Nuuskommentaar: ANC is intern verdeeld, probeer ekstern verenig bly

Argieffoto

Die ANC se pas afgelope vergadering van sy Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) het boekdele gespreek van die stand van sake in die party.

Die vorige NUK-vergadering van Augustus was die een waarin die ANC die sogenaamde streep in die sand teen korrupsie getrek het. Dit natuurlik totdat Ace Magashule deur die Valke geteiken is, maar geweier het om sy amp neer te lê. Sodoende het daar groot spanning in die party ontstaan – Magashule het die NUK-besluit van Augustus en ook vir Ramaphosa verontagsaam.

Sodoende sou hiérdie NUK-vergadering die beslissende een wees waarin dié konflik opgelos moet word. Die vergadering was uiteindelik een van interne verdeling, grootskaalse vat-en-gee van albei faksies en ʼn poging om verenig na buite te lyk.

Oudpresidente Thabo Mbeki en Jacob Zuma was albei teenwoordig – volgens Ramaphosa het dit ʼn wonderlike aura aan die vergadering gegee. Ramaphosa was by sy oorname veronderstel om alles te verteenwoordig wat Zuma nié is nie. Hy moes die bevoegde, internasionaal geliefde, moderne en eerlike president wees wat Zuma beslis nie was nie.

Zuma se gevierde teenwoordigheid spreek sodoende van die interne sake van die ANC. Korrupsie is onlosmaaklike deel van die ANC. Selfs met ʼn groot leierskapsverandering gaan dit altyd in die party se teenwoordigheid wees. Dit gaan altyd iets wees waarom en waarmee hulle moet saamleef. Bloot omdat hulle nie die vermoë het om van die verskynsel óf van die skuldiges en hulle invloed ontslae te raak nie.

Sommige ANC-leiers het ook al gewaarsku dat Zuma se arrestasie of Magashule se afdanking tot burgerlike onrus kan lei. Die ANC, Ramaphosa spesifiek, weet ook dat sy faksie deur onvermydelike werklikhede van magspolitiek op grondvlak beperk word. Ramaphosa gaan nie lank in sy posisie oorleef as hy Magashule-vertrouelinge links en regs begin vervolg nie. Hy het ook hulle samewerking in invloed nodig om te oorleef.

Dit is veral sleg in die lig daarvan dat Ramaphosa skugter is vir moeilike besluite neem. Sy presidensie is sover gekenmerk deur ʼn byna verlammende soeke na konsensus en gelukkigheid van alle rolspelers. In ʼn party deurtrek met korrupsie is hierdie nie juis die strategie waarmee ʼn mens goeie verandering teweeg gaan bring nie.

President Cyril Ramaphosa. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Ten spyte van die wonderlike aura wat Zuma blykbaar verskaf het, het Ramaphosa steeds teen hom uitgevaar. Die NUK het hulle ondersteuning van die Zondo-kommissie bevestig – alle ANC-lede moet hul samewerking vir Zondo moet gee en ook nie onnodige aanvalle teen hom van stapel stuur nie.

Verder het Ramaphosa teen verdeeldheid in die party gewaarsku. Ramaphosa het spesifiek uitgevaar teen die ANC-regalia wat tydens Magashule se toespraak post-hofverskyning verbrand is. Magashule se faksie sien Ramaphosa nie werklik as die leier van die ANC nie en wil graag van hom ontslae raak.

Ramaphosa weet dat diep verdeeldheid in die top-leierskap teenwoordig is en het dit ook genoem. Die ANC se grootste bedreiging is nie iets ekstern nie, maar is eerder hulle eie onvermoë om sake intern bymekaar te hou. Hy weet hoe diep faksie-verdeeldheid is en watter gevare dit kan inhou vir die ANC.

Op die laaste dag van die NUK-vergadering het Ramaphosa egter weer die party geprys vir sy eenheid. Buitestanders wat ʼn verdeelde ANC verwag het, sou volgens Ramaphosa teleurgesteld wees. Die ANC se verdeeldheid het glo verminder tydens die vergadering. Dit spreek van ʼn party wat trou aan sy aard met ʼn boodskap van eenheid na buite sterk wil voorkom. Die oomblik wat die party sy vuil wasgoed in die openbaar was, kan dié swakheid teen hom gebruik word.

Die probleem wat die ANC egter het, is dat interne struwelinge so baie en so groot geword het dat dit nie meer intern gehou kan word nie. Die lyne van verdeeldheid in die party is so groot dat dit lank nie meer weggesteek kan word nie.

Ramaphosa moes self ook groot toegewings maak by die vergadering. Indien die ANC werklik by sy vorige NUK-besluit sou hou, moes Magashule reeds uit die party tree. Tog het hy in die toespraak na sy hofverskyning bevestig dat slegs die ANC-takke hom kan uitstem indien hulle van hom ontslae wil raak.

Hierdie NUK-vergadering moes nou die een wees waarin dié konflik opgelos word. Tog is hierdie die terrein waarop Ramaphosa – soos verwag – die meeste verloor het. Magashule bly aan as ANC-sekretaris-generaal. Hy gaan wel voor die ANC se integriteitskomitee verskyn waar hy sy korrupsie moet “verduidelik”. Indien hulle sy “verduidelikings” aanvaar, word hy vrygespreek. Indien hulle dit verwerp, gaan die saak na die ANC se nasionale werkskomitee (NWK) en NUK verwys word. Hierdie is eintlik maar net ʼn vreeslik burokratiese manier om Magashule van die NUK se Augustus-besluit vry te spreek.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC (Foto: Simphiwe Mbokazi/African News Agency/ANA)

Die ANC se integriteitskomitee is seker een van die liggame met die minste daadwerklike mag. Indien hulle ʼn probleem met Magashule se “verduideliking” vind, kan hulle nie enige iets aan hom doen nie. Magashule weet ook dat die top-ses of Ramaphosa hom nie sommer net kan dwing om sy amp neer te lê nie.

Magashule wat sekretaris-generaal bly, is ʼn verwagte, maar reuse-oorwinning vir sy faksie. Hy wat voor die integriteitskomitee gaan verskyn, is ʼn klein kosmetiese oorwinning vir Ramaphosa.

In hierdie NUK-vergadering sou die faksiegevegte nooit oorkook nie. Hierdie vergadering spreek wel van dit wat ʼn mens wel van die ANC in volgende jaar kan verwag – ʼn diep verdeelde en effe onstabiele ANC. Die party se verjaarsdagvieringe vind in die Vrystaat plaas – Magashule se tuisgrond. Dit ten spyte van die feit dat die vieringe eintlik in Limpopo moes plaasvind (die provinsies onthaal hierdie geleentheid eintlik om die beurt). Magashule gaan hierdie geleentheid gebruik om sy basis teen Ramaphosa te versterk.

Dan gaan die ANC se nasionale algemene raad (NGC) van Mei 2021 deurslaggewend wees. Hier gaan Magashule homself red, sy faksie versterk en van Ramaphosa ontslae raak. Óf Ramaphosa se faksie gaan sterker wees en waarskynlik van Magashule ontslae raak. Hierdie gaan nie net die stand van die party beïnvloed nie, maar gaan ook ʼn wesenlike impak op die volgende paar jaar in ons land hê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JohanR ·

Hoop hulle verdeel, en dan die volgende stap is vir hulle om te #Voertsak! Dit is nou ‘n party en sy mense wat ek nie sal mis nie!

Deon ·

Hierdie berig was op n wipplank geskryf, dit sal ja wees of dit sal nee wees, dit sal bo wees of dit sal onder wees, dit sal voor wees of dit sal agter wees, eintlik baie gese maar niks gese… Presies soos die anc is. Tsek anc en as jy nie kan tsek nie voetsek

My siening ·

SA kom laaste by die ANC kriminele jy sal glo alles behoort aan die gemors. Ek hoop julle word so verdeeld dat julle jul self van die aardbol af vat!

Klaas ·

Hulle moet bang wees…baie bang wees, want binnekort gaan hul voorvaarders hulle nie kan help nie. Hulle gaan dan moet hardloop en hul oe gaan soos die van ‘n verkleurmannetjie wees…een kyk vorentoe om sy te kyk waar sy ma is en die andereen kyk agtertoe om te sien hoe die gevaar hom inhaal! You can run but you cannot hide!

pompies ·

Nou jaons moet hoop ace word toegesluit oor die asbes sage.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.