Nuuskommentaar: ANC wrecking ball Co Onbeperk: Moraliteit en pragmatisme om reg te regeer makeer

argieffoto

argieffoto

Onlangs skryf ’n swart pastoor op Facebook dat hy soms wonder hoe dit sal voel as mense tydelik in die vel van ‘n ander ras kon klim. Hy brei hierna uit oor die talle voorbeelde waar blankes meen die regering regeer tot hul nadeel. Maar, skryf hy, dit is ook geen piekniek om in ’n swart vel te verkeer nie. Dis byvoorbeeld moeilik as jy nie deel van die regte politieke kliek is nie, dis moeilik as jy nie die “regte” politici ondersteun nie, as jy nie die regte taal praat, of tot die regte sosio-ekonomiese groep behoort nie.

Johann Rupert het in ’n toespraak by ’n sake-beraad in Switserland hierby aangesluit.  Hy meen die middelklas word nou vernietig, terwyl 0,1 persent van 0,1 persent van die mense “al die opbrengste opslurp.”

Dit is nie heeltemal dieselfde saak nie, maar sake met ooreenstemmende uitkomste. Die pastoor het verwys na ’n regering wat versuim om algemene belang te regeer, maar eerder ’n klein kliek oor en oor “regstel” en ander uitsluit. Sommige, soos blankes, by verstek, terwyl bruin mense hulle tog nie in die Wes- en Noord-Kaap moet bevind waar hulle “oorverteenwoordig” is nie. En as die regering se guns op iemand val, is hy onaantasbaar, soos Shabir Shaik, Danny Jordaan en talle ander. Maar die ander bly uitgesluit omdat die trog waaruit superryk uit die staatskas gevoed word, maar net ’n sekere grootte het. ’n Goeie voorbeeld blyk uit die jongste verslag van die ouditeur-generaal oor Vrystaatse munisipaliteite waarin dit blyk dat in totaal 233 kontrakte ter waarde van R165 miljoen aan raadslede self of familielede toegeken is.

Rupert verwys na ’n effens ander verskynsel waar ryk net ryker word, en armes dikwels net armer, terwyl die middelklas leeg getap word om die staatskas te vul om basiese dienste te lewer. Natuurlik betaal die superrykes belasting, maar deels weens die regering se versmorende maatreëls soos SEB-voorskrifte en oorregulering “diversifiseer” hulle na die buiteland. Die druk op die middelklas word dan net hoër om dieselfde taks-opbrengs te lewer.

Om in algemene belang te regeer beteken ‘n regering moet ook ongewilde besluite kan neem. Die jaarlikse munisipale oudit-slagting sou moontlik omgekeer kon wees as dit nie was, soos die OG bevind het, dat die meeste finansiële hoofde ongekwalifiseerd of onbevoeg was nie.

In 2009 het die destydse minister wat met munisipale sake gemoeid was, Sicelo Shiceka, Operasie Skoon Oudit 2014 aangekondig. Die doel van hierdie operasie was dat alle munisipaliteite en provinsiale departement teen 2014 skoon oudits sou kry. Daar is lank volgehou dat dit haalbaar sou wees. In die 2015-boekjaar blyk dit egter reeds dat nie ’n enkele Vrystaatse munisipaliteit, of ’n munisipaliteit in Limpopo, skoon oudits kon verwerf nie.

Kortom, die kaderbeleid, “regstellende aksie” en die beskermende hand oor sekere kaders het dit net onmoontlik maak om enige vordering te maak.

Nou ook nie asof die wonderlikste leiding van bo kom nie.

In sy onlangse begrotingsrede het pres. Jacob Zuma lang ritse syfers afgelees oor die hoeveelheid “regrukaksies” wat deur sy regering van stapel gestuur is. Maar hy swyg oor hoeveel daarvan soos dié van wyle Shiceka lyk.

Terwyl die streekhoofkantoor van Telkom in Bloemfontein reeds soos ’n spookgebou lyk, en nie ’n enkele persoon die oproepsentrum beman nie, kom die nuus dat Telkom  nog sowat 7 800 mense wil uit diens stel.

Sommige van die benadeelde gemeenskappe het reeds op die een of ander wyse in opstand gekom. Die Afrikaner is langlippie met die ANC het dit uit die pas-afgelope samesprekings met die ANC geblyk – ook uit die feit dat talle, soos die Afrikaanse kerke, dit nie bygewoon het nie. Liberale koerante en kommentators is ontsteld oor die woord “self” wat nou opduik, en vertroebel die saak deur terminologie te verdraai en debat buite verband te stook.

Die bruin gemeenskap het die Bruin Belangebeweging opgelewer, en hul kruisies weg van die ANC by hoofsaaklik die DA gaan trek. Peter Marais en sy aanhangers mik in die rigting van ’n Wes-Kaapse federale staat.

Die middelklas se verset teen die e-tol word hard en duidelik gevoel.

Die landbougemeenskap is verbaal in hul ongelukkigheid met jarelange gesprekke en ooreenkomste met die regering wat op onaanvaarbare grondhervormingsvoorstelle uitgeloop het.

Diensleweringsbetogings kom gereeld voor, en ontaard dikwels gewelddadig.

Daar is xenofobiese aanvalle.

Solidariteit berei ’n aanklag, in die vorm van ’n skaduverslag voor, om die regering by die VN vir rassisme te verkla.

Om Rupert se woorde te misbruik: Die ANC kan nie sy regeervermoë inspan om 0,1 persent van 0,1 persent van die mense vet te voer, en die res daarvoor te melk nie. Maar intussen word die meganisme om melk te kan produseer deur hierdie (onbekwame) kaders tot skroot afgetakel.

’n Mens sidder waar die land reeds sou wees as dit nie vir die harde en eerbare werk van burgerlike belangegroepe en die howe sou wees nie.  Ironies word hierdie boustene van grondwetlike demokrasie nie oral verwelkom nie. Pres. Barack Obama het pas sy lot bekla omdat die howe dalk groot dele van sy gesondheidsplan kan omkeer – maar juis as gevolg daarvan dat hy grondwetlike prosesse soos die Kongres gesystap het om dit te implementeer.

Hoe sterker burgerlike instellings soos die Solidariteitbeweging en Freedom Under Law gemaak word, hoe sterker kan die regering belemmer word om sy verwoestings- en vervreemdingswerk voort te sit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

chris ·

Jy is reg Herman.Burgerlike instellings is maar die pad nou,by my is daar geen twyfel nie.

Wat die in iemand anders se vel kwessie betref net die volgende.
Hierdie mense ANC wat by verre die swart gemeenskap is sal ANC bly stem. Dit is ook nie vir hulle ‘n piekniek nie, dit verstaan ek maar dat hulle aanhou ANC stem die verstaan my westerse denke nie.Hoe vinniger ons besef dit gaan nie verander nie hoe beter.Zimbabwe is MO-RTOE maar nog steeds stem hulle vir robby(die sterkste bul oorleef).Hoeveel lande suid van die ewenaar het na “onafhanklikheid”van politieke party verander(bitter min indien enige) party van die lande is al 50jaar “onafhanklik”.Onafhanklik is in aanhalingstekens want nie een is werklik onafhanklik nie maar staan gereeld bakhand.
My punt is ek het geen simpatie vir die ANC stemmers nie .Hulle sit met die getalle en kan dus die regering verander maar doen dit nie .As die westerse denkers net voor ‘n verkiesing tydelik in ‘n swartvel kan wees met dieselfde getalle is die ANC uit.Om hierdie rede het ek geen simpatie met die mense nie.Hoe kan jy kerm as jy oor en oor jou eie pyn veroorsaak maar aanhou kerm en dan net weer die proses herhaal.

Fanie Jooste ·

Dit is presies wat Steve Hoffmeyr gesê het,nou word hy as ‘n rassis aangehaal.
Maar nou ja Steve is ‘n sanger en nie ‘n politikus nie .

Die skade aan Suid-Afrika word al hoe groter en eis al hoe meer mense se bestaanreg.
Ek hoop en bid ‘n wonderwerk gebeur wat Suid-Afrika sal red.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.