Nuuskommentaar: ANC oorsaak van protesgeweld in Suid-Afrika

(Argieffoto: Ayanda Ndamane/ANA)

Die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) in samewerking met die Goverment and Public Policy-dinkskrum het Maandag ʼn betreklik opspraakwekkende verslag oor protesaksie en konflik in Suid-Afrika uitgereik. Die verslag kan eintlik heel goed gelees word in samehang met die verslag wat die regering se ondersoekpaneel uitgereik het oor die Julie-onluste van 2021.

Die ISS se verslag het so effe van ʼn opskudding veroorsaak wanneer dit kom by hipoteses wat bestaan oor die oorsake van konflik, protesaksie en dikwels ook geweld in Suid-Afrika. Die oorweldigende sentiment wat tot dusver bestaan het, is dat konflik en in besonder protesaksie weens ontevredenheidsentimente van mense was.

Dit is ook waarom ons altyd verwys na Suid-Afrika se “diensleweringsbetogings” – kommentators, navorsers en ontleders het die oorweldigende meerderheid van die geweld en protesaksie wat plaasvind, verduidelik as onvergenoegdeheid wat beter resultate in die strate gaan eis.

Dít wat die verslag bevind, ondermyn egter hierdie hipotese met die ISS se eie hipotese wat só ook reg bewys word.

Eerstens bewys die ISS in die verslag hoe daar geen noemenswaardige verband te trek is tussen die sosio-ekonomiese en ekonomies-politiese omstandighede en die hoeveelheid “diensleweringsbetogings” in die land nie. Anders as wat die meerderheid mense tot dusver geglo het, is hierdie “diensleweringsbetogings” dus nie ʼn vorm van politieke deelname waarin mense meer en beter omstandighede eis nie.

Swak sosio-ekonomiese omstandighede dien as vonk in die kruitvat, maar is nie die oorsaak van die “diensleweringsbetogings” nie. Dit kan ook afgelei word deur die feit dat swakker dienslewering en ekonomiese omstandighede nie juis lei tot meer protesgeweld nie, maar beter dienslewering en ekonomiese omstandighede ook nie juis lei na minder protesgeweld nie en vice versa.

Ons sien nie regtig op enige noemenswaardige vlak in Suid-Afrika ʼn opstand van die armes nie.

Die enkele kwessie wat egter die sterkste verwantskap met “diensleweringsbetogings” toon, is die ANC se interne politieke stryd. Elite magsbedinging, eerder as polities ekonomiese omstandighede, is die grootste bydraende faktor tot diensleweringsbetogings in Suid-Afrika.

Steven Friedman, professor in politiek aan die Universiteit van Johannesburg, het ná die Julie-onluste ook die sentiment gedeel dat geweld in Suid-Afrika nie ʼn opstand van die mense is nie, maar eerder ʼn opstand van die elite.

Dit is omdat die ANC ná 1994 ʼn breedvoerige netwerk van patronaatskap geskep het waarin die elites van die land ingetrek is. Op hierdie manier kon die magsblok wat die ANC in ons de facto eenpartystelsel handhaaf, bydra tot groot stabiliteit.

Die ANC het hierdeur ook seker gemaak dat die elites hét wat hulle benodig – die middele en kanale – om hul eie belange na te jaag. Daar waar ongelukkigheid ooit na vore sou kom, is patronaatskap en onderdrukking gebruik om dit te pak voor dit tot onstabiliteit omvorm.

Die ANC het dit sodoende reggekry om politieke magsbedinging net soveel buite die parlement te plaas as wat dit binne die parlement geskied. In die stelsel van patronaatskap en onderdrukking geskied daadwerklike bedinging om mag met tasbare en daadwerklike gevolge wat hiervan gesien word.

Dit is dan ook waarom ons van die laagste vlakke van diensleweringsbetogings sedert 2009 gesien het tydens oudpres. Jacob Zuma se tweede termyn in besonder. Wat natuurlik ook in daardie tyd gebeur het, is dat politieke sluipmoorde – veral in KwaZulu-Natal – drasties toegeneem het. Die Zuma-ANC het gesorg dat mense deur patronaatskap gelukkig gehou word waar moontlik en uiteindelik van kant gemaak word waar dit nie moontlik was nie.

Wat die studie dan ook bevind het, is dat Ramaphosa nie dieselfde gesag en ontsag op grondvlak afgedwing het as wat Zuma kon nie. Sodoende is daar groter onbestendigheid onder Ramaphosa en kan ons ook toenemende vlakke van onstabiliteit en geweldprotes in sy presidensie verwag.

Hoe kleiner die koek word, hoe feller word die magsbedinging. Dit gaan in besonder toeneem weens die feit dat die regering se fondse regtig uitgeput word, maar ook omdat Ramaphosa minstens tot ʼn mate die krane van patronaatskap toegedraai het.

Gwede Mantashe self het in 2017 in ʼn verslag bevind dat Suid-Afrika se interne demokrasie dood is. Felle en selfs dodelike magsbedinging, veral in interne ANC-faksiegevegte, is veel eerder die norm in Suid-Afrikaanse politiek.

Karl von Holdt, professor in sosiologie aan Wits, het Suid-Afrika reeds meer as ʼn dekade gelede begin beskryf as ʼn sogenaamde gewelddadige demokrasie. Dit is ʼn demokrasie waarin geweld integraal deel van die stelsel is en as een van die mees sentrale middele aangewend word in die bedinging om mag en invloed. Geweld en demokrasie is sodoende net so verweef soos wat welvaart en politiek is in dié stelsel van politieke patronaatskap en onderdrukking.

Von Holdt verduidelik presies die ISS se teorie deur diensleweringsbetogings nie aan dienslewering te koppel nie, maar aan politieke magsbedinging.

Prof. Koos Malan, dosent in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria, verduidelik dieselfde soort verskynsel as ʼn land wat tot ʼn mate sit met die oorskot van ʼn demokrasie. Daar waar geskille deur demokratiese en regsprosesse opgelos behoort te word, word dit toenemend deur gewelddadigheid en straffelose optrede besleg. Binne die de facto eenpartystelsel wat ons het, word geskille nie in verkiesings opgelos nie, maar in interne faksiegevegte wat uiteindelik ook oorspoel na onstabiliteit en geweld op grondvlak.

Hierdie verslag, spesifiek die bevindinge rondom Ramaphosa se magstatus, laat natuurlik ook interessante vrae ontstaan oor hoe veilig Ramaphosa is met die oog op die ANC se leierskapsverkiesing aan die einde van die jaar. ʼn Mens kan van Ramaphosa en Zuma dink wat jy wil – die handhawing van ʼn sterk outoriteit en ontsag op grondvlak is deurslaggewend vir die konsolidering van mag.

In besonder gegewe die feit dat ANC-takke, soos tot onlangs gelei deur Ace Magashule, Ramaphosa moet herverkies. Gaan Ramaphosa sy eie mag kan konsolideer en daarin slaag om die interne elite gevegte só te beheer dat “diensleweringsgeweld” ten beste afgeweer en ten slegste uitgestel word?

Gaan die faksie van gegriefdes, wat moontlik kan insluit Magashule, Lindiwe Sisulu en Zweli Mkize, eerder Ramaphosa se reeds verswakte magsgreep uitdaag? Hoe gaan dié magsbedinging gewone mense op grondvlak met watter mate van geweld raak?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Twallie ·

Lang storie kort…Dis die ANC se skuld. Vertel ons iets wat ons nie weet nie.

annie ·

Net een faktor wat Cyril vir ‘n 2e termyn kan bevoordeel is dat al die buiteperde hoop om die president te word en teen mekaar gaan draai. Nie dat dit beter sal gaan as hy weer die leisels gaan hou nie, want die wa het nie meer krag nie. Dit sleep sal hy dit nie kan sleep nie. En wie sal help stoot?

Pieter ·

Stem saam. Dit is die ANC wat agter al die georganiseerde geweld sit. Protes teen dienslewering is ‘n dekmantel. Soos die DA dit tereg stel, die ANC is ‘n kriminele organisasie in ‘n politieke gewaad. ANC lede by Luthuli huis word nie betaal nie, maar geen skade word aldaar aangerig nie. Dit het my ‘n insig in die optredes gegee.

Souterig ·

ANC is verantwoordelik vir alles wat sleg is, asof dit nuus is.

jlantie ·

Hulle is van hulle bestaan af verantwoordelik vir die gemors in die land. Nog nooit kon hulle iets opbouend doen of skep nie

Swerwer ·

Solank die ANC aan bewind is sal daar nie vrede en samehorigheid in ons land wees nie.

Owlie ·

Die naaste aan die waarheid ooit Enigste opplossing vervang die hele spul

Jacobus ·

Wat verwag ons anders as die land deur n klomp magsbehepte, skelm kommunistiese terroriste regeer word.

Heinrich ·

Die hoeveelheid beroepskriminele daar buite skrikwekkend; ek is seker hulle gaan van informele nedersetting na informele nedersetting om te gaan bande brand en klippe gooi. Daar bestaan vele maniere om hierdie belhamels te identifiseer het die Julie plundery bewys. Hulle het wel die reg tot protes, maar daar is geen gevolge vir kriminele optrede nie, dieselfde met die verdomde taxis wat so chaos saai tydens spitsverkeer; die ANC sal nie teen hulle eie mense optree nie en eerder hulle terrorisme verduur.

casper ·

Nou dit weet ons al vir 60 jaar !!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Waarnemer ·

Toemaar nie meer lank nie,die oomblik wat Putin sy eerste kern plofkop laat gaan,bestaan wereld politiek en ANC oorherrsing nie meer nie….dan is dit elke man vir homself.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.