Nuuskommentaar: As Afrikaans die dag saamtrek

Foto: Afrikaans.com

Foto: Afrikaans.com

Die teenspoed wat Afrikaans by universiteite kry, is ’n duidelike aanduiding dat alles in die stryd gewerp moet word om saam te werk om die taal te bevorder en te bemark. Die webwerf www.Afrikaans.com bied so ’n geleentheid vir deelname deur almal vir wie Afrikaans belangrik is.

Met die bekendstelling van die webwerf, www.Afrikaans.com, is dit duidelik dat ’n enorme hoeveelheid werk en breinenergie daarin gegaan het. En dit het klaarblyklik oor rassegrense heen plaasgevind, sodat dit verteenwoordigend is van alle Afrikaanssprekendes.

Die lys beskermhere sluit name in soos Tim du Plessis, Flip Buys, prof. Wannie Carstens, dr. Michael le Cordeur, Matthews Phosa, Adam Small en Breyten Breytenbach.

Volgens ’n berig is Afrikaans.com ’n nuwe webwerf wat spesifiek geskep is om die taal in sy talle gedaantes te vier en dit sal dien as ’n plek waar Afrikaanse mense die taal “in haar volheid kan verken”. Dit stuur ook ’n bemarkingsveldtog van stapel om Afrikaans te bevorder.

“Blaai” deur die webwerf en daar gaan ’n ongelooflike groot wêreld oop van projekte en ander geleenthede waaraan Afrikaanssprekendes in hul eie Afrikaans kan deelneem. Ook Maroela Media se projek om meer Afrikaanse artikels op Wikipedia te laai kry ’n prominente plek.

Die projek word deur die Dagbreek Trust bestuur.

Die webwerf-inisiatief en meegaande projekte kom te midde van verskeie gebeure waar Afrikaans die wind van voor kry. Daar is bedenkinge oor waarheen die US se taalplan op koers is, Kovsies word Engels maar eers gaan daar ’n hofsaak wees, die UP se taaltaakspan het slegs Engelsmedium-klasse aanbeveel en vele meer.

Afrikaans.com gee op ’n ander terrein ruimte vir die uitleef en groei van Afrikaans, en dit is duidelik dat dit bedoel is om buite die politieke sfeer te geskied. Daarvoor is daar genoeg organisasies wat hetsy met hul voete regstreeks in die politiek staan, of gereeld, hoewel dikwels teensinnig soos met hofsake oor Afrikaans, selde meer as ’n armlengte van die politiek af wegbeweeg.

Die mate waartoe Afrikaans.com van die politieke sy wegstaan, blyk uit die potjies wat sommige van die beskermhere al met mekaar geloop het. Soos op ander Afrikaanse forums word ook hier daarby verbygekyk en saamgetrek.

Nie dat Afrikaans.com hom nie moet staal om ook die teiken van geniepsige politieke aanvalle te wees nie. Dagbreek Trust is periodiek die skyf van politieke aanvalle uit die regterkant van die politieke spektrum.

Die organiseerders is deeglik bewus van die politieke druk op Afrikaans, en dit is ook so deur die voorsitter van die Dagbreek Trust, dr. Theuns Eloff, uitgespel tydens die bekendstelling van Afrikaans.com. Hy het egter gesê die tyd het aangebreek dat almal wat lief is vir Afrikaans begin saamwerk om die taal se toekoms te verseker.

In 2014 is berig dat die AHI, voorheen Afrikaanse Handelsinstituut, geknou is toe die Dagbreek Trust sy jaarlikse skenking van ’n halfmiljoen onttrek het. Volgens die Trust was dit weens ’n herbelyning van sy strategiese doelwitte om meer op onderwys te fokus. Dit was egter ook duidelik dat die AHI nie meer suiwer Afrikaans was nie, en dat van sy kamers reeds in Engels gefunksioneer het. Die uitvoerende hoof van die AHI, dr. Christo van Rheede, het aangedui dat hy nou ander werk moet soek, en hy is inderdaad in ’n senior pos by Agri SA aangestel. Sedertdien het hy hom onder meer sterk met prof. Jonathan Jansen verbind.

Daar kan net gehoop word dat Afrikaans.com bo die politieke druk kan uitstyg.

Terwyl Afrikaans hom op die sinkplaatpad bevind, is dit noodsaaklik dat enige saamstaanpoging met meriete ten volle gesteun word.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bruno Stef ·

Ek vra maar net die vraag .Een van die menere wat as beskermheer gaan optree vir Afrikaans het al by n vorige geleentheid in n koerant berig homself gedistansieer daarvan om n Afrikaner genoem te word MAW afstand gedoen van Afrikanerskap.Het die sekere persoon dan n skielike Damaskus Ervaring gehad of het hy net n foutjie gemaak

John ·

Herman glo skynbaar dat Afrikaanse blankes en Afrikaanse Kleurlinge saam moet groepeer om die taal te ‘red’. Dis presies wat die regering propageer, met ‘n ander oogmerk: die uitwis van die blanke. Angste Afrikaners wil almal wat Afrikaans durf praat, omhels. Taal is nie ‘n wapen nie. Daar is mense wat glo alles moet in die stryd gewerp word vir die oorlewing van Afrikaans. Dit is die domste ding om te doen omdat mense ook alles doen om hul sin te kry. Afrikaans.com is al klaar besig om te ontspoor nog voor dit begin het. Mag en eiereg is aan die orde van die dag in SA. TV en radio vervang Afrikaanse witmense met Kleurlinge. Feitlik geen tv-reeks word uitgesaai waar rassemengery nie aan die orde van die dag is nie. Ons sal moet besluit of Afrikaans ons lewensstryd gaan oorheers en of ons kultuur ook iewers tuishoort.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.