Nuuskommentaar: Annus horribilis ook op geestelike terrein?

Argieffoto

Argieffoto

Daar kan geen twyfel wees dat 2015 ’n annus horribilis was nie, maar is ’n sekulêre beoordeling van so ’n jaar al hoe ’n Christen dit behoort te beoordeel? Die komende Christusfees bied die ruimte waarbinne die geestelike beskouing ook verreken kan word.

Min Suid-Afrikaners sal van die bekende kommentator Judith February verskil oor die inhoud van haar artikel “2015 was ’n annus horribilis” (Netwerk24).

Maroela Media se beoordeling van hierdie annus horribilis sal DV tussen Kersfees en Nuwejaar aan die bod kom wanneer na 2015 se nuushoogtepunte en -laagtepunte gekyk word. Nou word eers, in die aanloop tot Kersfees, na die meer geestelike belewenisse van Suid-Afrikaners gekyk.

Elkeen sal ’n individuele ervaring hê van hoe 2015 vir hom of haar in sy en haar eie herinneringe opgeteken staan. Vir sommiges was dit ’n jaar waarin die huweliksklokkies gelui het, en vir ’n ander die jaar waarin ’n huwelik tot niet is. Sommiges het die vreugde van ’n geboorte ervaar, ander het langs die oop graf van ’n geliefde gestaan.

Die uwe het self teen die middel van die jaar verneem hy het sommer twee soorte kanker onafhanklik van mekaar. Teen die einde van die jaar was die uitslae van toetse egter baie bemoedigend, en werp dit ’n heel ander lig op hoe die jaar onthou sal word. Natuurlik sonder om te vergeet hoeveel opofferinge gesinslede moes maak en steeds maak.

Baie boere gaan Kersfees met ’n beklemming tegemoet weens die knellende droogte. Plaasaanvalle het nie afgeneem nie. Dit alles het ’n impak op die geesteswelstand van mense.

Hierdie laaste punt toon ook dat geen mens hom werklik kan losmaak van die harde werklikhede daarbuite nie, soos die politieke annus horribilis wat hom vanjaar afgespeel het. Dit beïnvloed immers die feit of daar kos op die tafel en ’n dak oor die kop sal wees. Daar is wel diegene wat met ’n “ek stel nie in politiek / die nuus belang nie” ’n kombers oor die kop gooi en dus letterlik in geselskappe beland waar die jongste vreeslike moord in die buurt onder bespreking kom, maar hy / sy niks daarvan weet nie. Al was dit sterk in die nuus op radio en in die plaaslike koerante. Of, soos die jongste Rasmussen-peiling aandui, op die internet wat ’n groeiende rol in die verspreiding van nuus speel.

Vanjaar het verskeie analiste ’n verskynsel onder die loep geneem wat algemeen die naam “verdomming” gekry het. Veel meer as net nuusskuheid het hiervoor die skuld gekry. Daar is ook ’n wegdeins van die harde, en dikwels ongenaakbare werklikheid om byvoorbeeld vir iemand wat in nood verkeer, te gaan besoek met ’n geestelike boodskap. Hoe kan iemand in nood werklik bereik word as die goedbedoelde met sy / haar kop in ’n werklikheidsvreemde utopie leef waar pres. Zuma nie werklik bestaan nie?

So beskou, sal min mense vanjaar, wonderlike hoogtepunte en gebeure ten spyt, vanjaar nié as ’n annus horribilis ervaar het nie.

Daar is onmin in verskeie kerke. Sommige kerke loop leeg of trek geldelik baie swaar. Ander loop oor en die geldkas is vol. Belangrike kwessies dwing sinodes om deeglik die Woord op te soek om die ware betekenis van tekste in hul bedoelde kontekste te verklaar en besluite te neem. Ook die kerke moes vanjaar duidelik demonstratief optree en standpunt inneem oor die annus horribilis.

Uiteindelik is ons almal van ’n gebroke wêreld deeglik bewus. Sommiges sit skouer teen die wiel en probeer iets daadwerkliks doen. Op die ander uiterste is diegene wat boedeloorgee probeer verdoesel met “die wêreld is ons woning nie.” Inderdaad, maar solank ons nog die ondermaanse bewoon (in die wêreld is) durf ons nie ophou om ons Christelike plig na te kom om ons gesin ten beste te versorg nie, om in vrede met die buurman te leef, om ons naaste (en selfs vyande) lief te hê nie, om ons Godgegewe talente ten beste in te span onder meer ter verligting van nood nie.

Kortom, ons moet duidelik Christus se lig uitstraal sonder dat dit noodwendig nodig is dat ons hoef te sê dat dit is wat ons doen.

Lees gerus die kort boek van die apostel Jakobus. Enkele teksverse word uitgelig om te toon hoe toepaslik dit ook vir vandag is:

“My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard.”

“Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.”

“So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood. Maar iemand kan miskien sê: “Die een het die geloof en die ander het die dade.” Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade.”

“Die tong is ook ʼn vuur, ʼn wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek.”

Mag hierdie Kerstyd aan elkeen die insig en wysheid gee om sy eie rol op aarde reg te vertolk en uit te voer.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Winston ·

Dankie Herman. Jy verlig weer n siel met hierdie stukkie “oënskou”. Sterkte

Grassie ·

Dankie, Herman, vir ‘n puik bydrae – een wat wys op die ellende van die land maar ook ‘n uitweg aanbied wat darem ‘n liggie aan die einde van die tonnel laat skyn. Ek hou veral van die sinnetjie dat ons Christus se lig moet laat uitstraal sonder dat ons hoef te sê dat ons dit doen.
Ons het wel 2015 oorleef – al het dit soms broekskeur gegaan – maar ek is nie baie optimisties oor 2016 nie. Ek dink ons sal dalk moet uitvind wat die oortreffende trap van “horribilis” is as ons die jaar volgende Desember wil beskryf. Verder glo ek ons ou Volkie sal moet leer om saam te staan soos nog nooit tevore nie.
‘n Geseënde Christusfees vir jou en jou en jou gesin.

Sarel Strydom ·

Dankie, al klink dit soms soos die “eensame roepstem in die woestyn”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.