Nuuskommentaar: As die middelgrond wegval

Argieffoto

Argieffoto

Kan Suid-Afrika iets leer uit die eindronde van die Oostenrykse presidentsverkiesing waar ’n Groene naelskraap met ’n ekstreem regse afgereken het? Boonop is daar ’n soortgelyke verloop in die VSA. Suid-Afrika is egter ’n heterogene land en stemgedrag moet meer gesegmenteerd bekyk word waar dit lyk of die opkoms van burgerlike bewegings soos die Solidariteit Beweging as teenvoeter dien vir magteloosheidspolitiek – en dit vanuit die sentrum doen.

Toe dr. Connie Mulder die Nasionaal Konserwatiewe Party bekend gestel het, het hy aangedui dat dié party hom aan die regterkant sou bevind. Dit was weliswaar gekwalifiseerd deur daarop te wys dat die Britse Konserwatiewe Party ook die woord “konserwatief” gebruik, maar hom beslis nie op ’n ekstreme pool bevind nie. Mulder het verduidelik dat dit in die politiek wys is om jou op die linkerkantste of regterkantse sypaadjie te bevind, want as jy in die middel van die pad loop, sal die karre jou omry.

Dit was die era van Joop den Uyl, Olaf Palme, Pierre Trudeau en ander wat verskeie Westerse lande in ’n baie permissiewe rigting gestuur het asof dit “in” sou wees. Die opkoms van die Le Pen’s en Wilders’e later jare, met ’n sterk opwelling van die sentrum, of sentrum regs, is kwalik voorsien.

Nou het iets in Oostenryk gebeur wat duidelike vrae aan die toekoms van politiek, ook in Suid-Afrika, stel.

Met die eindronde van die Oostenrykse presidentsverkiesing wat pas gehou is, het dit op die oog af gelyk of die middelgrond heeltemal weggeval het. Die twee finaliste het hulle op die uiterstes van die politieke spektrum bevind. Alexander van der Bellen, ’n Groene, het nadat die posstemme ook getel is, ’n skrale meerderheid behaal oor Norbert Hofer, wat as ekstreem regs beskryf word. Trouens, sy party word daarvan beskuldig dat dit die Nazi’s in vele opsigte idealiseer.

Joost van Egmond som dit soos volg op: “Deze verkiezing toont de trend waar politicologen in heel Europa al jaren voor waarschuwen: de toenemende polarisatie in de politiek, waarbij het midden verdwijnt en een handvol kenmerken een steeds betere indicatie geeft van het stemgedrag van een individu.”

Maar het die kiesstelsel nie ’n groter rol gespeel as die werklike wegval van die middelgrond nie? ’n Ontleding van die stemme teen die agtergrond van meningspeilings toon dat byna 50% van die stemme wat Van der Bellen getrek het, van kiesers kom wat hom nie gesteun het nie, maar bloot probeer keer het dat Hofer die pyp rook. Meer as 30% van Hofer se stemme was om Van der Bellen te probeer uithou. Saam met diegene wat nie in die eindronde gaan stem het nie verteenwoordig dit ’n beduidende, maar gefragmenteerde middelgrond.

Trouens, hierdie vorm van finale stemming het tevore in Frankryk ook gesorg dat die regse kandidaat deur “teenstemme” die loef afgesteek is. In 2002 het Jean-Marie le Pen die tweede ronde van die Franse presidentsverkiesing gehaal, maar is toe verpletterend deur Jacques Chirac met die kous oor die kop huis toe gestuur. Le Pen het basies dieselfde hoeveelheid stemme as in die eerste ronde getrek, maar hom daarna in die finale vasgeloop in ’n stortvloed van stemme wat hom nié verkies wou hê nie.

Dit wat in Oostenryk gebeur het, het in ’n groot mate ’n ooreenkoms met wat in die VSA gebeur het en in ’n sekere sin steeds besig is om te gebeur. Volgens die jongste peilings trek die twee partye se waarskynlike kandidate, Donald Trump van die Republikeine, en Hilary Clinton van die Demokrate, kop aan kop, met die Rasmussen-peilings wat Trump ’n kort kop voor plaas en die voorsprong rek.

Maar so eenvoudig is dit nie. Terwyl Clinton gaan klippe kou om Trump te stuit, toon ’n nuwe Rasmussen-peiling dat haar teenstander, Bennie Sanders, min moeite sou hê om Trump te troef. Sanders sou 45% van die stemme kry en Trump 41%.

Maar die omgekeerde was ook waar. Vroeër, in ’n stadium toe peilings nog aangetoon het dat Clinton Trump sou troef, het dit geblyk dat die destydse ander oorblywende Republikeinse kandidate, Ted Cruz en John Casich, albeid vir Clinton taamlik maklik sou klop. Anders gestel, die Republikeine se kanse om die presidentsverkiesing te wen, sou verbeter met die keuse van Cruz of Kasich, maar Trump is (weliswaar te midde van bitter teenstand van die establishment) verkies. Die Demokrate sou weer beter vaar deur Sanders, ’n uitgesproke sosialis, te steun.

’n Presidentsverkiesing met Trump en Sanders as die twee grootste partye se kandidate sou ’n taamlik soortgelyke soort keuse oplewer as wat in Oostenryk gebeur het. Ook in die VSA sou stemme teen, naas stemme vir, ’n reuse impak hê.

Is hieruit enige les vir Suid-Afrika te leer? Suid-Afrikaners is immers die getuies van die opkoms van ’n radikale party soos die EFF, en radikale vakbonde soos Amcu en planne rondom Numsa wat uit Cosatu gesit is.

Omdat ekstreem regs hoofsaaklik buite-parlementêr optree is dit moeilik om ’n idee te vorm van die omvang daarvan.

Die belangrikste is egter dat dit erg kunsmatig sou wees om die situasie in Suid-Afrika, ’n erg heterogene land met ’n grootliks eenheidsgrondwet, met ’n land soos Oostenryk en selfs die VSA te vergelyk.

Word na die Afrikaner in isolasie bekyk, kan meer sinvolle vergelykings getref word.

Volgens peilings stem baie Suid-Afrikaners uit wat hulle beskou as pragmatiese oorwegings vir partye, eerder as in ooreenstemming met hul eie beginsels.

Of hierdie “magteloosheidspolitiek” daartoe bydra, is moeilik om te bepaal, maar dit lyk of baie Afrikaners hulle naas ’n verbintenis tot ’n spektrum politieke partye wend tot steun vir, en deelname aan burgerlike instellings met kenmerke van ’n regering binne ’n regering. Pas kon AfriForum R2 miljoen bestee om slaggate te herstel wat plaaslike owerhede nalaat om te doen. En eintlik is die waarde daarvan meer omdat lede as vrywilligers, en dus sonder vergoeding, die werk gedoen het en ook eie vervoer en toerusting ingespan het. Dit is simbolies van hoe gebreke in die veronderstelde owerheid “gelap” word. Die Solidariteit Beweging se Plan B, en nou Ons Bou-projek, word goed ondersteun.

Die interessante is dat die Solidariteit Beweging onder skoot kom juis omdat dit sy plek in die middelgrond inneem.

Kortom, dit lyk of die Seunse Weenkoor en diegene op die ander uiterste van die politieke spektrum, nog lank hul bitterheid gaan uitstort oor die stabiliserende uitwerking wat die Solidariteit Beweging oor ’n breë front uitoefen, en die Afrikaner weer bemagtig en trots laat voel. Vanuit die middelgrond.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Disselboom ·

Disselboom gaan sy hipotese hier neersit, vir toetsing en ontleding later, wanneer dinge ontvou en mens kan terugkyk: middelgrond-stabilisasie het sy plek vir die oomblik, maar dis kragtige en skerp standpunt en optrede wat die geskiedenis verander, en waar nodig, regruk.

Die hipotese verwys onder andere:
1. Na eeue van kerkverval wat eers in die 16de eeuse hervorming deur mense wat radikaal standpunt ingeneem het, en besonder hard daaraan gewerk het, gestuit en ‘n regstelling begin het.
2. Die Suid-Afrikaanse geskiedenis is nie bepaal deur die Dingaan-Retief-onderhandelinge (onderhandelinge is gematig) nie, maar deur die aktiewe voorbereiding vir en uitvoer van die Slag van Bloedrivier (oorlog is radikaal).

HEVW ·

Laat my nogal dink aan die woorde: “Omdat jy nie koud of warm is nie sal Ek jou uispoeg” Dit is seker hierdie middelgrond- konsep het nog nooit in Afrika realiseer nie.

Dewald Scholtz ·

Ek het ophou lees by ‘ekstreem regse’. Sommer geweet watse soort twak daarna opgedis gaan word..

togie tog. ·

Oo klink vir my soos “tussen die hande en monde val die pap op die grond”.

Andre ·

Baie dankie vir hierdie nuuskommentaar, mnr Toerien! Dit skets baie goed die belang van deurdagte stellingname in die politiek. Want politiek is nie net “wat ek dink moet ek sê”, maar ook die strategiese spel van plasing ten opsigte van ander menings. Hoe ‘n mens ‘n mening vertel, het baie impak op die sukses. ‘n Mens kan boelie en toy-toy, maar dat moet jy so magtig wees dat jy die wat mag het kan verslaan. As ‘n mens ‘n minderheidsmening met op ‘n rustige en netjiese wyse inbring, kan ‘n mens dikwels baie meer bereik as wanneer jy skree en mense seer maak. Nogtans is jy met netjiese politiek altyd afhanklik van die welwillendheid van die ander om te luister.

Henry ·

Ek dink nie dat die stempatrone van eerste wêreldstate met die van ‘n korrupte derde wêreldstaat in Donker Afrika vergelyk kan word nie. Die kennis, begrip en onderskeidingsvermoëns van die VSA, Skandinawië, Japan ens se kiesers, is tog veel groter as die van Sub-Sahara s’n.

Afrika se stemvee, vorm deel van on-gesofistikeerde en korrupte politieke stelsels waar regimes in meeste gevalle danksy ideologiese en/of oorheersende stamgetalle, verkies word. Grootskaalse verkiesingsbedrog en manipulering van verkiesings beklemtoon eweneens die verskille tussen eerste- en derde-wêreld regimes.

Daar kan kwalik van links, regs of sentristiese politieke groeperinge gepraat word. Die groep wat die meeste mag het, slaan die kitaar en die res dans ‘n hond uit ‘n bos uit.

Of die mag uit die loop van ‘n geweer, ideologiese sprokies, stam oorheersing ens kom, is faktore wat Afrika se stemrigting bepaal. “Een party demokrasieë” is ook tipiese Afrika uitvindsels, wat mettertyd op klakkelose en met tipiese liberale onnadenkenheid, vorm aangeneem het. Hoe ‘n staat met ‘n eenparty regime as ‘n demokrasie beskryf kan word, kan slegs deur liberale politieke ‘wetenskaplikes’ be-gorrel word.

Kortom. Ek kan nie glo dat politieke stelsels en kiesers van hierdie droewe land voor die einde van hierdie eeu so sal ontwikkel dat links, regs en middel, verskillende politieke partye sal onderskei nie. Stem heelhartig saam dat Solidariteit en Afriforum reeds op middelgrond funksioneer.

vermeende ·

Herman ek wil jou net reg help voor jy weer die vout maak.

Die term link en regs in politiek kom uit die Franse revolusie. Die groep wat as link gemerk was, was die groep wat verandering wou bring, die groep wat as regs gemerk was, was die groep wat tevrede was.
Dit is die oorsprong, nou se weer wie is die regses?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.