Nuuskommentaar: Apartheid, kolonialisme, Jan van Riebeeck en nou “kleinbasie” afgestof

Panyaza Lesufi. Foto: Flickr/GovernmentZA

Panyaza Lesufi. Foto: Flickr/GovernmentZA

Met die inspan van die woord “kleinbasies” het die Gautengse LUR vir Onderwys se rasbehepte onderrok ver uitgehang.

Ras is weer ingespan as werktuig om grondwetlike taalregte te ondergrawe.

In die proses, soos met die e-registrasiestelsel, is probeer om die Federasie van Beheerliggame, Fedsas, wolle oor die oë te trek. Aanvanklik is verseker dit sou net ’n bykomende proses wees. Nou word skole ingelig dat die departement daarmee in werklikheid die toelating van leerders by die skole en hul beheerliggame wegneem, en dat die departement self die leerders sal toewys. Dis strydig met die skolewet. Fedsas se gesprekke in goeder trou is in die modder vertrap.

En noudat die saak onderweg hof toe is, speel die LUR sy onderduimse troewe, deur te probeer te kenne gee dat skole se taalbeleid eintlik ’n vorm van rasseskeiding is. Nie een van die Afrikaans-mediumskole wat by Fedsas geaffilieer is, is eksklusief wit nie, want die meerderheid Afrikaanssprekendes in die land is nie wit nie.

Waarmee die Gautengse onderwysdepartement hom besig behoort te hou is dat die oorgrote meerderheid van die skole in die provinsie wanfunksioneel is. Slegs sowat 500 tot 600 skole in Gauteng, uit ’n totaal van meer as 2 000, is werklik funksioneel.

Tydens die ANC-bewind in die Wes-Kaap is ook probeer om ’n Afrikaanse skool te dwing om “Engelssprekende” leerders in te neem. Die skool was egter reeds stampvol Afrikaanse leerders, en die skool se pakplek moes ontruim word vir ’n bykomende klaskamer, terwyl die skool dan geld vind om die bykomende geriewe te bou.

Die LUR, Cameron Dugmore, het die saak egter verloor – ook ander appèl. Die hofuitspraak, in Engels, moes op die trappe vir die “Engelssprekende” leerders se ouers in Afrikaans getolk word sodat hulle dit kon verstaan. Die eietydse Wênderbaails is baie.

Nou pak die Gautengse LUR, Panyaza Lesufi, ’n soortgelyke proses op ’n meer grandiose skaal aan. ’n Proses wat, soos reeds getoon is, uiteindelik nie dubbelmediumskole oplewer nie, maar eentalige Engelse skole.

En dis nie van spoke wat gepraat word nie. ’n Proses is tans by Kovsies aan die gang wat daartoe kan lei dat hierdie eens Afrikaanse universiteit slegs Engels word. Op Potchefstroom dring van die heethoofde aan dat die oorfone (wat die tolkdienste moontlik maak) moet waai. Tot die rektor se krediet moet gemeld word dat hy die belhamels geantwoord het dat daar grondwetlike kwessies ter sprake is. Grondwetlike taalbepalings kwel ander eietydse Milners skynbaar glad nie.

Dit handel nie in hoofsaak oor toeganklikheid nie, maar wel in groot mate oor ’n aanslag teen ’n strooipop wat van Afrikaans gemaak is.

Dit maak weer deel uit van ʼn groter proses waar skynbaar die meeste staatsdepartemente en staatsinstellings die talewet inspan om Afrikaans (en ander amptelike inheemse tale) uit die Grondwet te steel.

Lesufi se “kleinbasie”-opmerking is nie die eerste of die laaste keer dat regeringslui of woordvoerders van die ANC Afrikaans met ras gelyk gaan stel nie. Toe Beeld enkele jare gelede vir Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, oor die moontlikheid van selfbeskikking vir die Afrikaner gevra het, het hy dit op slag uit die poel geskiet en Afrikaner in sy redenasie met “wit” en wit “bevoorregting” vervang. Ongelukkig het dieselfde siekte ná die Solidariteit Beweging se krisisberaad onder sommige joernaliste uitgeslaan.

Net omdat die regering alles in terme van ras definieer, beteken nie ander hoef of moet daaraan meedoen nie.

Wat die amptelike voortbestaan van Afrikaans betref, is daar egter ook ’n duidelike probleem op ’n ander vlak – apatie by diegene wat geraak word. Danksy die kubertegnologie is daar verskeie maniere waarop die lesers se reaksie gemeet kan word, soos die aantal kere wat ’n berig of artikel gelees word, die hoeveelheid “likes” wat dit kry, en die hoeveelheid en aard van die kommentaar. Uiteindelik is daar briewe van lesers aan koerante.

En daar, so lyk dit, is die reaksie nog bedroewend min. Die Suid-Afrikaanse Ruimte-agentskap se besluit om voortaan Engels, Zoeloe en Pedi in te span, is afgesien van ’n paar se reaksie met bitter min Afrikaanse lesersreaksie begroet. Verskeie Afrikaanse koerante het nie eens hieroor berig nie. Stil-stil het die Bloemfonteinse skou daarmee weggekom om al sy geskrewe borde en webwerf met die program slegs in Engels te doen (met ʼn paar liederlike spelfoute). Geen werklike reaksie nie.

Die skynbaar onomkeerbare verengelsingsproses by Kovsies ontlok heelwat minder reaksie as wat verwag is, waarskynlik omdat dit nog in die aanvangsfase is en nog ernstige teenspoed met die reg kan opdoen. Van die meer prominente reaksies is baie filosofies en met Akademikaans deurspek sodat dit moeilik lees en verteer word.

Ander word dalk gesus oor die suksesse van die Afrikaanse boek (hoewel die verskeidenheid soos vakpublikasies afneem en koerante se oplaes krimp) en die Afrikaanse lied.

Taalvegters moet weet dat hulle nie sonder mandaat veg nie. En met “veg” word nie noodwendige ’n kaalvuis-inklimmery bedoel nie, maar ’n proses waar eers op goeie gesindheid en rede staatgemaak word. Dit is die verkieslike proses waar dit werk.

Waar daar egter ʼn oëverblindery aan die gang is, soos duidelik met die Gautengse onderwysdepartement die geval was, is dit ook nodig om fermer op te tree, maar steeds met styl en klas.

Want Afrikaans verdien nie om die beeld van die taal van die gommies te hê nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Franscois ·

Die “witbasie” leer, hulle brand en plunder nie , gooi nie goed stukkend en verwoes alles voor die voet net om lekker by die Flatscreen te gaan sit en kwalifikasies op n skinkbord te kry nie.

Chris Lombard ·

Die enigste manier wat n minderheid sy kultuur kan beskerm is in n “enklawe”. Mens sien dit met al die kulture wat as minderheid kon oorleef. Die Jode in Europa, die Moslems in die Kaap ens. Die probleem vir die Afrikaner is dat dit die enigste plek in die wereld is waar n “wit” kultuur die minderheid is. Ons word saamgesleep in die “wit bevooregting” zeitgeist, waar “wit” prestasie n sonde word, en ons ook, as ons ons kultuur wil beskerm , sondaars is.

Omdat hierdie n wereldwye aanslag het, kan ons dit net doen deur in n mate minder wereld burgers te word. Dit is n duur prys om te betaal, en een wat nie baie bereid sal wees om te doen nie.

Sonia ·

Wat die skolekwessie aan betref word die top Afrikaanse skole geteiken. Hierdie skole is ook die topskole in die land. Dit moet vir die Departement van Onderwys ‘n bitter pil wees om te sluk! Dit is ook deel van die siekte “ons wil hê wat julle het” wat ons samelewing besmet. Wat die Afrikaner het, het ons hard voor gewerk en betaal ons steeds deur ons ore voor. Die Afrikaner is ‘n trotse nasie wat hulself opgebou het van bywoners op plase tot grond- en besigheidseienaars. Die Afrikaner het ‘n ryk taal, trotse kultuur, waardes, en trotse geskiedenis. Al sou apartheid nooit bestaan het nie, twyfel ek of dit enige verskil sou maak aan die massas se lot van armoede en gebrek aan skoling. Die afgelope 20 plus jaar van demokrasie en onregverdige, diskriminerende regstellende aksie kon nog nie hierdie lot van die meerderheid verander nie. Ek is trots Afrikaans en sal tot die bitter einde veg vir my taal en kultuur!

Johan Coetzer ·

Ek voorspel dat die hoeveelheid privaatskole en tuisonderrig hand-oor-hand sal toeneem en dat die Afrikanervolk hier hulself ook meer doelgerig tot selfbeskikking sal wend.
Daar het ‘n doringboompie
Vlak by die pad gestaan…

Sharon Anderson ·

Mnr die LUR as jy bang is vir die vuur moet nie daarmee speel nie. As jy bang is vir die instansies waar die “witbasie” is, moet nie daarmee speel nie.

Ons voorouers het vir baie minder oor die berge getrek. My ouma het donkie ore gedra omdat sy gewaag het om Afrikaans in haar skool te praar in Swaziland in die laat twintigs. Die probleem is sy is toe in Engels opgevoed dit het geen verskil gemaak aan haar geleerdheid of haar posisie in die lewe nie.

Of jy nou donkie ore dra of oor die berge trek weg van die Engelse af jy is wat jy is Mnr die LUR, selfs jy besef in jou agter kop jy kan alles van ‘n mens probeer roof dit maak hom NIE jou mindere nie, in teendeel. Jy is besig om te krap waar dit nie jeuk nie.

Sit ons Afrikaanse Bybels op elke lessenaar in elke skool, laat elke skool sy taalbeleid kies die skole wat wel nog werk is die skole wat deur ONS opgebou is. Gaan maak al jou nie werkende skole Engels, en more oggend as jy wakker word en daardie skole se uiterlike geboue is herstel hulle grasperke lower groen en hulle onderwysers en kinders is in die klas besig om te leer en hulle slaag hulle matriek sonder ‘n gekook aan die vraestelle dan kom jy terug en dan praat ons oor skole wat hulle taalbeleid sal oorweeg. Tot dan spits jou toe op die duisende “nie basies” wat rondhardloop en nie skool gaan nie. Wie se boeke wat hulle in die begin vd jaar verniet gekry het bekrap is omdat jou onderwysers in jou NIE AFRIKAANSE SKOLE nie klas gee nie, nie ‘n idee het van werks etiek.

Maar verder gaan praat met die ouers in jou SWAK skole en vind uit hoekom bring hulle hulle kinders na die Afrikaanse skole, dit is omdat hulle nes elke ouer hulle kind ‘n kans op geletterheid wil gee. Daarom staan ons deure al vir jare oop het ons Afrikaanse onderwyseresse Bantoe onderwys gegee. Het ons vir julle dieselfde boeke gegee as waarmee ons geleer het.

Kyk na jou mense wat deur ons Afrikaanse skole en univerwiteite is, wat wel ‘n geleerdheid het hulle is suksesvol en hulle sal dit weer doen eerder as om na jou degradeerde skole toe te gaan en sub standaard onderwys te ontvang. Los die Engelse skole wat Engels is hulle kies dit, los die Sotho, Muslim, Zulu skole hulle kies dit. Die wêreld noem dit jou demoktratiese reg in ‘n demokratiese land.

Laastens smeek ek jou gaan vra jou ma, wanneer jy aan ‘n ma se kind vat soek jy vir moeilikheid, bly weg.

Peet Schabort ·

Sonia en Sharon, dis nou puik en insiggewende kommentare. Dit moet by basie Klaas uitkom om sy rassistiese bekspoel te hoor.

Grassie ·

Lesufi sê maar net wat sy base vir hom voorskryf. Dit is duidelik ‘n blatante, georkestreerde optrede om die Afrikaanse taal in besonder en die Afrikaner in geheel in hierdie land te vernietig. Dit sluit aan by vele ander soortgelyke ANC-aksies soos die aanslag op grondbesit, regstellende aksie, versuim om plaasaanvalle behoorlik te bekamp en nog vele meer.
“Goeie gesindheid en rede” en “optrede met styl en klas” het nie die afgelope 21 jaar enige positiewe resultate gelewer nie – inteendeel, ek dink die ANC bekou dit as swakheid, as onderwerping. Dit is duidelik dat meer drastiese optrede nodig gaan wees as ons wil oorleef.
Herman, ek dink dit is verkeerd om na mede volksgenote as “gommies” te verwys. Jy het hulle ook al “skuimbekke” genoem. Almal kan nie intellektueles wees nie. Hierdie mense het nou wel nie letters gevreet nie maar hulle het vele ander talente wat nodig is vir nasiebou. Hulle is mede Afrikaners, hulle het ook kinders in die skole en het dieselfde vrese oor hul eie en hul kinders se toekoms as almal. Hulle sê wat ons almal in ons harte voel, met net ‘n bietjie minder taalkeurigheid en miskien ‘n bietjie meer emosie.
My kritiek is goed bedoel.

Herman Toerien ·

Dankie Grassie. Ek dink nie ons het dieselfde mense in die oog nie. Ek praat bv van dié wat onderaan die stuk wat verduidelik hoe Carte Blanche Ernst Roets se insette so gesny het dat hy eintlik die teenoorgestelde op die lug gesê het van wat hy wel gesê het, gaan skryf oor die “tweegat”-Afriforum met “inligting” wat hulle van regte gommie-webwerwe kry. Minstens een so ‘n webwerf word bedryf deur ‘n persoon met minstens een graad, en as Afriforum ‘n regstelling op so een se Facebookblad plaas, word dit verwyder.
Ek praat van mense wat volhou met dinge wat al dikwels uitgewys is erg skadelik vir die Afrikaner se saak is. Bv, in die middel van ‘n groot aksie van AfriForum om die Afrikaner se beeld in die buiteland te bevorder, kom so een en sê op Nederlandse TV hy glo nie die storie van die Nazi’s se volksmoord op die Jode nie. Net daar skiet hy sy eie bydrae deur die voet, en skiet sommer ‘n klomp southael op die Afrikaner in die breë af.
Ek is geneig om hoogsgeleerde mense wat praat oor die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van Taal-, Kultuur- en godsdiensgemeenskappe se taal ens regte, in plaas van die wyer regte van daardie gemeenskappe, ook as gommies te beskou.
Net so diegene wat sê die Kemptonparkse onderhandelinge is met ‘n referendum goedgekeur. Al wat met daardie referendum goedgekeur was, was voortgesette onderhandelings. Die uitslag sou met ‘n tweede referendum goedgekeur moes word.
Net so beskou ek dit as baie kômmin dat iemand sê almal moet tevrede wees met die uitslag van die Kemptonparkse onderhandelings “omdat ons geen ander keuse gehad het nie.” Sê wie? Jy kan nie jou derde span se reserwes as onderhandelaars instuur nie (aldus ‘n bekende historikus en joernalis) en dan iets anders as brouwerk verwag nie. Maar daardie water is nou te ene maal onderdeur die brug, en nou moet ons vorentoe gaan sonder diegene wat die saak skade berokken.

Grassie ·

Dankie vir jou antwoord Herman. Ek sien ons veg nog darem aan dieselfde kant.

Leendert van Oostrum ·

En, wanneer ons ons voos balkei het om die Afrikaanseentalige staatskole te red, wat dan?

Dan kom die gemiddelde eerstejaarstudent MET matriek, MET universiteitsvrystelling, steeds by die NWU aan met ‘n geletterdheidsvlak van Graad 7 en leesbegrip op Graad 5-vlak.

Hoe lank gaan dit vat voordat ons uiteindelik besef dat die skool (soos ons hom ken) se dae getel is. Dat die skole waarvoor ons nou so hard baklei oor twintig jaar nie meer daar gaan wees nie, as hulle nie drasties anders lyk as vandag nie.

Hierdie hele gesanik is ‘n desperate poging om ‘n klompie stoele vir Afrikaans te bewaar op die uitsigdek van die Titanic.

Leendert van Oostrum ·

Beste George,

Dis een opsie. En dit werk.

Maar ek glo daar is baie ander ook.

Die belangrike aspek is om die monopolie van die sogenaaamde “professionele” onderwysberoep oor die onderrig van almal op te hef. Elkeen wat iets weet moet toegelaat word om dit vir ander te leer.

Tans is dit ‘n misdryf,

Bruno Stef ·

Wat van die talle Portugese/ Griekse /Joodse en Indier skole met gemeenskap klubs waar almal na hartelus hulle eie tale praat en in hulle tale opgevoed word met inbegrip van hulle onderskeie godsdienste. Is dit dan nie vir die Afrikaner volk ook beskore nie. Freedom of assosiation sal ek dink dit het al die jare deur apartheid ook so gewerk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.