar vir die hulp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.