Nuuskommentaar: As kommissies eers struikel

Onrus in Marikana, Augustus 2012

Onrus in Marikana, Augustus 2012

Die verslag van die Farlam-kommissie van ondersoek na die Marikana-skietery is skaars bekend gemaak, of kritiek reën daarop. Ook die DA praat van tekortkominge. Hofsake gaan klaarblyklik volg waarin van die feite en bevindinge in siviele eise betwis gaan word en waar die howe inderdaad tot ander gevolgtrekkings kan kom.

Dit wat die oë die meeste laat rek is, soos die SAUK dit stel, die uitvoerende gesag wat “vrygespreek” word.

Die verslag is meer as 600 bladsye lank en dit is ondenkbaar dat ʼn substandaardproduk onder regter Farlam se handtekening sou uitgaan. Vooraf is dit ook as hoogs onwaarskynlik beskryf dat die politici die verslag voor finale bekendmaking sou dokter.

Nie dat so iets nog nie gebeur het nie. Daar is steeds ongedurigheid oor voormalige pres. Thabo Mbeki se “redigering” van regter Heath se verslag oor die wapenskandaal.

Ook regter Willie Seriti se uitlatings en optredes laat meer die indruk van toesmeerdery as ondersoeke om agter die kap van die byl te kom. Getuies is erg gestriem oor sogenaamde ongetoetste bewerings, terwyl die kommissie en nie die getuies nie, oor die mannekrag en wetlike bevoegdhede vir ondersoeke beskik.

Nou wat het met die Marikana-verslag gebeur? Hoe kan die destydse verantwoordelike minister, Susan Shabangu, se uitdagende en minagtende optrede teenoor AMCU haar van aandadigheid vryspreek?

Was die regering se intelligensie oor die bedreiging werklik so swak, of het die politici besluit watter intelligensie hulle glo en watter nie?

Hierdie vrae vereis dat mens ʼn bietjie terugsit, die verslag behoorlik bestudeer en ʼn bietjie kyk na ontledings.

Twee sake staan uit. Die eerste is dat ʼn mens nie AMCU se eie rol moet miskyk nie. Die land het omvattende arbeidswetgewing wat redelike groot beweegruimte aan vakbonde gee. AMCU het baie beslis nie sy wedstryd op die speelveld gespeel nie. Ja, dikwels weens provokasie van ʼn regime wat hom as onbeduidend wou afmaak. Maar AMCU hét nie volgens die reëls gespeel nie.

Die tweede is dat Suid-Afrika sedert FW de Klerk se bewindsaanvaarding ʼn baie sterk juridiese verabsolutering ondergaan het. Poste wat voorheen toeganklik vir byvoorbeeld knap gegradueerde ondersoekers was, is nou dikwels uitsluitlik beskikbaar vir regsgeleerdes – wat nie noodwendig ook goeie ondersoekers is nie.

Verskeie grondwetlike kommissies en liggame haak letterlik vas as die ondersoekers nie die feite met ʼn lepeltjie gevoer word nie. En sonder ondersoekvaardighede verdamp die voordeel van grondvlak-regsontleding. Dit is goed en dikwels noodsaaklik, dat ʼn saak deur die regsbril bekyk moet word. Maar in die arbeidswese en onderliggende faktore moet die sosiologiese en antropologiese realiteite behoorlik verreken word.

Slegs die tyd sal leer of die Marikana-kommissie ʼn engheid te bowe kan kom.

Foute, of vermeende foute, in kommissieverslae het die geneigdheid om lank daarna te kom spook – byvoorbeeld ondersoeke na lugrampe in Suid-Afrika, selfs so lank terug as pres. Samora Machel se dood in die destydse Oos-Transvaal en die Rietbok wat in die see by Port Elizabeth neergestort het.

Die Marikana-saak gaan volgens die huidige aanduidings intensief in die howe getoets word. Daar sal besliste pogings tot diskreditering wees, onder meer om seker politici te laat pa staan vir hul doen en late in hierdie saak.

Daar bestaan geen twyfel nie dat daar tans ʼn groot afwesigheid by politici is om verantwoordelikheid te aanvaar en selfs enige verantwoordelikheid te toon. Uit hierdie tragedie kan egter ook positiewe gevolge gebore word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

henk ·

Dis logies dat die kommissies in ‘n klug ontaard het! Wie stel hulle aan en wie besluit wat gese word en wat nie?
En daar het jy die antwoord…..

Marissa ·

Ja, dit is skop teen donderweer, as jy kan moet jy emigreer…!!

Nico ·

Ek wil nie die regering se optrede verdedig nie, maar is daar dieselfde moeite gedoen om ‘m ondersoek te gelas na die moorde deur die stakers. Daar was logies ‘n gevoel van “trigger happy” deur die polisie na die stakers geweldadig geraak het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.