Nuuskommentaar: Apartheid en grondbesit – almal se speelbal op pad na verkiesing

grondhervormingKort na 1994 het politieke wetenskaplikes graag ‘n model verduidelik wat lui dat ‘n bevrydingsbeweging tipies tien jaar het wat hy alles wat verkeerd loop, op die vorige bedeling se brood kan smeer. Omdat die derde verkiesing aan die einde van die tien jaar voorkom, kan hy nog vir oulaas ‘n vyf jaar termyn met dié storie losslaan, maar daarna deug dit nie meer nie. Dan moet ‘n nuwe manier gevind word om eie mislukkings weg te steek, en word dikwels grond uitgedeel, soos ook in Zimbabwe gebeur het…

Terwyl dié trajek ook in Suid-Afrika gevolg word, weliswaar met sy eie tydskaal, het dié model in Suid-Afrika politiek inkorrek geword.

Daar is talle redes hoekom die tydskaal in Suid-Afrika anders verloop, in dié sin dat die ANC steeds, soos ook tydens die staatsrede en veral in ‘n toespraak daarna, die blaam op apartheid gepak het. Die laaste apartheidswet is meer as 22 jaar gelede deur die vorige regering geskrap – al die rasgebaseerde wette en maatreëls wat nou geld is die ANC se eie handewerk.

Die grondkwessie word intussen al hoe harder gedryf, en volgens nuwe wetgewing word die grondeise weer oopgestel. Op die oomblik loop die DA erg deur oor dit, weliswaar met vele voorbehoude, die wetgewing steun. Dit word die DA se derde groot fout in ‘n kort tydjie genoem, en selfs akademici verwys na die DA as “ANC lite”.

Oor die grondkwessie help dit dikwels nie om met pragmatisme en werklikhede te werk nie.

–       Pres. Jacob Zuma het al talle kere grondbesit en welvaart aan mekaar gekoppel. Die suksesse van grondhervorming is egter dun gesaai, en verhale oor mislukkings is volop.

–       Opnames toon dat tot 85% van alle swart mense glo blankes het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel, terwyl wit, Indiër en bruin mense min of meer die teenoorgestelde glo. Die ad hoc-komitee oor grondbesit, wat uit verskeie Afrikanersinstansies bestaan, beskryf die regering se gegewens as “die groot leuen.”

–       Julius Malema en ander verkondig graag aan hul ondersteuners dat die swart mense Suid-Afrika se oorspronklike inwoners is (behalwe wanneer Julius stemme onder bruinmense werf, en heel bewus blyk te wees van die Koisan se plek in die geskiedenis), en verdiep so die persepsies oor grondroof.

–       Kommer oor voedselsekerheid word nie oral ewe hoog geskat nie, en dikwels as sekondêr tot die velkleur van die eienaar gestel.

–       Blaamverplasing vir die stadige pas van grondhervorming bly ‘n punt van konflik – met persepsies aan die een kant van “moeilike” wit grondeienaars, en onbekwame, korrupte amptenare wat nou nie juis op die beantwoording van korrespondensie spesialiseer nie, aan die ander kant.

–       Die staat “klou” aan grond wat nie self behoorlik benut word nie. Die volgende inskrywing van Peter Marais, ondervoorsitter van die BBB op Facebook, spreek boekdele oor die kompleksiteit van die kwessie: “Baie Bruinmense Khoi/ San/Koranna/ Griekwa/Maleiers met wie ek gesprek gevoer het streef twee dinge na [1] Hulle wil staatsgrond wat hulle glo aan hulle histories behoort opeis en wil hê dit moet aan hul spesifieke groep kollektief oorgedra word [2] Hulle dring aan op erkenning van hul Eerste Nasie-status soos deur die VNO resolusies bepaal. [3] Baie soek groter outonomie vir die Wes-Kaap waar Bruinmense 54% van die bevolking uitmaak. Tog dink baie mense hulle kan hierdie doelwitte bereik deur nie met ander wit of swart partye saam te werk nie. Hulle skel op die ander partye. verwyt hulle, vloek op hulle ens. en dink hulle is tog te “smart”. Tensy ons hierdie ander partye se samewerking kry en vennootskappe aangaan sal ons niks bereik nie. So hou nou op klippe gooi na dinge van die verlede. Om Gods naam HOU OP. Soek na vennote wat ons sal steun in ons doelwitte.”

Boerdery in Suid-Afrika is taai. Die klimaat verseker dat boerdery in die grootste deel van die land altyd marginaal sal wees, en groot kundigheid sal verg. Die gebiede met die hoogste reënval in Suid-Afrika vergelyk min of meer met die wêreld se gemiddelde reënval. Klimaatsverandering stel ook splinternuwe eise.

Landbou-organisasies soos Agri SA en TLU SA ervaar telkemale dat hul deurlopende gesprekke met die regering om nugterheid tot die onderwerp te bring, tekens van vordering toon, tot politici buite hierdie verwikkelinge eenvoudig die “reset”-knoppie druk en alles van oor af moet begin.

Radio Pretoria het Maandag soos volg oor die Instituut vir Rasseverhoudinge se vermanings oor die jongste verwikkelinge berig: “Die ANC en DA se steun vir die Wetsontwerp op die herstel van Grondregte kan gelyk gestel word met Brittanje se verskroeide Aarde-beleid in die Anglo-Boere-oorlog.  Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê twee konsepwette wat met grondregte verband hou, kan meebring dat kommersiële landbou in sy geheel sonder vergoeding onteien word.  Die een is die Restitusie-wet en die ander een die sogenaamde Wetsontwerp op die Bevordering en Beskerming van Beleggings.  Dié wetsontwerp gee te kenne dat eienaars geregtig sal wees op regverdige en billike vergoeding.  Daar is egter ‘n sogenaamde muishond-klousule wat bepaal dat dit nie onteiening is as die staat grond namens ander in bewaring hou nie.  Dit kan die einde beteken van privaat-eiendomsreg in Suid-Afrika.”

Die grondwetlike hof se uitspraak oor die staat se onteiening van mineraleregte – of onder die landbouers bekend as die ondergrond – het as ‘n hou in die maag gekom.

Oor twee maande word verkiesing gehou, wat verskille in persepsies aksentueer. Presies hoe gepolariseerd die politiek is, blyk uit ‘n opname van Ipsos-Markinor dat die ANC nou effektief nie meer blanke steun het nie – selfs minder as Malema se EFF van wie 1% van sy steun van blankes kom. Die ANC baat daarby om die DA as “wit” party voor te hou, veral met die stertjie daarby dat die DA apartheid gaan terugbring as dit aan bewind sou kom.

Deur van verkiesings effektief rassesensusse te maak, is daarin geslaag om langer as wat verwag is apartheid met minstens ‘n mate van sukses te kan blameer vir eie mislukkings. Maar desnieteenstaande word die grondkwessie verpolitiseer, en die doeltreffendheid daarvan verhoog deur dit met wanpersepsies en historiese onjuisthede te voed.

Boonop verander die speelveld ook weens ander faktore. Aan die een kant word oud-president Nelson Mandela se nalatenskap ruim herontwerp, ook inhoudelik oor wat versoening behels.

Daar is al hoe meer tekens dat die Afrikaner bewus word van sy ooglopende afwesigheid van verteenwoordigende staatkundige leierskap, met Afrikaners wat algaande in heelwat van die politieke partye waarby hulle hul gewig inwerp, ervaar dat hulle gemarginaliseer word. Intussen toon instansies soos Solidariteit en AfriForum dat daar nog lewe in die Afrikanergemeenskap is, en dat steeds presteer kan word. Voorts is daar groeiende verset om blykbaar nimmereindigend vir apartheid gestraf te word, en kultureel van plekname en ander simbole van waarde gestroop te word.

Hoewel nog vroeg, lyk dit of meer as net die ANC met die weerhouding van Afrikaner- en ander minderheidstemme hieroor gestraf kan word.

Die komende verkiesing open klaarblyklik nuwe fronte waarvan politieke partye kennis moet neem. Vir die ANC is dit egter belangrik dat die ou fronte – apartheid en grondbesit, stewig in stand gehou word.

Die ANC kan aanspraak maak daarop dat hy in sy twintig jaar aan bewind beterskap gebring het dat hy blou in die gesig is, maar daardie persepsie kry hou na hou in die wind soos nou weer met die Openbare Beskermer se verdoemende verslag oor die SAUK. Die ouditeur-generaal praat hom ook blou in die gesig oor skroewe wat los is en reeds uitgeval het.

Dus het die ANC apartheid nog broodnodig, en so ook die grondkwessie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae