Nuuskommentaar: ANC sit ramp in ramptoestand

Argieffoto

President Cyril Ramaphosa spreek vanaand die land toe om die land waarskynlik na vlak 1 van die inperking te skuif. Hierdie aankondiging sal volg op die vergaderings wat Ramaphosa Dinsdag met Nedlac en die presidensiële koördineringskomitee gehad het.

Zweli Mkhize, minister van gesondheid het ook Maandag sy optimisme uitgespreek oor die land se gereedheid om na vlak 1 van inperking geskuif te word. Volgens Mkhize is die ergste van die Covid-19-storm verby en is dit veilig om talle van die huidige regulasies af te skaf.

Hierdie moontlike skuif laat talle Suid-Afrikaanse burgers ʼn sug van verligting slaak. Die meerderheid mense vertrou lank reeds hul eie gesonde oordeel, eerder as die regering se gedwonge “leiding”, as kompas waarvolgens die virus hanteer word. Tog hang die ramptoestand, die werklikheid van gedwonge maatreëls en die moontlikheid van ʼn terugskuif na hoër vlakke van inperking soos ʼn swaard oor ons koppe. Die regering kan ter enige tyd weer onsinnige en verlammende maatreëls instel.

Die regering het verlede week besluit om die ramptoestand weereens tot 15 Oktober te verleng en daarmee saam hulle byna eensydige mag oor die land vir nog ʼn maand hernu. Dit ten spyte van toenemende oproepe dat die ramptoestand volledig afgeskaf moet word.

Daar bestaan egter talle bewyse dat die ANC nie meer ʼn ramp het om te bestuur nie. In die opsigte van virusverspreiding en die gereedheidsgrondslag van die gesondheidsorgstelsel is ons lank reeds uit die gevaarsone en behoort die ANC dienooreenkomstig te reageer.

Dit lyk asof Suid-Afrika sy piek in virusgetalle einde Julie bereik het. Reeds vanaf begin Augustus is die land se tweeweeklikse verandering in Covid-19-gevalle negatief. Dit beteken dat ons nuwe bevestigde gevalle reeds vir ʼn maand en ʼn half op ʼn afwaartse trajek is. Hierdie afname in gevalle het steeds voortgegaan selfs met ons skuif na vlak 2 middel Augustus.

Siende dat Suid-Afrika se toetsvermoë drasties verswak het oor die afgelope paar maande, is dit tog nuttig om ook te kyk na die vlakke van oortollige sterftes wat die land ervaar. Dit is waarskynlik die veiligste moontlike aanduider daarvan dat die ergste stadium van die krisis verby is, aangesien dit voorsiening maak vir die moontlike diskrepansie wat ʼn swak toetsvermoë tot gevolg het. Selfs volgens hierdie aanduider is Suid-Afrika weer byna terug na normaal. Die oortollige sterftes het aan die begin van September teruggekeer na die verwagte en voorspelde vlakke.

Minister Mkhize het ook Maandag genoem dat ons hospitale hoegenaamd nie deur Covid-gevalle oorweldig word nie. Die aantal hospitaalbeddens wat tans deur Covid-19-pasiënte gevul word, is minder as 10% met die aantal mense wat ICU-beddens gebruik wat onder 30% is. Die aanvanklike beweegrede agter die instel van die ramptoestand was om te verseker dat ons gesondheidsorgstelsel nie deur die virus oorweldig word nie. Die regering kan daarom ook nie die broosheid van die gesondheidsorgstelsel aanvoer as rede vir die verlenging van die ramptoestand nie.

Met geen ramp om te bestuur nie, het die ANC egter besluit om die ramptoestand te verleng. Hierdie verlenging gee hulle bloot die mag om, selfs met die krisis wat grootliks verby is, te dikteer hoe ons optree en met die virus saamleef. Indien die regering nié die ramptoestand verleng nie, kan hulle nie meer moeiteloos regulasies uitvaardig nie. Dit is die ramptoestand wat hulle in staat stel om gesondheidsmaatreëls op ons af te dwing. Dit is die ramptoestand wat hulle in staat stel om ons ekonomie te kniehalter deur die terugkeer na normaal te reguleer en te beperk. Dit is die ramptoestand wat die kabinet en omstrede nasionale koronavirus-bevelsraad volmag gee om oor die land te regeer. Sodoende bepaal ʼn handjie vol politieke elite wat ons lot is.

Walter E. Williams, Amerikaanse ekonoom, kommentator en akademikus, het dié probleem verstaan:

“Most of the great problems we face are caused by politicians creating solutions to problems they created in the first place.”

Vanuit die Nedlac-vergadering van Dinsdag het ʼn ekonomiese herstelplan gevloei wat vir finale goedkeuring deur die kabinet aanvaar moet word. Die plan het ten doel om vertroue te wen en die land op ʼn pad van beleggings en ekonomiese groei te plaas. Hierdie plan is die absolute toonbeeld van Williams se raakvat siening oor talle politici. Hierdie plan het ten doel om die skade wat die ANC met ons onregverdigbare streng en lang inperking sélf veroorsaak het, te probeer regstel. Sodoende is die ANC se antwoord op die probleme wat die ANC skep, om die betrokkenheid van die ANC net verder te vergroot.

Ten spyte van die duidelike ekonomiese impak wat die regering en hulle hantering van hierdie krisis op ons ekonomie gehad het, wil hulle graag met die ad infinitum-verlenging van die ramptoestand beheer behou. Ten spyte van die bewyse dat hulle die probleem is, wil hulle graag die oplossing wees.

Soos wat die ANC aanvanklik die virus-ramp moes en wou bestuur, het ons nou ook ons eie ramp om te bestuur. Die ANC gaan kwalik van hulle mag en verreikende invloed in die samelewing afstand doen. Sodoende word húlle die blywende ramp wat ons selfs na afloop van die pandemie gaan moet bestuur.

Die Covid-19-pandemie het ons egter geleer dat ons nie net die vermoë het om krisisse te bestuur nie, maar ook die wil het om dit sélf te doen. Die pandemie het ons gemeenskapsbesef en -bewussyn laat herleef. Dit het ons weer herinner dat die krag van die gemeenskap veel swaarder weeg as die mag van die staat – veral dié staat. Die ANC gaan waarskynlik nooit in wese verander nie. Hulle antwoord op probleme gaan altyd meer staat wees, wat altyd tot groter probleme gaan lei. Namate hulle verswak, is dit daarom belangrik dat ons as gemeenskap versterk. Sodoende sal ons die beste moontlike kans staan om die rampe wat die ANC telkens gaan veroorsaak suksesvol te hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Persheks Adri ·

ANC is die grootste ramp wat ons kon tref! Alles is ‘n gemors te danke aan hulle! Het julle klaar die koffers leeg gemaak?

Nie Verbaas ·

Mens hoef net op te let hoe ANC die land bestuur om te weet dat jy op jou eie instink moet staatmaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.