Nuuskommentaar: Armoede en plaasaanval-wreedhede – is daar ’n verband?

Argieffoto

Nie net dood en verwonding blyk uit die jongste vlaag plaasaanvalle nie, maar ook gevalle van onnoembare wreedheid … soos om die boer en/of sy vrou met strykysters te brand. Hierdie ontleder sal vannag en nog ’n paar nagte nie ’n oog kan toemaak as hy die wreedhede moet lys waaroor hy al die afgelope byna twee dekades moes skryf nie.

Soos baie ander Suid-Afrikaanse stadsjapies, het ook die uwe ’n familielid wat op ’n plaas woon. In hierdie geval sy oudste seun wat plaasbestuurder buite die Paarl is, en voor dit alleen op ’n plaas buite Bothaville was. Hy was al by verskeie hakkejag-operasies betrokke, ook Sondae ná kerk, ná ’n plaasaanval in sy omgewing.

Plaasaanvalle raak nie net die boeregesinne nie.

Luidens statistieke van die TLU SA was daar vandeesmaand al 23 aanvalle waarin ses mense dood is (vier net die afgelope naweek), en 277 aanvalle die afgelope jaar waarin 55 mense dood is.

Net een geval word oppervlakkig genoem om die aard van die probleem aan te raak.

’n Vrou van George vertel met verbystering hoe haar bejaarde pa op sy plaas in KwaZulu-Natal aangeval is, en sy voetsole afgeskil is om te verklap waar die kluis is. Hy het geen kluis gehad nie, maar die aanvallers wou niks weet nie. Haar pa woon nou by haar in, en hy kan al amper weer loop, maar sielkundig is hy glad nie meer dieselfde mens nie.

Die aard van die probleem word baie goed in ’n verklaring van die Vryheidsfront Plus uiteengesit. Die verklaring is uitgereik toe dié party in ’n ledeverklaring ’n beroep op die regering gedoen het om drastiese stappe te doen om landelike beveiliging op te skerp en te verbeter.

“Volgens polisieverslae wat by die parlementêre portefeuljekomitee van polisie voorgelê is, is daar verskeie landelike polisiekantore (75) waar nie eens aan die minimum vereistes van sektorpolisiëring voldoen word nie.

“Die vraag is of daar steeds prioriteit aan die plaasmoorde verleen word soos onderneem deur die vorige waarnemende nasionale kommissaris van polisie, lt.genl. Khomotso Phalahne, en indien nie, waarom nie?

“Die feit dat voedselsekerheid ʼn prioriteit van die regering is, en dat dit bedreig word deur die plaasaanvalle en -moorde, vereis dat spesialiseenhede plaasaanvalle en -moorde ondersoek.

“Die VF Plus is tans in ʼn proses om by landbou-organisasies vas te stel wat hul finansiële en ander behoeftes soos toerusting ter beveiliging van boere is, waarna die regering genader sal word om finansiële ondersteuning te gee aan hierdie organisasies se ondersteuningstelsels.

“Indien die regering werklik ernstig is oor voedselsekerheid en die bekamping van plaasmoorde, sal hy hierdie behoeftes moet begin steun aangesien die polisie se landelike veiligheidsplan duidelik nie die mas opkom nie.

“Die VF Plus maan politici, veral oor die grondkwessie, om hulle te weerhou van opruiende uitsprake wat gemoedere teen plaasboere kan beïnvloed.”

Ook Annette Steyn, DA-LP en woordvoerder oor landbou, het haar oor die vlaag plaasaanvalle uitgelaat, en aangedui dat die minister van polisie, Fikile Mbalula, die veiligheidsituasie aan parlementslede moet kom verduidelik. Sy het, luidens ʼn berig in Media 24, die volgende gesê: “Tog het die regering herhaaldelik misluk om planne vir landelike veiligheid in werking te stel sodat plaaswerkers en boere nie meer onderhewig sal wees aan marteling, moord en die vrees om slagoffers van brutale aanvalle te wees nie.”

In sy wydste vorm is plaasaanvalle nie net op plaasmense (die werkers ingesluit) gerig nie, maar sluit ook sake in soos brandstigting, veediefstal, die diefstal van gewasse asook toerusting en gereedskap. Volgens landbousensussyfers beloop hierdie syfers verstommende bedrae, en moes talle boere veeboerdery weens veediefstal laat vaar. Ook hier bly wreedhede nie uit nie soos om vee se hakskeensenings af te kap.

Voeg hierby onwettige grondbesetting en lamlendige polisie-optredes waar AfriForum met sukses moes kom intree.

En dit vat sielkundig aan ’n mens as jy ten dele magteloos voel weens gebrekkige polisie-ondersteuning, om nog te hoor ’n adjunkminister roep tydens ’n parlementêre debat uit: “Begrawe die boere lewend.” Dié betrokke adjunkminister het intussen liederlik te ver gegaan deur twee vroue in ’n eetplek aan te rand en daarvoor om verskoning te vra. Hy moes bedank.

Oor sy uitroep oor die boere het hy skotvry daarvan afgekom al het dit die indruk verskerp dat die ANC-regering nie ’n snars vir boere en hul gesinne omgee nie.

En dit is juis hierdie persepsie van om deur die owerhede (wat moet beskerm) in die steek gelaat te word, afgesonderdheid, voortdurende blootgesteldheid en die ontsettende vlakke van wreedheid wat veroorsaak dat die trauma wat plaasmense ervaar, veel intenser is en as viktimologie bekend staan.

Oor wat gebeur as boere wat oor ’n termyn so getraumatiseer is self plaasaanvallers vasgetrek kry, veral as die polisie nie gou hul opwagting maak nie, is ’n onderwerp op sigself. Die “reg” in eie hande neem, is egter nie ’n opsie nie, en lei net weer tot verdere trauma as die boere uiteindelik teregstaan.

Die nimmereindigende aard daarvan help ook nie juis nie. Verskeie spesiale kampe is al aangebied waar slagoffers spesiale behandeling ontvang – maar steeds is die regering skoonveld.

Oorsake van plaasaanvalle

Verskeie denkskole bestaan oor die teenwoordigheid, of andersins afwesigheid, van politieke motiewe en rassisme by plaasmoorde.

Volgens diegene wat geen politieke motiewe daarin lees nie, is plase gewilde teikens omdat dit so blootgestel is en daar dikwels groot hoeveelhede kontant en vuurwapens op die plase is.

Juis omdat die jongste armoedesyfers nou pas deur Statistieke Suid-Afrika beskikbaar gestel is, word kortliks na hierdie aspek gekyk. Volgens die statistikus-generaal, Pali Lehohla, is daar nou 30 miljoen armes in die land. Die lae ekonomiese groei en die droogte het baie mense in lewenslange armoede gedompel.

Internasionale syfers toon inderdaad ’n ooreenkoms tussen armoede, werkloosheid, ’n toename in misdaad en heel dikwels dwelmmisbruik. Dieselfde syfers toon ook dat die tronkbevolking toeneem waar inkomstegapings groter word.

Maar kan dit die ontsettende vlakke van wreedheid verklaar?

Wat waarskynlik ook ’n rol speel, is die kwessie van ’n kultuur in transito. Nie almal “oorleef” die transito, oftewel oorgang, ongeskonde nie, en word slagoffers van subkulture wat ook dikwels ontstaan – en dikwels die vorm van anti-kulture met verskynsels soos bendes en dwelms tot gevolg het.

Twee aspekte, albei met ’n politieke ondertoon, moet egter ook in gedagte gehou word, naamlik dat daar veral in sekere streke volgehoue smeerveldtogte teen boere is. In die Wes-Kaap het dit Agri-Weskaap en die Wes-Kaapse departement van landbou by geleentheid laat saamspan om die eindelose rits beweerde vergrype deur boere, soos deur allerlei NRO’s beweer, te ondersoek en te toets. Dit het geblyk die bewerings was feitlik geheel van enige waarheid gestroop.

Dit blyk dat sommige NRO’s net finansiering kan kry as hulle hul bestaansreg met voorbeelde kan “regverdig”. Dit sluit finansiering deur Cosatu in. Nogtans is hierdie wolhaarstories dikwels deur politici opgerakel, soos die destydse nagmerrie-minister, Lulu Xingwana, se berugte Kerkplein-optrede waar sy boere swartgesmeer het aan die hand van ’n enkele verslag, wat reeds deur die polisie se onafhanklike ondersoekeenheid as vals bevind is, en die regering dienooreenkomstig ingelig is. Die regering se moedswilligheid het aan die lig gekom toe afskrifte van die polisieverslae ook, skynbaar per ongeluk, aan DA-lede van die Wes-Kaapse provinsiale parlement uitgedeel is.

Laastens, daar is ongelukkig ook swartskape onder die boere wat wel deur hul optrede stokke aan die vyande van politieke vyande van die georganiseerde landbou besorg. Landbou-organisasies versoek egter dat sulke gevalle ook onder hul aandag gebring word, sodat opgetree kan word. Baie boere is van uitvoer afhanklik, en sulke swartskape kan die ganse bedryf enorme skade berokken. Die Europese Unie laat byvoorbeeld jaarliks oudits by uitvoerders doen om seker te maak daar word aan al die standaarde voldoen.

Dit is nou tyd dat die regering sy heethoofpraatjies staak en met praktiese hulp instaan.

Want so kan dit nie aangaan nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Henry McDonald

Hierdie aanvalle is soortgelyk aan wat in die destydse Kenia (Mau-Mau), Angola, Mosambiek en Rhodesië plaasgevind het. Onbeskryflike wreedhede kloosters afgebrand, nonne verkrag en onthoof. Hierdie is ‘n blote herhaling van Afrika-geskiedenis. Armoede? – is dit nou ‘n blanko tjek om tot marteling oor te gaan? SA is nie die enigste land waar armoede heers nie dit is ‘n wêreldverskynsel. Die enigste oplossing vir hierdie situasie moet uit eie geledere kom DAAR waar die teikengebiede lê waar die aanvalle voorkom. Weebaarheid, Paraatheid, Selfbeskerming, Waarneming, Mobilisering, Kommunikasie (radio whatsapp ens). aanmelding van verdagte bewegings onder rolspelers – indien dit nie gedoen… Lees meer »

Esther

Nooit ooit in my lewe sal ek ooit glo dat armoede of hongerte die oorsaak is van enige plaas aanval nie. As hulle soveel moeite doen om boere vir URE te martel, kon hulle net sowel in die lande invaar en die lande stroop van mielies, artappels of wat ookal – as hulle regtig honger was. Hoe kan hongerte jou maak om in ‘n boer se huis in te gaan, hulle klere uit te trek, en te martel vir ure….. Ou mensies wat hulle self nie kan verdedig nie. Om ons boere te martel en te moor sit nie kos… Lees meer »

Boetman

Word gedryf deur haat uitsprake. Hoekom moor as jy honger is. Niks anders as terrorisme nie.

Carel

Henry ek stem in n mate saam. Ek was lank n Kommando bevelvoerder en gebiedsbeskerming was baie hoog op my prioriteits lys
Ek glo egter die regering sit agter hierdie optrede
Sekuriteit ens ens gaan net gedeeltelik help

marous

Suiwer haat gedrewe wat aangeblaas word deur die land se leiers. Die aard van die aanvalle asook die niksseggende waarde van items wat geneem word is bewys genoeg dat armoede geen rol speel nie. Dit is ook nie beperk tot plase nie. Die aanvalle in dorpsgebiede gaan met dieselfde wreedheid gepaard.