Nuuskommentaar: As jy ʼn volk wil oorwin …

Argieffoto

Argieffoto

Steek daar meer as net ’n gespot in die verdraaide “Chinese wysheid”?: “As jy ’n volk wil oorwin, leer hom net lees en skryf, dan is dit nie lank nie of hy administreer homself dood.”

Hoe anders verklaar ’n mens die stringe werklikheidsvreemde wetgewing wat ons regeringslui voorstel? Onder die jongstes is voorgestelde wetgewing om die spoedbeperking in bewoonde gebiede tot 40 kilometer per uur te verlaag. Kort tevore was daar voorstelle oor perke op grondbesit – wat iewers agter ’n lessenaar uitgebroei is en geen, maar geen kennis geneem het van die kundige insette uit die bedryf nie, en boonop teruggegaan het op ondernemings van die minister self.

Talle ondernemings trek noustrop omdat dit ’n gesukkel afgee om geld wat die staat aan hulle verskuldig is vir dienste gelewer uit die staat te kry. Wurg die staat te hard, dan is toekomstige kontrakte daarmee heen.

Die vreemde is dat enorme burokrasie gewoonlik gevolg het op die inwerkingstelling van die leerstellinge van juis die persoon wat vir sy wyse spreuke bekend staan, Confucius.

Wanneer ’n amptenary te veel deur ondoeltreffendheid en korrupsie gery word, is hulle periodiek in die Chinese geskiedenis in die leringe van Confucius onderlê. Ironies word Chinese staatsdienste wat op die leerstellinge van Confucius geskoei was, juis met versmorende burokrasie verbind.

In ’n hoofartikel, “Sit die diens terug in die staatsdiens”, skryf Die Burger vanoggend onder meer soos volg: “In ’n ideale wêreld is die staatsdiens ’n groep openbare dienaars – mense wat deur die belastingbetalers van die land gefinansier word om aan alle inwoners die nodige dienste te lewer om ’n vrugbare, veilige en gelukkige lewe te lei. Ideaal gesproke is mense wat hulle by die staatsdiens aansluit mense met ’n diensmotief. Hulle word aangespoor deur die begeerte om aan hul mede-inwoners ’n doeltreffende diens te lewer. Hulle besef die verantwoordelikheid om mede-inwoners se swaarverdiende belasting produktief te bestee.”

Die “wêreld”, volgens Zuma, is egter geen ideale wêreld nie. Die staatsdiens, semi-staatsinstellings en munisipale amptenary is primêr afsetpunte vir die ontplooiing van lojale kaders. En al sê die regering wat, die vermoë om hul werk te doen, is toevallige bysake. Dat die Grondwet kaderontplooiing verbied op die skaal waarin dit toegepas word, is ’n bysaak. Werklike bestuurders word deur administratiewe burokrate vervang, met dikwels die verlies aan die nodige strategiese fokus van waarheen ’n komponent onderweg is.

Te oordeel na Suid-Afrika se “normale” kreeftegang op die korrupsiepersepsie- en veral omkoopindeks bestee te veel amptenare hul tyd daaraan om swak plekke te identifiseer waar korrupsie gepleeg kan word. In ’n stadium is sekere van Bloemfontein se woongebiede behoorlik deur riool oorstroom omdat werktyd deur “lunch breaks” en soortgelyk opgeneem is sodat die werk nauurs en teen oortydvergoeding gedoen kon word. As die pyp die Maandag verstop het, was dit ’n lang, lang week tot die Saterdag of Sondag om verligting te kry.

En dan verstop die pyp weer die Maandag …

Natuurlik is dit geen oproep dat mense nié geleer word om te lees en skryf nie. Maar skoolgaan moet ook meer wees as worsmasjiene waar die pikkies eenkant ingaan, en sertifikate en onderskeidings anderkant uitkom.

’n Waardegedrewe opvoeding is van die uiterste belang, maar dan kan skole ook nie plekke wees waar belhamels die skool of tersiêre inrigting se “kultuur” bepaal, en leerkragte en dosente in vrees leef en werk nie. Of die skoolhoof eers skuins voor tjailatyd by die skool aangesit kom nie.

Dit is goed en wel om te sê die waardes en norme moet van die gesinne af kom. Maar hoe lyk baie gesinne in werklikheid?

Die Burger vervat: “Meestal ontaard staatsdienste in onbeweeglike stukke burokrasie wat flinke diens en entrepreneursinisiatief smoor. In Suid-Afrika se geval het die ANC-regering toegelaat dat die staatsdiens verval tot ’n verpolitiseerde remskoen wat boonop heeltemal te groot is in verhouding tot die gebrekkige diens wat dit lewer.”

Natuurlik is daar die amptenare wat hul werk met trots wil doen. Ons tref hulle oral in ons gemeenskappe aan – in ons Bybelstudiegroepe, in ons verenigingslewe; maar ongelukkig ook te veel in dokters se spreekkamers en by sielkundiges, psigiaters en by pastorale beraders, want daardie mense is gewoonlik onder enorme druk. Óf al die werk word op hulle afgelaai, óf juis van hulle weerhou omdat dit die pleeg van korrupsie so vergemaklik. In daardie soort opset is werksetiek ’n enorme struikelblok, en bekwaamheid ’n selfkastydende sweep omdat die blote reg doen van die werk die ander laat sleg lyk en die “skuldige” word gou as rassis gebrandmerk. Dikwels staan hul velkleur egter vierkant in die pad van enige bevorderingsvooruitsigte.

En gelukkig gaan dit nie oral in die staatsdiens so nie.

Om dinge reg te ruk?

Ministers moet besef hulle het ’n verantwoordbaarheid eerstens aan die belastingbetalers.

Die land kan nie selfverterende burokrasieë bekostig, waar byvoorbeeld ’n reusagtige selfdienende en oorgewig departement van verdediging net een soldaat (hopelik fiks en gesond) behoorlik logistieke ondersteuning op die front het nie. Om ’n massiewe burokrasie te hê waar daar amper meer verlofbeamptes as onderwysers in die klaskamer is – laat staan nog amptenare wat hulle heeltyds met ander administratiewe take besig hou – en waarbinne verslae en vorms “ingesluk” word, is benouend. Min dinge werk so demoraliserend vir die hardwerkende beampte “op die front” as om oor iets noodsaakliks met hoofkantoor in verbinding te wil tree en te besef hy kan nie gehelp word nie, want daar is al weer ’n kantoorpartytjie, of die personeel het weens hul “harde werk” afgekry. (Of deesdae, hulle is vir ’n spanbousessie Sun City toe.)

Die probleem met die baie padongelukke is nie gebrekkige wette nie, maar gebrekkige toepassing. Daar is byvoorbeeld ’n enorme verskil in pro rata aantal bestuurders wat in verskillende provinsies vir dronkbestuur aangekeer word. Dat mense nie soseer per provinsie minder of meer drink en bestuur nie, blyk daaruit dat die sterftesyfer op die paaie dikwels pro rata die hoogste is juis in die provinsies waar die minste mense vir dronkbestuur aangekeer word. Die probleem is dat daar in sommige provinsies te min proaktiewe aksie op die “front” is, en dronkbestuurders dikwels eers aangekeer word wanneer hulle klaar in ’n ongeluk betrokke was.

As daar te selde wetstoepassing is om te keer dat mense vinniger as 60 ry, wat is die kanse dat gebrekkige wetstoepassing sal keer dat mense vinniger as 40 sal ry? Veral as die motors gerat is om teen 60 kilometer per uur die mees ekonomiese brandstofverbruik te lewer?

Die Groei-en-Ontwikkelingsplan is skaars met groot fanfare aangekondig, of min. Rob Davies se departement kom met voorgestelde wetgewing oor informele en kleinhandelaars wat regulering verhoog (en die reguleringsfunksie boonop in die hande van die disfunksionele munisipaliteite plaas) en wat die ontwikkelingsplan netjies deur die voet skiet.

Die “behoefte” aan oorregulering is nie eie aan sosialisme of kommunisme nie; ook in die VSA word die wetboeke wat regulering instel feitlik elke dag dikker – en dit het boonop onder pres. Barack Obama se termyne versnel lynreg in stryd met sy verkiesingsbeloftes.

In Suid-Afrika, waar deregulering gereeld gepredik word maar burokrate toesien dat die teenoorgestelde gebeur en die versmoring van die publiek toeneem, is dit ironies dat die regering hom min steur aan die Grondwet, soos die taalbepalings en die feit dat kaderontplooiing slegs “in ’n mate” toelaatbaar is (bedoelende volgens konvensie dat ministers DG’s kan aanstel wie se politiek belyn is).

Die geringste uitvoerende handeling word strafbaar gemaak, maar buite is dit leeuwêreld met ’n baie hoë moordkoers, is die land die verkragtinghoofsetel van die wêreld en die hande min om plaasaanvallers vas te trek.

Vat eers op die regte plekke vas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lindie Lourens ·

Herman, jy slaan telkemale die spyker so op sy kop. As die wetmakers net hierdie inligting wil lees en verstaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.