Nuuskommentaar: #ANCmustfall: Raakvlakke met Franse Rewolusie raak al meer

Betogende studente voor Luthuli-huis. Foto: Twitter

Betogende studente voor Luthuli-huis. Foto: Twitter

Hoekom is die verloop van die studente-opstand in Suid-Afrika op die oog af so voorspelbaar?

Die antwoord is dat die draaiboek reeds baie lank gelede geskryf, en intussen bygewerk is.

Gewaand of werklik, die hardvogtige boodskap van die Franse koningin Marie Antoinette – as die mense nie brood het om te eet nie, moet hulle koek eet – loop sterk deur dit wat nou gebeur. In plaas van die Bastille is die parlement sommer stormgeloop, en optogte na die Luthuli-huis en die Uniegebou gehou.

In ’n RSG-onderhoud het prof. André Duvenhage van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus daarop gewys dat die staatsubsidie aan universiteite die afgelope aantal jare afgeneem het. Hierteenoor dui algemene syfers daarop dat klasgeld oor die algemeen met meer as die inflasiekoers toegeneem het.

Die probleem word vererger deurdat baie agtergeblewenes universiteitskwalifikasies as die enigste poort tot die middelklas en hoër klasse beskou, terwyl die werklikheid is dat enige funksionerende en groeiende ekonomie ook mense met ambagte verlang, afgesien van bloot hoër produktiwiteit.

Voorts is bitter baie van diegene wat matriek agter die blad het en by universiteite opdaag, nie naastenby toegerus vir die sprong nie. In sy deelname aan die RSG-program, Praat saam, het mnr. Zwelinzima Vavi daarop gewys dat terwyl Suid-Afrika in die Afrikakonteks besonder min per student vir hoër onderwys bydra, die land weer besonder baie op skoolonderrig per leerder bydra. Tog steek Suid-Afrika se gehalte van skooluitset, en wel ná 21 jaar, steeds sleg af by bykans al die buurlande.

In daardie einste 21 jaar is die hemel en aarde beloof aan die einste studente wat nou vind die gaping tussen studiekoste en staatshulpmiddele wat hulle ontvang, raak groter in plaas van nader aan die persepsie dat gratis onderwys op alle vlakke beloof is. Dr. Blade Nzimande se verduideliking dat dit nog altyd die bedoeling was dat diegene wat kan betaal, moet betaal, vind beslis nie byval nie te midde van aansprake dat dit wel gratis sou kon wees as korrupsie die nek ingeslaan kon word. Sommige voeg hierby die verspilde en ongemagtigde uitgawes wat die ouditeur-generaal jaar vir jaar uitwys. Die Instituut vir Rasseverhoudinge wys daarop dat ’n besparing van vyf persent op die staatsdiens se lone sowat R22 miljard kan oplewer. Deur hulp aan sukkelende semi-staatsinstellings op te skort en geld wat aan swak presterende Seta’s betaal word te verhaal, kan nog R45 miljard bygevoeg word.

Verskeie modelle word nou voorgestel, soos dat gegradueerdes ’n bykomende belasting betaal om dit te finansier, maar almal kom daarop neer dat iemand moet betaal of minder betaal moet word om dit te finansier. Die oë word al meer gerig op diegene wat duidelik te veel betaal word vir die werk wat hulle doen.

Politieke sosioloë het die model van relatiewe deprivasie ontwikkel waar die klimaat vir rewolusie toeneem namate die gaping tussen die werklikheid en verwagtinge te groot word. Met Suid-Afrika se reuse-inkomstegaping en hoë werkloosheidskoers is in sekere sin bloot ’n vonk in die kruitvat gesoek.

Die probleem is dat in ’n heterogene land daar nie net een grafiek van verwagtinge is nie. Oor die ekonomie wat druk en die klasgeld wat te vinnig styg, sal die verwagtinge ongeag kultuur of ras min of meer saamloop en verskeie ontleders het al opgewonde geskryf oor die “baie” wit gesigte wat in die betogings gesien word.

Die “baie wit gesigte” en selfs die gebaar om by die parlement voor te gaan indruk weens die persepsie dat die polisie nie so maklik op wit mense skiet nie, het egter nie verhinder dat dit uit verskeie aansprake duidelik is dat die veldtogte soos #Rhodesmustfall, #OpenStellenbosch en #ReformPUK ook hierby versmelt het. Hier en daar is daar geweld soos die opskeur van UV-landboustudente wat pas toets geskryf het se vraestelle, vandalisme en die plundering van ’n boekwinkel in Mmbatho.

Vir wit en Afrikaanse studente wat ongenuanseerd aan die studente-opstand deelneem, is daar ’n ongemaklike raakvlak met die talle Jode wat vir Hitler gestem het.

Dit mag wees dat die #ANCmustfall wat Donderdag momentum gekry het, tydelik en toegespits met die optog na Luthuli-huis was, maar dit dui tog daarop dat die ontstaan van die EFF en die uitskop van Numsa uit Cosatu die duidelike boodskap dra dat die ANC nie al politieke rytuig vir swart aspirasies is nie.

Openlike kantkiesery, tot uit die geledere van die rektore en uit die ANC vir die studente, is aan die orde van die dag.

Met adj.pres. Cyril Ramaphosa doenig met ampswerk in Kuba, kan pres. Jacob Zuma hierdie warm patat ook nie as “hospitaalpaas” vir sy onbeminde adjunk aangee soos sy gewoonte is nie. Hy moet vandag self universiteitsleiers en studenteleiers die hoof bied. Die uitkoms hiervan gaan bepaal of hy homself nou uitverkoop het met ’n hangskop wat te regop getrek het. Die pynpolisie met hul draagbaar moet maar gereed staan.

Tensy die ANC hier ’n haas uit die hoed trek, gaan die party deur die domino-effek met volgende jaar se munisipale verkiesings kwaai skade ly. Die ANC sal stellig as die sterkste party uit die stryd tree, veral in landelike gebiede waar tradisies diep gewortel is, maar in verskeie metropolitaanse gebiede kan die ANC se steun dan onder 50% daal.

Die boodskap is egter reeds duidelik – so iets gaan waarskynlik weens die opkoms van die EFF die aanslag teen Afrikaans en sy simbole en tradisies nie net op kampusse verhewig nie, maar ook elders.

Plan B gaan net al hoe belangriker word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Melt Olckers ·

Wat my bekommer is die moontlikheid dat die ANC dit self orkestreer en dan skielik gaan aankondig dat Universiteit studies gratis gaan wees as ‘n poging om verlore steun terug te wen. Dalk met die waarskuwing dat ‘n DA regering dit sal teenstaan.

Lynette ·

Al die beloftes wat nou gemaak word is slegs om die verkiesing te wen maar as die stemmers slim is, sal hulle begin besef dat bitter min beloftes nog die afgelope 21 jaar nagekom is, indien enige.

Rynhardt ·

Dit is goed en wel om te se,”Anc must fall”,maar ek glo dit is als propaganda!Kyk net hoe vinnig het studente oor land begin met hul moleste!Alle was goed beplan en georganiseerd gewees,tekens van rewolusie-taktiek!Mense moet op en wakker wees.Die oefenlopies het reeds begin.Op 3Oktober2012 was ek ingesprek met prof.Duvenhage op Rsg se Praat Saam.Ek het die volgende gese in my kommentaar:”Zuma is nie goed vir SA nie”.Prof.Duvenhage wou niks weet nie.Wat se hy nou van sy geliefde “nommer1?”Tans regeer hy SA nie soos n nommer1 nie,maar wel soos sy%☆#*.Ek stel voor dat jy vul self jou gunsteling,ontbrekende woord van jou keuse,in!Ek vertrou glad nie die studente se skielike veroordeling van die Anc regime nie!Wees op en wakker ten alle tye.

Fanie ·

Wel Melt as die ANC dit self orkestreer, dan moet hulle maar bereid wees om die skade te vergoed ook. Ek is seker daar het studente seer gekry met die skokgranate ens. En geboue? Mens hoor niks daarvan op die nuus nie.
Ek dink dit is ‘n kwessie van al ons landsburgers is fed up met die ANC en alles waarvoor hulle verantwoordelik is hierdie afgelope 21 jaar.
Niks kom tot uitvoerbaarheid.

Grassie ·

PUK is my kleinkinders se swot-plek en hulle word daarheen gestuur om te leer. Die koste om ‘n kind daar te laat leer is astronomies – behalwe klasgeld en ander studieverwante koste is daar ook groot uitgawes aan veblyf en vervoer want ons woon ‘n hele paar honderd kilometer van Potch af. Ouers moet baie diep in hul bates delf om by te bly en dikwels ook skuld maak. Die jongelinge weet dit en waardeer dit, daarom presteer hulle. Watter reg het ander sg “studente” nou om met barbaarse optredes universiteite te ontwrig tot nadeel van diegene wat daar is om te studeer. Dit is ‘n blatante skending van menseregte wat aangevuur word deur onder andere die SAKP en die EFF. Ek weet nie of daar nog plek is in staatsondersteunde universiteite vir wit Afrikaanse studente nie. Ek hoop Plan B tel vinnig spoed op want om ons jongmense oorsee te laat studeer gaan nog baie meer kos.
Sovér die wit gesigte tussen die betogers betref – ek hoop die Polisie leer hul maniere.

Loeis ·

Veronderstel die ANC se steun daal in ‘n paar stede tot onder 50% en opposisie partye smee ‘n koalisie. Gaan die ANC die mag afgee? Gaan hulle die uitslag aanvaar? Sal die ANC dalk selfs met die EFF in koalisie gaan? In lg geval is ons selfs swakker daaraan toe as nou.

Poplap ·

Ek is bevrees dat die studente onluste tot alhoe groter radikalisering van hierdie land se politieke groeperinge lei – veral die ANC en EFF.
Of die studente se betogings ‘n oorsaak vir die huidige klimaat is, is debatteerbaar, maar nie van veel belang nie. Wat onrusbarend is, is dat daar ‘n toenemende radikale en geweldadige klimaat geskep word.
Dit is vir seker nie tot minderheidsgroepe soos Afrikaners se voordeel nie. Inteendeel.

Louis ·

Ongelukkig sit ons met die kultuur van “die wat nie het nie” wil graag vat van “die wat het”. Zuma en kie het gevat en die res is ongelukkig omdat hulle nog niks uit die deal uit gemaak het nie….

vermeende ·

kyk nou net hoe verskuif die studente die fokus weg van die 14% verhoging vir staatsamptenare……………………. wees eerlik, is dit nou nie gerieflik nie. In ‘n tyd waar alle SAers tevrede moet wees met ‘n verhoging van 4% – 6%
Laat mens dink ne!!

Arie plaasboer ·

Met hierdie geweldadige betoging het hulle gekry waarvoor hulle ge-eis het. “Pragtig”. Nou het die owerhede geswig voor die druk van die gepeupel.

Dit gaan die “dunpunt van die wig” word en al hoe meer eise gaan gestel word wat dan opgevolg word met geweldadigheid om hulle sin te kry.

Opmerking soos “Franse Revolusie” is dalk nie so onvanpas as wat ons wil glo nie.

Johannes Meintjes ·

Implementeer Plan B en herontwerp die swak plekke so op die galop. Skep alternatiewe strukture wat met of sonder ‘n konfederasie met die die ANC, EFF, opstokers en terroriste op die rand daarvan, kan voortbestaan. Daar is nie ‘n werkbare alternatief nie, en nuwe internasionale ordes het geen saak met minderhede se kultuur of strewe na volhoubare norme nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.