Nuuskommentaar: ANC lewer teenstrydige boodskappe oor RET-faksie

(Argieffoto)

Die ANC het gister in gedenklesings en vieringe reg oor die land Charlotte Maxeke se 150ste verjaarsdag herdenk. Op die dag het die ANC Maxeke as struggle-ikoon en voorbeeldige ANC-lid gevier. Volgens pres. Cyril Ramaphosa is Maxeke iemand wat sou weier om by ANC-korrupsie betrokke te raak.

Sodoende het president Ramaphosa en Ace Magashule albei ook sommer dié geleentheid aangegryp om hul posisies in die voortslepende faksiegeveg te versterk. Ramaphosa het sterk uitgekom teen korrupsie wat soos gif eers die ANC en daarna mense se motivering om die ANC te ondersteun, sal doodmaak.

Ramaphosa se hele toespraak het eintlik in wisselende grade van subtiliteit houe teen Magashule ingekry. Magashule, en soortgelyke korruptes, is duidelik volgens Ramaphosa minderes teenoor Maxeke wat ʼn etiese, stoere en lojale ANC-lid was. Magashule, anders as Maxeke, eerbiedig nie die besluite wat die ANC as organisasie neem nie – dit natuurlik verwysend na Magashule se blatante verontagsaming van die NUK se besluit oor korrupte ANC-lede. Anders as Maxeke het Magashule, en soortgelyke korruptes, nie die nodige dissipline om die regte ding te doen soos wat Maxeke gehad het nie.

Op dieselfde dag het Magashule self egter ook die geleentheid aangegryp om sy eie posisie te versterk. Vandat Magashule die sperdatum van 28 April gegee is, het hy nog nie vreeslike opslae in die media daaroor gemaak nie. Hy het nog net een keer aan joernaliste genoem dat hy glad nie bekommerd is oor die sperdatum nie. Waarom sal hy dan nou wees? Verder het hy ook aangekondig dat hy in hierdie tydperk met verskeie mense gaan konsulteer oor sy posisie. (Dit moet dalk eerder gesien word as gesprekke vir onderhandeling, eerder as konsultasie oor sy posisie.)

Gister was egter die eerste keer wat hy blatant “ongehoorsame” uitsprake teen Ramaphosa se kant van die geveg gemaak het. Met die woorde “Voorwaarts met RET, voorwaarts” het hy blatant die NUK se besluit en Ramaphosa se uitsprake verontagsaam dat geen ANC-lede hulself meer met die RET-faksie mag vereenselwig nie.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC. (Foto: Twitter)

Magashule het verduidelik hoe eienaarskap van die ekonomie so gou moontlik in swart mense se hande moet kom en radikale ekonomiese transformasie moet so gou as moontlik geskied. Hier het Magashule self ʼn hou teen Ramaphosa ingekry deur te noem dat RET beleid is wat by die 2017-Nasrec-verkiesingskonferensie aangeneem is – hierdeur verdedig Magashule weer lojaliteit aan ANC-besluite waarop Ramaphosa deurentyd hamer.

Sodoende het nog iets ontaard in ʼn geleentheid vir die ANC om hul faksiegeveg voort te sit. Die blote feit dat die vieringe van een van hulle helde in ʼn faksiegeveg ontaard het, spreek boekdele van die stand van die party tans.

Dit ook nog in dieselfde week wat Nkosazana Dlamini-Zuma ook op ʼn meer subtiele wyse ondersteuning vir die RET-idees uitgespreek het. Dlamini-Zuma het weer Dinsdag tydens ʼn bekendstellingsgeleentheid gesê dat bevryding niks beteken nie indien Suid-Afrika se rykdom nie aan die mense terugbesorg word nie:

“Om die bestaande ekonomiese kragte toe te laat om hul belange ongeskonde te behou, is om die wortels van rasse-oorheersing en uitbuiting te voed en dit verteenwoordig nie eens ʼn skaduwee van bevryding nie.”

Hiermee het sy Magashule se uitsprake geëggo dat radikale ekonomiese transformasie van deurslaggewende belang is. Ekonomiese welvaart en mag moet aan swart mense terugbesorg word – dit is aan die kern van RET-beleid.

Sulke uitsprake deur Magashule en Dlamini-Zuma te midde van die voortslepende faksiegeveg kom nie neer op ʼn onskuldige ondersteuning van RET-beleid nie, maar op die stel van voorwaardes. Hierdie uitsprake is nie net nog ʼn deel van die faksiegeveg nie, maar trek ook die lyne waarbinne dit gevoer gaan word. Hulle, eerder as Ramaphosa, gaan die voorwaardes stel waarvolgens die faksiegeveg gevoer gaan word. Hulle gaan nie bloot gehoor gee aan Ramaphosa se voorwaardes en reëls nie.

Dit beteken ook dat Magashule (uiteraard) nie net in stille vrede aan die einde van die maand uit die ANC gaan tree nie. Hy gaan tot die einde veg, Ramaphosa se gesag, besluite en uitsprake verontagsaam. Ramaphosa probeer nog om die eenheid, welstand en die sogenaamde siel van die ANC te red deur terug te keer na hulle wortels. Indien dit van Ramaphosa afhang, sal die ANC nie skeur nie, maar eerder gesuiwer word. Magashule, aan die ander kant, is ten volle vasgevang in die stryd om magsoorlewing. Indien ʼn ANC-skeuring nodig is om sy magsposisie te hou, is dit net dalk wat gaan gebeur.

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/ GCIS

Sodoende is subtiele politiekery nie meer geskik nie. Dit raak nou die tyd om sy groter kaarte te begin speel – hy gaan beslis nie net in stilte uittree nie. Dalk gaan hy die ANC in ʼn ander krisis forseer deur glad nie aan die einde van die maand uit te tree nie. Sy ondersteuning op grondvlak en in die party is (on)gelukkig nog groot genoeg dat dit die ANC wat hom skors tot chaos kan lei. Daar is reeds sprake van nasionale onluste wat dreig indien Magashule uit die ANC geskop word – selfs al is dit net “tydelik” tot sy korrupsiesake afgehandel is.

Sy doelwit sou altyd wees om net te oorleef tot die nasionale algemene raadsvergadering in Mei. Daar het hy die geleentheid om van Ramaphosa ontslae te raak as leier van die ANC. Indien hy self dit nie tot dié raadsvergadering kan oorleef nie, moet hy minstens voorbrand daarvoor maak. Of hy nou self teen Ramaphosa gaan opstaan en of hy dit via ʼn vertroueling gaan doen – dit moet gebeur. Dit gaan die optimale geleentheid wees vir een faksie om sy oorheersing in die party te bevestig.

In hierdie stadium lyk een of ander vorm van ʼn ANC-skeuring byna onvermydelik. Die spanning is bloot te hoog en diegene wat in die geveg betrokke is, té vasberade om te seëvier. Dit is nie sommer ʼn geveg wat stilletjies en saggies uitgesorteer kan word nie. Magashule se sperdatum van 28 April is net dalk die begin van die einde van die onaantasbare, onwrikbare monopolie op politieke mag wat die ANC het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
petro

ace magashule en kopdoek julle het als op n skinkbord gekry en dit vernietig so wat de hel wil julle nog lig julle gatte en werk vir wat jy in die lewe wil he want dan sal julle dit oppas en waardeer

Werner

Hierdie faksiegevegte gaan in n bloedige rewolusie ontaard.

Jannie van Niekerk

Tannie Dlamini- Zuma se uitsprake behoort nie ernstig opgeneem te word nie. Sy is ‘n ou fossile van 74 jaar oud wat veronderstel is om op die ouetehuis se stoep te sit en tee drink en doilies hekel.
Wat betref ou Ace, hy gaan nie self uit sy pos tree nie en die ANC gaan hom ook nie skors nie. Dis net bekpraatjies. Ek se weer: “Mark my words.”

Manie

Hoe meer verdeeldheid daar onder die klomp skurke is, hoe beter. Hulle sal mekaar uiteindelik opvreet en uitroei.

Vrijburger

Moet nie die EFF alliansie/samewerking met die ANC-Zuma/Ace uit die oog verloor nie.