Nuuskommentaar: As daar oorlog is…

Roubeklaers van die slagoffers van vlug MH17 by die Nederlandse ambassade in Kiev Foto: The Nose/Facebook

Roubeklaers van die slagoffers van vlug MH17 by die Nederlandse ambassade in Kiev Foto: The Nose/Facebook

Plaasmoorde in Suid-Afrika duur onverbiddelik voort as deel van plaasaanvalle wat met die mees onbeskryflike wreedheid gepleeg word. Die Numsa-staking lewer na berig word meer en meer gevalle van intimidasie en geweld op. Maar die grootste onlangse betoging in Suid-Afrika was oor die wyse waarop Israel sy burgers teen die lukrake vuurpylaanvalle van Hamas – ‘n organisasie wat die VSA as terreur-organisasie gelys het – verdedig.

Die moontlikheid dat ‘n Maleisiese passasiersvliegtuig met byna 300 mense aan boord oor die separatiste-besette gebied in die Oekraïne naby die Russiese grens neergeskiet is, toon egter dat daar niks romanties aan geweld is nie. Onskuldiges byt dikwels die spit af.

Tot bo alle twyfel vasgestel is of die vliegtuig neergeskiet is, en deur wie, weerhou Maroela Media hom oor eie menings hieroor. In hierdie stadium het die VSA formeel, soos die regering van die Oekraïne, verklaar dat die vliegtuig deur separatiste neergeskiet is.

Sou dit inderdaad die werk van die separatiste wees, sou dit sterk herinner aan Zapu se neerskiet van twee burgerlike Viscounts tydens die Rhodesiese bosoorlog. In die eerste geval, op 3 September 1978, is 38 van die 56 passasiers in die gevolglike neerstorting dood, en nog tien, waaronder kinders, deur die Zapu-magte op die grond afgemaai. In die tweede geval, op 12 September 1979, is al 59 passasiers met die neerskiet dood. Zapu het een militêre leier geteiken, wat in ieder geval op ‘n ander vlug was.

Sou die Maleisiese vliegtuig inderdaad deur die separatiste neergeskiet wees, sou dit ‘n ernstige terugslag vir hulle, en diegene wat hul stryd as legitiem beskou, wees. In hierdie stadium lyk dit of die separatiste hul volle samewerking bied dat die ongelukstoneel ondersoek kan word. Hulle het selfs ‘n tydelike skietstilstand aangebied – anders as tot dusver wat skietstilstand-ooreenkomste ‘n koue skouer gekry het, en toe die Oekraïne ‘n eensydige skietstilstand afgekondig het, die separatiste dit nie net geskend het nie maar ook gebruik het om hul posisie te verskans.

In ‘n bisarre wending word beweer dat wie ook al die vliegtuig neergeskiet het, eintlik bedoel het om die vliegtuig van pres. Wladimir Poetin neer te skiet. Die Russiese president was glo op dieselfde vliegroete op pad terug na Rusland, nadat hy die Brics-beraad in Brasilië bygewoon het. Die twee vliegtuie het net ‘n uur uit mekaar oor die toneel gevlieg, het min of meer dieselfde silhoeët en die kleure kom baie nou ooreen. Die vliegtuie het mekaar glo naby Praag gekruis.

Meer as 150 passasiers aan boord vlug MH17 was egter Nederlanders, en nog vyf was Belge. Baie was onderweg na ‘n Vigsberaad in Kuala Lumpur.

Beide die regering van die Oekraïne en die separatiste keer uiteraard op alle toonhoogtes dat dit nie hulle was wat die tuig sou neergeskiet het nie. Die separatiste
was egter reeds vir die neerskiet van verskeie vliegtuie van die Oekraïne verantwoordelik, en het nou ‘n taai toffie om geloofwaardigheid oor dié ene te verkry. Volgens die separatiste beskik hulle nie oor wapens wat ‘n vliegtuig op 10 000 meter hoog kan neerskiet nie. Volgens die Oekraïne het die separatiste ‘n BUK-missiel gebruik. Dié selfaangedrewe missiele kan teikens tot 25 kilometer hoog neerskiet.

Selfs die moontlikheid dat Poetin die eintlike teiken sou wees, verskuif nie die suspisie van die separatiste nie. Binne hierdie geledere word Poetin erg verkwalik omdat die Russe nie, soos in die geval van die Krim, die separatiste met ‘n grootskaalse inval kom rugsteun het nie. In teendeel, hoewel Rusland en die Oekraïne kort-kort in ‘n woorde-oorlog betrokke is, is die twee lande bykans deurlopend deel van samesprekings om vrede te bewerkstellig, hoofsaaklik deur ‘n groter rol aan die OVSE (Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa) waarvan Rusland ook ‘n lidland is. In hierdie samesprekings waarby Duitsland en Frankryk ook vername rolspelers is, word die onus swaar op Rusland gelaat om die separatiste te pasifiseer.

Intussen blyk dit dat Israel deur die loop van die nag met sy verwagte grondoffensief in Gasa begin het. Aanvanklike berigte dui daarop dat Israel veral tonnels teiken wat Hamas grawe, nadat ‘n groep invallers uit die Gasa pas só betrap is. Woensdag, tydens die vyf uur lange skietstilstand wat die VN beding het sodat humanitêre hulp die Palestyne kan bereik, het Hamas drie vuurpyle op Israel afgevuur.

Wie geweld idealiseer, was waarskynlik nog nie self die slagoffer daarvan nie. Geweld is dikwels bloot die oortjies van die seekoei van ‘n magdom maatskaplik en politieke faktore, en waarvan die wêreld ‘n dikwels erg teenstrydige propagandistiese beeld kry.

En dit kan eeue neem om die letsels te laat genees – mits die regte oplossings gevind is. Word ‘n lendelam “oplossing” gevind kan konflik op verskillende vlakke van intensiteit baie lank aanhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Barney Marx ·

Ou Cowboy seding… A friend of my enemy is not my friend . n Vriend van my vyand is nie my vriend nie . Kruger-Marx Barnato ,Rhodes …. noem maar op

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.