Nuuskommentaar: As die aarde kwaad word

Die skade in Amatrice, Italië. Foto: Massimo Percossi/ANSA via AP

Die skade in Amatrice, Italië. Foto: Massimo Percossi/ANSA via AP

Die jongste reeks aardbewings in Italië wat byna 300 lewens geëis het, vestig opnuut die aandag op hierdie natuurverskynsel. Doemprofete laat van hulle hoor, maar kennis bied perspektief vanuit die antieke tye. Die mensdom self veroorsaak jaarliks meer sterftes en ander lyding as wat groot aardbewings periodiek aanrig.

“Die aarde is kwaad,” het ’n inwoner aan ’n nuusagentskap gesê nadat die sentrale deel van Italië weer pas deur ’n sterk aardbewing getref is.

Argeologiese opgrawings toon egter dat daar bykans nie ’n ou beskawing iewers ter wêreld was, wat nie die een of ander tyd ingrypend deur reuse-aardbewings geraak is nie.

Vir die Italianers is aardbewings letterlik iets alledaags, en daar kom ongeveer 30 per dag iewers op die vasteland of op van die eilande voor. Dit is egter gewoonlik baie ligte aardbewings.

Italië se aardbewings word deur ’n baie komplekse stel faktore veroorsaak. In hoofsaak is dit ’n geval van die Afrikaplaat wat teen die Europese plaat druk, en onder meer tot die ontstaan van die Alpe gelei het. Maar daar is ook die Adriatiese plaat wat aan die Afrikaplaat vas is, wat onder die Europese plaat inwoel. ’n Verskuiwingsvlak vertak uit die Middellandse See-verskuiwingsvlak en loop al langs Italië se ooskus tot in Switserland. Die jongste reeks aardbewings, asook ligter aardbewings in ander lande om die Adriatiese See en een in Switserland, kan rofweg hiermee in verband gebring word.

Wetenskaplikes meen egter ook ’n stuk aardkors het afgebreek en begin sak, wat nou al ’n dekade of wat vir die aardbewings in sentraal-Italië verantwoordelik is. Van die inwoners maak ook daarop aanspraak dat die oppervlak elke dag ’n paar millimeter sak.

In hierdie gebied het sedert 24 Augustus net minder as 300 mense gesterf. Latere, selfs sterker aardbewings, het gelukkig nie weer lewens geëis nie, maar wel mense beseer en huise en kerkgeboue ineen laat stort.

Selfs in Rome, meer as 500 kilometer daarvandaan, het geboue krake opgedoen en mense het strate toe gestroom.

Die Italiaanse regering het reeds beloof dat alle beskadigde geboue herstel sal word. Italië is egter onder druk van die Europese Unie om sy begrotingstekort te verminder, terwyl die skade nou miljarde euro’s beloop. Duisende mense is dakloos.

Wêreldwyd het meer as 1 000 mense reeds vanjaar in aardbewings omgekom. Die meeste, 673, het in April in Ecuador omgekom toe die gebied deur ʼn skudding van 7,8 getref is. Die Italiaanse aardbewings het 298 lewens geëis, terwyl die 117 sterftes in Taiwan die derde meeste was. Ook Afrika het sterftes opgelewer met 23 mense wat dood is in ’n aardbewing van 5,9.

Verskeie faktore bepaal of daar sterftes sal wees, soos die diepte van die aardbewing, of daar baie mense naby die episentrum woon, die gehalte van bouwerk en hoe voorbereid die mense is.

Soms kan aardbewings baie lewens eis, veral wanneer dit ’n groot tsunami tot gevolg het.

Tog is dit nodig dat perspektief behou word.

Jaarliks sterf gemiddeld veel meer mense aan die hand van ander mense. Wêreldwyd word na raming byna ’n halfmiljoen mense per jaar vermoor. Padsterftes kan ongeveer drie keer meer wees.

Oorloë eis talle lewens per jaar, en kort-kort is daar bewerings dat Sirië chemiese wapens inspan. Skole, en selfs hospitale, word gereeld gebombardeer. Vlugtelinge, onder wie ouerlose gesinne, ruk gereeld aan die harte van mense.

’n Bietjie perspektief, saam met argeologiese getuienis, behoort doemprofete wat vir elke aardbewing allerlei tekens daarin lees, die mond te snoer. Maar dit sal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Koos1 ·

Herman, werklik ‘n puik artikel. Soos die Bybel die sê : aardbewings en oorloë dui die eind tyd aan. Vir die afgelope 2000 jaar is daar aardbewings en oorloë. Ek intreperteer dit op die volgende manier. Ek glo God laat dit toe soos in sy Woord beskryf, dat ons as mense moet besef dat Hy nog in beheer is. Toe Jesus op aarde was het hy tekens en wonders gedoen sodat mense moes Glo. God gee vandag nog vir ons tekens en wonders vir ons om te sien en glo, die problem is ons as mense wil eers alles ontleed en in kassies plaas. Hy het in sy Woord deur Jesus gese dat niemand, nie “eers ek sy Seun” weet wat My Vader se tyd is nie.
Ek se altyd, as die mense net soveel tyd in hulle geloof spandeer soos aan die terorieë en die “eindtyd profesieë”, dit baie beter met hulle sal gaan.
Ons moet Glo en aanvaar soos kinders, het Jesus self vir ons gesê!

Theuns ·

Jy is reg Herman. Aardbewings kom redelik algemeen voor. Maar elke aardbewing veroorsaak dat vrae gevra word. Behalwe vir die einde van die wereld stories is van die antwoorde en die aksies wat daarop volg tog prysenswaardig. Soos om geboue bestand teen aardbewings te maak. Om vroegtydige waarnemings te maak en die mense te waarsku! Daar is ook voorgesette pogings om skuilings te ontwerp waar mense kan skuil en dan nog om op reddings toerusting te verbeter! Lekker Dag.

humor ·

Rom 8 : 19 – 22 Hierdie ganse skepping sug om vry gemaak te word van die verganglikheid. Ag, wanneer sal dit gebeur. Alles het werklik siek en vervalle geraak. Oor die hele wereld heen is daar nie eens n ekele ware leier meer nie. Die afgod mammon het bykans die totale morelesisteem verswelg.

John ·

Teoriee van wetenskaplikes… en ons is nie meer gelowig nie. Ons hou nie daarvan om agter te kom ons beheer nie die gang van die sake op aarde nie. Die Bybel dui aan dat gebeure onder die Wil van die Vader staan. Ons bid daagliks, “Laat U wil geskied” maar ons glo nie wat gebeur is deur die Hemelvader gewil nie. Aardverwarming word deur die mens gewil en evolusioniste laat ons glo hul teoriee het meer waarde is as die Bybel… want lekker baie geld rol in vir navorsing en vir reise na kongresse in verre lande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.