Nuuskommentaar: As Obama en Madiba ontmoet

Nelson Mandela en Barack Obama

Op die vooraand van pres. Barack Obama se besoek aan Suid-Afrika en moontlik aan oud-president Nelson Mandela, skryf die Christian Science Monitor soos volg oor Madiba se woorde kort na sy vrylating: “I stand here before you not as a prophet but as a humble servant of you, the people. Your tireless and heroic sacrifices have made it possible for me to be here today. I therefore place the remaining years of my life in your hands.”

Nou, so lyk dit, is Madiba se lewe inderdaad in die hande van mense…

Dit lyk al hoe meer waarskynlik dat Obama – die VSA se eerste swart president –  vanaand ‘n besoek aan sy held, Mandela – Suid-Afrika se eerste swart president – sal bring.

In die oorsese pers is ‘n wye opvatting dat Madiba juis om hierdie rede kunsmatig aan die lewe gehou word. Media-mededelings van familielede dat die bejaarde Mandela nog op mededelings reageer, word openlik bevraagteken – moontlik die prys daarvan dat politici wat nou nie juis ‘n reputasie van geloofwaardigheid opgebou het nie, eerder as die dokters wat Madiba behandel, die woord voer.

Ongeag of Mandela enige bewustheid sal hê van Obama se besoek of nie, so ‘n besoek word as simbolies baie belangrik beskou – veral vir Obama se aanhangers.

Obama is internasionaal en tuis onder groot druk. Onthullings oor Amerikaanse spioenasie het, minstens amptelik, tot protes van selfs die getrouste bondgenote gelei. Van Rusland tot Duitsland, van Turkye tot Suid-Afrika, het amptelik protes aangeteken en op verduidelikings aangedring. Binne die VSA is geen oorweldigende aandrang dat die mense wat sake uitgelap het, van verraad aangekla moet word nie. Pas het ‘n Amerikaanse generaal glo inligting gelek oor ‘n spesiaal-ontwerpte rekenaarvirus wat Iran se kernverrykingsproses kan saboteer. Obama se persoonlike gewildheid het volgens peilings met tussen 5% en 10% gedaal.

In die VSA val dit boonop saam met ‘n verdieping in die spanning tussen die Demokratiese Party en die Republikeinse Party. Dié ongelukkigheid hou grootliks verband met die president se persoonlike voorkeure oor kwessies soos aborsies, gay huwelike en die gesondheidsplan. Die Demokrate se keerwerk om die Republikeine se veldtog om aborsies na 20 weke swangerskap te laat verbied, soos om die debat in Texas se senaat tot na twaalf die nag uit te rek en so die stemming ongeldig te maak, sweep emosies op. Twintig weke word as die beginpunt beskou waar die baba pyn kan ervaar. Die media wat Obama steun, duik in geloofwaardigheid.

Presies hoe diep die emosies loop blyk daaruit dat volgens die jongste Rasmussen-peiling, 36% van Obama se ondersteuners die politieke drukgroep, die Tea Party wat veral die Republikeinse Party probeer rig, as die land se grootste terreurbedreiging beskou.

In Afrika word Obama ook verkwalik omdat hy nou eers, ‘n ent weg in sy tweede termyn, sy tweede besoek aan Afrika suid van die Sahara bring. Hy het kort na hy die eerste keer verkies is, ‘n blitsbesoek aan Ghana gebring, en nou sluit sy tweede besoek Senegal, Suid-Afrika en Tanzanië in.

In terme van standaard-Amerikaanse protokol vir ampsbesoeke deur hul president kwalifiseer Suid-Afrika nie vir ‘n besoek nie. Suid-Afrika boer bitter vinnig op die internasionale persvryheids- en korrupsiepersepsie-indekse agteruit, en dit is kwalik iets wat die VSA simbolies met ‘n ampsbesoek wil beloon. Al manier om dit by die Amerikaanse beleid te laat “verbykom” is om dit as ‘n soort “pelgrimstog” na Madiba aan te bied.

Obama self het sy gretigheid om ‘n besoek aan Mandela te bring laat blyk deur te sê hy laat die keuse daaroor oor aan die familie.

Intussen neem berigte dat Mandela reeds enkele dae gelede gesterf het, en bloot deur masjiene aan die gang gehou word, toe. Omdat die dokters nie self toegelaat word om te praat nie, en die politici wat as woordvoerders optree nie veel geloofwaardigheid het nie, doen allerlei gerugte die rondte. Die inligting wat deur die presidensie bekend gemaak word, kan medies-gesproke op verskillende maniere vertolk word, selfs al is die inligting heeltemal korrek. Wanneer joernaliste meer saakmakende vrae vra wat ‘n duideliker beeld sou verskaf, word dit ook afgemaak met “ek is nie ‘n mediese dokter nie”. Die gevolg is dat die land en die wêreld nie weet nie.

Boonop word sake baie deur emosionele familie-uitsprake, asook tradisionele gebruike gekompliseer. Presies wanneer gaan die voorvaders tevrede wees dat die masjiene afgeskakel word, en wie moet almal eers kom groet?

Ongelukkig lei die afwesigheid daarvan dat die dokters self sê wat die situasie is daartoe dat ‘n wye persepsie ontstaan dat Mandela selfs nou as speelbal vir politieke doeleindes gebruik word. Onder die huidige omstandighede is dit kwalik denkbaar dat Obama tydens sy besoek die verwagte “winde van verandering-toespraak” sal kan afsteek omdat hy sodoende die “heilige oomblik” van die land, en eintlik die wêreld sal skend.

Dit bied aan Zuma die geleentheid om statuur te win, wat met die oog op aanstaande jaar se verkiesing broodnodig is.

Intussen word al hoe meer oproepe gedoen – ook deur Obama – dat Madiba se nalatenskap geëer moet word. Hierin speel die oproepe dat versoening nie net lippediens moet wees nie, ‘n belangrike rol. Ongelukkig is daar ook opportunisme om eintlik die teenoorgestelde op te vorder, soos die burgemeester van Tshwane se oproep dat straatname verander moet word “ter wille van Madiba”. Hoe dit met versoening te rym is, bly ‘n misterie. Dit adem die teenoorgestelde van ‘n ander beroemde aanhaling waarmee die Christian Science Monitor die wêreld aan Mandela se deugde herinner – sy woorde na afloop van die Rivionia-verhoor: “I have fought against white domination and I have fought against black domination. It is an ideal for which I am prepared to die.”

Die Christian Science Monitor se artikel  word afgesluit met ‘n verskeidenheid van Madiba se aanhalings, soos dat hy kommer uitgespreek het dat die wêreld hom as ‘n heilige (saint) beskou, want hy het homself nie so beskou nie.

Die wêreld het bepaalde persepsies oor wat die nalatenskap van Mandela behels – en dit berus op die Suid-Afrikaanse leiers om nie opportunisties daarmee om te gaan om die teenoorgestelde te bereik nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae