Nuuskommentaar: Apartheid, kolonialisme, Jan van Riebeeck en nou “kleinbasie” afgestof

Panyaza Lesufi. Foto: Flickr/GovernmentZA

Panyaza Lesufi. Foto: Flickr/GovernmentZA

Met die inspan van die woord “kleinbasies” het die Gautengse LUR vir Onderwys se rasbehepte onderrok ver uitgehang.

Ras is weer ingespan as werktuig om grondwetlike taalregte te ondergrawe.

In die proses, soos met die e-registrasiestelsel, is probeer om die Federasie van Beheerliggame, Fedsas, wolle oor die oë te trek. Aanvanklik is verseker dit sou net ’n bykomende proses wees. Nou word skole ingelig dat die departement daarmee in werklikheid die toelating van leerders by die skole en hul beheerliggame wegneem, en dat die departement self die leerders sal toewys. Dis strydig met die skolewet. Fedsas se gesprekke in goeder trou is in die modder vertrap.

En noudat die saak onderweg hof toe is, speel die LUR sy onderduimse troewe, deur te probeer te kenne gee dat skole se taalbeleid eintlik ’n vorm van rasseskeiding is. Nie een van die Afrikaans-mediumskole wat by Fedsas geaffilieer is, is eksklusief wit nie, want die meerderheid Afrikaanssprekendes in die land is nie wit nie.

Waarmee die Gautengse onderwysdepartement hom besig behoort te hou is dat die oorgrote meerderheid van die skole in die provinsie wanfunksioneel is. Slegs sowat 500 tot 600 skole in Gauteng, uit ’n totaal van meer as 2 000, is werklik funksioneel.

Tydens die ANC-bewind in die Wes-Kaap is ook probeer om ’n Afrikaanse skool te dwing om “Engelssprekende” leerders in te neem. Die skool was egter reeds stampvol Afrikaanse leerders, en die skool se pakplek moes ontruim word vir ’n bykomende klaskamer, terwyl die skool dan geld vind om die bykomende geriewe te bou.

Die LUR, Cameron Dugmore, het die saak egter verloor – ook ander appèl. Die hofuitspraak, in Engels, moes op die trappe vir die “Engelssprekende” leerders se ouers in Afrikaans getolk word sodat hulle dit kon verstaan. Die eietydse Wênderbaails is baie.

Nou pak die Gautengse LUR, Panyaza Lesufi, ’n soortgelyke proses op ’n meer grandiose skaal aan. ’n Proses wat, soos reeds getoon is, uiteindelik nie dubbelmediumskole oplewer nie, maar eentalige Engelse skole.

En dis nie van spoke wat gepraat word nie. ’n Proses is tans by Kovsies aan die gang wat daartoe kan lei dat hierdie eens Afrikaanse universiteit slegs Engels word. Op Potchefstroom dring van die heethoofde aan dat die oorfone (wat die tolkdienste moontlik maak) moet waai. Tot die rektor se krediet moet gemeld word dat hy die belhamels geantwoord het dat daar grondwetlike kwessies ter sprake is. Grondwetlike taalbepalings kwel ander eietydse Milners skynbaar glad nie.

Dit handel nie in hoofsaak oor toeganklikheid nie, maar wel in groot mate oor ’n aanslag teen ’n strooipop wat van Afrikaans gemaak is.

Dit maak weer deel uit van ʼn groter proses waar skynbaar die meeste staatsdepartemente en staatsinstellings die talewet inspan om Afrikaans (en ander amptelike inheemse tale) uit die Grondwet te steel.

Lesufi se “kleinbasie”-opmerking is nie die eerste of die laaste keer dat regeringslui of woordvoerders van die ANC Afrikaans met ras gelyk gaan stel nie. Toe Beeld enkele jare gelede vir Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, oor die moontlikheid van selfbeskikking vir die Afrikaner gevra het, het hy dit op slag uit die poel geskiet en Afrikaner in sy redenasie met “wit” en wit “bevoorregting” vervang. Ongelukkig het dieselfde siekte ná die Solidariteit Beweging se krisisberaad onder sommige joernaliste uitgeslaan.

Net omdat die regering alles in terme van ras definieer, beteken nie ander hoef of moet daaraan meedoen nie.

Wat die amptelike voortbestaan van Afrikaans betref, is daar egter ook ’n duidelike probleem op ’n ander vlak – apatie by diegene wat geraak word. Danksy die kubertegnologie is daar verskeie maniere waarop die lesers se reaksie gemeet kan word, soos die aantal kere wat ’n berig of artikel gelees word, die hoeveelheid “likes” wat dit kry, en die hoeveelheid en aard van die kommentaar. Uiteindelik is daar briewe van lesers aan koerante.

En daar, so lyk dit, is die reaksie nog bedroewend min. Die Suid-Afrikaanse Ruimte-agentskap se besluit om voortaan Engels, Zoeloe en Pedi in te span, is afgesien van ’n paar se reaksie met bitter min Afrikaanse lesersreaksie begroet. Verskeie Afrikaanse koerante het nie eens hieroor berig nie. Stil-stil het die Bloemfonteinse skou daarmee weggekom om al sy geskrewe borde en webwerf met die program slegs in Engels te doen (met ʼn paar liederlike spelfoute). Geen werklike reaksie nie.

Die skynbaar onomkeerbare verengelsingsproses by Kovsies ontlok heelwat minder reaksie as wat verwag is, waarskynlik omdat dit nog in die aanvangsfase is en nog ernstige teenspoed met die reg kan opdoen. Van die meer prominente reaksies is baie filosofies en met Akademikaans deurspek sodat dit moeilik lees en verteer word.

Ander word dalk gesus oor die suksesse van die Afrikaanse boek (hoewel die verskeidenheid soos vakpublikasies afneem en koerante se oplaes krimp) en die Afrikaanse lied.

Taalvegters moet weet dat hulle nie sonder mandaat veg nie. En met “veg” word nie noodwendige ’n kaalvuis-inklimmery bedoel nie, maar ’n proses waar eers op goeie gesindheid en rede staatgemaak word. Dit is die verkieslike proses waar dit werk.

Waar daar egter ʼn oëverblindery aan die gang is, soos duidelik met die Gautengse onderwysdepartement die geval was, is dit ook nodig om fermer op te tree, maar steeds met styl en klas.

Want Afrikaans verdien nie om die beeld van die taal van die gommies te hê nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Franscois

Die “witbasie” leer, hulle brand en plunder nie , gooi nie goed stukkend en verwoes alles voor die voet net om lekker by die Flatscreen te gaan sit en kwalifikasies op n skinkbord te kry nie.

Chris Lombard

Die enigste manier wat n minderheid sy kultuur kan beskerm is in n “enklawe”. Mens sien dit met al die kulture wat as minderheid kon oorleef. Die Jode in Europa, die Moslems in die Kaap ens. Die probleem vir die Afrikaner is dat dit die enigste plek in die wereld is waar n “wit” kultuur die minderheid is. Ons word saamgesleep in die “wit bevooregting” zeitgeist, waar “wit” prestasie n sonde word, en ons ook, as ons ons kultuur wil beskerm , sondaars is. Omdat hierdie n wereldwye aanslag het, kan ons dit net doen deur in n mate minder… Lees meer »

Sonia

Wat die skolekwessie aan betref word die top Afrikaanse skole geteiken. Hierdie skole is ook die topskole in die land. Dit moet vir die Departement van Onderwys ‘n bitter pil wees om te sluk! Dit is ook deel van die siekte “ons wil hê wat julle het” wat ons samelewing besmet. Wat die Afrikaner het, het ons hard voor gewerk en betaal ons steeds deur ons ore voor. Die Afrikaner is ‘n trotse nasie wat hulself opgebou het van bywoners op plase tot grond- en besigheidseienaars. Die Afrikaner het ‘n ryk taal, trotse kultuur, waardes, en trotse geskiedenis. Al sou… Lees meer »

Johan Coetzer

Ek voorspel dat die hoeveelheid privaatskole en tuisonderrig hand-oor-hand sal toeneem en dat die Afrikanervolk hier hulself ook meer doelgerig tot selfbeskikking sal wend.
Daar het ‘n doringboompie
Vlak by die pad gestaan…

Sharon Anderson

Mnr die LUR as jy bang is vir die vuur moet nie daarmee speel nie. As jy bang is vir die instansies waar die “witbasie” is, moet nie daarmee speel nie. Ons voorouers het vir baie minder oor die berge getrek. My ouma het donkie ore gedra omdat sy gewaag het om Afrikaans in haar skool te praar in Swaziland in die laat twintigs. Die probleem is sy is toe in Engels opgevoed dit het geen verskil gemaak aan haar geleerdheid of haar posisie in die lewe nie. Of jy nou donkie ore dra of oor die berge trek weg… Lees meer »