Nuuskommentaar: ANC verklaar morele bankrotskap weens Covid-korrupsie

ANC-se-vlag-deur-ANA

(Argieffoto: ANA)

Transparency International maak jaarliks sy Corruption Perceptions Index bekend waarin die waargenome korrupsievlakke van regerings wêreldwyd uiteengesit word. Volgens die indeks is Suid-Afrika se huidige waargenome korrupsievlakke feitlik presies wat dit onder die heerskappy van oudpres. Jacob Zuma was – die hoogtepunt van staatskaping én mense se ontnugtering in hierdie opsig.

Ten spyte van dít wat die klein groep gelowiges vas geglo het, het pres. Cyril Ramaphosa nie daarin geslaag om enige noemenswaardige verskil aan korrupsie in Suid-Afrika te maak nie. Dit is amper asof die Suid-Afrikaanse staat in ʼn selfonderhoudende en selfstandige organisme van kleptokrasie omvorm het. Een wat nie aangespreek kan word sonder om eers volledig ontbind te word nie.

Ook ʼn organisme wat nie juis deur ʼn morele kompas gestuur word nie, maar eerder deur ʼn belange-barometer – dit is eintlik so eenvoudig soos dit. Dit is dan nou ook hoe ʼn mens die situasie kry waarin jy te midde en ten spyte van ʼn pandemie ook die moontlikheid inwerk om bedrog te pleeg.

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het Dinsdag sy verslag bekendgemaak oor die bedrieglike aankope van persoonlike beskermende toerusting (PPE) tydens die Covid-19-pandemie deur die regering. Sedert die begin van die pandemie is daar deur die regering meer as 5 000 kontrakte aangegaan om PPE aan te koop. Die ondersoekeenheid bevind dat byna tweederdes (!) van hierdie kontrakte onreëlmatig was. Sodoende het meer as R2 miljard verlore gegaan weens korrupsie.

Byna tweederdes van die kontrakte wat die regering aangegaan het om sodanig openbare gesondheid te probeer beskerm, het regstreeks inbreuk gemaak op die openbare belang.

Gewone mense het tydens die Covid-19-pandemie ongelooflike swaarkry deurgegaan met baie mense wat net-net die somtotaal van die pandemie oorleef het. In dieselfde tyd het die regering egter sy “regmatige tenderproses” gebruik om nog ʼn miljard hier en daar te steel – net vir die kaders en tenderpreneurs was dié kool die soustrein werd.

Dit is dan eintlik ironies dat die regering te midde van hierdie morele bankrotskap so vreeslik die militêre staatsgreep in Burkina Faso veroordeel. Om hierdie ironie te verstaan, is dit belangrik om die Suid-Afrikaanse regering se kontinentale en wêreldwye aansien in post-apartheid-Suid-Afrika te verstaan.

In die oorgang vanaf apartheid het die nuwe Suid-Afrikaanse staat met die ANC aan’t stuur daarvan as baken van hoop in Afrika gestaan. Suid-Afrika was ʼn storie van hoop, vooruitgang, demokratisering, bevryding, groter menswaardigheid en sukses. Suid-Afrika is so effe van Afrika onderskei in die opsig dat Suid-Afrika een van die grootste suksesverhale van modernisering (en eintlik maar verwestering) in Afrika sou wees. In daardie stadium het die ANC ook nog iets belangriks gehad wat die party intussen volledig verspeel het – die morele hoë grond.

Nou is dit moeilik om na Suid-Afrika te kyk en op ʼn meer siniese dag nie net nog ʼn mislukte Afrika-staat te sien nie. Dit is werklik moeilik om na bogenoemde korrupsieverslag te luister en nie te dink dat die ANC volslae misluk het in die nuwe projek van hoop wat die party moes vervolmaak nie. Die staatsgreep van Burkina Faso is beslis iets in ʼn ander klas as dit waarmee ons te doen het. Tog is ons regering lank reeds nie meer in die morele, sosio-politieke of grondwetlike posisie om met ʼn skoon gewete ander regerings se mislukkings te veroordeel nie.

Prof. Koos Malan skryf verlede jaar in ʼn insiggewende meningstuk oor die huidige stand van die Suid-Afrikaanse grondwetlike orde: “Oplaas kwyn die huidige grondwetlike orde, namate organe van die staat meegee onder die las van die deftige ANC-oligargie aangedryf deur transformatisme en onbekwaamheid – en die Suid-Afrikaanse staat toenemend die karakter van straffelose misdadigheid aanneem.”

Hierdie beskrywing van die huidige staatspartysamesmelting wat die ANC geword het, klink maar bra naby aan iets soos ʼn bende met die swaard van die staat. Sodoende is ons uiteraard nie in dieselfde bootjie as Burkina Faso nie, maar is die staat en grondwetlike orde beslis nie ongekaap nie. Daar bestaan eerder ʼn enorme organisme van belange wat ten koste van die mense deur die staat op die staat teer.

(Argieffoto: Rapitse Montsho/Flickr)

John Mukum Mbaku, senior vennoot aan die Brookings Institution, ondersoek in ʼn meningstuk ook die idee van die sogenaamde grondwetlike staatsgreep (constitutional coup) in Afrika. Hierdie verskynsel is eintlik maar regerings wat hul grondwette verwapen om hul houvas op mag te verseker – dit is byvoorbeeld presidente wat die grondwet so verander dat hulle ad infinitum president mag wees of regerende partye wat opposisiepartye prakties verban.

Weereens is Suid-Afrika ook nie in hierdie soort bedeling nie. Die baie waardevolle les wat ʼn mens egter uit hierdie verskynsel soos beskryf deur Mbaku kan leer, is egter dat die titel van demokrasie soms net so min werd is as die papier waarop die grondwet daarvan geskryf is. Die aankondiging van ʼn oorgang na demokrasie in 1994 volbring nie vanselfsprekend die gewenste uitkomste van ʼn vry, regverdige, vooruitstrewende demokrasie nie. Mbaku lig juis uit dat demokrasieë veral in Afrika dikwels misluk weens swak instellings en ʼn tekort aan die nodige demokratiese kultuur om radikale aanspreeklikheid af te dwing.

Prof. Malan se omskrywing van die Suid-Afrikaanse staat is dalk die mees akkurate een vir dié verskynsel waarmee ons sit. Een wat dalk vreemd klink, maar wat in werklikheid regtig naby is aan die oligargiese vervallenheid van die Sowjetunie. Die staat se karakter van straffelose misdadigheid kan juis bestaan omdat die staat nie meer die vermoë het om enige noemenswaardige verandering aan te bring nie. Sodoende is dit uitsonderlik moeilik om te sien hoe so ʼn vervalle staat homself ván homself kan red en gereinig vorentoe kan beweeg.

Die vraag is dan wat sal opstaan uit die ANC-puin wat in hierdie lykskouing ontbloot is. Die antwoorde lê dalk juis opgesluit in die mislukking wat ons ervaar het onder ʼn sterk sentrale ANC-regering wat teoreties ruimte vir diversiteit het, maar die land in der waarheid regeer asof dit homogeen is. Een wat diversiteit erken, maar nie bemagtig nie. Is ʼn meer federale stelsel nie dalk die beste teenmiddel teen dié sentraliseringsmislukking van die ANC nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

James Curlewis ·

Buthelezi het by Kodesa n federal staat voorgestaan, maar niemand wou na hom luister,

My siening ·

En ons was so reg oor die AFRICAN NATIONAL CRIMINALS WAT DIE LAND REGEER HET! NOU HOE KRY JY SO IETS REG WEER???

Shakespeare ·

ANC kaders. Julle is al bankrot aan bevoegdheid en ‘n etiese waardesisteem want julle is dit van geboorte af. Dit is hoekom Afrika ‘n bedel land is en altyd sal wees.

Elize ·

Doen die regte ding en gaan. Oeps seker nou die verkeerde ding gese. Huule doen mos niks verkeerd nie.

Genis ·

Dis omdat al die skelms van Robbin Eiland die land regeer.. Daar is rede hoekom mense in die tronk was..

annie ·

Dit kan dalk nou meer gepas wees om Suid-Afrika met die wordende VSA te vergelyk as met Rusland. Die Demokrate wil nou vir ewig aan bewind bly deur die glo verontregtes vrye teuels te gee om te stem hoe en wanneer, waar en hoeveel keer hul wil (wat Trump vermoed het) wat die Republikeine ‘n finale nekslag sal toedien vir ‘n eenpartystaat. En dan sal die VSA se finansies en werksgeleenthede, snaaks genoeg, soos Suid-Afrika s’n daar uitsien. Die vraag is wie lei en wie volg. Loop ons soustrein dalk voor?

Renier johannes ·

Dankie vir n gemors van n land te danke aan anc korrupsie

Jan ·

Ja Monica, ‘n Federale Stelsel of ‘n Canton Stelsel (soos in Switserland) is die antwoord. Jy slaan die spyker op sy kop. Tydens Kodessa het ek elke aand gebid vir ‘n Federale Stelsel, maar helaas. Dalk gaan ons nou ‘n tweede kans kry. Ons moet maar weer begin bid.

Marthinus W ·

Transparency International word onder meer gefinansier deur Amerika se State Dept, George Soros se Open Society, die regerings van Nederland, Estland, Taiwan?, Swede, ens. Met ander woorde: ek vertrou nie hulle evaluering nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.