Nuuskommentaar: ANC-histerie oor die Zuma-vraagstuk

President Jacob Zuma tydens die staatsrede in Februarie 2014. Foto: SA Government News, Facebook

President Jacob Zuma tydens die staatsrede in Februarie 2014. Foto: SA Government News, Facebook

Die ANC se histerie oor talle fronte as pres. Jacob Zuma net vaagweg betrokke is, dui al hoe meer daarop dat ʼn “uitvaart-ooreenkoms” (exit strategy) tussen die ANC en die beleërde president bereik is.

Dit dui voorts daarop dat hierdie ooreenkoms behels dat die president met ʼn “ongeskonde beeld” en sonder die gevaar van vervolging na Nkandla sal kan retireer en in luukse kan aftree.

Dit is egter ook duidelik dat so ʼn ooreenkoms nie met die opposisiepartye beding is nie, of dat hulle selfs eens daaroor ingelig is nie. Dit is tot die krediet van die opposisiepartye se verbintenis tot die grondwetlike beginsel van deursigtigheid. Die “vyandige” media is nog minder in vertroue geneem.

Die eerste histerie-aanval was toe die ANC ʼn verwoede aanval op Beeld se redakteur, Adriaan Basson, geloods het. Dit het dadelik die persepsie geskep dat Basson in sy rubriek waarin hy drie opsies voorgestel het van hoe van Zuma ontslae geraak kan word, aan die bod gestel het, die spyker iewers netjies op die kop geslaan het.

Dit lei egter daartoe dat die opposisie se pogings om Zuma tot verantwoordelikheid te roep, die uitvoering van so ʼn uitvaart-strategie erg in die wiele ry. Daar is geen manier waarop Zuma van sy mag sal afstand doen as hy in elk geval die gevaar loop om met sy bas in die tjoekie te beland nie.

Die sogenaamde spioenasiebande-saak is in hierdie opsig ʼn liederlike vlieg in die salf, en op die oog af lyk sake nie goed vir die president nie. En die Nkandla-spook wat bly loop, skep meer as net ongemak.

En dan is daar die EFF wat die ANC se gevestigde strategie om sake deur rompslomp te frustreer, in ʼn paar hitsige oomblikke selfs aan diegene wat maar stadig van begrip is, ontmasker het.

Maar hoekom, as Zuma in elk geval op pad uit is en sedert die verkiesing vir alle praktiese doeleindes reeds gerak was, is daar so ʼn skynbaar eendragtige ontsteltenis in die ANC oor verdere mokerhoue wat die prez tref? Selfs onder diegene wat volgens “gesaghebbende” bronne nie al te lekker met Zuma is nie, soos die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe. Volgens hierdie bronne was Zuma al ʼn geruime tyd besig om Mantashe in Luthuli-huis te rysmier en sy rol in te kort, onder meer deur die ontplooiing van dr. Zwele Mkhize in Luthuli-huis. Mkhize, oud-LUR vir gesondheid in Zuma se tuisprovinsie, is immers as ʼn Zuma-lojalis beskou.

Maar in die praktyk is dit nou juis Mantashe wat as grootste kampvegter vir Zuma na vore tree, en die ANC se aanslag teen die integriteit van die Openbare Beskermer lei, terwyl van Mkhize g’n sprak of sprook gehoor word nie.

Intussen is die parlement se veiligheid tot bykans die vlakke van militêre beleg verskerp – nie om die gebruiklike bedreiging van buite die hoof te kan bied nie, maar om die “konvensies” (die burokrasie waarmee deursigtigheid gesmoor word) teen mede-“agbares” te beskerm. Dit lyk inderdaad of die veronderstelde toeganklikheid van ʼn oop demokrasie bedreig word ter wille van die gemaksone waarin ongeleë stemme verdrink kan word.

Daar is weinig verskil tussen die Mantashe-geleide histeriese aanval op die Openbare Beskermer, en die EFF se ongepoetste aandrang op Zuma om die Openbare Beskermer se grondwetlike magte te respekteer. Trouens, die amp van die Openbare Beskermer word deur wetgewing beskerm op ʼn soortgelyke wyse waarop regters teen sekere vorme van kritiek beskerm word. Selfs Zuma, as uitvoerende president, geniet nie hierdie voorreg nie.

Die ANC hanteer sake erg lomp. Die tydsberekening en motivering vir Zuma se ampsbesoek aan Rusland word deur analiste as ʼn “weghardloop” beskryf. Niks maak sin nie. Die doel van sy besoek is as eerstens rus beskryf – ʼn bitterlike duur manier om te gaan rus, al is dit nou ook Rusland. Tweedens gaan hy samesprekings met pres. Wladimir Poetin voer, binne die Brics-konteks. Maar Poetin het na Wit-Rusland gegaan om samesprekings oor vrede in Oekraïne te voer. Hoewel Poetin betyds vir die samesprekings met Zuma sal terugkeer, is dit baie duidelik dat die Russiese president nou veel groter kopsorge op sy vurk het wat sy onverdeelde aandag verg. Boonop het Zuma na berig word nie ʼn enkele minister uit die ekonomiese groepering saamgeneem op sy Russiese besoek nie, wat baie vreemd is as die Brics-konteks in gedagte gehou word.

Voorts beywer Suid-Afrika hom vir die verlenging van die uiters voordelige Agoa-ooreenkoms met die VSA, en moet Suid-Afrika ook inhoud gee aan ander ooreenkomste voortspruitend uit die onlangse Afrika-beraad met pres. Barack Obama van die VSA. En die einste VSA het sedertdien saam met Wes-Europa omvattende sanksies teen Rusland ingestel weens Poetin se huigelagtige hantering van die Oekraïne-krisis. Dit kan beswaarlik as wys geag word om nou ekonomiese bande met Rusland te bespreek terwyl Suid-Afrika terselfdertyd wil hê die VSA moet sy ooreenkomste met Suid-Afrika uitbou. Trouens, ander Afrikalande wat voordeel uit Agoa en die ander ooreenkomste wil put, moet bekommerd wees oor die tydsberekening van Zuma se besoek.

Die wyse waarop die ANC die Zuma-vraagstuk hanteer bied net een ander moontlikheid, naamlik dat aanvaar word dat Zuma sy tweede termyn sal uitdien, en dat dié werklikheid bestuur moet word deur die minste moontlike skade vir die ANC aan te rig. Dit beteken Zuma word so ver as moontlik tot seremoniële funksies beperk, terwyl waar hy noodgedwonge self moet optree, hy streng hou by die teks wat vir hom geskryf is. Niks meer van die los uitlatings wat hom gereeld ongure buitelandse koerantopskrifte laat haal het, en binnelandse storms veroorsaak het nie. Indien dit die gedagte is, is dit ʼn vraag of Zuma net tydelik onttrek word sodat sake eers rustig kan word, en Zuma dan met nuutgevonde aansien die ANC se munisipale verkiesingsveldtog gaan lei? Of gaan hy tot sy aftrede op allerlei maniere uit die kwaad gehou word?

Om Zuma nie vroegtydig te pos nie, hou egter soveel gevare vir die ANC in. Die bande-kwessie kan byvoorbeeld só verloop dat Zuma opnuut aangekla kan wees wanneer die ANC sy volle fokus op die munisipale verkiesing wil plaas. En op daardie front is baie ander skroewe wat aan die uitval is, soos onder meer die hele kwessie van die verdeeldheid binne Cosatu waarin veral Numsa ʼn groot rol speel, en Zuma in elk geval ook een van die hoof-verdelingsfaktore is.

Een van die sterkste aanduidings dat Zuma kan “terugkeer” is dat niemand nog werklik toegelaat word om in sy skaduwee te groei nie.

Die prys om nie baie gou van Zuma ontslae te raak nie, kan vir die ANC baie groot word. ʼn Tweede en finale termyn van presidente, soos ook in die VSA, staan juis bekend as die “lame duck”-periode. Ministers, amptenare en ander ampsbekleërs het ʼn aanvoeling van wanneer dit veilig genoeg is om nie meer blindelings na die president se pype hoef te dans nie, omdat die uitgaande president se greep op hul toekoms verswak word. Hoe langer Zuma in sy tweede termyn hou, hoe duideliker sal sy teenstanders binne die ANC hulself gevolgloos, of selfs tot hul eie voordeel, teen Zuma kan uitdruk. Dit kan vir Zuma ʼn lang, onplesierige tweede termyn word as hy nie maar self die aftog blaas nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Frederick ·

As ANC hom in sy pos behou, moet die man steeds sy masiewe maandlike Salaris kry. Hy het ryk genoeg geword al op onkoste van Suid-Afrikaanse burgers, hoekom hom betaal om n pos te vul wat regtig deur iemand anders beklee word…

Gert ·

Goed deurdagte artikel, Herman. En saam met Zuma, loop die SACP, wat eintlik die heersers in die land is, die gevaar om saam met hom uitgesmyt te word.

Hennie Louw ·

‘n Mens kan net jou hande saamslaan. Ons verstaan net eenvoudig net nie die mense se psige nie. Kon die mense dan nie daardie jare voorsien het dat Zuma so sal uitdraai nie? Diegene wat hom toe al geken het nie. Teen die tyd wat hy sy ampstermyn uitgedien het sal daar soveel skade aan die land se beeld aangerig wees dat herstel nooit kan plaasvind nie. Afrika o Afrika.

PJ ·

Kan Zuma nie maar voor sy tydperk om is aftree nie. Niemand kan die land meer in die moeras dompel as die agbare nie. Of is daar???

Pieter van der Dussen Senior ·

Herman Toerien se oorsig is soos al sy ander goed deurdag en diepgaande genoeg om waardevol te wees. Vergun my egter om een saak by te voeg, naamlik dat die Zumatydperk een van toenemende Godslasterlikheid was met ‘n opwaartse gang tot waar Ramaphosa verklaar het dat Mandela die septer in die hemel swaai. Intussen het Mandela reeds van die aardbodem af verdwyn soos dit met elke mens gebeur. Mense wat hulleself as ewiglewend begin beskou is die dwase waarvan God in Sy Woord praat en oor wie Hy Goddelik spotlag. Hy die Almagtige reken met hulle af. Dit beteken nie dat gelowige mense maar kan handjiesgevou sit nie. Maar sulke mense hoef nie met lang gesigte rond te loop nie. Die afgelope tyd het dit duidelik geword dat die slimste mensplannetjies telkens op die uitdinkers daarvan terugslaan. En die geskiedenis van en oor Mandela wat deur Ramaphosa tot goddelike regeerder verklaar is, spreek duidelik dat die mens niks is nie en dat die hooggeroemdes se staanplek hulle spoedig selfs nie meer ken nie. Deur menslike toedoen met ander menslike plannetjies???
‘n Voorbeeld vir ons as Afrikaners: In 1899-1902 staan die Empire op sy hoogtepunt en bedryf Brittanje een van die gruwelikste misdade wat vandag as “misdaad teen die menshied” bestempel word. ‘n Halfeeu later word sy mag deur die toedoen van Churchill as agent van die magsbeheptes vernietig. En teen 2000 het Brittanje van die eens magtigste land in die wereld tot die status van ‘n skoothondjie van die VSA afgesak. In sekere sin het dit ook met die Afrikanervolk gebeur. Die geskiedenis toon egter dat die ongeregtigheid nie vir altyd en allermins vir ewig verdra word nie. Hoofregter Mogoeng Mogoeng kan as Christen hierdie boodskap tuisbring sonder om, soos hy dit stsel, sy regspraak binne die bestaande opset te na te kom.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.