Nuuskommentaar: ANC het ons in ʼn ekonomiese krisis in regeer

Die afsondering het duisende ondernemings op hul knieë gedwing. (Foto: A Gorman Photography/Facebook)

Dit is vandag dag 161 van ʼn aanvanklik drie weke lange inperking. In hierdie ses maande het die ANC daarin geslaag om ons suksesvol in ʼn reuse- ekonomiese krisis in te bestuur. Die party het daarin geslaag om elke element van welvaartskepping en -verspreiding op die een of ander wyse te belemmer.

Die ANC het een van die langste en strengste Covid-19-inperkings ter wêreld ingestel. Die regering het geensins die vermoë om ʼn moderne land met ʼn moderne ekonomie te bestuur nie. Sodoende het hy die ekonomie gesluit en oopgemaak soos wat dit hom pas. Tog is dit nie hoe ekonomieë werk nie.

Russel Lamberti, ontleder van ETM Macro Advisors, meen dat die ekonomie as’t ware ʼn lewensondersteuningstelsel is – om dit summier met reusagtige eensydige dwang af te skakel, rig ontsettende skade aan lewens en lewensmiddele aan.

Siende dat ons staat van inperking uitsonderlik streng was, kan ʼn mens natuurlik verwag dat die uitwerking daarvan op die ekonomie uiteindelik baie erger sal wees. Ontleders soos Lamberti verwag dat Suid-Afrika se ekonomie in die tweede kwartaal vanjaar selfs tussen 20% en 30% kan inkrimp. Dit beteken uiteindelik dat ons ʼn jaarlikse inkrimping van tot 13% kan sien.

Mense wag vir kospakkies om uitgedeel te word. (Foto: Thobile Mathonsi/ANA)

Met hulle uitsonderlike en ongeregverdigde streng staat van inperking het die ANC in der waarheid soos ʼn meulsteen om die privaat sektor se nek gehang. Die privaat sektor is die enigste ware skepper van welvaart in die land. Verder is dit ook die enigste bron van die ANC se inkomste in die vorm van belasting.

Met die ANC wat die privaat sektor ernstig mishandel het oor die afgelope paar maande, lyk die party se eie finansiële vooruitsigte nie juis goed nie. Indien die privaat sektor swaar trek, sal die ANC ook daaronder ly – anders as wat lede mag dink.

Buiten die feit dat die ANC sy enigste ware bron van inkomste – die privaat sektor – gekniehalter het, het hy die reeds enorme maatskaplike las op sy skouers bloot vergroot.

Met die aanvang van die Covid-19-pandemie het die ANC ʼn spesiale Covid-19-toelaag van R350 aangekondig. Hierdie toelaag sou aanvanklik net vir ses maande geld. Dit het aanvanklik ten doel gehad om die maatskaplike nood wat uit die pandemie gespruit het, te verlig. Sodoende het die ANC dit selfs meer lonend gemaak om van die staat afhanklik te wees.

In Augustus het die ANC aangekondig dat reeds sowat 4,4 miljoen Suid-Afrikaanse burgers dié toelaag ontvang het. Die ANC het nie net sy maatskaplike las vergroot nie, maar ook blywende verwagtinge met dié toelaag geskep.

Dit was daarom ook geen verrassing nie toe die ANC aangekondig het dat hy dit oorweeg om dié toelaag in ʼn permanente basiese inkomstetoelaag te verander. So ʼn toelaag was iets wat die ANC nog altyd oorweeg het – nou het hy die perfekte geleentheid gehad om dit deur te voer.

Die regering as middelman tussen welvaartskeppers en ontvangers het natuurlik ook probleme ervaar. Die geld wat hy wel in die hande kon kry – hetsy deur belastinginkomste of lenings – het lede óf gesteel óf wanbestee.

Die ouditeur-generaal (OG), Kimi Makwetu, wat in opdrag van pres. Cyril Ramaphosa begin het met ʼn oudit na 16 sleutel-Covid-19-inisiatiewe, het vandeesweek sy eerste verdoemende bevindinge bekendgemaak. Makwetu het bevind dat die regering se verslapte beheermaatreëls en prosedures hom selfs nog meer blootgestel het aan moontlike wanbestuur of misbruik.

Die Ters-stelsel het in die aanvanklike inperkingstydperk bedrae verkeerd bereken en wesenlike oorbetalings gedoen. Die R350-toelaag is ook aan mense betaal wat dit nooit in die eerste plek nodig gehad het nie.

(Argieffoto: pixabay)

Met persoonlike beskermingstoerusting (PPE) is daar ook talle ongerymdhede. Die tesourie het markverwante pryse vir spesifieke PPE-items voorgeskryf. In sommige gevalle het die gesondheidsdepartement die toerusting teen dubbel of soms selfs výf keer die voorgeskrewe prys aangekoop.

Sodoende het die ANC elke liewe stadium van welvaartskepping en -verspreiding wanbestuur. Hy het die privaat sektor se vermoë om dit te skep gekniehalter. As middelman het hy die geld wat hy wel kon kry, wanbestuur of gesteel. Terselfdertyd het hy die verwagting van onvolhoubare maatskaplike ondersteuning drasties en permanent vergroot.

Deur sy vermoëns só te verswak en verwagtinge só te vergroot, het die ANC homself grootliks irrelevant verklaar. Hy het bloot nie meer die vermoë om aan die verwagtinge te voldoen wat hy geskep het nie.

Tog is die regering gelukkig nie ons enigste heil nie. Alle instellings en sfere van die samelewing is nie so ondoeltreffend soos die ANC nie.

Ons het ʼn uiters geharde privaat sektor en burgerlike gemeenskap. Dit is hierdie twee sfere, eerder as die regering wat ons uit hierdie krisis sal kan lei. Duisende niewinsgewende organisasies het die maatskaplike las gedurende die krisis suksesvol help dra.

Die Solidariteit Beweging se krisisfonds het te danke aan die krag van die gemeenskap reeds byna 2 000 instellings en meer as 20 000 gesinne bygestaan met hulp. Hierdie geld is nie met dwang van belastingbetalers verhaal en met korrupsie wanbestuur nie. Dit is eerder ʼn middel waardeur ons gemeenskap homself deur die krisis staande gehou het en steeds hou.

Terwyl die regering in sy ondoeltreffendheid voortgaan, sal die werklik vermoënde sfere van die samelewing ons uit die krisis lei. Dit is ten spyte van die regering, nie te danke aan hom nie, dat ons uit hierdie krisis sal kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Elise Georgina Irene ·

Vir seker – maar dis ou nuus wat almal blykbaar aanvaar en geduldig mee saamleef…!

Pieter ·

Die ANC kommuniste is te slim vir ons blankes. Hulle weet ons maak maar net n geraas dan raak ons weer stim. Ons blankes wil nie standpunt in neem nie so hou op klaa.

Stefan ·

Ek wil nou nie snaaks wees nie maar, die anc skep maar net en doen niks want hulle kan.
Ek twyfel eerder aan die verstand van die kiesers wat vannaand maar weer honger gaan slaap maar die anc steeds weer instem, daar lè ons groot probleem.

Karel Kobus Kruger ·

Jy twyfel aan deesdae se kiesers se verstand.
Ek twyfel aan 1992 se kiesers se verstand.

Simon ·

20 jaar gelede was die Nasionale Tesourie breedvoerig hiervan ingelig en hierteen gewaarsku, maar op dowe ore geval omrede die boodskapper te wit was.

Jaco ·

Hoekom vrae die wêreld nie meer vrae oor wat gebeur het in die land. Of sal erkening wys dat hulle n fout begaan het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.