Nuuskommentaar: As die meteoriet val

Foto: Meteorietkrater, Nicaragua. Foto: ‏@AtomunteleSUR, Twitter

Foto: Meteorietkrater, Nicaragua. Foto: ‏@AtomunteleSUR, Twitter

Terwyl die oë van die wêreld Sondag op ʼn asteroïde so groot soos ʼn huis gevestig was wat rakelings oor Nieu-Seeland geblits het, het die owerhede in Managua laat weet dat ʼn meteoriet ʼn krater van 12 meter in deursnee in die buitewyke van Managua geslaan het – gelukkig sonder enige ongevalle. Die VSA is gevra om te help met die ondersoek.

Dit is nie die eerste keer dat die aarde sy oë op ʼn naderende monster rig en ʼn ander uit ʼn ander hoek die aarde tref nie. In Februarie verlede jaar het die aarde ʼn groot asteroïde dopgehou wat laer as die geostasionêre satelliete by die aarde verbygeskiet het, toe ʼn kleiner asteroïde in die atmosfeer bo Rusland ontplof het, en die grootste brokstuk in ʼn meer beland het. Groot skade is aangerig is baie mense is beseer.

Hierdie Sondag se besoeker was omtrent op dieselfde hoogte as die geostasionêre satelliete, of te wel een tiende van die afstand na die maan. Gewoonlik word die afstand na die maan as uitdrukking gebruik om sulke nabye besoekers te beskryf, en word enigiets nader as drie maal die afstand van die maan as nabye besoekers beskou. Een wat tussen die maanafstand en die aarde verby beweeg, is regtig baie naby.

Dat die aarde hul oë op een gerig kan hou, en ʼn ander die aarde uit die bloute tref, is nie heeltemal vreemd nie. ʼn Onlangse nabye besoeker het geblyk ʼn eie “maan” te hê wat om hom wentel. Dit is nie heeltemal vreemd dat asteroïde oor “mane” beskik nie. Verlede jaar se impak oor Rusland was egter nie van hierdie soort nie. Hy het doodgewoon die aarde uit ʼn baie moeilike hoek om vooraf te sien, genader.

Dit is daarom verstaanbaar dat die mensdom, soos sy tegnologie verbeter, meer en meer toerusting in gebruik sal stel om naderende ruimtevoorwerpe op te spoor terwyl dit nog ver genoeg is om iets aan te doen. Daar word ook deurlopend gewerk aan tegnologie om sulke voorwerpe van koers te dwing sodat hulle die aarde moet mis. Dat ons nog ʼn hele entjie het om te gaan is uit die jongste voorvalle duidelik, hoewel die oog reeds op ʼn groot aantal geïdentifiseerde toekomstige bedreigings gehou word.

Suid-Afrika is, in vergelyking met die VSA en Rusland, ʼn dwergie as ruimtemoondheid. Nogtans doen die Suid-Afrikaanse ruimte-agentskap waardevolle werk soos met ruimteweer en om aan ander lande waardevolle kommunikasie en monitering met hul ruimtetuie te besorg wat andersins in “blinde kolle” sou beweeg.

Die SKA-projek naby Carnarvon is ʼn enorme internasionale projek waaruit Suid-Afrika groot voordele soos werksgeleenthede gaan put. Beurse vir studie – ook op baie gevorderde vlak, word reeds gereeld geadverteer.

Die aantal Suid-Afrikaanse studente wat jaarliks aanmeld om fisika met die oog op studie in sterrekunde aan te pak, neem elke jaar toe en word deels aan die gewildheid van die radioprogram, Sterre en Planete, toegeskryf. Bloemfontein het die mees gevorderde planetarium in Afrika suid van die Sahara gekry, en is sedert sy opening verlede jaar nog strykdeur volbespreek.

Terwyl die aarde al dieper en dieper in die ruimte intuur, en al hoe meer van die ontsaglikheid van die Skepping bewus word, en die VSA goed gevorder is met die ontwerp en bou van ʼn vuurpyl wat swaar genoeg is om vragte diep die ruimte in te kan lanseer sodat bemande ruimtereise na Mars en terug binne ʼn paar dekades moontlik sal wees, kom die ruimte ook gereeld na die aarde. Onlangse studies het getoon dat die aarde kort na sy ontstaan deur ʼn rits groot ruimteliggame getref is, en moontlik die meganisme van verskuiwende tektoniese plate aan die gang gesit het. Hoewel hierdie verskuiwingsvlakke tot aardbewings aanleiding gee, is dit tog ʼn groot aanwins vir die aarde sodat kragte binne die aarde soos afkoeling, nie tot nog groter opbou van druk en ondenkbare groot natuurrampe lei nie. ʼn Botsing kort na sy ontstaan met ʼn Marsgrootte planeet Theia, het waarskynlik tot die ontstaan van die maan aanleiding gegee, met getye wat ʼn enorme belangrike rol speel.

Maar net soos daar interaksie tussen die aarde en die ruimte daarbuite is, so is Suid-Afrika ook nie ʼn kokon in die wêreld nie.

Suid-Afrika kan nie maar die blinde oog werp op dit wat elders ter wêreld gebeur, of só sterk op die binnelandse of regionale, Afrika-politiek fokus dat die onverwagse ekonomies, diplomatieke “asteroïede” die land uit die bloute tref nie.

Vir die president om, kort nadat Afrika-leiers as gaste van pres. Barack Obama in die VSA saamgetrek het vir gesprekke oor samewerking en hulp, ʼn vreemde besoek aan Rusland te bring, is nie sinvolle staatsmanskap nie. Rusland, en sy leier, pres. Wladimir Poetin, vertolk nou die rol van internasionale skurk, en daarom is daar sprake van selfs verskerpte ekonomiese sanksies teen daardie land.

Om boonop kort hierna deur China gelukgewens te word dat ʼn visum aan die Dalai Lama geweier is (ongeag die amptelike weergawes), is nie goed vir die land se ekonomiese toekoms nie, en stuur allerlei verkeerde boodskappe uit oor Suid-Afrika se verbintenis aan die grondwetlike bepalings oor menseregte.

Suid-Afrika se aangekondigde sportkwotas, soos vir die rugby, kan nie in isolasie plaasvind nie. Rugby, en die meeste ander sportkodes, is by internasionale liggame geaffilieer wat regeringsinmenging in sport en rassisme verbied. In beginsel tender SARU nou om kwotas bo voortgesette internasionale deelname te plaas.

Trouens, ons grondwet bepaal in artikel 233 dat alle howe, dus ook die grondwetlike hof, by die vertolking van wette, voorkeur aan enige redelike vertolking van daardie wette moet gee wat in pas is met die internasionale reg, bo enige alternatiewe vertolking wat nie in pas met die internasionale reg is nie. Daarom dat die uitspraak van die Renate Barnard-saak so ʼn verrassing is, en onder heelwat kritiek deurloop, soos ʼn vlieëvangery oor tegniese aspekte – iets waaroor die grondwetlike hof tot dusver verhewe was.

Dit is daarom ook nie vreemd dat Solidariteit beplan om die saak nou na internasionale forums te neem nie.

Suid-Afrika het enorme binnelandse probleme. Dit is só omvangryk dat geprioritiseer moet word om die olifant happie vir happie te eet. Dit beteken ook dat Suid-Afrika nie moet toelaat dat nog olifante die probleme moet aanvul nie, want dan gaan die agterstande nie ingehaal kan word nie. Die oog moet dus wel op die groter prentjie ook gehou word, en ook daar maak Suid-Afrika nou te veel duur blapse.

Anders gaan ʼn soortgelyke oordeel oor Suid-Afrika uitgespreek word as oor ma en sus se motor waarmee hulle Sondag kerk toe is. Pa en kleinman is eers skaap toe, en het later kerk toe gevolg met die bakkie. By die kerk verneem hulle van ma en sus wat onder ʼn groot rookwolk en met die kar wat erg dreun, by die kerk aangekom het. Ná kerk staan omtrent al wat leef, dominee ook, nader aan die kar. Pa trek sy ouderlingsbaadjie uit, en skuif onder die kar in, gevolg deur kleinman.
Na ʼn rukkie stilte vra die dominee: “Hoe lyk dit, broer?”
Kleinman se stem kom gewigtig onder die kar uit: “Die f*tten ding is f*atap.”
Stilte.
Die dominee: “Broer…?”
Pa, sonder om onder die kar uit te kom: “Ek is bevrees die kleinman is reg…”

Mag dit nooit van Suid-Afrika waar word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.