Nuuskommentaar: As die minderheid regeer

Pres. Cyril Ramaphosa tydens Werkersdagvieringe by die Wolfson-stadion buite Port Elizabeth in die Oos-Kaap. Foto: ANC Kommunikasiespan

Kan iemand uit ’n minderheidsgroep werklik ’n land regeer? Uit sekere kringe is daar groot optimisme dat pres. Cyril Ramaphosa so sal kan maak – dit sal vir hom gewoon te moeilik wees om nepotisme te pleeg, want meerderheids- en selfs kollektiewe druk van groter stamme sal eenvoudig te veel wees.

Alvorens Ramaphosa se posisie onder die loep geneem word, is dit nodig om na ’n soortgelyke geval te kyk. Toe pres. Daniel arap Moi president van Kenia geword het, is dieselfde soort optimistiese verwagtinge gekoester. Moi is lid van ’n minderheidstam, die Kalenjin, en was aanvaarbaar vir die groter stamme, onder andere die Kikoejoe. Hy het die bekende Jomo Kenyatta as president opgevolg, en was tot dusver die president wat die langste oor die land regeer het.

Moi het egter in die oë van die weste kort voor lank ’n despoot geword, en sy stam het in stamoorloë met die Kikoejoe gewikkel geraak. Selfs pyl en boë met gifpyle is gebruik.

Korrupsie en nepotisme het hoegenaamd nie onder sy bewind minder geword nie. Die Kikoejoe se meerderheidstatus verseker nou byna outomaties dat Uhuru Kenyatta, seun van Jomo, verkiesings wen, al verseker die meerderheid bloot dat daar genoegsaam gekonkel kan word. (Hoewel die Kikoejoe die grootste stam is, maak die ander stamme saam ook van die Kikoejoe effektief ’n minderheid.)

In die Suid-Afrikaanse politiek is dit gewoonlik moeilik om vas te stel uit watter stam of volk ’n politikus stam. Dit moet gewoonlik afgelei word van iemand se geboorteplek, maar met baie wat in stede soos Johannesburg gebore is, is dit moeilik. Die stilswye oor stamverband handel waarskynlik oor ’n afkeer aan “tribalism” waaroor onder andere Winnie Madikizela-Mandela en oudpres. Thabo Mbeki hul mond uitgespoel het. Dikwels was die kritiek duidelik – selfs sonder om name te noem – teen oudpres. Jacob Zuma gemik, wat sy Zoeloeskap met trots gedra het, en met ’n Zoeloefikasie-aksie nepotisme tot ongekende hoogtes gevoer het.

Ook Nkosazana Dlamini-Zuma het weens haar openlike gespog dat sy ’n Zoeloe is, hieroor deurgeloop.

In die geval van Ramaphosa is dit algemeen bekend dat hy ’n Venda is. Die Vendas, omtrent ’n half miljoen, is die kleinste volk wie se taal in die grondwet as amptelike taal erken word. Venda is, sover bekend, nie aan enige ander taalgroep in Suid-Afrika verwant nie. Vandag word aanvaar dat Venda verwant is aan Kalanga, wat in dele van Botswana en Zimbabwe gepraat word.

Die kultuur verskil ook aansienlik van dié van ander stamme en volke in Suid-Afrika.

Ramaphosa het egter in Johannesburg grootgeword en skoolgegaan. Hy het wel matriek in Venda geslaag en het aan die Universiteit van die Noorde gestudeer. Hy het later deur UNISA ’n B.Proc-graad behaal. Hy is met dr. Tshepo Motsepe, ’n mediese dokter en suster van die bekende Patrice Motsepe, getroud.

Pres. Ramaphosa, ministers en ander regeringsamptenare tydens ‘n geleentheid in April 2018. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Wat egter minder bekend is, is dat Ramaphosa volgens ’n ryke versameling bronne eintlik ’n Lemba is. Die Lembas, sowat 50 000 in totaal, word as Suid-Afrika se swart Jode beskryf, en glo self dat hulle die afstammelinge van ’n verlore stam van Israel is. Hulle woon hoofsaaklik tussen die Vendas, maar kleiner getalle kom ook onder die Pedi’s en stamme in Mosambiek en Malawi voor. Genetiese toetse wys dat minstens ’n deel van hul voorouers nie van Afrika kom nie, met kleiner persentasies wat uit Europa en byvoorbeeld Indië kom. ’n Beduidende persentasie kom uit Jemen, en berekeninge dui daarop dat die aanvanklike migrante in ongeveer 600 na Christus in Oos-Afrika aangeland het.

Die genetiese toetse ondersteun nie spesifiek ’n Israelse of Joodse herkoms nie, maar wel ’n Semitiese. Talle kultuurgebruike kom egter met die Joodse ooreen, soos om nie varkvleis te eet nie. Hulle beskou hulle glo as meerderwaardig oor die Venda. Die Lembas praat die tale van hul gasheervolke.

Op die oog af lyk dit of die Lembaskap in Ramaphosa se familie by hom doodloop. Trouens, hy word juis as die teenpool van Zuma se tradisionalisme beskou.

Tog lyk dit of daar dalk een los draad kan wees: Ramaphosa se verhouding met Julius Malema kan as vreemd beskryf word. Malema is lid van die Pedi-stam wat ook ’n aantal Lembas huisves. Terwyl daar verbete literatuur-ondersoeke is om te bepaal of Malema ’n Lemba kan wees, is die getuienis wat opgediep word nie oortuigend nie.

Net die tyd sal leer of dit ’n goeie of slegte ding is dat Ramaphosa uit ’n klein stam kom, en waarskynlik uit ’n nog kleiner minderheid binne ’n minderheid.

Ons moet eerder vertrou dat integriteit as die magsbalans wat sy stam bring, sy regeeroptrede sal kenmerk. Soos sake staan, het hy wavragte Zuma-geïnspireerde moeilikheid wat sy bootjie skud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Eish ·

Baie interressante artikel, wat mens met meer vrae as antwoorde laat. Dat herkoms egter steeds n rol speel, kan duidelik uit die aangehaalde voorbeelde afgelei word. Die herkoms van parlementariërs het erg oorgehel na Zulu tydens die Zuma bewind.

Hendrik ·

Wel S.A. was nie tevrede toe ‘n wit minderheid die land regeer het nie. Die wit minderheid sal natuurlik weer sy eie gebied regeer.

Eie gebied ·

Elke volk wat hulself wil regeer moet daardie geleentheid gegee word. Waarom moet ons almal gedruk word in die rigting van een kultuur, een taal en geen geloof? Nee, diversiteit in die wereld moet respekteer word en plaaslike kulture moet seggenskap oor hulself he.

ferdi ·

Ons is veronderstel om in SA almal een eenheid te wees en saam te regeer alle klasse kulture one nasion soos Madiba gese het no verdeel die EFF en ANC asook no di DA die mense

Hendrik ·

Wie se so? As twee wolwe en ‘n skaap besluit wat hul vir middagete gaan kry weet ons almal wat die uitslag gaan wees.

Dromer ·

Dis net n naiewe droom wat amper nerens in die wereld werk nie. Tot in Switserland regeer elkge groep sy eie deel, so ook Kanada ens. Hulle gee ten minste geleentheid dat die groepe hulself kan regeer, stabiele lande dwing nie almal in een pot nie.

Verklaar als ·

Dit verklaar so baie. Baie interessant dat hy Lemba is. Zume self is verseker ook nie heeltemal Zulu nie, gladnie. Sy ligte getaat vertel boekdele. Sal interessant wees om te sien wat sy ander, maklik 30 persent afkoms is.

Rynhardt ·

Ramaphosa wil die paddas kook in warm water!Moet glad nie val vir n gladde prater nie.Sy toespraak op 16Feb.2018 oor grondonteiening spreek boekdele!! So ook sy beklemtoning van radikale transformasie!????????

Padda ·

Hierdie padda gaan uitspring en so ook al my beleggings, besigheid en werksgeleenthede.

Grassie ·

Die Vendas is ‘n bietjie slimmer as die ander stamme en is bv in die myne gebruik as masjienoperateurs en daardie tipes werk. Hulle is egter baie bygelowig en towery, heksery en daardie soort gebruike speel ‘n groot rol in hul kultuur.
Die Lembas se aanspraak dat hulle Israeliete is, is nie uniek aan hulle nie. Dit kom in baie lande voor, onder andere by groepe in Engeland. Ook hier by ons is mense wat glo dat ons Boerevolkie eintlik Israeliete is.

Padda ·

Hierdie padda gaan uitspring en so ook al my beleggings, besigheid en werksgeleenthede.

humor ·

Verklaar alles, jy moet weet z en sy vroue het byna al hul inkomste aan bleikmiddels gespandeer en natuurlik lekkerruikgoedjies, die duurste op die ganse wereldmark.

TDW ·

Dankie vir jou goeie artikels, ek lees alles graag. Hoop dit gaan goed met jou, ek bid gereeld vir jou, vriend, al ken ek jou nie persoonlik nie.

Danie Theron ·

Puik skrywe Herman. Grassie ook vir jou insette. Mense, die selfregeringdroom is net dit. Ons moet net slim wees dan sal die padda nie te warm kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.