Nuuskommentaar: As ek nié gaan stem nie …

Argieffoto

Argieffoto

Met die totstandkoming van Front Nasionaal wat verskeie groepe in ‘n party saamvoeg om aan die komende verkiesing deel te neem, en die protesaksies teen kieserregistrasie in verskeie informele nedersettings, is daar opnuut ‘n debat oor die wenslikheid en / of legitimiteit om te gaan stem. Dié gebeure kom te midde van bespiegelings of die DA heelwat Afrikanerstemme kwyt gaan wees deur onder meer te na-aan die ANC te beweeg, soos deur Tim du Plessis in Rapport onder die loep geneem. Die interessantheid is dat hoewel Media 24 se koerante Front Nasionaal doodverswyg (daar is geen trefslae op enigeen se elektroniese argiewe nie), toon heelwat van Du Plessis se beredenerings ‘n byna woordelikse ooreenkoms met wat op Front Nasionaal se webwerf verskyn.

Maroela het ook reeds in verskeie onlangse nuuskommentare verwys na die skynbare heropkoms van Afrikaner politieke bewustheid, byvoorbeeld Ken jy (nog) die land…? Verhaal van die liedereskat, en Die rol van ras in die SA-politiek.

Front Nasionaal voeg nie net groepe saam waarvan baie in die verlede nie aan verkiesings deelgeneem het nie, dit het ook sy oog op diegene wat gekant is, of was, om te gaan stem. Die wegblyers aan die regterkant se vernaamste rede is dat hulle meen om te stem bied legitimiteit aan die huidige staatkundige bedeling.

Tog “verdamp” die debat oor wegbly van die stembus nie nou nie. Bykans elke Afrikaner wat ‘n oproepe doen op mense om te gaan stem word dadelik in veral die sosiale media gekonfronteer of sleggesê. Kommentators word “links” en “nie juis nasionalisties nie” genoem, om maar enkele voorbeelde te noem.

Inderdaad sal tradisionele wegblyers eerder na dr. Dan Roodt, nou onderleier van Front Nasionaal, luister om te gaan stem as wat na oud-president FW de Klerk of pres. Jacob Zuma, of Helen Zille geluister sal word.

Intussen is sowat sewe mense die afgelope naweek in hegtenis geneem weens beweerde deelname aan ontwrigtende protes teen die registrasieproses. Dit maak deel uit van landswye protesaksies teen dienslewering. Trouens, ‘n hele akademiese debat het ontstaan oor of die ANC eintlik met dienslewering presteer het, soos deur die ANC en die Instituut vir Rasseverhoudinge beweer word, of die teendeel wat uit die jaarlikse slagting van die ouditeur-generaal se verslae blyk, en waarvoor die ANC se kaderbeleid grootliks aanspreeklik gehou word. Trouens, veel was opgesluit in die woorde van Kovsies se kanselier, dr. Khotso Mokhele, tydens ‘n gradeplegtigheid verlede jaar: “Julle (die afgestudeerde studente) moet jul reg op spraakvryheid gebruik om beswaar te maak teen die algemene verval wat julle om julle waarneem.”

Op pragmatiese vlak – beteken een wat wegbly dat daar nou ‘n stem na die ANC gaan, soos wat soms gestel word, en dan betwis word? Daar word inderdaad nie, of in elk geval is daar nie veronderstel om iewers iemand te wees wat self stembriefies het en kruisies vir die ANC trek vir elke wegblyer nie. Maar dit is ook nie heeltemal onwaar dat iemand wat wegbly, tog “vir die ANC stem” nie.

Die geheim lê in die kiesstelsel opgesluit. Dit is ‘n baie eenvoudige proporsionele kiesstelsel. Met 400 setels in die algemene vergadering is dit ‘n baie eenvoudige sommetjie om te weet dat elke kwart persent stemme vir ‘n party ‘n setel waarborg. Ons laat die fynskrif eers daar.

Gestel hipoteties diegene wat teen die ANC stem, maak 25% uit van die kiesers (volgens die jongste peilings gaan dit meer as 40% van die kiesers wees) wat wel gaan stem, dan kry hierdie teenstemme saam ‘n 100 setels. (Die fynskrif kan dit met enkeles na dié of daai kant laat afwyk).

As daardie 25% egter sou besluit om van die stembus weg te bly, beteken dit nie meer dat die ANC 75% van die stemme kry nie, maar 100%, en kry al 400 setels. Die 25% wegblyers het dan in effek vir die ANC gestem.

‘n Stelling wat hiermee verband hou, is “moenie jou stem vermors deur vir ‘n klein party te stem nie.” Dié stelling is die eerste keer deur Marthinus van Schalkwyk, toe leier van die NNP, gemaak. Dit het groot woede van Tony Leon, toe leier van die baie klein DP ontlok. Nie lank hierna nie, is die NNP daarmee heen, en die DA het die groter party geword… en het die DA Van Schalkwyk se stelling oorgeneem, uiteraard tot frustrasie van die Vryheidsfront Plus en ander kleiner partye.

Om te weet of iemand sy stem kan vermors – hetsy deur vir ‘n klein of groot party te stem – moet na die fynskrif van die kiesstelsel gekyk word. Ná al die vol kwotas van ‘n kwart persent stemme aan setels toegeken is, bly daar nog stemme en setels oor, die “res” genoem. Die eerste “res”-setel gaan aan die party met die meeste “res”-stemme, die tweede aan die party met die tweede meeste “res”-stemme, tot al die setels toegeken is. Partye wat reeds vol kwota setels gekry het, en partye wat nie ‘n vol kwart persent kon haal nie, ding almal om hierdie “res”-setels mee. So kan ‘n party wat regtig min stemme gekry het, in beginsel ‘n setel kry. Net so kan ‘n party met vol kwota setel, se “res” aan stemme te min gewees het om ‘n “res” setel te verkry. Dan het daar kiesers hul stemme “gemors” om vir die groter party te stem, terwyl ‘n kieser wat vir die kleiner party gestem het, dalk net die stem opgelewer het wat hom sy neus laat voorkry het.

Eenvoudig gestel, elke stem tel, en ‘n mens kan daardie stem net sowel uitbring vir die party met wie se beleid ‘n mens die meeste saamstem.

Trouens, een stem is nie net dalk die stem wat vir ‘n bykomende setel benodig word nie, dit kan die stem wees wat dan ook vir die party ‘n bykomende setel in die parlement se Nasionale Raad van Provinsies laat kwalifiseer. Daarmee saam verhoog die party se aandeel aan staatsfondse wat partye wat in die parlement of provinsiale wetgewers kry. Daardie stem mag ook die stem wees wat die party vir ‘n bykomende personeellid laat kwalifiseer. So kan ‘n enkele stem veel meer beteken as net een bykomende setel.

Gee die uitbring van ‘n stem legitimiteit aan die huidige bedeling?

Eintlik is dit ‘n irrelevante vraag, want die staat se legitimiteit word onder meer bepaal deur of dit deur die wêreldgemeenskap as staat aanvaar word. Hieroor is geen twyfel nie. Ook die regering word as legitiem aanvaar. Protes deur ‘n wegblystem het dus geen volkeregtelike impak nie. Interne legitimiteit word, soos eksterne legitimiteit, ook by implikasie verwerf, byvoorbeeld deur belasting (selfs onder protes) te betaal. Dit sluit BTW, aksyns op die kankerbalkie en dop, e-tol, brandstofheffing en ander in. En as iemand daarin sou slaag om dit heeltemal te ontduik (hy sal daai geheim teen baie ruim betaling kan sindikateer), is dit byna ondenkbaar dat hy nie iewers die vrug van die belasting benut nie – hoe gemaak om van een dorp na ‘n ander te gaan sonder om die pad te benut (al is dit een met die ene slaggate), of van die huis by die werk te kom sonder om iewers van ‘n straat gebruik te maak?

En het elke wegblyer-dorpsjapie ‘n ‘longdrop’ in die agterplaas om nie van die munisipale rioolstelsel (werkend of nie) of nagwa (ook werkend of nie) gebruik te maak nie?

Kiesers kan nog tot die amptelike aankondiging van die verkiesingsdatum as kiesers registreer. Die amptelike aankondiging word later vandeesmaand verwag. Pres. Jacob Zuma het verlede week bekend gemaak dat die parlementêre en provinsiale verkiesing op 7 Mei plaasvind, maar dit was nie die amptelike aankondiging nie.

Die wegblystem is eintlik net ‘n simboliese gebaar van protes, maar een wat die wegblyer se eie mense in die voet skiet.

Smeer aan en kom (stembus toe), en stem reg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Danie ·

Ek het nog nooit van Front Nasionaal gehoor nie.Dit klink vir my net na n paar ouens wat op n mishoop wil sit en kraai.Ek wonder wat hulle nou eitlik wil bereik.Die VF+ het in die laaste verkiesing net 0,8% van die stemme gekry.As daar nou n party kom en om Afrikaner stemme meeding,gaan hulle net n gedeelte van daardie stemme trek.
Herman,jy noem stem vir die party met wie se beleid jy die meeste saamstem.Goed en wel,maar wat gaan Front Nasionaal se beleid wees?Geen twyfel by my dat dit net so wollerig sal wees,as die VF+ sn nie.Waar daar vaagweg gepraat word van selfbeskikkikg en minderheidsregte .Maar waar geen konkrete voorstelle op die tafel gesit word van hoe die selfbeskking prakties tot uitvoer gebring gaan word nie.
Jou ontleding van hoe setels toegeken word in n proporsionele stelsel is egter in die kol.

Demokraat ·

Die blote feit dat die aartskonserwatis Dan Roodt, die onderleiers is van Front Nasionaal is, bring mee dat die party by voorbaat nie veel werd gaan wees nie buiten dat dit waarskynlik ‘n samevoeging is van al die menigte ver-regse partye en fronte – hoop nie hul spat gou weer uitmekaar nie want hulle dra die kiem van verdeeldheid.

Hul primêre beleid sal sekerlik een wees van selfbeskikking en minderheidsregte – weet nie hoe vêr hulle daarmee gaan kom nie want hulle het nog nooit ‘n goeie basis ontwikkel waarvandaan so ‘n poging geloods kan word nie. Hulle het ook nog nooit bekend gemaak met wie hulle die beleid in ‘n soewereine Suid-Afrika gaan onderhandel nie – sal hulle ooit met die ANC-regering praat want hulle wou nog nooit legitimiteit aan dié regering gee nie.

Voorspoed egter aan Front Nasionaal indien hulle wel ‘n konstruktiewe rol kan speel in die politiek van Suid-Afrika en die land kan verlos uit die kloue van die ANC.

Danie ·

Die hele Front Nasionaal storie bewys net weer die gesegde.As daar 5 Afrikaners op n eiland gestrand word dan stig hule 4 politieke partye en 3 kerke.Die VF+ val die DA aan om stemme te kry.Nou gaan die Front die VF+ aanval om stemme te kry.Ek het n internet soek gaan doen,en ek het dit duidelik waargeneem.Hulle noem Pieter Mulder en Flip Buys allerlei name,waaronder links en dom.Gaan kyk maar.
Waar is die beleid.?Ek vra dit van beide partye?Mense gaan julle nooit steun as daar nie n duidelike en inspirende beleid is nie.Solidariteit ,Afriforum en Helpende Hand inspireer my,ek steun al drie en teken aftrek orders vir al drie.

Slim Daan ·

Die lewensvatbaarheid en eventuele oorlewing van ENIGE party le daarin gesetel om sy partybeleid aan sy jeug te verkoop.
In voeling met lsg. wil dit voorkom die jeug geen urge toon om mee te doen met afgeloop- en argaiese denkrigtings van dit wat primer Afrikaanse ” politieke partye – op die tafel kan sit nie. Word eersgenoemde gepols is dit opmerklik hoe daar grootoog na die moontlikheid van vestings op Mars gekyk word, anders as om ( nogmaals ? ) n laer langs die Oranjerivier te wil oprig. Wie kan hul dit verkwalik ? Die manne ( dogters en seuns ) dink hoofstroom en internasionaal. ( Gaan vra enige 16-jarige of hy hom/haarself as n Winnie, Helen, Jacob, Eugene, Julius, Pieter, Marthinus, Dan of n Mark Shuttleworth wil sien……en ek waarborg jou n antwoord ! ! )
Aktiewe deelname en debat van ouderdomsgroepe ( 18-21 ) word kennelik op hierdie en ander forums gemis. Gedagtig aan die insig en politieke volwassenheid van kommentatore op ondermeer PRAAG ( of skalks ” front ” vir iets nasionaal ? ) – is dit duidelik dat die lesers en deelnemers- profiel van die versugtende lot, enigiets tussen 30-80jr uitmaak. ( Oortuig my nie anders deur n fototjie van n 14- jarige met n rooi ballon voor my kop te gooi nie. )
Dus :
Daar sal deur partye en voornemende partye indringend aandag geskenk moet word om die ” politiek ” in al sy fassette meer ” GROOVY ” vir die jeugleiers van die toekoms – sodanig moontlik te maak. Die geteem van n ouer garde en hul koorleiers wat voortdurend haan op hul eie mishoop wil kraai, gaan ons denkende bloedjies nie verby nie. Daarsonder kan jy maar verwag hul hul oe ( en drome ) op die maan, sterre en Mars sal vestig.

Leana ·

Slim Daan, stem 100% saam met jou ! Waar is ons jeug ?? Eenkant geskuif deur die “ouer en wyser” manne ?? Natuurlik ja, en hoekom……. Pa, Ma Ouma en Oupa leef nogsteeds in die verlede.

Danie ·

Leane,jy is reg.die jeug moet betrokke raak.Dring daarop aan.Dis jul toekoms wat op die spel is.Ek is nie meer jeug nie,maar nog ver van aftrede.Die toekoms behoort aan die jeug,alle ouer mense moet besef dat die toekoms oor hul kinders gaan.Gister is gister,vandag is vandag.

Arnold de Beer ·

Die Nie- saamstaaners, twisgeeste, en doemprofete wat ek hier raak lees, is die Afrikaners wat verantwoordelik gehou moet word vir Afrikanr agteruitgang.
Baie slim stories oor wat nie reg gedoen word nie, maar wat self klaaglik daarin misluk om met ‘n werkbare idee na vore te tree.
Gaan stem gerus vir die ANC, want met julle storietjies steun julle hulle baie mooi.
Geluk aan julle liberale verongeluks resep wat julle toepas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.