Nuuskommentaar: ANN 7 en ‘The New Age’: Media se rol in rasseverhoudinge

Opnames in die VSA toon dat die meeste mense, ook en veral swart mense, voel dat eerder uit foute van die verlede geleer moet word as om die verlede ongedaan te probeer maak deur byvoorbeeld standbeelde te verwyder. In Suid-Afrika voorsien verskeie partye en instansies dat die verkoop van The New Age en ANN7 die rassekookpot in die land net warmer gaan stook.

“Leer eerder uit die foute van die verlede as om die foute van die verlede uit te wis.” Dié wysheid blyk uit ’n nuwe peiling in die VSA nadat ’n besluit om die standbeeld van ’n held van die konfederasie uit ’n park te verwyder tot die onluste in Charlottesville gelei het.

Altesaam 94% van die Amerikaners voel dis beter om uit die foute van die verlede te leer, en net 4% wil dat daardie foute uit die geskiedenis geweer word. Die kwessie is dat van die VSA se eerste presidente en nasionale helde self slawe-eienaars was, soos byvoorbeeld twee van die vier presidente wie se gesigte in Mount Rushmore uitgekap is. So meen 90% van die respondente dat die plek moet nie gesluit word nie. Die peiling toon ook dat 88% van die respondente voel dat George Washington en Thomas Jefferson se nalatenskap nie uit die geskiedenis verwyder moet word, net omdat hulle slawe-eienaars was nie.

In nog ’n peiling stem die helfte met pres. Donald Trump saam dat dit tragies sal wees om van die simboliek van die verlede ontslae te raak: “(It is) sad to see the history and culture of our great country being ripped apart with the removal of our beautiful statues and monuments.”

Interessant voel ’n groter persentasie swart en ander etniese groepe dat rasseverhoudinge skade sal lei deur die beelde en simbole te verwyder as wat wit mense die mening toegedaan is.

Die regering en hul heethoof-meelopers behoort hiervan kennis te neem, want in Suid-Afrika is daar kort-kort aanslae teen die beelde uit ’n era voor 1994, en soos taks is daar groot ongelukkigheid.

Trump se krapperige verhouding met ’n groot deel van die media veroorsaak ook dat die rol, of vermeende rol van die media in gedagte gehou moet word. Rubriekskrywers bestee heelwat tyd aan hoe “die media” sake op verskillende vlakke manipuleer, soos vreemde vrae wat die grondvlak-joernaliste aan betrokkenes stel – veral aan diegene wat nie die media se liberale ideologie deel nie, tot redaksionele vooroordeel op hoofredaksievlak.

’n Baie ou studie het getoon dat die gemiddelde Amerikaanse joernalis meer liberaal as liberaal is as ’n Amerikaanse lid van die leserspubliek. Meer onlangs, in 2006, het ’n nuwe uitgawe van die The American Journalist in the 21st Century: US News People at the Dawn of a New Millenium, is bevind dat joernaliste gemiddeld na regs beweeg het, maar dat die gaping tussen wat die joernalis en die publiek glo, steeds baie groot is.

Hier plaaslik word die koppe geskud oor die Guptas se Oakbay Investments se besluit om die ANN7 TV-kanaal en die koerant The New Age te verkoop en wel aan die omstrede Mzwanele (Jimmy) Manyi. Manyi is bekend vir sy opmerking, toe hy destyds nog regeringswoordvoerder was, dat bruin mense oorverteenwoordig is in die Wes-Kaap.

Manyi het nie die geld vir so ’n projek nie, en hy word deur die Guptas se eie instellings gefinansier.

Op die oog af steur niemand hulle aan Manyi se ondernemings oor ’n verstandige redaksionele beleid nie. Manyi het immers ras voor, en ras agter, oor “sy” nuwe onderneming gepredik te midde van terme uit die Zuma-kamp soos radikale ekonomiese bemagtiging. Save SA stel dit so: “In ag genome dat die meeste van die (Guptas se) familie se geld van die staatskas gesuig is, gebruik hulle effektief vuil geld om ’n bate te oorhandig van een roofonderneming na ’n ander en deur ’n twyfelagtige finansiële model.”

Wat egter belangrik is, is dat verskeie instansies aangedui het dat hulle meen dié skuiwe sal die rassekookpot in die land net verder stook.

Tot dusver is die Gupta-media op verskillende maniere ryklik deur die regering beloon vir hul pro-Zuma-propaganda. Peperduur ontbyte is gefinansier, groot getalle koerante is op groot skaal deur staatsdepartemente en staatsentiteite aangeskaf, en die regering het disproporsioneel baie aan advertensies in die Gupta-media bestee – tot so ’n mate dat Phumzile van Damme van die DA gesê het: “Over the last few months, it has become patently clear that not only TNA, but also ANN7, are nothing more than Gupta and pro-Zuma propaganda mouthpieces, surviving on the hard-earned rands of South Africa’s taxpayers. It is no longer conscionable to fund this propaganda.

“We call on South Africans to see all Gupta media for what it is: Gupta mouthpieces defending the capture of our state.

“I call on South Africans to distinguish fake Gupta news from real news and caution South Africans that consuming Gupta Media risks falling prey to propaganda.”

Die DA het ’n beroep op die publiek gedoen om die Gupta-media te boikot.

Met persvryheid word gewoonlik ’n hoë premie geplaas op die media in ’n land om ’n wye politieke spektrum geleentheid tot blootstelling te bied.

Wanneer dit egter in wese ’n regeringsgefinansierde propaganda-instrument word, en by voorbaat sy rassevooroordeel bekend maak, word die grondslae van demokrasie gesloop en moet gesluit word om ’n meer gebalanseerde mediaspektrum te verseker – ’n media wat die demokrasie rugsteun (verkieslik met steun vir minderheidsregte), en nie ondermyn nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.