Nuuskommentaar: As hy praat soos ʼn Nazi en maak soos ʼn Nazi …

EFF-lede betoog vroeër voor Clicks in die Menlyn-winkelsentrum in Pretoria (Foto: EFF/ Twitter)

Die EFF het vandeesweek in volle Naziïsme met geweld en morele meerderwaardigheid op private burgers en hul private aangeleenthede neergedaal. Hy het met sy optrede in Brackenfell bevestig dat geen burger sommer net kan assosieer met wie hy wil nie – die EFF sal as die finale arbiter optree om vas te stel of mense se vriendekringe divers genoeg is.

Dít is egter net op minderhede van toepassing. ʼn Volledig swart vriendekring is vanselfsprekend nie rassisties nie, waar ʼn vriendekring wat net uit minderhede bestaan onderdrukkend, meerderwaardig en rassisties is.

Vanuit hierdie morele hoë grond het die EFF aan homself die mag toegeëien om te bepaal of onskuldige matriekleerders skool toe mag gaan of nie. Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, het bevestig dat kinders nie toegang tot onderwys mag kry nie as die EFF beslis het dié onderwys is rassisties. Sonder enige bewyse of wetlike bevoegdheid sal die EFF die septer swaai soos hy wil.

Die oomblik dat die EFF jou brandmerk as rassis, sal jy dié ewige smet dra – of jy nou skuldig is of nie.

In reaksie op die EFF se rasse-militantheid was die DA een van die min rolspelers wat bereid was om te sê wat die EFF werklik is – Nazi’s. Hierdie kritiek is natuurlik met groot ontsteltenis ontvang, sonder om ooit die meriete daarvan te ondersoek.

Pres. Cyril Ramaphosa het ook bevestig dat klagtes van rassisme by die skool onmiddellik ondersoek moet word.

Die feit van die saak is dat EFF-lede is. Hulle is openlike fasciste wat minderhede uit die samelewing wil werk ten einde ʼn allesomvattende sosialistiese staat van swart nasionalisme te vorm. Die EFF verag minderhede en sien ons regtig as diewe wat grond, welvaart, waardigheid en mag by swart mense gesteel het. Sodoende wil hy alles in sy vermoë doen om dit te neem – indien geweld nodig is, is hy ook gemaklik daarmee.

Die EFF staan ʼn volledige kommunistiese staat voor. Dit het lank reeds duidelik geword in sy oogmerke om alle eiendom in die land onder die staat se kuratorskap te plaas. Hy wil self kan bepaal wie wat besit. Hy wil ook kan bepaal wie verdien wat. Sy aanslag is “van elkeen volgens sy vermoë en, vir elkeen volgens sy behoeftes”.

Verder was die EFF nog altyd ʼn voorstander van die Pan-Afrikanistiese idee van swart mense wat oor die vasteland in hul swartheid verenig. Die nasionalisme wat die EFF voorstaan, is daarom nie een van ʼn spesifieke kultuurgroep nie, maar eerder net een van swart mense wat deur die staat bevoordeel word.

Mense raak Maandag slaags buite die Hoërskool Brackenfell in Kaapstad. (Foto: ANA)

Die EFF se openlike kommunisme tesame met die harde rasse-agenda van Pan-Afrikanisme wat hy voorstaan, kom uiteindelik neer op iets vergelykbaar met Naziïsme. Dit is daarom eintlik heel gepas om die EFF Nazi’s te noem.

Die EFF se strategie is om sy ras in ʼn wapen te verander. Hy wil ʼn samelewing skep waarin hy kan doen wat hy wil en dit regverdig met sy swart-status. Sodoende wil hy “swartheid” as regverdiging vir byna énigiets gebruik. Hy mag apteke met petrolbomme bestook omdat hy beledig voel. Hy mag kinders van hul reg op onderwys ontneem omdat hy ʼn uitgesluite swart mens is. Hy mag vir die (moontlik toekomstige) slagting van wit mense roep omdat hy ʼn onderdrukte swart mens is.

Die instellings en teenwigte in ons land het so polities korrek geword dat hulle ook nie meer weet hoe om die EFF en Malema se optrede teen te staan nie. Verlede jaar het die Menseregtekommissie (MRK) Malema vrygespreek van sy stelling dat die EFF nie vir die slagting van wit mense vra nie – ten minste nie nou nie. In die verduideliking van dié vryspraak het dr. Shanelle van der Berg van die MRK opgemerk hoe “weerlose” groepe in die land veilige ruimtes gegun moet word om hul frustrasies uit te druk. Sodoende moet ons eintlik vir swart mense hierdie veilige ruimtes gun waarin hulle met haatspraak van hul frustrasies ontslae kan raak. Dit is ondenkbaar dat ʼn instelling soos die MRK ooit so ʼn uitspraak sal maak waarin hy hierdie “veilige ruimtes” vir minderhede se haatspraak beskerm.

Weens die hoofstroommedia en kommentariaat se onhoudbare politieke korrektheid weet hulle nie hoe om die EFF te hanteer nie. Dit wat die EFF doen en sê, is baie duidelik moreel afskuwelik. Tog kan die media dit nie hardop sê nie omdat die EFF swart is. Hulle is so ongelooflik bang om self as rassiste uitgekryt te word dat hulle net nie bereid is om die EFF openlik te veroordeel nie. Hierdie onvermoë om die EFF te veroordeel gee die party eintlik al die morele en politieke mag wat hy benodig om sy militante agenda te bedryf.

Sodoende is die DA se uitsprake met skok ontvang – nie omdat hy verkeerd is nie, maar eerder omdat die media nie bereid is om die werklikheid te erken nie. Die werklikheid is bloot dat die EFF praat soos Nazi’s en optree soos Nazi’s – daarom is dit veilig om te sê dat hulle wesenlik Nazi’s is.

Die voordeel wat ons het, is dat daar ʼn reusegaping tussen die EFF se idees en sy vermoëns is. Tans is die EFF eintlik glad nie in ʼn noemenswaardige magsposisie nie. Ten spyte van dit wat hy dalk glo, is die EFF ook heeltemal te radikaal vir ons land. Gewone mense in Suid-Afrika is eintlik baie konserwatief en kan hulle bloot nie in massas met die EFF vereenselwig nie. Die party het in verlede jaar se nasionale verkiesing slegter gevaar as wat hy moes en wou – en dit is seker die bes moontlike aanduiding daarvan dat die EFF waarskynlik sy kruin bereik het.

Die EFF het net soveel mag as wat ons hom gee. Hy het waarskynlik reeds die perke van sy  “demokratiese” mag in die vorm van steun bereik. Dit is belangrik dat ons ook die mag van sy idees begin inperk deur die party te hanteer soos die Nazi-groep wat hy is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Pitbul ·

Stem een honder persent saam. Asook een puik artikel wat geskryf was. Wys hulle ware klere en dit kan net deur die media geskied.

JohanR ·

Ek is ‘n Afrikaner, my ouers was Afrikaners, hulle ouers was Afrikaners, die ouma en oupagrootjies was Afrikaners en party het die Engelse se konsentrasiekampe oorleef. Soe as ek iemand nooi vir ete dan is hulle Afrikaners, of hulle is vriende, of werk kollegas van alle rasse en velkleure. Ek sal nie voorgeskryf word wie by my eet tafel mag sit, of nie sit nie veral nie deur die Nazi ANC en EFF nie.

JM ·

Uitstekende beskrywing! Dit is presies wat die EFF is! Wie de hel dink die EFF is hulle om te wil maak en breek – soos hooligans – en verwag mense moet bang wees en hul monde hou? Dat hulle die vermetelheid het om te dink dat hulle onaantasbaar is?

DanieB ·

Baie goed gestel. Wie sal tog by my wil kom eet of partytjie hou as hul ongemaklik gaan voel soos krieket spelers genoem het?

Flamink ·

Kon dit nie beter gesê het nie. Dis net jammer dat selfs al skree jy die waarheid vanaf die bergtoppe, val dit op dowe ore. Of eerder, tipies van SA, word dit toegesmeer met watookal blatante nonsens ons blinde, dowe (maar alles behalwe stomme) regering volgende kan uit dink om sulke gedrag mee te regverdig.

Adam Adriaan ·

Puik artikel. Die ANC met CR verskil geensins van die EFF nie. CR en sy aanhangers speel hulle kaarte net beter, asof hulle in ‘n dobbelhuis is. Hy wys net so nou en dan, sodra hulle vordering gemaak het. Praat nie baie nie; maar in die mou voer hulle die linkse sosialistiese beleid en idees, met raadgewers wat nooit ontbloot sal word nie. Selfde as die NWO drywers, wat hulle finger in elke land in die wêred se pie het. Dit wat ons mee te doen het is meedoonloos/aanhousend en sonder stop. Our People word so gebreinspoel dat hull niks agterkom nie.

Stefan ·

So lank as ‘ons regering’ dit eff toelaat om so aan te gaan sal hulle so aangaan.
Watter werkgewer wil so’n mens ‘n job aanbied, maar nou mag jy natuirlik nie diskrimineer teen ‘n beweging soos die eff nie, dus vir alle sekerheid bly almal dan maar sonder job, kan mos nie die kans vat nie.

Nie Verbaas ·

EFF wys telkens hul intelligensie deur hulle optrede. Trappe van vergelyking se vorme van dom sal n vierde vlak moet bykry.

agnes ·

EFF is die grootste rassiste en terroriste en behoord verban te word in ons land. Dis altyd hulle wat molest maak

Bertus ·

‘n Verdere probleem is dat beriggewing oor die gebeure nie objektief nie. Die aand na die voorval is in beriggewing bitter min indien enige verwysing na ‘n privaat funksie gegee. Verder gaan die Regering nou transfirmasie by die skool ondersoek. Geld die etiek van joernaliste om akkuraat te berig nie meer nie. Kom my voor of sekere Suid-Afrikaners meer gelyk is as ander.

Lian ·

Die EFF se stilswye oor die debakel by ‘n onlangse netbaltoernooi oor kwotas bevestig net die motiewe van die EFF. Onthou ook dis verkiesingstyd en hulle wil hul party adverteer en enig publisiteit is goeie publisiteit. Ek dink die effektiefste manier om hulle te neutraliseer is om berigte oor hulle te sensor

Hoekom ·

Selfs hulle slogan “OUR land and jobs now” en politieke doelwitte, stem ooreen met die van die Nazi’s(Van dit kan vergelyk word met ANC doelwitte ook):

“The Jews are our misfortune.” – Die Juden sind unser Unglück.
“German struggle for existence.” – Daseinskampf.
“The settling of accounts with the Jews.” – Abrechnung mit den Juden.
“Resettlement.” – Absiedlung.
“Race classification.” – Abstammungsnachweis.
“The process of making something “Aryan” through the seizure of Jewish property in favour of a non-Jewish German.” – Arisierung.
“Bound to the soil.” – Bodengebunden.
“Freeing things from all forms of Jewish influence, or the removal of Jews entirely.” – Entjudung.
“The restructuring of German society and government into streamlined, centralized hierarchies of power, with the intention of gaining total control and co-ordination of all aspects of society.” – Gleichschaltung.

Die lys kan eindeloos aangaan…

Dries ·

Ek het meer respek vir Malema as vir Ramaphosa. Malema draai nie doekies om dat hy ons haat nie hy is eerlik. Ramaphosa haat ons en steek dit weg. Hy maak asof hy ons goed gesind is

christo ·

Die EFF is niks anders as die ANC se jeugliga nie. Húlle het nie die intellektuele vermoëns om ‘n volwasse politieke party te word nie. Het die EFF enige bewys van iets konstruktief wat hulle gedoen het? Die antwoord is nee, destruktief wel.
Ek wonder of Bheki Cele ‘n direkte opdrag van Ramaphosa gekry het om níe teen die EFF op te tree nie, maak nie saak watter verwoesting hulle saai nie?

Danie ·

Spyker op die kop, jou doring Minica.
Die laaste paragraaf van die berig is ‘n baie belangrike punt om te onthou vir die toekoms.
Deur alle gematigdes.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.