Nuuskommentaar: Apartheid weer ‘afgestof’

hande kultureel diversiteit rasse

Argieffoto (Foto: maxlkt, Pixabay)

So ’n deurblaai van Suid-Afrikaanse koerante dui daarop dat apartheid, of die ou NP, nou weer meer dikwels onder die loep geneem word. Dié keer is daar nie noodwendig die gebruiklike kritiek of blaam nie. Ander, veral pres. Jacob Zuma, plaas die blaam vir alles wat verkeerd is op apartheid.

’n Baie goeie voorbeeld van, weliswaar baie beperkte “lof” vir apartheid, kom vanoggend van Johann Maarman, eindredakteur van Die Burger. Hy tref in sy rubriek ’n vergelyking tussen hoe die Nasionale Party van PW Botha ontslae geraak het, en hoe Zanu-PF vir Mugabe uit sy amp gehaal het.

Toegegee, Maarman betrek nie apartheid nie, maar verwys net na die Nasionale Party, en ’n baie klein skuif maar een met ’n enorme uitwerking op die geskiedenis. Die ANC daarenteen, sit steeds met Zuma opgeskeep.

Die NP het immers die apartheidswette afgeskaf ’n hele paar jaar voor die ANC aan bewind gekom het.

In ’n artikel in Maroela Media wys Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond, daarop dat Zuma nou apartheid blameer vir als wat in die land skeefloop. Hy het dit byvoorbeeld gedoen toe hy onlangs die Nasionale Raad van Provinsies toegespreek het. Bosman wys daarop dat Zuma in 2010 nog gesê het die ANC kan nie meer apartheid die skuld gee vir probleme soos dorpe wat nie water het nie, of kinders wat onder bome moet studeer nie. Maar dis presies wat hy en andere nou weer doen.

Dit is te verwagte dat minstens sommige mense ’n mate van nostalgie sal beleef van ’n tyd wat klinieke medisyne gehad het, skole tot in die verste uithoek, iewers op ’n plaas, gefunksioneer het, ’n mens werk gehad het, misdaad minder was en vele meer. Van hierdie mense het nie almal die opvoeding of styl om “politiek korrek” met die verlede om te gaan nie.

’n Mens hoor gereeld dat ander mense vertel hoe hul swart werkers sê dinge was beter onder apartheid. Dit is gewoonlik ná die een of ander voorval, soos ’n bloutjie (wat sonder omkoopgeld) met ’n staatsdepartement geloop is. Selfs Julius Malema is ’n paar jaar gelede aangehaal dat hy aan die studente van Medunsa gesê het apartheid was nie net sleg nie (om byvoorbeeld Medunsa as afsonderlike universiteit vir mediese wetenskappe te stig).

Pres. Jacob Zuma tydens die Jeugdagvieringe in Ventersdorp (2017) Foto: @PresidencyZA, Twitter

In die reël bly apartheid egter nog ’n belangrike kapstok om mense en dinge in ’n slegte lig te beskuldig, en om nie verantwoordelikheid vir eie mislukkings te dra nie. As die onlangse ophef in die Demokratiese Alliansie oor kolonialisme ’n aanduiding is, gaan apartheid nog baie lank as kapstok gebruik word.

Die ironie, natuurlik, is dat rassisme wat amper outomaties met apartheid verweef word, beslis nie net uit die geledere van die geslag en nageslag van apartheid kom nie. Ampsweë is daar ’n opvallende traagheid om gelykhandig teen wit en swart op te tree wat hulle aan rassisme en haatspraak skuldig maak … iets wat op sigself na rassisme ruik.

Ook die opvatting dat swart per definisie nie ’n rassis kan wees nie, ruik sterk na rassisme.

Onder Zuma se leiding het die ANC ’n byna uitsluitlike swart party geword. Slegs enkele wit en bruin lede, dikwels via die SAKP, bly in die NUK oor. Min spore is nog oor van die NNP se opname in die ANC. In ’n peiling tydens ’n vorige verkiesing kon dié peiling glad nie meer wit steun vir die ANC gepeil kry nie.

Nog ’n kwessie wat nou gereeld media-aandag kry, is die nodigheid dat partye ná ’n paar jaar moet hernuwe, of hulself moet herontwerp. Die Zanu-PF het homself nou skielik in die noodwendige posisie bevind, maar of die ANC gaan vernuwe, hang baie af van wie in Desember die nuwe leier word.

Maar kan die ANC homself omvorm, of het te veel trogvreters reeds baie diep wortel geskiet?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Veritas ·

‘Apartheid’ het ‘n skelwoord geword. Die korrekte term daarvoor was nog altyd ‘Afsonderlike Ontwikkeling’. Let op die woordjie ‘ontwikkeling’. Dit is die rede hoekom baie van die ouer ‘benadeeldes’, vandag sê dat dinge beter was onder die vorige regering. Die ‘ontwikkeling’ was dalk nie van dieselfde gehalte as dié van die blankes nie maar dit was daar. Onderwys, universiteitsstandaarde en wet en orde was beslis beter. Om nie eers te praat van die baie laer werkloosheidssyfer nie. Om iemand anders te blameer vir jou eie onbevoegdheid, is bewys daarvan dat daar geen verantwoordelikheid is nie. Die huidige regering is ‘n sprekende voorbeeld hiervan.

Eish ·

Goeie kommentaar.
Propaganda het van dit n skelwoord gemaak. Die klankie sal vassit aan die Afrikaner soos Hitler se “Holocaust” en Rusland se Kommunisme.

Andreas Meyer ·

Wat is die teendeel van “afsonderlike ontwikkeling”?

—- “geintegreerde agteruitgang”.

Dries ·

Baie goeie skryfwerk , as alle skrywers / joernaliste so oopkop kan wees sal hierdie land heel anders daaruit sien . Welgedaan Herman.

alwyn burger ·

Die oervraag moet eers beantwoord word voordat uitsprake oor apartheid gegee kan word. Die genesis van apartheid. Wie is verantwoordelik vir die geboorte van apartheid? Die Geskiedenis , wat beskryf word as Die Wêreld Regbank, sal interessante uitsprake gee. Ek ( persoonlik) die blanke gaan skotvry hiervan afkom. ( hier en daar ñ tik op die vingers). Wat seg u?

Veritas ·

Alwyn, dit lyk vir my asof die twee van ons alleen staan in die soeke na die oorsake van apartheid. Ek het ‘n sterk vermoede wat dit was maar mag dit hier noem nie.

Irene ·

Zuma is apartheid hom self leer dit nou baie by mugabi wat geval het

Koos1 ·

Op laerskool leer die kinders van Mpanguwe (die “eerste” staat in Afrika). Die koning het op die koppie gewoon en sy onderdane aan die voet van die koppie. Wat is dit dan anders as apartheid?
In Indie is daar klasse waarin mense leef, wat is dit dan anders as apartheid?
Apartheid word net gebruik om die onbevoegdheid van die regering te probeer regverdig. Hulle is uit troefkaarte uit en gebruik nou die een ding wat almal in SA van weet en baie mense kan kwaad kry. (As ‘n mens kwaad is kan hy nie meer rasioneel dink nie, en ek dink dit is die gedagte gang.)
In Zimbabwe was al die burgers baie kwaad vir Mugabe, so kwaad dat hulle enige persoon as president sou vat. (Ek verneem dat die nuwe president daar blykbaar erger is/was as Mugabe).

Ponie de wet ·

Vreemd dat niemand onthou dat feitlik elke swart volk sy eie grondgebied gehad het. In die tuisland is blink nuwe universiteite skole staasgeboue ens gebou. Damme en besproeiingskemas is verskaf 100e fabrieke opgerig ens. Ek reken die ANC kan gerus die apartheid wat hulle so haat op die Afrikaner toepas. Begin met ons eie gronggebied!!!

Veritas ·

Ponie de Wet. Kan tog nie die filmmaker, wie se vrou ‘n modelskool gehad het wees nie. Indien wel, moet jy no so by die negentigs trek.

Carel ·

Herman, moet nie vir enige ommblik dink die afrikanerbond het van kleur verander nie. Die broeders het staatskaping begin. Zuma het dit vervolmaak. En dink jy hulle, Naspers, was lojaal aan hierdie land? Moet dit vir geen oomblik dink nie. Hulle het nou lekker saam met die zuptas in die bed geklim terwille van besigheid. So moet nie met die bonders assosieer nie. Hulle is nie eerlik nie.

Andre ·

Apartheid of Afsonderlike ontwikkeling is nou al 27jaar verby en hoor en kyk hoe lyk die land.
Waar sou Suid Afrika nou gewees het daarsonder.
Andre.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.