Nuuskommentaar: ANC wil ganse SA sommer van inkomste voorsien

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Een van die ANC se jongste beleidsambisies is die onlangs gepubliseerde groenskrif vir die voorgestelde inwerkingstelling van die nasionale fonds vir maatskaplike sekerheid (NSSF). Hierdie groenskrif stel voor dat Suid-Afrikaanse inkomstebelastingbetalers tussen 8% en 12% van hul inkomste tot hierdie fonds bydra.

Die fonds beoog onder meer om vir elke Suid-Afrikaanse burger ʼn universele basiese-inkomstetoelaag (UBIG) van R7 500 per maand te betaal. ʼn Mens kwalifiseer hiervoor deur bloot ʼn burger te wees.

Met eerste oogopslag kom dit voor as doodeenvoudig domastrant van die regering. (By verdere nabetragting ís dit doodeenvoudig domastrant van die regering.)

Die ANC kan in hierdie stadium letterlik nie eens sy eie werknemers se salarisse betaal nie – dit natuurlik weens die ANC wat homself in hierdie benarde finansiële posisie in bestuur en bestee het. Die ANC as party steier onder sy huidige finansiële uitdagings en poog tans om te oorleef op die inkomste van skarehulpfondse!

Dan is nog nie eers gepraat oor die sistemiese regeringswanbesteding wat oor die afgelope dekades in staatsinstellings soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) geskied het nie. Die ANC as regering hou tot ʼn groot mate Suid-Afrika finansieel aan die gang op die rug van grootskaalse skuld.

Die regering se “tydelike” Covid-19-toelaag van R350 het uiteindelik die weg gebaan vir ʼn permanente inkomstetoelaag. Soos die Nobelprys-ekonoom Milton Friedman verduidelik het, is daar niks so permanent soos ʼn tydelike regeringsprogram nie.

Jan de Lange skryf in die afgelope Sondag se Rapport dat daar geen kans is dat daar enigiets gaan word van hierdie fonds soos wat dit in die Staatskoerant aangekondig is nie. Volgens De Lange was hierdie groenskrif niks minder nie as opportunisme om politieke munt te slaan uit die voortgaande debat oor armoedeverligting. Reeds in oudpres. Nelson Mandela se tyd het die ANC uitgepluis dat maatskaplike hulp nie van so ʼn aard kan wees dat dit afhanklikheid van die staat kweek nie. Juis daarom sal hierdie groenskrif, volgens De Lange, nie deurgevoer word nie.

De Lange wys regtens uit dat die ANC veral met nuwe beleid gewoonlik ʼn strategie volg van “mik vir die sterre, dan tref ons dalk die boomtoppe”. Net omdat dit waar is, beteken egter nie dat die ANC nié hierdie beleid gaan en wil deurvoer nie. Dit is iets waaroor hulle nog altyd gesels het, wat presies by hul geskiedenis van regeer pas en ook iets waarvoor die tyd nou ryp is. Sodoende sal die ANC dalk nie die beoogde R7 500-toelaag kan deurvoer nie, maar wel ʼn UBIG van een of ander soort en bedrag.

Hier moet ʼn mens nie die ANC se beleidsambisies aan die een kant en blatante ignorering van die werklikheid aan die ander kant miskyk nie. Selfs al kan ons ekonomie dit glad nie tans hanteer nie, sal dit die ANC nie noodwendig keer nie. Indien ʼn mens kyk na die ANC se geskiedenis van beleidsimplementering maak die grondvlakwerklikhede en die tasbare (negatiewe) impak van sy beleid nie altyd soveel saak nie. Die goeie bedoelings onderliggend daaraan weeg dikwels veel swaarder.

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het ook in sy jongste verslag bevestig Suid-Afrikaanse belastingbetalers sal doodeenvoudig nie die belastinglas wat die NSSF tot gevolg sal hê, kan bekostig nie. Hierdie NSSF tesame met die regering se beoogde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) sal gemiddeld lei tot ʼn verdubbeling in belasting (112%) lei. Die regering gaan werklik belastingbetalersbloed uit ʼn klip moet probeer tap indien hulle hierdie fonds wil onderhou.

Daar is reeds verskeie ander lande, state en bevolkingsgroepe wat in loodsprojekte die aard, impak en lewensvatbaarheid van ʼn UBIG of net basiese inkomstetoelae toets. Indië, Kanada, Kenia, Nederland, Iran, Duitsland, Spanje, Brasilië en die VSA is sommige van die lande wat in die verlede loodsprojekte hieroor gehad het of steeds het. Geen van hierdie lande, of enige ander land ter wêreld, handhaaf egter tans ʼn volledige UBIG nie. Sommige bestaande projekte teiken net ʼn sekere deel van die bevolking, gee nie aan burgers individueel toelae nie of het bepaalde voorwaardes aan die toelae gekoppel.

Indien die ANC hierdie toelaag vir elke Suid-Afrikaanse burger gee – ongeag die bedrag – sal Suid-Afrika die enigste land ter wêreld wees wat tans ʼn UBIG toeken. Daar bestaan tans geen ander land ter wêreld wat ʼn volledige UBIG aan alle individuele burgers, op ʼn gereelde basis, sonder enige voorwaardes, in kontantwaarde betaal nie.

Afgesien van ʼn bepaalde land se finansiële situasie is ʼn universele basiese inkomstetoelaag werklik omstrede. Die ekonomiese volhoubaarheid en langtermyndoeltreffendheid daarvan, veral in die doelwitte van verligting van armoede, word wyd gedebatteer. Die goeie bedoelings onderliggend hieraan word dikwels in praktyk oorskadu deur die negatiewe ekonomiese, politieke en sosio-maatskaplike uitwerkings wat hierdie tipe beleid uiteindelik het. Soveel te meer in lande, soos Suid-Afrika, wat nie eintlik die ekonomiese of burokratiese kapasiteit en uitnemendheid het om sulke reuseprogramme aan te pak nie. Dan is daar nog nie eers sprake van die vraag of dit regtig ideaal is vir burgers om só afhanklik van die staat te wees, en wat die langtermynimpak daarvan is nie.

Die ironie van die saak is dat ʼn universele basiese inkomstetoelaag veral voorgestaan word deur diegene wat mense in die arbeidsmark probeer beskerm teen tegnologiese outomatisering en ʼn groter beweeg na kunsmatige intelligensie. Die idee van die toelaag is sodoende om mense te help beskerm teen ʼn wegbeweeg van “menslike arbeid” wat vervang word met tegnologie. In Suid-Afrika sal dit egter geïmplementeer word om mense in staatsafhanklikheid te beskerm teen die verrigting van “menslike arbeid”. Sodoende motiveer die regering ʼn inkomstetoelaag nie om te beskerm teen grootskaalse modernisering en die gevolge daarvan nie, maar eerder teen grootskaalse demodernisering en die gevolge dáárvan.

Suid-Afrika kan dit doodeenvoudig nie bekostig nie – dit lyk egter nie asof dit nie ANC juis gaan keer nie. Thomas Sowell, Amerikaanse ekonoom, vat die somtotaal van die ANC se aanslag tot meeste van sy beleidsbesluite – hierdie een spesifiek – perfek saam:

“Die eerste reël van ekonomie is skaarsheid. […] Die eerste reël van politiek is om die eerste reël van ekonomie te verontagsaam.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

piet ·

Ek dink nie dit is ‘n slegte gedagte nie maar is ongelukkig onbekostigbaar. Ek ondersteun egter die idee van voedselkoepons vir mense wat nie kos kan bekostig nie en daar moet beter vir ou mense gesorg word oor die algemeen. Meeste ou mense in die land kry baie swaar.

Harry ·

Piet, goeie gedagte. Slegte wag oor sulke fondse. Die bedoeling agter hierdie is voorstel is nie baie edel nie. Die ANC het verskeie geleenthede gehad om goeie rentmeesters te wees, maar nie een gebruik om SA te bewys nie. Hierdie is meer gemik om CR in onguns by die volk te bring. Deel van die JZ en AM faksie wat hierdie voorstel maak.

Elinette ·

Meeste ou mense moes nie net na skool getrou het en kinders gekry het nie en gesorg het vir hul “oudag” d.m.v. ‘n pensioen …

Lourens CFG ·

Ek het deur die jare probeer sorg vir die “ou” dag, maar weet jy wat, met die kostes van vandag kan GEEN ou dag sorg genoeg wees nie.
As jy klomp jare se CEO geld gehad het miskien.
As hulle dit inbring, kanselleer ek ons SASSA daarvoor, dit is baie meer.
Ek sê maar net.

VaalDonkie ·

Ek sou eerder vir Solidariteit Helpende Hand R3000 ‘n maand gee as ek moes.

melaney ·

Dit is wat die anc aan our people gaan belowe as hulle vir die anc sal stem. Ek word herinner aan die grap waar ‘n brandarm man sy pragtige vriendin na ‘n juwelierswinkel toe geneem het en vir haar genooi om ‘n peperduur verloofring te kies. Hy sou dit die volg maandag gaan betaal. Maar eers moes hulle die naweek uitspan.

Alta Alleman ·

Laat weet my asb wanneer dit gebeur sodat ek dadelik kan ophou werk en ook van hierdie toelaag kan eis. Eish !!

Willem ·

Presies nes jy daar sê. Almal gaan dan mos maar ophou werk, en op die staat begin teer. Die in werking stelling van kommunisme in volle glorie!

Elinette ·

Nou waarom sal mens dan gaan werk as jy op jou dinges by die huis kan sit, die een nasaatjie na die ander in die wêreld bring (én daarvoor betaal word) en dan nog ‘n maandelikse salaris kry waarvoor jy nie gewerk het nie én jy sit in ‘n HOP-huis, waarvoor jy óók nie gewerk het nie? Jis, maar dis ‘n lekker land, dié Azania!

Fedup ·

I cannot even get angry at this circus anymore. All I can do is laugh or I’ll go nuts or something.
They are the laughing stock of the world. At least that is something they can be proud of.

Persheks Adri ·

Julle kan nie eers salarisse betaal nie en die grense is oop vir elke krans atleet. Seker kopdoek se sigarette gerook om te dink ons gaan geld skenk aan julle ook voetsek man!

Willem ·

Die spul morone in “gawwermunt” wil nou R7,500 PER MAAND betaal aan ELKE burger (parasiet). Ek neem dan aan dit sluit immers die BELASTINGBETALERS dan uit, wat moet sorg vir hierdie fonds. Nou hier is so vinnige “sommetjie” om dinge in perspektief te plaas:
1. Gestel daar is 60 miljoen burgers (“The current population of South Africa is 60,172,176 as of Sunday, August 29, 2021”),
2. Kom ons aanvaar dat 7% van daardie 60 miljoen betaal belasting (of gaan bydra tot die fonds),
3. Dus is 7% van 60 miljoen = 4,2 miljoen belastingbetalers, wat ons dan laat met 55,8 miljoen parasiete,
4. As elke parasiet nou R7,500 (PER MAAND) gaan kry, is dit R7,500 x 55,8 miljoen = R418,500,000,000 (wat nodig is ELKE MAAND om ELKE parasiet te betaal),
5. DUS moet ELKEEN van die 4,2 miljoen BELASTINGBETALERS ‘n GEMIDDELDE MAANDELIKSE bydrae maak van R99,643….

Mense, as hierdie sommetjie vir enige iemand klop, dan moet hy/sy daai goed wat hy/sy snuif kom deel, asseblief!

Hardekwas ·

Mamparras in beheer. Hulle het geen idee van basiese matesis, rekeningkunde en ekonomie nie. Hulle gooi syfers rond, kom met bizarre idees, en glo dat hulle reg is.

Hardekwas ·

Al mense wat nie te nagekom gaan word nie is dié wat R62500 per maand verdien. Jy betaal dan 12% belasting wat gelyk is aan R7500, en dan gee die staat jou R7500 terug. Jy breek dus gelyk. As jy minder as R62500 verdien is jy beter af, en as jy meer as R62500 verdien as jy slegter af. Ons weet natuurlik dat die meerderheid wat beter af gaan wees our people sal wees. Soos Willem hierbo aangedui het moet die toppunt van die inkomste piramiede, sê 1%, vir 99% van die bevolking sorg. Totaal onbereikbaar en komies, as dit nie so tragies was vir die gebrek aan breins wat hierdie absurde idee uitgedink het nie.

Swerwer ·

Hierdie KOMMUNISTIESE siening is vooraf goed beplan om die KOMMUNISTE te bevoordeel en die res landsburgers gaan krepeer van hongersnood.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.