Nuuskommentaar: As Afrikaans sy kop optel …

afrikaans_Ons erfenis bestaan uit meer as net om Saterdae met ’n hele paar bruisdrankies onder die belt minder keurige taal in te span om die Bokke wat al weer aangejaag het sleg te sê. Kort voor Erfenisdag stel Akademia die voorbeeld van wat gedoen kan word, deur sy bestaande dienssentrums tot 11 landwyd uit te brei. Dít na die Orakel van Stellenbosch in ’n lang skrywe aan die media “aangedui” het hoe onhaalbaar so ’n projek is. Die Afrikaner en Afrikaanssprekende kan!

Op Internasionale Vredesdag, en vlak voor Erfenisdag Saterdag, kondig Akademia aan dat hy sy dienspunte tot 11 uitbrei, en onder meer die Paarl, Bloemfontein en George insluit. Baie Afrikaanssprekendes het nou toegang tot top-onderrig deur gebruik te maak van die mees moderne tegnologie, en nog dienspunte in dele waar Afrikaanssprekendes yler verspreid woon, word beoog. Die nuus kom terwyl daar landwyd by residensiële universiteite amok gemaak word, en klasse by talle opgeskort moes word.

En dit handel nie net oor studente wat wil studeer nie. Akademia is nog geleidelik besig om sy vakgebiede uit te brei, en in dié stadium is die graadkursusse hoofsaaklik tot verskillende BCom-rigtings beperk – uitstekende grade om te hê.

Dit handel verder oor hoe private skenkers hul donasies aan universiteite kanaliseer. Oudstudente van ’n bepaalde universiteit neig om as lojaliteits- en dankbaarheidsgebaar maandeliks hul alma mater ’n ietsie te laat toeval. Maar as daardie alma mater sy karakter heeltemal verander, soos om doelbewus van die Christelike karakter af te stap, jou geliefde moedertaal in die tande te skop en dié ongrondwetlike optredes selfs in die howe te verdedig, dan raak die bydraers dikwels suur en begin bydraes opdroog. Akademia, as suiwer private en Afrikaanse instelling, lyk na ’n goeie alternatiewe belegging in die jeug se toekoms.

’n Jaar of wat gelede het die bekende Stellenbosse filosoof, Anton van Niekerk, in ’n omvattende skrywe aan die media probeer uitlê dat ’n private Afrikaanse universiteit nie haalbaar is nie. Sedertdien was daar verskeie voorvalle van gewelddadige betogings op sy kampus, en is enorme skade aangerig soos motors wat uitgebrand is. ’n Interdik is nou bekom om te probeer verseker dat akademiese aktiwiteite kan voortgaan. Intussen het Akademia stil-stil ononderbroke met onderrig voortgegaan en gegradueerdes aan die ekonomie beskikbaar gestel.

Dit help natuurlik dat Akademia ’n inisiatief van Solidariteit is, en deur dié beweging gerugsteun word.

Of is dit nou deel van Solidariteit se “staatskaping” van die Afrikaner soos wat Max du Preez in ’n rubriek sy mond teenoor Solidariteit en AfriForum uitgespoel het?

Dit beteken nie dat die Solidariteit Beweging, wat onder meer AfriForum, die FAK en Maroela Media insluit, die rug op bestaande universiteite gekeer het wat steeds klasse in Afrikaans aanbied nie. Die momentum teen Afrikaans is egter van so ’n aard dat die howe nou die enigste uitweg is. Uit die “regsargumente” wat deur die universiteite se regsmense geopper word, is daar een wat lui dat ’n “klein minderheid” deur hul aandrang op hul grondwetlike regte ’n groot gevaar inhou vir die reaksie van die “meerderheid”.

Dit klink mos na ’n voorpratery dat anargiste hul sin bo (grond)wetsgehoorsames moet kry.

Op die oog af beskou, klink dit of diegene wat die grootste potensiaal saamdra dat hul geboue sal afbrand, medestudente sal intimideer en verhinder om klasse by te woon, ’n “voorsprong” in die “reg” kry en hul sin moet kry bo diegene wat hul grondwetlike regte beskerm wil sien.

Dis egter bepaalde grondwetlike regte en wat veronderstel is om deur Erfenisdag gevier te word. En ja, die viering van ’n kulturele erfenis behels veel meer as om ’n paar vleisies op die kole te gooi, ’n vrag bier te verorber en die mond bitterlik in geurige taal uit te spoel oor die Bokke wat al weer aangejaag het.

Dit behels ook dat die polisie jou sover moontlik in jou moedertaal moet kan help. Maar in die praktyk word Engels pas as enigste werkstaal vir die polisie in die Noord-Kaap ingevoer. ’n Aantal jare gelede het dieselfde in die Wes-Kaap gebeur, waar Afrikaanssprekendes meer as die helfte van die bevolking uitmaak. Dit terwyl die polisie, anders as byvoorbeeld binnelandse sake, ’n gedeelde provinsiale en nasionale funksie is. Dan word verwag dat provinsiale belange, soos die amptelike tale van ’n provinsie, dieper neerslag sal vind. Boonop is spesifiek “doeltreffende polisiëring” ’n provinsiale verantwoordelikheid, en die slagoffer se taalvoorkeur maak tog deel hiervan uit.

Weer eens is erfenis uit Erfenisdag gesteel.

Die land het formeel ’n Versoeningsdag, maar dit word gereeld deur regeringsleiers (wat op Versoeningsdag soms lippediens bewys) in die grond in vertrap. Daar is Vrouedag, maar vroue en kinders in hierdie land loop op ongekende skaal onder verkragtings en ander mishandeling deur. Daar is Menseregtedag, maar minderheidsregte – ’n integrale deel van menseregte – word gereeld in die grond in vertrap. As die Afrikaner en Afrikaanssprekende toelaat dat Erfenisdag van erfenis gestroop word, word dit gereduseer tot ’n paar rieldanse voor die TV en dat diegene wat nog ’n vleisie kan bekostig, dit Saterdag op die kole gooi.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johann

Baie goeie artikel, jammer, nou moet ek ook ‘n negatiewe bylas, jy kon gerus die verwysing na drank, so asof dit deel van ons nasionale sport is, weggelaat het. (Vir party het dit dalk gewoonte geword om te drink terwyl hul rugby kyk en daarna ‘n vleisie te braai. Van hulle is daar deesdae maar weinig oor.)

Sus

Go Akademia go! Ek sien vir julle ‘n blink toekoms met derduisende studente. Piet-kopdoek en sy travante sal nog aan hulle woorde verstik!

Theuns

Uistekende kommentaar! Ons is trots op wat julle,Afriforum en Solidariteit, vir ons Afrikaners doen! Maak nie saak wat die “odds” is nie” Boer maak ‘n plan”! En hierdie planne van ons mense maak Ouens soos Max jaloers en seer!! Dit gaan baie intresant wees om in die toekoms, se so 22 jaar van nou af, te kyk . As ek dit mag waag wil ek voorspel dat ons traditionele Universiteite glad nie meer gaan bestaan nie maar sal gereduseer wees tot blyplekke vir die hordes wat nie ‘n heenkome het nie! Ek sien gebreekte vensters en wasgoed wat daaruit hang.… Lees meer »

JC

Uitstekende artikel HERMAN! Dankie!!
AFRIKAANS BO, AFRIKANERS BO! KINDERS VAN AFRIKA, KINDERS VAN SUID-AFRIKA!
En hoor jy die magtige dreuning?
Oor die veld kom dit wyd gesweef: die lied van ‘n volk se ontwaking
wat harte laat sidder en beef…(Eitemal)
Geluk Afrikaanse Taalraad, geluk Afrikaners, julle is een besondere en unieke volk, mag ek waag om te se die mees besondere en uniekste volk oop aarde!!!
Geluk Afriforum, geluk Solidariteit, geluk Maroela, geluk ATKV, geluk
Voortrekkermonument en geluk FAK. ONS AFRIKANERS BEUR VORENTOE, van die wieg tot by die kluitklap op die kis, Ons vir jou Suid-Afrika!

Zuri

Ai ek wens net daar was al BSC kursusse. Ek is niks lus vir ons universiteite nie en het ons nog ‘n jaar om te besluit waarheen ons, ons kind wil stuur. Hy wil BSC Agric gaan swot. Die enigste universiteit wat my bietjie positief stem is Pukke, maar hulle bied nie die kursus aan nie. Met ons ander twee kinders was ons so opgewonde dat hulle kan gaan studeer by “eens” trotse instellings, nou maak hulle my naar en swaarmoedig.