Nuuskommentaar: As die krane leegloop

water-kraan

Foto: Pixabay.com

Al hoe meer berigte van oral in die land word gepubliseer oor dorpe wat heeltemal sonder water is en groot ongerief veroorsaak. Soms is dit die droogte, soms verouderde infrastruktuur en soms wanbetaling wat die ellende teweeg bring.

Dit reën in die Kaap en nog reën word vir Woensdag verwag. Die Stad Kaapstad stel die een projek na die ander bekend wat bedoel is om die stad minder afhanklik van damwater te maak. Die stad kry nou sowat twee miljoen liter water per dag ekstra nadat van Tafelberg se water by die waternetwerk aangesluit is, en daar is vordering om water uit die sogenaamde Kaapse waterdraers (aquifirs) te onttrek. Ook ander projekte vir bykomende water, soos die benutting van gryswater, kry momentum.

Kaapstad se pogings om minder damafhanklik te wees, is belangrik omdat die stad die meeste van sy damme met die landbou deel. As die damwater heeltemal gedurende die somer opdroog kan die skade aan die Wes-Kaapse ekonomie enorm wees.

In Fauresmith in die Suid-Vrystaat brand ’n historiese gebou af omdat die krane al lank dolleeg is. Gelukkig kon ’n buurman met ’n tuinslang help om van die skade te beperk.

Fauresmith is deel van ’n munisipaliteit wat miljoene rande aan Bloemwater skuld, en gevolglik beperkte water kry. Veral hoërliggende dele kry baie swaar.

Teen vandag behoort die hele stad Bloemfontein sonder water te wees, nadat die een toevoerpyp na die ander gebreek het. Almal behoort teen Donderdag weer water te hê – ’n week nadat dele reeds sonder water sit. Gebrekkige instandhouding om pype wat baie hoë druk moet hanteer, werk eenvoudig nie. Die stad wil nou bykomende water van die Gariepdam laat aanlê, wat nie net ver is nie, maar ook opdraand. ’n Voorstel van die DA dat water met gravitasiekrag uit die Caledon aangelê word, is deur die ANC verwerp.

Behoorlike instandhouding van infrastruktuur is nie deel van die “mooi storie” wat dié party tydens verkiesings kiesers mee heuning om die mond mee probeer smeer nie. Benewens die droogte wat op sy eie benoudheid bring is van die waterkrisisse dikwels maar die gevolg van verouderde pype en ander infrastruktuur wat weens gebrekkige instandhouding nie meer die druk kan dra nie. Voeg daarby ʼn ruim skeut vandalisme, en dit raak nie meer so vanselfsprekend dat ’n oop kraan ’n lopende kraan beteken nie; of ’n lig wat aangeskakel is, noodwendig lig gaan verskaf nie.

Spaarsamigheid met water moet eenvoudig ’n lewenswyse word.

Duidelike planne om so ver as moontlik vooruit voorsiening te maak vir water (die Sterkfonteindam wat diep uit die vorige bedeling dateer kon Gauteng en ander dele se basse red, en die Katzedam al meermale Bloemfontein s’n). Dit deug eenvoudig nie as omvattende navorsing op versoek van die staat gedoen word oor hoe klimaatsverandering die land gaan raak, en waar stede in die toekoms gebou kan word en waar nie, terwyl die verslae al jare op rakke stof lê en vergaar.

’n Paar jaar gelede het Beaufort-Wes se water opgeraak. Van heinde en verre het vakansiegangers kanne gesuiwerde water aangery en op die dorp agtergelaat. So was daar ook ’n projek van skoolkinders om drinkwater aan Calvinia te voorsien. Van oral gaan die harte oop en vragte voer beweeg kruis en dwars oor die land.

Maar is daar oral in die land, ook in stedelike gebiede, genoeg deernis om ’n breë genoeg ondersteuningsnetwerk te kan skep? Gisteraand het ’n buurman die uwe, wat in Bloemfontein woon, gebel en swembadwater vir die spoel van toilette aangebied. Maar gaan almal so gelukkig wees?

Dit is hoog tyd vir verootmoediging.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eish ·

Sedert dr. Anthony Turton afgedank is by die WNNR, het daar hoegenaamd geen sinvolle beplanning tov ons watersituasie plaasgevind nie. Al die ander faktore soos vermeld in die artikel dra sy deel by om n uiters treurige prentjie te skilder.

Myns insiens behoort die blaam vir die menslike aspek vierkantig voor die bloedsuier regering gelê te word. Nasionale, provinsiale en plaaslike vlak. Die totale gebrek aan instandhouding en geweldige verliese wat daarmee gepaardgaan, is skreiend.

Daar is nie n enkele sfeer van die samelewing wat die laaste 23 jaar die algehele verval vrygespring het nie. Elke organisasie, instituut, department en aspek waaroor die huidige regering beheer uitoefen, is in n onherroeplike vernietigingspiraal vasgevang.

Dit sal versnellend voortduur todat die wil ontstaan om goeie regering te bedryf waar verantwoordelikheid, integriteit, aanspreeklikheid, eerlikheid, trots, etiek en karakter, eienskappe van die regering raak.

Dis nie al ·

Dis nie al nie. Die bietjie water wat ons wel het word deur riool besoedel. Daar was gedurende die 1960’s alreeds ‘n waterjaar wat ons gewaarsku het met die slagspreuk: ‘Water, werk mooi daarmee want ons leef daarvan’. Nou, meer as 50 jaar later, het ons nie hieraan gehoor gegee. Met die toename van die bevolking en afname van bruikbare water sal ons eendag wel wakker skrik, helaas dalk net ‘n bietjies té laat.
Terloops, die spelling van die dam is ‘Katse’ (par.9)

Von ·

Wat my kwaad maak is dat almal weet dat water n probleem word, maar dat sekere mense veral in beter woongebiede nogsteeds tuin nat maak net om nie hul mooi tuin te verloor nie!!
Die sproeiers word aangesit en gereeld geskuif en dit gebeur tot 3 keer n week agv die hitte wat ons ook tussenin beleef.
Dis asof mense meer waarde heg aan n mooi tuin en groen grasperk as om te dink dis van mindere belang en water vir menslike gebruik is meer noodsaaklik!!!
Daar moet n wet ingebring word wat afdwingbaar moet wees dat tuine nie water gegee moet word in sulke tye nie!!
Dit klink wreed maar bure moet aangemoedig word om mense te verklae sodra jy sien iemand doen dit. . . .

Liesbet ·

Hoeveel waarde heg mense aan groen rugbyvelde en groen golfbane ? Wie gaan jy daaromtrent verkla ?

As die tuinnatleier verkla moet word, omdat hy die wet oortree, neem mens aan dat stede se munisipaliteite ook verkla, en gestraf moet word vir alles wat hulle verkeerd doen. Ek meen, die regering moet lei met die voorbeeld.

Die wolwe vang onder die skape, maar i.p.v om die wolf te vang , byt die skape mekaar eerder onderling.

bgj van der westhuizen ·

wel mense dit reen nie in die kaap op die oomblik nie en as dit reen hadloop alle water see toe nog steeds doen die dom regeing van die anc niks en die da maak of hulle goed doen en met bevolking wat al meer raak en al slegter raak om te werk en alles verniet wil he sal niks verbeter nie die land verval al meer by die dag

John ·

Dis ook al wat die regering die heeltyd predik, spaarsamigheid. Hoekom nie praat van spaar nie, of is die ‘saam’ die eintlike ding… waar die witmense spaar en die rekeninge betaal… alweer vir straf vir sondes ongegrondig… Maar spaar loop saam met iets om te spaar… Daar moet water wees om te samig… Doen eers dit reg dan kan die woord tot sy reg kom… die spaar bedoel ek want ons beursies loop leeg van waterwinkelkuiers en bottel-aanryery. En die planne van uitlanders wat met bottelwater aanland en vertrek maar vitrioeliese planne verkoop van suiwer riool… Dis daar waar die samigheid mens tot spaarpartigheid sal dryf… baie daarvan…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.