Nuuskommentaar: Anti-fopnuus geen maklike speletjie

bell-pottinger-01

Foto: @our_DA/Twitter.com

Die lot van die Britse skakelmaatskappy Bell Pottinger, wat skynbaar namens die Guptas (en ’n paar ander) rasseverhoudinge in Suid-Afrika gehelp beduiwel het, word nou met groot belangstelling gevolg. Die maatskappy is pas vir vyf jaar deur die Britse sambreelliggaam vir sulke maatskappye, geskors. Verskeie kenners meen dis onwaarskynlik dat Bell Pottinger so ’n terugslag kan oorleef, en die maatskappy het appèl aangeteken.

Die Afrikanerbond reageer soos volg hierop: “Dit is met ongeloof wat mens die laaste ruk kennis neem van die onderduimse werk waarmee die Bell Pottinger-groep in Londen bygedra het tot ongekende rassepolarisasie in Suid-Afrika. ’n Vreemde groep individue in Suid-Afrika waaronder die Gupta-familie, die Zuma-familie en spesifiek dan Duduzane Zuma en die opperste fanatieke BLF-leier, Andile Mngxitama, het ter wille van eie en persoonlike belange dit goedgedink om ʼn rasgedrewe agenda in Suid-Afrika te bevorder en is die Bell Pottinger-maatskappy vanuit Londen aangewend om die kloof tussen Suid-Afrikaners net verder te vergroot.”

Wat met Bell Pottinger gebeur het, hou egter ook ’n belangrike les in vir baie Suid-Afrikaanse skakelbeamptes (wat deesdae dikwels met uiters verhewe maar tegnies misplaaste titels soos “bestuurder strategiese kommunikasie” en vele meer spog. Van die titels grens aan die absurde). Die media, wat dikwels in noue wisselwerking met skakelbeamptes beweeg, kan ook kennis neem – die meeste noemenswaardige media in Suid-Afrika onderskryf die etiese kodes van die persombudsman en perskode wat in wese met die etiese kodes van skakelpraktisyns ooreenstem.

Nie dat hierdie veld van wisselwerking dikwels met dorings besaai is nie. Baie skakelbeamptes beskou hul taak om hul instansie se beeld te bou as een waar die waarheid dikwels verswyg moet word, en waar “nodig” blatant gelieg moet word. Slegs goeie nuus mag met die media gedeel word, en ’n ysterhand rus dikwels op ander personeel om nié met die minder aangename waarhede vorendag te kom nie. Trouens, in ’n geval waar ’n universiteit die plaaslike koerant by die ombudsman verkla het, is die koerant wel skuldig bevind, maar daar is ook bevind dat die universiteit belangrike inligting weerhou het, wat die koerant nie ’n ander keuse gelaat het as om hom tot ander bronne te wend nie.

Nog ’n krapperigheid is dat die instansies wat met die media skakel, dikwels instansies verteenwoordig wat op die voorpunt van transformasie staan. Die instansie probeer dan die pluspunte van die transformasie bemark, iets waarin die pers se kliënte min of meer geen belangstelling het nie, of waarteen hulle doodeenvoudig gekant is. Uiteraard swyg die skakelbeampte oor sake waar die transformasie-uitvoering onsmaaklikhede oplewer, en die koerant wat sy lesers bedien moet hom tot ander bronne wend.

’n Bitter onaangename manier waarop dikwels gebruik gemaak word om so ’n eensydige siening van die waarheid op ander af te dwing, is om met rou vitrioel los te trek op enigeen wat anders dink. Seker die beste voorbeeld hiervan is die sogenaamde Clovis Eerste-aanhangers. Die hoofstroom Amerikaanse argeoloë het in ’n stadium tot die oortuiging gekom die eerste mense het die Amerikas ongeveer 13 000 jaar gelede bereik en die Clovis-kultuur gevestig. Alle “afvallige” argeoloë en paleontoloë wat met bewyse van vroeëre vestiging gekom het, is kru as idiote afgemaak. Die gevolg was dat hierdie beergreep baie langer oorleef het as wat die omstandighede geregverdig het.

Nie alleen is bykans 20 uitgrawingsterreine van vroeëre besetting intussen ontdek nie, maar argeoloë in ander lande soos Chili en Brasilië het lank reeds met ouer materiaal gewerk en vakartikels geplaas. Ook genetiese toetse het daarop gedui dat die bevolkings van Amerika en Asië reeds vroeër geskei het. Selfs vandag word min artikels oor die ouer bewyse gepubliseer sonder om na die siening van Clovis Eerste te verwys.

Cyril Ramaphosa

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa (Foto: GCIS)

Die een les wat sentraal staan is dat sorg gedra moet word dat feite wat aangebied word, die waarheid is. Die “onthullings” oor adjunkpresident Cyril Ramaphosa se beweerde sekskapades laat, tot ’n finale oordeel gevel is, vraagtekens hang oor die eerbaarheid van die Sunday Independent. Met die sogenaamde #GuptaLeaks word die inligting deur twee spanne ervare ondersoekende joernaliste nagevors, en kan aanvaar word dat die gepubliseerde inligting met ’n oorwig van waarskynlikheid die waarheid is.

Volgens die doelwitte van die Suid-Afrikaanse persraad, waarvan die ombudsman deel is, word sterk op vryheid van uitdrukking en persvryheid gefokus. Dit stel dit egter ook duidelik dat op etiese kodes gefokus word. Uit die perskode blyk dit dat sorg gedra sal word dat nuus die waarheid is, akkuraat en regverdig.

Ook die Openbare Skakelinstituut van Suid-Afrika streef daarna dat die inligting wat voorsien word, akkuraat sal wees. Die vereiste dat dit aan professionele standaarde en etiese norme moet voldoen, is veronderstel om die moontlikheid van weglatings en “herskep” van die nuus te verhinder.

Selfs met strategiese kommunikasie, wat in ’n stadium as sielkundige oorlogvoering bekend gestaan het en hoogs gespesialiseerd is, word nooit met onwaarhede gewerk nie, omdat die uitvang daarvan ’n hele projek se geloofwaardigheid sal sink.

Dit staan in skrille kontras met die aansprake van die openbare verhoudingspesialis Sihle Bolani wat R2,2 miljoen van die ANC eis. Volgens haar is haar agentskap gehuur om sekere koverte aksies vir die ANC, vanuit ’n “oorlogskamer” uit te voer wat daarop gemik was om ander partye te diskrediteer. Dit sou onder meer die oprigting van ’n vals webwerf en die uitreiking van “EFF-plakkate” insluit.

Die ANC ontken aandadigheid.

Wat Bell Pottinger betref: Al hoe meer stemme gaan op dat dié maatskappy die R20 miljoen wat dit glo vir kwaaddoen in Suid-Afrika ontvang het, aan geskikte instellings in die land moet oorbetaal, veral om die skade aan rasseverhoudinge ongedaan te maak.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Johann ·

Herman? Jho jho jho!!!!! So veel as wat ek die kwessie rondom Bell Pottinger se arrogante onetiese gedrag , nie net binne die bedryf waarin hulle besig nie, maar as ‘n beginsel saak, met jou saam stem: gooi jy jou pen en papier darm baie vêr teenoor die bedryf en diegene binne die bedryf! So veel as wat ek jou beriggewing meestal waardeer, so skuins op vryf jy my en ander kolegas wat nie ‘n dag terugstaan teenoor jou wye aanklagtes teen ons karakter en professie nie! Ons sou dieselfde teenoor jou keuse van media gesindheid kon kwytraak teenoor ‘n ewe eng beoogde lesers groep? Maar nou ja; jou onmin teenoor ons professie word van kennis gedra ( tong in die kies rakende jou self aangewese “kennis”).

Herman Toerien ·

Hallo Johann, ek sou miskien sinvol kon antwoord as jy aangedui het of jy jou in die mediaberoep of skakelberoep bevind. Wat die mediaberoep betref, is daar in die VSA nou ‘n diep herbesinning na die Trump-saga losgebars het. Dus niks uit die duim gesuig nie. Wat die skakelberoep betref, gaan Google gerus net hoeveel kere skakelbeamptes “nog nie teen druktyd gereageer het nie.” Vra joernaliste hoeveel keer hulle gedreig is dat advertensies sou opdroog as hulle oor iets in werklik algemene belang sou skryf. En ek was self ‘n skakelbeampte, maar my opdraggewers het blatant van my verwag om net “die goeie nuus” te kommunikeer. Ek kan tallose voorbeelde noem. Ek het nie geïmpliseer alle skakelbeamptes of alle joernalliste hou wyd as dit by die waarheid kom nie.

CJ ·

Johann. Skryf asseblief jou tweede laaste sin weer, maar in ander woorde. Ek is nie seker of ek jou Afrikaans reg verstaan nie. Sê jy dat julle vir Herman verkwalik dat hy vir Maroela Media skryf en dat Maroela Media se lesers net so eng soos Herman is? Indien dit is wat jy bedoel, die volgende: Ek is verskriklik dankbaar dat Herman vir MM skryf. Ek stel dit nou sommer reguit – ek geniet en respekteer Herman se stukke baie – MM sou net nie dieselfde sonder hom gewees het nie. In my oë is daar baie, baie min eerbare skrywers / joernaliste soos hy. Wat engheid van die lesers aanbetref: ek is partykeer geskok oor die wyd uiteenlopende menings van lesers op MM. Ek sou bietjie meer “engheid” baie meer waardeer.

Eish ·

Met die vrot in die samelewing kan n mens dalk met meer aandag luister na die sogenaamde Samesweringsteoretici. Wat hier gebeur het is presies dit, n Sameswering om die diskoers in n sekere rigting te stuur, in die geval polarisation tussen rassegroepe. Presies soos in u voorbeeld aangehaal word daar geteoretiseer oor beskawings wat ouer is as die skepping en die onbewysbare twak verwater die meeste se geloof in die Woord.

Sowaar ·

Die skade wat BP namens die kliënte berokken het kan nie in geld bereken word nie. BP as maatskappy, sowel as die betrokke personeel, moet gedagvaar word om àlles rondom die projek bekend te maak.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.