Nuuskommentaar: ANC se ‘fees van idees’  

(Foto: PHILL MAGAKOE/AFP)

Die ANC se sesde nasionale beleidskonferensie het die afgelope naweek plaasgevind. Afgevaardigdes van alle streke word genooi om beleidskwessies te bespreek. Geen besluite kan egter op hierdie konferensie geneem word nie. Besluite word eerder na die nasionale uitvoerende komitee (NUK) verwys vir oorweging. Die NUK besluit dan watter beleidskwessies aanvaar word as agendapunte. In Desember stem alle takke dan op die nasionale kongres om nuwe beleidsbesluite aan te neem.

Hierdie konferensie stel dus die besprekingspunte vir die volgende paar jaar daar. Wat die ANC op hierdie konferensie besluit, gaan iewers in een of ander vorm neerslag vind. Hetsy in tasbare beleid, die openbare gesprek, groter politieke fokus of net weer as ʼn besprekingspunt. Hoewel talle kwessies op die konferensie bespreek is, het ʼn paar temas uitgestaan.

Die eerste is dat sakelui nie vreeslik lus is vir die ANC nie. Op die Woensdagaand voor die konferensie hou die ANC sy glansryke gala-aand. Hiervoor word duur kaartjies aan sakelui verkoop vir geldinsameling. R1 miljoen koop ʼn kaartjie aan pres. Cyril Ramaphosa se tafel. Die goedkoopste kaartjie kos R15 000.

Vanjaar is die gala-aand egter byna gekanselleer weens ʼn tekort aan belangstelling. Gewoonlik daag swaargewigsakelui op wat met politici wil skouers skuur – en hulle dalk selfs wil beïnvloed. Vanjaar was die meeste bywoners egter ANC-leierskap, eerder as sakelui. Selfs stoele aan Ramaphosa se tafel was leeg. Daar is ook bewerings dat Patrice Motsepe kaartjies ter ondersteuning gekoop het, maar nooit opgedaag het nie. Daar is skynbaar spanning tussen politieke elite en sake-elite.

Die situasie mag die ANC se reeds bestaande finansiële probleme verder verdiep. Indien die ANC salarisse betaal kry tot en met 2024, kan hulle dalk gedwing word om ʼn spaarsamige verkiesingsveldtog te bedryf. Dit veral met die feit dat politieke party sedert April 2021 skenkings van meer as R100 000 moet verklaar.

Dan het Ramaphosa en sy faksie ook die omstrede opsystaan-reël behou. Hierdie reël is spesifiek uitgedaag deur afgevaardigdes van Limpopo en dele van Gauteng. Die reël is ook al in die hof uitgedaag deur geaffekteerde en gegriefde Ace Magashule. Sommige (vermoedelik) kriminele elemente van die party is teen die reël gekant in soverre dit hulle bedreig.

Die opsystaan-reël is tans egter in die kern van die ANC se selfreiniging. Dit is die ANC se grootste instrument om die oënskynlike koring van die ooglopende kaf te skei. Indien hierdie reël laat vaar word, word die mat ook onder Ramaphosa uitgeruk. Met die reël wat behoue gebly het, het Ramaphosa se posisie minstens nie verswak nie. Ramaphosa moet egter nog tot Desember oorleef met die leiersverkiesing wat dan eers plaasvind. Vier maande in die politiek kan ʼn lang tyd raak.

Die ANC het verder ook geworstel met die swak toestand waarin die party is. ʼn Introspeksie wat talle kenners meen verfrissend is – die ANC is minstens nou eerlik oor sy verkrummelende fondasies. Die party erken dat dit moontlik is om sy politieke monopolie in 2024 te verloor. Hierdie is ʼn probleem siende dat koalisiepolitiek vir die ANC ongewens is. Selfs al sou die party koalisies in beginsel voorstaan, is aanneemlike koalisievennote yl gesaai. Die ANC het juis op die konferensie bevestig dat hy nie bereid is om met die EFF in koalisie te regeer nie. Magashule se openlike flankering met die EFF die afgelope tyd is dus gedemp.

Sodoende moet die ANC veral in die volgende twee jaar groot klem lê op interne vereniging. Indien die party intern te verdeeld is, kan hy moontlik sy lieflingmagsmonopolie verloor.

Van die ander besprekingspunte was weer eens die kwessie van nasionalisering van die Reserwebank, grondonteiening sonder vergoeding, chemiese kastrasie van verkragters asook die energiekrisis. Die ANC se beleidskonferensie is in ʼn neutedop sy vyfjaarlikse hersiening van beleidsagendapunte. Aanduidend van dit waarop die party waarskynlik in die voorsienbare toekoms gaan fokus. Mits die kwessies op die nasionale kongres in Desember aanvaar word.

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Die mees noemenswaardige opmerking van die konferensie was op die ou end afkomstig van Ramaphosa. Die beleidskonferensie was volgens Ramaphosa ʼn “fees van idees”. Die beleidskonferensie was sekerlik ʼn fees in dieselfde sin wat ʼn begrafnis ʼn fees is. Met hul beleidsbesprekingspunte wat vergelykbaar is met komkommerbegrafnisbroodjies – nie ongelooflik substantief nie, eintlik lank reeds uitgedien, maar minstens iets om op die tafel te sit.

Selfs te midde van die ANC se grootste bestaanskrisis, of dalk juis te midde daarvan, herkou hulle dieselfde ou idees – rassekwotas vir skole aldus Lindiwe Sisulu, asook sentralisering en nasionalisering van grond en geldbeheer. Hulle lewensbeskoulike raamwerk verdoem hulle daartoe om probleme op te los met dieselfde idees wat die probleme in die eerste plek geskep het. Dit is ook waarom Ramaphosa in dramaties ironiese woorde gesê het: Die ANC leef, die ANC lei en die ANC se struggle gaan voort.

Met die ANC wat homself steeds as struggle-organisasie handhaaf, knikker homself eintlik uit as goeie regeerder. Sy lede het bloot nooit die kopskuif of vaardigheidsverandering ondergaan om suksesvolle regeerders eerder as vryheidsvegters te wees nie. Daarom probeer hulle steeds om ʼn 21ste-eeuse land te regeer met die uitgediende 19de-eeuse ideologie waardeur hulle vryheid in die 20ste eeu verower het. Hul utopiese denke verdoem hulle daartoe om die verlede te laat herleef ten koste daarvan om ʼn beter toekoms te bou.

Selfs die ideologiese toegewings wat die ANC maak is ewig onderhewig aan die breë lewensbeskoulike raamwerk van rasse-Marxisme soos vervolmaak deur die Nasionale Demokratiese Rewolusie. Waar hulle wel alternatiewe idees aangryp, is dit nie weens ideologiese verligting nie, maar uit absolute noodsaak. Dit is hierdie noodsaaksbesluite waarin en waardeur ʼn beter grondvlakwerklikheid afgesien van die regering gebou moet word.

Daarom is dit belangrik om tog kennis te neem van die ANC se beleidskonferensie. Hoewel hulle oorwegend vashaak in ou idees, is hulle steeds die regerende party. Hulle beleidsagenda punte gaan dalk nie ʼn beter toekoms vir ons skep nie. Die punte gaan dit wel vir die privaatsektor en burgerlike samelewing óf effe makliker óf effe moeiliker maak om self ʼn beter werklikheid te skep!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Frank ·

Maroela Media. Kan R1m vir ‘n blote kaartjie nie ook as skenking aan ANC beskou word nie? Dalk moeite werd om bietjie kundiges te vra en klip in die bos te gooi.

Republikein in die Wes Kaap ·

Kommentators, joernaliste en ander belanghebbenes moet die ANC openlik minag, ignoreer en vermy. Indien Ramaphosa, sy ministers, premiers en burgermeesterd by byeenkomste opdaag om iets te open, loop uit. Volg perskonferensies eerder per TV en stroomdienste. Hanteer die ANC en hul ministers met afkeur. Maak hulle irrrlevant.

annie ·

CR se oorlewing hang uitsluitlik daarvan af hoeveel buit hy bereid is om uit die eiendom van wit Suid-Afrikaners en Westers ingebedde ekonomie te neem. Soos by antieke volke, waarvan Afrika se swart bevolking steeds bly, is buit neem glo ‘n kenmerk van ‘n magtige leier. Niks het verander sedert die grondlegging van Afrika nie. Cyril wil dit graag wees. Tydens ANC-byeenkomste is hy sy ware self. Die probleem is net dat swart nasies nooit ‘n eenheid, soos hy telkens na verwys, sal vorm nie. Die Zoeloes glo hul is meeste en moet dus regeer. Daar is aangekondig dat Desember se byeenkoms minder mense sal akkomodeer… mooi uitgekies om polarisasie te verhoed?

Nie Verbaas ·

En daar sit Ramaphosa toe alleen aan sy tafel met n pot paddas in warm water. Wat was die tema? ANC sirkus?

Jack ·

Groot partytjie vir n bankkrot anc. Geen morele waardes te bespeur nie. Wat n tragiese gebeurtenis het die nasionale party nie oor die land gebring nie. Hoe swaar kry daardie blikslaers nie nou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.