Nuuskommentaar: As huisrooftogte moord word – Mita die heldin

herman-toerien-02

Herman Toerien. Foto: Verskaf.

’n Joernalis skryf die nuus, hy maak dit nie. Soms gebeur dit egter dat die nuusman self die onderwerp, weliswaar nie die hoofonderwerp nie, word van ’n sterk nuusstorie. Maar wat as die nuusman ’n voormalige hoof van die aksie vir tussengroepverhoudinge in die provinsie was? Kan hy steeds sy gesindheid reg behou te midde van enorme rasseprovokasie van die regering en Julius Malema? Al is Mita se lewe gedoof, skyn haar lig as voorbeeld.

Mita was 66 jaar oud en kon nie lees of skryf nie. Sy het egter die twee dae per week wat sy by ons gewerk het altyd drawwend en blymoedig deurgegaan, en die huis blinkskoon agtergelaat. Maar Vrydag het huisrowers toegeslaan, en Mita het met haar lewe geboet, terwyl die uwe, baie swak van die kanker en kankerbehandeling, magteloos vasgebind was.

Uit die lesersreaksies op berigte blyk oorweldigend ’n enorme simpatie met Mita en haar naasbestaandes. Mense wat haar dekades lank geken het, skryf met die grootste lof van haar. Haar vriendelike persoonlikheid, lewende Christelike geloof en hardwerkendheid word deurgaans geloof. Vandag blink die hemel se gange, skryf een ná die nuus dat sy aan haar beserings gesterf het.

Tog, daar gaan waarskynlik geen erkenning van owerheidskant wees vir die ooglopende lewe en sterwe van Mita om rasseverhoudinge in die land te verbeter nie. Geen monument gaan vir haar opgerig word nie.

So in skrille kontras met ’n persoon sonder veel formele skoolgeleerdheid wat president van die land geword het. Iemand wat gereeld rasseverhoudinge na die maan gestuur het deur byvoorbeeld na wit mense as “white supremacists” te verwys het, en dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel – die groot leuen volgens die ad hoc-komitee oor eiendomsbesit. Dis boonop ’n persoon wat ’n duisternis aanklagte van bedrog, korrupsie, rampokkery en nog ander die hoof moet bied, maar die kake van die gereg soos ’n opperste Houdini bly ontduik.

Vir hom is ’n monument opgerig en hy kry ’n yslike pensioen.

Mita, soos ons haar ken, sou nie eerbewyse wou gehad het nie. Sy het egter elke meevallertjie wat die lewensomstandighede van haar gesin en familie kon verbeter, met die grootste dankbaarheid ontvang. Met haar dood is haar huismense drie inkomstes kwyt.

Haar monument is die leserskommentare onderaan die berigte. Die algemene indruk uit leserskommentare is dat Mita ’n heldin was, en dat daar die mees opregte simpatie na haar naasbestaandes uitgaan.

Sowat ’n halfmiljoen wit Suid-Afrikaners het die land die afgelope 30 jaar verlaat, en die stroom begin nou rekordgetalle laat tuimel. Misdaad in die land speel bepaald ’n belangrike rol.

Die nuusberigte hieroor kan hier, hier, en hier gelees word. My eie Facebook-inskrywings kan hier gelees word. Die land het nog sommer baie Mitas nodig.

Met die abortiewe Kliptownberaad wat kamma byeengeroep is om rasseverhoudinge in die land te verbeter, het van die deelnemers agterna laat blyk: Ondanks die groot boodskap wat uitgegaan het dat dinge sleg is en gaan versleg, was daar onder die gewone afgevaardigdes duidelik ’n groot poel van goedgesindheid wat hulle laat hoop skep het.

Met die grondgrypplanne sonder vergoeding (wat eufemisties maar erg misleidend “grondhervorming” genoem word), asook Julius Malema en trawante se aanblaas van rassisme, het dit ál minder duidelik geword of hierdie poel van goedgesindheid nog bestaan. Plaasaanvalle en ander geweldsmisdaad soos kapings en huisrooftogte, wat baie dikwels oor rassegrense spoel, help ook nie juis om ’n beeld te skep dat rasseverhoudinge ’n gesonde vlak bereik het nie.

Trouens, in Europa is daar ’n mediadebat of rassisme die nuwe norm geword het.

Daar kan geen twyfel wees dat hierdie misdadigers swaar gestraf moet word nie. In die ou Suid-Afrika was dit ’n erkende verswarende faktor by vonnisopleging as die misdaad oor kleurgrense heen gepleeg is, juis oor die rasvertroebelende uitwerking wat dié soort misdaad het.

As Christen wil ’n mens instinktief dat die kleursituasie nie verder vertroebel wanneer dit aan eie bas gevoel word nie. Ek is ook ’n mens. Jare gelede, kort ná my spiksplinternuwe bakkie gesteel is, is ek tot ouderling verkies, maar ek het dit van die hand gewys omdat ek eers my gemoed moes regkry. Min of meer dieselfde het gebeur ná my destydse huis voor my troue geplunder is, en toe ek ongeveer ’n kwartier lank soos ’n straatskollie langs ’n besige straat moes baklei om my selfoon te behou. Iets wat ironies kort daarna deur ’n sakkeroller by ’n rugbywedstryd “reposess” is.

Die Bybel leer ons moet ons naaste liefhê, maar daar is twee tekste wat vereis dat ons ook ons vyande moet liefhê, en nog tekste dat ons die vreemdelinge in ons poorte moet behandel soos ons self behandel wil word.

’n Redakteur skryf vanoggend in ’n e-pos onder meer: “Ek is stomgeslaan en sukkel om dit te verwerk al is ek afstandgewys ver van julle af. In my hart is ek by julle en ontsettend diep getref deur die gebeure. Ek hoop julle kry die krag om dit te verwerk. En ek hoop veral dat jy, met jou sterk karakter, wysheid en dieper begrip, die dinge mettertyd in perspektief sal kan plaas om die bitterheid wat dit by baie mede-Suid-Afrikaners veroorsaak het, teen te werk.”

Mita se eie mense is sonder verwyte, hoewel hulle bitter hartseer is. Ek is dankbaar dat ek en my gesin ook sonder verwyte is, hoewel ook baie hartseer. Mita se mense het gister om ’n kers by die plek kom bid waar Mita gelê het voor sy met die ambulans weggeneem is. My vrou, wat vlot is in Suid-Sotho, was verstom oor die versoenende aard van die gebede.

’n Afgetrede hoofredaksielid van ’n groot dagblad skryf vanoggend in ’n e-pos: “Ek sien Volksblad het dit die hoofstorie gemaak. Mita se onbaatsugtige heldedaad verdien dit. Tragiese gebeure, maar ’n groot storie waarvan mense oor kleurgrense heen kennis sal neem. Sterkte vir julle!”

As oudverhoudingsbeampte weet ek dat die skep van gesonde tussengroepverhoudinge geen eenvoudige taak is nie. Daar is talle slaggate in horisontale interkulturele kommunikasie ingebou. Ons beleef nou die stremmende uitwerking van uiteenlopende historiese weergawes; sosio-ekonomiese dispariteit, veral as dit deels kultuurveranderd is, is ’n reusestruikelblok. Dit was seker ook nie die briljantste idee om die Verhoudingsaksie kort voor Kodesa te ontbind, en die Vredesekretariaat hopeloos vroegtydig te ontbind nie. Die land was egter, ondanks talle vermanings deur kundiges, vasgevang in die konsep dat alles sou regkom as apartheid net verwyder sou word.

Maar die klein mensies se volgehoue pogings op voetsoolvlak moet eenvoudig daardie poel van goedgesindheid bly voed.

Mag daar nog baie Mitas hul voetspore afdruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Jerry ·

Rus sag en in vrede Mita. Herman, dit is tyd dat Lerato se kommentaar weer inslag vind by my kommentare!

RHG ·

Dis jammer dat dit so ‘n tragedie gekos het om van ‘n mens soos Mita te hoor. Al my simpatie aan al die betrokkenes. Ek hoop haar familie lees al die meelewende boodskappe van gewone mense. Alle sterkte vir jou, Herman.

SANET ·

Mag Sy Gees,julle álmal betrokke, baie Intens en Liefdevol Vertroos…

MOEILIK OM DIÉ GROOT OPDRAG, OM JOU VYANDE ÓÓK LIEF TE HÊ, TE LAAT FUNKSIONEER IN SA,AS JY DIÉ PYN SÉLF BELEEF
Mag Sý Genade, Sý Krag en Sý Liefde ons Deurdra en Staande hou

Anton X ·

Jou verhouding met Mita is ‘n goeie voorbeeld van hoe dinge in meeste families werk. Nie net nou nie, maar tot ver in die verlede. Ek onthou soos gister hoe ek met Piet wat op ons hoewe gewerk het, groot geword het. Daar was respek aan beide kante.
Ongelukkig dink ek daar is ‘n paar mense wat baat vind by diep rassekonflik.
Ons moet hulle “name and shame”. Veral die wat die geskiedenis verdraai om hul agenda te pas.
Sterkte vir julle. Mag God julle seen in hierdie tyd.

Ryan ·

Ek het haar nie geken nie, maar my hart bloei vir haar. Nes sy, is daar baie wat moes betaal vir blank wees en gedurende die apartheidsjare leef met haar lewe. Ek is moedeloos verby, ek weet regtig nie hoe gemaak nie. As jong pa maak ek my kinders groot om eendag hopenlik soos ‘n Mita te wees. Maar die vrees dat hul eendag iets soortgelyks oorkom is vêr groter as die byl wat permanent bokant my kop hang, dat die kanker enige oomblik kan terugkeer. Ek is ontsettend bitter, dit is so onregverdig. So’ n mooi lewe kort geknip, en vir wat.. My gebede is met julle.

Nadia ·

Maroela Media – ek hoop my kommentaar word geplaas. Mag die Here geregtigheid laat geskiet en die moordenaars gevang word… ek sal verkies die dood straf maar nou is dit nie meer hier nie so mag hulle lewens lank kry!

Pieter ·

Baie dankie vir jou berig, Herman – dit raak ons elkeen en verdien almal se respek, veral in die lig van jou en julle persoonlike omstandighede. Ek deel julle hartseer, asook dié van Mita se naasbestaandes – ons het nie hierdie ervarings in ons mooi land nodig nie… Mag hierdie verhaal van die mens, Mita, almal weer laat besin oor hulle eie gesindhede. Met wedersydse respek oor kultuurgrense heen, kan ons soveel bereik. Laat ons elkeen ‘n voorbeeld vir ander wees, selfs al lyk dinge hoe donker… laat ons met vertroue Christus se voorbeeld navolg, al is dit hoe moeilik… Net ‘n gedagte, Herman: Sal dit nie van waarde wees om jou berig ook in Engels (selfs in ander tale) te vertaal/laat vertaal en so wyd moontlik plaaslik en internationaal te versprei nie? Baie sterkte met jou gesondheid en verwerking van hierdie voorval – julle bly in ons harte en gebede…

Nadia ·

Mita, baie dankie dat jy soveel mense angeraak het dankie dat jy op jou ouderdom nog vir Oom Herman gewerk, gehelp het. Ek bid vir jou famielie en mense in die tyd. Ek het regtig gehoop ek gaan lees jy het Herstel, nou gaan jy rus. Oom Herman dankie dat julle lief is vir haar. Ek bid vir almal. R.I.V pu girl… gaan maak so groot spoor in die hemel soos jy op aarde gelos het. Maroela Media – Post asb my goed!!!!!!!!!!!

Nelia van Zyl ·

Ongelooflik-aangrypend. My hart en hele menswees gaan uit na julle en na Mita se geliefdes. Mag God ons almal in hierdie land genadig wees.

Mellie ·

Ai, ai, ai!! Op vandag se voorblad van ‘Volksblad’ pryk n pragfoto van Mita en ek huil onbeskaamd oor dié ‘Mama’ wat heelwaarskynlik met haar Skepper se naam op haar lippe gesterf het. Ek salueer jou liewe Mita – rus in vrede.

Johanna ·

Rus sag liewe Mita. Mag die Here Sy Hand hou oor jou mense wat agtergebly het. Hoe onregverdig is dit nie. Hoe vernietigend is die misdaad in ons land.

Blaarman ·

Die moord was sinneloos. Die einde tragies. Maar haar lewe en opoffering besonders vol betekenis.

Rus in vrede, mooi siel.

Anoniem ·

Dit is net lafaards wat so ‘n goeie mens uithaal – shame on you

Johann M van Heerden ·

Ons land het in totale anargie verval. Die bewindshebbers het nie die vermoe om die land te bestuur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.