Nuuskommentaar: ANC über alles – duikvlug van die narre

President Jacob Zuma reageer op 18 Februarie 2016 op die debat ná sy staatsrede Foto: @PresidencyZA, Twitter

President Jacob Zuma reageer op 18 Februarie 2016 op die debat ná sy staatsrede Foto: @PresidencyZA, Twitter

Twee mense, een ’n president en die ander ’n presidentskandidaat in die VSA, is al dikwels as narre uitgebeeld. Albei het hulle nou byna gelyktydig ernstige teenspoed op die lyf geloop. Donald Trump se voortgesette vrysêery het hom nou moontlik noodlottig gewond, terwyl pres. Jacob Zuma nou in ’n oorlewingstryd gedompel is met die aanslae teen hom wat al meer bedreigend word.

Pres. Jacob Zuma en die Amerikaanse aspirant-president, Donald Trump, het afgesien van die ampte min gemeen, behalwe dat albei gereeld as narre voorgestel is. Voorstellings wat nie sommer ligweg gedoen word nie omdat albei die vermoë het om geweldig steun te monster.

Dit is daarom interessant dat albei byna gelyktydig ernstige teenspoed opgedoen het, en in albei gevalle kan dit aan hul eie optrede toegeskryf word. Zuma het ’n juridiese skrobbering by al 11 regters van die konstitusionele hof gekry, en Trump het ’n groot terugslag beleef toe hy in die Amerikaanse deelstaat Wisconsin nie net in die Republikeine se nominasieverkiesing teen sen. Ted Cruz verloor het nie, maar ’n onverwagse groot loesing gekry het.

’n Paar los opmerkings, boonop in die geval van aborsies teenstrydig, het hom duur te staan gekom. Waar hy in die oorblywende deelstate net sowat 45% van die stemme nodig gehad het om by die Republikeine se benoemingskonvensie by verstek te wen, moet hy nou gemiddeld 55% haal, iets wat baie onwaarskynlik lyk. Dit beteken die afgevaardigdes kan dan volgens gewete stem, waar Trump se beste kans is dat Cruz self nie ’n watwonderse kandidaat is nie. Boonop is daar ’n derde rolspeler, John Kasich, in die resies. Hy staan geen kans om regstreeks verkies te word nie, maar as die afgevaardigdes volgens gewete stem, kan Kasich, wat deur vriend en vyand as loshande die beste kandidaat beskou word, net dalk die pyp rook.

Vir Trump beteken die terugslag een ding – hy sal nou eenvoudig sy sokkies moet optrek en meer presidensieel moet optree. Dis iets wat hy al ’n paar keer kortstondig probeer het, maar nie kon volhou voordat hy weer wild oor die boeg gaan skiet het nie.

Deur ’n hele klompie faktore het Zuma daarin geslaag om die gevolge van internasionale konvensie (iets wat veronderstel is om volledige regskrag te hê soos ruim in Switserland se presidensiële verkiesingstelsel geld) af te weer. Hiervoor was twee stappe nodig – hy moes die ANC se steun agter hom konsolideer, hetsy deur populistiese steun, hetsy deur die sinspeling van wanordelikheid deur sy ondersteuners, hetsy deur patronaatskap – net sodat daar so naastenby ’n verenigde, en deels dikbek – verenigde front na buite voorgehou word.

Die tweede stap is om te sorg dat die ANC in die gedagte van die bevolking as die allesomvattende moederowerste beskou word. In die VSA is nog betreklik min kommer dat Trump dalk in die Wit Huis kan beland, want baie Republikeine sal gewoon vir die Demokrate se kandidaat in die presidentsverkiesing stem, sou Trump se naam op die kieslys wees. Al het hulle ook geen ooghare vir Hillary Clinton wat waarskynlik die Demokrate se kandidaat sal wees nie.

Selfs al sou daar ’n wesenlike moontlikheid wees dat die ANC vanjaar in ’n verkiesing die onderspit delf, hou dit nog geen regstreekse gevaar vir Zuma in nie omdat dit munisipale verkiesings is wat op 3 Augustus plaasvind.

Maar, selfs al vaar die ANC net matig swakker met Zuma weer as die “gesig” hou dit enorme implikasies in. Talle sittende en aspirant-LP’s sal ongemaklik begin rondskuif as hulle agterkom hul gekussingde lewe is in gedrang oor ’n te groot deel van die bevolking net nie meer vir Zuma kans sien nie. En ironies, streng gesproke sou Zuma dan in ieder geval nie meer president wees nie. Waarom nou hul eie soustreinplekke opoffer ter wille van iemand wat in elk geval aftree?

Maar ten spyte van pogings om die illusie by kiesers te skep dat daar geen lewe buite die ANC is nie, soos nou weer deur Gwede Mantashe in die Noord-Kaap, blyk die weerstandigheid teen Zuma dié keer van so ’n aard te wees dat die speel van die ANC-kaart nie meer genoeg is nie. Terwyl Mantashe se kampvegtery ter wille van die ANC (lees Zuma) eintlik Zuma se woorde eggo dat lojaliteit aan die ANC belangriker is as lojaliteit aan die land, ontwikkel daar ’n tipe “volksopstand” buite-om die politieke arena. Gister het ’n indrukwekkende groep burgerlike organisasies, kerke, vakbonde en individue (van wie baie ten nouste met die ANC verbind word), op die trappe van die konstitusionele hof byeengekom. ’n Veldtog om Zuma uit sy pos te dwing is van stapel gestuur.

Dit volg weer nadat bekende ANC-figure, soos Trevor Manuel en Ahmed Kathrada, ’n beroep op Zuma gedoen het om te bedank.

Dis nou afgesien van ’n keelvolheid vir Zuma in die media, en ’n groot deel van die publiek. ’n Gautengse tak van die ANC het ook nek uitgesteek en gevra Zuma moet bedank. En dan loop die Guptaspook ook nog.

Zuma se reaksie was om van sy toesprake in Zoeloe af te steek, of groot dele daarvan in Zoeloe te lewer. Skielik is hy weer die “100% Zulu boy” (sy eie woorde) wat die presidentsamp betree het. Hierdie optrede sal die nekhare van ANC-karperde laat regop staan wat ’n baie uitgesproke afkeer van “tribalism” het.

Trouens, mense soos Thabo Mbeki en Winnie Madikizela-Mandela het al ’n jaar of wat gelede met afkeer oor die groeiende “tribalism” in die ANC gepraat – en toe was die omvang nog net ’n vulletjie teen die dimensies wat Zuma dit nou laat aanneem.

Maar Zuma oordeel heel duidelik dat die verlies aan bruin stemme wat die “afvalligheid” van Manuel, en die swye wat Jesse Duarte opgelê is, tot gevolg sal hê, meer as opgemaak kan word deur meer Zoeloestemme bymekaar te hark. Skielik is die NFP en die IVP, wat die afgelope tyd maar baie danig met die ANC en selfs sag op Zuma was, onthuts en het hulle weer ’n sterker opposisierol begin inneem.

Het die “parasitiese siekte” wat dikwels ’n eens florerende stelsel van kleingroep-dinamika lamlê, nou ook in die ANC vaardig geword?

Ter wille van groter duidelikheid: Een van die metodes om ’n saak te bevorder, is om kleingroepdinamika in te span. Die teorie is dat die leiers van elke gemeenskap in ’n komitee, vereniging of forum saamgetrek word, en dat die landwye opdraggewer se doelwitte op hierdie gedesentraliseerde wyse na die gemeenskappe deurwerk. Ook sommige kerke maak ruim hiervan gebruik.

Die probleem is egter dikwels dat baie van hierdie kleingroepe naderhand soveel interne probleme begin ervaar dat die amptenare wat hulle moet “benut” se tyd en energie opgesuig word om die groepe te laat werk. Uiteindelik kan die hele stelsel – hoewel dit op papier nog indrukwekkend lyk – in die praktyk doodgesmoor het.

As meer takke van die ANC “afvallig” sou begin raak, kan dit die ANC se energie kwaai begin opslurp om eerstens bloot die struktuur te behou, maar om dit nog te laat werk ook, dat makliker propaganda-meganismes soos openbare toesprake ook die potensiaal van ’n uitjouery inhou. Dit befoeter weer die hiperboliserende uitwerking wat TV-dekking van His Masters Voice gewoonlik inhou.

En dit alles ter wille van een man – en boonop een man wie se internasionale beeld lank reeds onherstelbaar in ’n verstopte riool beland het.

Iewers is daar ook vir die ANC ’n kantelpunt waar dit vir selfs die mees slaafse Zuma-aanhanger duidelik word dat Zuma se volgehoue presidentskap vir die ANC self meer skade as goed inhou – en dit maak saak omdat dit die ANC se aandeel al korter knip. Hoewel daar in die ANC mense is wat duidelik ’n hoë premie op landsbelang stel, word hulle duidelik nog deur die ANC über alles-groep oorheers. Die enigste manier om hul magsgreep te verswak, is om die stroom van afvallige kiesers groter te maak, en dit wat op die trappe van die konstitusionele hof gebeur het, is ’n belangrike deel hiervan.

Voorheen was dit moeilik om Zuma se gebreke teen hom te gebruik omdat dit te maklik as anti-swart vertolk is (ook danksy slim uitbuiting deur die ANC). Zuma het dit ook nou weer probeer fasiliteer deur Menseregtedag en die veldtog teen rassisme te kaap en anti-wit-rassisme aan te blaas. Hy kom weens die skynbare slaphandigheid van die Menseregtekommissie en onsigbaarheid van die Kommissie vir die Beskerming en die Bevordering van die Regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe daarmee weg. En dis nogal twee kommissies wat net soos die openbare beskermer instellings van hoofstuk 9 van die Grondwet is, maar anders as die openbare beskermer skynbaar te versukkeld of ingekruip is om rug styf te maak.

Maar as meganisme om anti-Zuma-sentimente met anti-swart-sentimente te vertaal, werk dit dié keer nie meer nie. Verreweg die meeste kritiek op Zuma wat die groot klok haal, kom van swart mense. ’n Uitsondering was die magnaat Johann Rupert se oproep op Zuma om te bedank – iets wat die ANC ook hard probeer uitbuit het om as anti-swart voor te stel. Maar ook dit het nie meer die “verlangde” trefkrag ingehou nie.

Boonop lyk dit of die ANC ook ’n meer beperkte reaksie op sy grondbeleid en beleid oor transformasie en SEB kan kry deurdat ’n peiling van die Instituut vir Rasseverhoudinge bevind het die meeste kiesers is daarteen. En Zuma het juis gereeld hierop gehamer en in die proses dikwels sy naam met verkeerde feite net verder bollie gemaak. Selfs adjunkpresident Cyril Ramaphosa het hiermee baie steun wat hy buite die ANC geniet het, kwaai skade toegedien.

Tog, teoreties kan die veldtog teen Zuma slaag as dit genoeg steun kry. Iewers gaan die kool nie meer die sous werd wees vir diegene wat Zuma om welke rede ook al in gesag wil hou nie. Of die ANC kan sy eie pyn uitrek en met die volgende algemene verkiesing ’n baie duur prys betaal.

’n VVV met ruimtewesens land op aarde digby drie seuns van Kwaggafontein. Die ruimtewesens vra die seuns om hulle na hul leier te neem. En toe neem hulle die besoekers reguit na Trompie … Hulle kon dit net nie oor die hart kry om hulle na Zuma te neem nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Flippie ·

Iemand wat Trump met Zuma vergelyk het nie al sy varies op hok nie.

Daar is’n wereld wye verskil oor wat Zuma dink, doen, en sê teenoor wat Trump dink, doen, en sê.

Verder verskil hulle morele waardes hemelsbreed. Zuma het bv. By meer as een geleentheid seksuele omgang met jong vrouens gehad, een keer met ‘n vriend van hom se dogter.

Verder is Zuma gereeld met die reg deurmekaar, Trump, nie.

Trump doen sy eie ding met sy eie geld. Zuma gebruik belasingsgeld.

Trump vat verantwoordelikheid vir wat hy sê en doen. Zuma gee ander die skuld of pleit onbewustheid.

Nee man Herman. Dit was nou ongevraagd. Onthou “comparisons are odius”.

Pieter ·

Flippie, “…het nie al sy varkies op hok nie…”??? Jy weet skynbaar nie wat die uitdrukking beteken nie, of jy is blatant minagtend! En jy praat van ongevraagd? Natuurlik is dit baie maklik op verskille tussen Trump en Zuma ook uit te wys, maar hulle bly albei narre, soos Herman tereg uitwys. Albei se onlangse terugslae is tans aktueel en Herman het dit op ‘n vindingyke manier uitgelig – allermins ongevraagd! Daarteenoor is jou onrespekvolle opmerking uiters onvanpas en onsmaaklik! Lees gerus die artikel weer met ‘n oop gemoed, dan sal jy dalk trefkrag daarvan ook geniet. Baie dankie vir jou keurige raakvat-artikels, Herman, doet zoo voort!

Hendrik ·

Ek dink dit is ‘n baie goeie vergelyking tussen Trump en Zuma. Trump se rykdom is op dobbelhuise met ontkleedanserklubs gebou, Zuma was van verkragting aangekla en het buite-egtelike kinders en verhoudings. Trump se besighede was ar 3 maal bankrot, Zuma was tydens Shabir Sheik se verhoor tereggewys as iemand met twyfelagtige persoonlike finansiële praktyke. Trump werf steun deur op mense se vrese te teer, Zuma werf steun deur swartes skrik op die lyf te jaag deur te sê as hylle vir ander partye stem, die wittes weer die land gaan vat. Knap gedaan, Herman Toerien

Genie ·

Nee, Teddie vir President!!! En Carly vir Visie-President! Dit is die beste ding wat met die wereld kan gebeur.

Frans C ·

Daar is mi ‘n groot verskil tussen die twee, die een is ‘n President (Zuma) en die ander Trump het Presidentaspirasies. Zuma se narstrekke is reeds deur ‘n groot groep ondersteuners vergewe, terwyl die kiesers in Amerika hul steun in Wisconsin van Trump onthou het en hom dus op hul manier straf.

Zuma sê hy sal eers nadink oor sy ‘straf’ terwyl Trump sy pak moet vat en aanbeweeg.
Al verdwyn Zuma ook gaan is die kanse dat die ANC sy beleidsrigting gaan verander uiters skraal want talle kiesers maak steeds staat op vervulling van die Vryheidsmanifes en is daar geen hoop dat die ANC uit die kussings gelig kan word, terwyl daar tog ‘n moontlikheid is die Republikeine die Demokrate se 8 jaar lange oorheersing met minder narstreke van aspirantkandidate kan beëinndig.

Flippie ·

Ja Pieter ek het die hele berig noukeurig deurgelees. Ek stem met die meeste kommentaar in die stuk heelhartig saam. Daardie dele is goed gesteel en ek het geen problem daarmee nie.

Ja ek weet wat beteken die uitdrukking waarna jy verwys. Ek sien geen belediging daarin nie. Die Zuma/Trump vergelyking is onvanpas en vergelykings is uit konteks. Jy noem onvanpastheid, vindingrykheid – die soort vindingreikheid waaroor Zuma baie beslik.

hans brits ·

Trump gaan nie eers gepla wees oor jou lang “speech” nie,hy het ook geen inpak wat in ons land aangaan nie,maar die teendeel is waar vir zuma,hierdie een is te gevaarlik vir woorde.Hoef niks verder te se nie.

Joann ·

Zuma en judas iskariot sal meer onder een kam geskeer word. Verraaiers

Believe ·

Judas het darm berou gehad en homself verwyder uit sy amp. Kan nie hulle vergelyk nie. Die beste vergelyking is Mogabe en Zuma. Albei is dieselfde en staan vir dieselfde waardes! Mag ons bly opstaan teen onreg en nie stilbly nie…sodra ons stilbly het ons onsself oorgegee en aanvaar ons dit wat met land gebeur! Die vakansie was paasfees, mag elkeen van ons glo dat ons kan nuut opstaan omdat Christus vir ons opgestaan het! Christus staan op teen onreg…mag ons ook saam met Hom opstaan daarteen!

Henry ·

Om ‘n hofnar/hoofnar se streke wat as president van ‘n korrupte Afrika regime optree, met die mannewales van ‘n nar in die VSA se presidensiële benoemingstryd te vergelyk, is darem te dik vir ‘n daalder.
Daar is sovele ander korrupte narre op hierdie donker vasteland waarmee ons droewe land se president vergelyk kan word:
Mugabe, Hassan Al-Bashir, Hosne Mubarak, Museveni, Kagame ens ens. Om nie eers te praat van al die vorige narre soos Amin en Ghaddafi wat reeds lepel in die dak gesteek het nie…

Johannes Meintjes ·

… en op grondvlak is dit dikwels daadwerklik steeds Trompie en die Bokshombendetjies wat regeer.

Louise Brits ·

Belaglike vergelyking, Trevor Noah het ‘n akkurater vergelyking getref. Aborsie is ‘n ernstige vergryp vir mense net ‘n gewete en Trump staan op vir diegene; tradisionele blou of rooi state bepaal gewoonlik die uitslag en beteken nie nou al die einde vir ‘n kandidaat nie; Republikeine sal NIE demokraat stem oor Trump nie. Die Amerikaners is moeg vir leuens en immoraliteit, daar is baie meer in die gedrang as wat die oppervlakkige niksseggende artikel probeer se.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.